advertisement
12 January 2010

Vuur en vlam

Brande in die Kaap te midde van 'n tierende suidooster is 'n brandbestryder se grootste uitdaging. Dis dan dat hulle ook die dood in die gesig staar...

0

Brande in die Kaap te midde van 'n tierende suidooster is 'n brandbestryder se grootste uitdaging. Dis dan dat hulle nie net teen die vlamme veg nie, maar ook die dood in die gesig staar...

Deur ILANA PRAK

Ek kan absoluut niks sien nie. Net die vlamme deur die dik bolle rook wat in ons rigting aangejaag kom. Die geraas is oorverdowend: tierende vlamtonge en 'n brullende wind. Waarheen vlug jy wanneer jy deur 'n vyf meter hoë muur van vuur omring word?

Dis 'n tipiese veldbrand; ons is uitgeroep om 'n vlamvoos brandspan in die Boland te kom ondersteun. Gelukkig is dit deel van ons opleiding om sodra ons op 'n brandtoneel aankom, die omgewing te ondersoek, te kyk waar die naaste uitkomplek is en bakens te identifiseer ingeval 'n mens moet vlug. Gelukkig is daar 'n groot dam 200m links van die grondpad.

"Waar's jy! En waar's die skid unit?" skree ek vir Lawrence, een van die kontrakwerkers. Die skid unit is die bakkie met die pomp agterop wat in veldbrande gebruik word. Maar die bakkie is bo in die pad geparkeer, aan die ander kant van die vlamme. Omdat die suidooster so sterk is, het die vuur bo-oor die pad gespring en kom dit nou in ons rigting aangestorm.

My span is my prioriteit en ek dink in dié stadium nie eens aan my gesin nie. Al wat in sulke omstandighede deur jou gedagtes gaan, is die brand. Ek weet Jeffrey, die bakkiebestuurder en pomp-operateur, hardloop langs my. Eintlik strompel hy meer. Die lug is dik en warm van die as en rook en die hitte onhoudbaar.

Oor die tweerigtingradio in my bosak hoor ek die stem van die helikoptervlieënier. "Honderd meter reguit en dan links," beduie hy vir ons die pad na veiligheid uit die lug uit. Voor ons het die helikopter met water uit die dam 'n pad oopgeblus. "Nog 100 meter," por die stem ons aan.

Ek voel die warm stoom van die water teen my ooglede. Ek struikel, en Jeffrey pluk my aan my baadjie regop. Skielik kan ek makliker asemhaal. Ons is deur die ergste rook, en ek kan die watertenkwa se ligte sien. Ek gaan sit teen die wiel van die wa en toe eers flits my kinders se gesiggies deur my kop...

Omdat ek die skofleier by die brand is, moet ek dadelik vir my offisier 'n verslag van die dag se gebeure gee. Dan keer ons terug na die versamelpunt, en as ons sien alles is onder beheer, na die basis. In die vrouestort kan ek die nag se roet en as afwas. Tien jaar lank moes ek die badkamers met mans deel, maar deesdae het ek en die drie ander vroue ons eie badkamer. Gewoonlik kuier ek en my span daarna in die kombuis, gesels en maak kos: roereier, eier met Weense worsies of roosterbroodjies. Ons mag tussen 22:00 en 07:30 slaap, maar moet binne een en 'n half minuut kan aantrek en gereed staan as nog 'n brand sou uitbreek.

Mediese opleiding

Ons kry mediese opleiding, van basiese noodhulp tot volle paramediese kwalifikasies. Ek is nou al op die derde vlak: gevorderde noodassistent. Dit beteken ek kan pasiënte sekere middles toedien soos vir diabetes, asma en pyn. 'n Belangrike deel van ons werk is om beseerdes so gou moontlik te stabiliseer. Wanneer jy op 'n toneel kom, kyk jy dadelik wie die ernstigste seergekry het. Daardie mens word eerste verwyder.

Dan kyk jy na dinge soos of die beseerde kan praat en of daar 'n hartklop is. As hy of sy nie kan praat en dus moontlik nie kan asemhaal nie, gebruik ons 'n lugsakmasker om hulle te help. As hulle self kan asemhaal, ondersteun ons hulle met 'n suurstofsilinder.

As daar geen hartklop is nie, moet hartlong-massering toegepas word. Bloeding word gestop en brandwonde word sommer op die toneel behandel. Dit moet so gou moontlik afgekoel en sterielgemaak word. Daarvoor gebruik ons 'n gaasverband met ’n steriele jel.

Dis vreemd – ek raak nie emosioneel betrokke by 'n toneel nie. Jy moet daardie skeiding behou, anders sal jy dit nooit oorleef nie. Ek wou nog altyd 'n brandbestryder wees. Moenie lag nie, maar Groenie die Draak was my held. Nou is ek my twee dogtertjies se held; hulle dink ek is wonderlik omdat ek brande blus.

Vroue eers nie toegelaat

Van 1990 tot 1995 het ek elke jaar aansoek om toelating as brandbestryder gedoen, maar is elke keer ingelig daar is nie plek vir vroue nie. Toe hoor ek dit het verander.

Indiensopleiding duur drie maande. Jy begin as 'n kadet en doen drilwerk, bestudeer die teorie van brande en oefen om fiks te word, en daarna word jy 'n junior brandbestryder. My gunsteling-werk is by motorongelukke en ek hou ook van huisbrande. Dit klink erg, maar ek is dol oor die adrenalien – die intense hitte, die aksie en die geweldige spoed waarteen die brand woed.

Toe ek 16 jaar oud was, was ek in 'n ernstige motorongeluk waarin ek my nek beseer het en vasgekeer was in die wrak. Ek kon voel my bene is nie lekker nie. Die eerste reddingseenheid op die toneel was die brandweer. Die manier waarop hulle met my gewerk het, het my oortuig dat dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen. Hulle was so professioneel en het my mooi behandel en die hele tyd gerusgestel. Toe het ek geweet dat ek 'n brandbestryder wou word. Om 'n beseerde mens uit die kake van 'n motor te haal, gee my oneindige bevrediging.

Ilana Prak (36) is die eerste vrou in die Wes-Kaap wat as brandbestryder gekwalifiseer het. Sy werk reeds die afgelope 14 jaar by die Goodwoodbrandweerstasie buite Kaapstad, waar sy 'n senior brandbestryder is.

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.