Share

Wat is motorneuron-siekte?

Voormalige Springbok rugbykaptein Joost van der Westhuizen baklei vir sy gesondheid nadat hy met motorneuron-spiersiekte gediagnoseer is. Lees die volgende vir meer inligting oor hierdie uitmergelende siekte. 

Die motorneuron-siektes (MNS) is 'n groep ernstige afwykings wat die brein en rugmurg affekteer. Dit vernietig motor neurone, d.w.s. die senuweeselle wat die spiere beheer wat vir essensiële aktiwiteite soos praat, loop, asemhaal en sluk gebruik word.

Beroemdes wat aan motorneuron-siekte gely het, sluit in Amerikaanse bofbal legende Lou Gehrig, na wie die mees bekende MNS, Lou Gehrig se siekte, benoem is; die briljante Britse fisikus Stephen Hawking; en rolprentster David Niven.

Hoe MNS die liggaam affekteer

Gewoonlik word boodskappe van die senuweeselle in die brein (boonste motorneurone) na die ruggraat (onderste motorneurone), en van daar af na die betrokke spiere oorgedra. Die boonste motorneurone gee instruksies aan die onderste motorneurone om bewegings uit te voer, soos om te loop of te kou. Die onderste motorneurone beheer beweging in die arms, bene, borskas, gesig, keel en tong.

MNS versteur die seine van die motorneurone na die spiere, wat kan veroorsaak dat die spiere stelselmatig verswak en uitteer, en tot onbeheersde rukbewegings lei. Wanneer die boonste motorneurone geaffekteer word, kan dit tot spastiese bewegings of styfheid van die spiere van die ledemate, en ooraktiewe seningreflekse lei, wat knie- en enkel-rukkings veroorsaak. Uiteindelik kan die vermoë om willekeurige bewegings te beheer, verloor word.

Algemene MNS sluit in amiotropiese laterale sklerose (ALS), progressiewe bulbêre verlamming, primêre laterale sklerose en progressiewe spieratrofie. Ander MNS sluit die verskeie oorerflike vorms van spinale spieratrofie en post-polio-sindroom, 'n toestand wat polio oorlewendes dekades na hulle herstel van poliomyelitis kan aantas, in.

Is daar enige behandeling?

Daar is geen genesing of standaardbehandeling vir MNS nie. Simptomatiese en ondersteunende behandeling kan pasiënte meer gemaklik maak en hulle lewenskwaliteit verbeter. Die middel riluzole word gebruik om MNS te behandel, maar dit verleng pasiënte se lewens met net 2-3 maande en verlig nie die simptome nie. Ander medisynes mag help om simptome te verlig soos spierverslappers vir spastisiteit, en teenstuiptrekkingsmiddels en nie-steroïede anti-inflammatoriese middels om pyn te verlig. Party pasiënte mag sterker medisyne soos morfien benodig om spierskeletale abnormaliteite te hanteer wanneer hierdie siektes 'n gevorderde stadium bereik het.

Fisiese en spraakterapie, beroepsterapie en rehabilitasie mag help om postuur te verbeter, gewrig-onbeweeglikheid, stadige spierverswakking en atrofie te verhoed, en slukprobleme te hanteer. Hulpmiddels soos ondersteuningsapparate of harnasse, ortopediese spalke, spraakhulpmiddels en rolstoele help party pasiënte om hul onafhanklikheid te behou.

Wat is die prognose?

ALS en party vorms van spieratrofie is fataal. Daar is soms "plato's" of fases wanneer die toestande vir 'n ruk lank stabiel voorkom, maar die agteruitgang gaan onvermydelik voort. Party MNS, soos primêre laterale sklerose, is nie dodelik nie en ontwikkel stadig.

Wie kry MNS?

MNS kan by volwassenes en kinders voorkom en is meer algemeen by mans. By volwassenes verskyn simptome meestal ná die ouderdom van 40. By kinders, veral in die geval van oorerflike vorms van die siektes, kan simptome reeds by geboorte teenwoordig wees, of binne die eerste jaar verskyn.

Wat veroorsaak MNS?

Die oorsake van nie-oorerflike MNS is nie bekend nie, maar omgewings-, toksiese-, virale- of genetiese faktore mag betrokke wees.

- (Olivia Rose-Innes, Health24, Mei 2011)

(Verwysings:
National Institute of Neurological Disorders and Stroke (NINDS). 2011. Fact Sheet: What are motor neuron diseases? Motor Neuron Disease / ALS Association of South Africa)

 Lees verder:

Lou Gehrig se siekte – 'n motorneuron-siekte

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE