Share

Vra vir KuberDok

Gevaarlike nuwe virus

V: Hi Dok
Die juffrou by my seuntjie se kleuterskool het 'n brief aan ouers uitgestuur waarin hulle ons waarsku teen 'n "nuwe virus". Dis glo vreeslik aansteeklik en gevaarlik. Die simptome is 'n loopneus, hoes, braak en lighoofdigheid. Hulle vra dat as ons kinders dié simptome vir meer as 'n week het, ons hul dadelik dokter toe neem vir toetse vir hierdie nuwe virus.

My seuntjie se neusie loop erg vir meer as 'n week en hy het soms 'n hoesie. Ek het vir hom medisyne gekry by die apteek.

Wat ek wil weet is, is daar wel 'n nuwe virus onder die kinders, is dit gevaarlik, wat is die naam van hierdie virus, en moet ek bekommerd wees or my seun met sy neusie op die oomblik? Asb Dok, gee raad.

Dankie, Wendy

A: Hallo Wendy
Ek dink hulle bedoel die varkgriep virus wat hierdie simptome kan veroorsaak. Dit gee gewoonlik koors, diarree en braking, hoes, lyfseer, keelseer en verkoue simptome. As hy net 'n helder waterige loopneusie het, geen koors nie, nie kla van lyfseer en kopseer en nie pap en lusteloos is nie, kan jy net behandel vir 'n verkoue.
Sien ook
http://www.education.com/magazine/article/swine-flu-parents-worried/

Seer gewrigte

V: Ek het pyn in my knië, elemboë, skouers en gewrigte. Wat kan ek gebruik? Ek het nie medies nie. Dankie (49jr)

A: Dit kan gout of arthritis wees en eintlik moet jy maar bloed laat trek om na jou uriensuur vlakke te laat kyk en x-strale laat neem om te kyk vir gewrigsiekte as dit lank aanhou. Anti-inflammatoriese middels soos Neurofen, Ranfen, Panamor plus en Panado sal help vir die pyn maar sal dit waarskynlik nie gesond maak nie.

Vreemde maanstonde

V: Goeiedag Dok
Ek is nie seker of ek enige rede het om te worry, en of dit normaal is nie, maar dit is die eerste keer wat dit met my gebeur.

Ek is 21 jaar oud, my maandstonde het op Maandag, 2 Augustus begin en dit het heeltemal op gehou teen die 6de. Ek het vir twee weke voor my maandstonde pyn gehad in my sy, my lae rug wat lam is en 'n week voor my maandstonde het ek op 'n dag net ligrooi  "gespot" - wat baie ongewoon is want ek het nog nooit voor my maandstonde "gespot"  nie. Boonop kry ek gewoonlik eers die pyne 'n dag tot twee dae voor my maandstonde, en nie twee weke nie. Soos ek sê het my maandstonde teen die 6de heeltemal opgeklaar, maar eweskielik van gisteraand as het ek weer begin "spot".

Gisteraand was dit 'n groot, bruinerige bloedklont. Vanoggend is dit minder bloeding, maar die maandstonde pyne is weer terug en ek het vir die afgelope vier dae aaneen 'n ligte hoofpyn en skerp maag krampe. Help asb.

A: Die mees waarskynlike oorsaak is net hormonale fluktuasie (kan wees a.g.v. medisyne wat jy gebruik het, stress, 'n anovulatoriese siklus, of 'n onlangse siekte). Jy kan dalk ook 'n infeksie hê (kan ook 'n afskeiding, koors en pyn in lae buik gee). Die bruin stolsel is net iets wat gebeur as jy swaar menstrueer en dit kan krampe veroorsaak as die uterus saamtrek om dit uit te skei. Miskien is dit beter dat jy jou dokter of 'n ginekoloog sien vir 'n ondersoek, veral omdat jy nie lekker voel nie, en skerp pyne in jou buik het. Dalk het jy antibiotika nodig.

Toets vir kanker

V: Dokter, ek wil weet of daar dalk een toets is wat 'n mens kan laat doen om enige soort kanker in jou liggaam op te spoor? Daar is soveel en so baie kankers in my familie dat ek nie elke toets sal kan laat doen nie, maar ek is bang ek los alles en dan is dit te laat. My ma is in haar veertigs dood van kanker en ek is ook nou in my vroeë veertigs. Help asb.

A: Nee, daar is nie 'n enkele toets nie. Mens kan egter jou familie geskiedenis met jou dokter bespreek en dan sekere dinge goed dophou. Byvoorbeeld, kankers wat in families loop is goed soos leukemie, borskanker, kolonkanker - daar is 'screening' toetse wat mens daarvoor kan doen soos jaarlikse mammogramme, stoelgang toetse, volbloedtelling. Dan kan mens ook jaarliks kyk na moesies om velkanker te voorkom en papsmere neem om servikskanker te voorkom. Sekere siektes verhoog jou kanse vir party kankers b.v. Hepatitis B en lewerkanker, peptiese ulcers en refluks vir maag en slukderm kanker, so jou dokter kan ook daarna kyk. Ek dink jy moet 'n jaarlikse volle mediese ondersoek ondergaan en jou vrese met jou dokter deel sodat julle saam kan besluit watter toetse die belangrikste vir jou sal wees.

 My man kyk nie na homself nie

V: Hoe kan ek my man kry om na sy gewig te kyk? Hy het baie ernstige hoë bloeddruk en is al daarvoor in die hospitaal opgeneem. Hy het so te sê by die dood om gedraai, maar weier nogsteeds om sy slegte patrone te verander. Hy drink elke aand tussen vier en agt glase drank en moet ook 'n bak chips hê (waaroor hy NOG sout gooi) as hy in aand gaan lê. Hoe kan ek die belangrikheid van gewigsverlies en 'n gesonder lewe in sy kop kry?

A: Dis nogal 'n moeilike een - mens gaan nie verander as jy nie WIL nie, of nie tot jou sinne geskok kan word deur 'n ernstige siekte nie. Miskien moet jy as jy interessante tydskrif/internet artikels oor dieet en hoë bloeddruk sien, dit uitdruk en net laat "rondlê" in die huis sodat hy dit self kan lees wanneer dit geleë is. Hy gaan defnitief nie vir jou luister as hy vier tot agt glase drank in het nie!

Maagkwale

V: Ek sukkel met my maag. Wanneer ek toilet toe gaan kom daar of 'n paar harde balletjies uit, of anders 'n paar baie dun stukkies. Ek is ook redelik winderig.

Hier is wat ek daagliks eet:
Ontbyt: Melk met Allbran, rosyne, teelepel oatbran OF meusli.
Snack: Vrug
Middag: Protein (vis of hoender) in mikrogolf, groente/slaai en lensies.
Snack: vrug, yogurt, oatbran
Aand: Protein (lewer, vleis) groente, aartappel of slaai.
Ek drink ongeveer 2.5L vloeistof per dag en oefen 5 dae 'n week vir 30 min.

Hoekom sukkel ek so met my stoelgang?

A: Jy het dalk net 'n derm met stadige deurgang. Jy eet defnitief gesond en neem genoeg water en vesel in. Probeer 10-15 ml Lactulose saans - dit is 'n soet stroop wat glad nie deur die derm opgeneem word nie, maar water in die derm in trek om die stoelgang sag te maak. Mens kan dit langtermyn gebruik en dit sal nie die derm lui maak nie.

Droë vingers

V: Ek is 20 jaar oud en het vanoggend opgestaan en opgemerk dat my vingerpunte baie droog is en dit lyk of dit wil bars. My hande was gister nog vogtig en nie droog nie aangesien ek gereeld room smeer, maar gisteroggend was dit baie koud en ek het fietsgery sonder handskoene. Ek smeer vandag baie room aan, maar dit help niks. Ek het 'n matige droë vel en daarom smeer ek elke dag room, maar nog nooit het my vingers so gemaak nie.

Wat het gebeur en hoekom?

A: Dit kan 'n dermatitis wees en jy kan 'n kortisoon room soos Stopitch probeer vir 'n paar dae. Bly goed bevogtig. As daar egter geen verbetering is nie moet jy liewer jou dokter sien vir 'n ondersoek en moontlike voorskrif vir sterker medikasie.

Kriewelende gevoel

V: Ek hoop Dok kan my sê wat is fout. Ek het 'n baie vreemde simptoom wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie. Dit hou die heeldag aan en het die afgelope twee aande my ook uit die slaap uit gehou.

Dit is soos 'n jeukerige, kriewelrige gevoel binne in my. Dit voel of dit in my rug of iewers is, geen pyn nie, net 'n onrustige kriewelende gevoel.

(Ek het verlede week van Maandag tot Vrydag 'n virus of iets onderlede gehad en dokter het Tramacet voorgeskryf wat ek gedrink het vir 'n kwaai hoofpyn en lyfseer. Maar van Sondag af het dit begin opklaar en van Maandag hierdie week het ek nog nie weer 'n pynpil gedrink nie.)

Asseblief Dok, ek weet dit klink funny, maar dit dryf my die mure uit. Ek voel nie siek dat ek wil dokter toe gaan nie, maar ek kan nie slaap en tot ruste kom nie. Jou opinie sal opreg waardeer word.

A:  Sjoe dit is moeilik om te sê - mens kry so kriewelrige gevoel meestal in die bene wat mens rustelose bene sindroom noem. Hierdie is so kriewelrige gevoel en is gewoonlik erger snags.
Sien http://www.ninds.nih.gov/disorders/restless_legs/detail_restless_legs.htm
As jy dink dit kan dit wees, laat jou dokter kyk na jou yster vlakke. Dit kan ook veroorsaak word deur verkouemedisyne - het jy OTC medikasie gebruik?

Het jy 'n vraag vir KuberDok? Kliek hier.

- (Health24, September 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE