Share

Vind weer balans

As Heléne Lombard se kinders haar by die graswal afduik, lag sy uit haar maag uit. As sy ure aaneen werk op die stel van 'n TV-reeks, is dit met 'n glimlag. En as sy en haar man aleentyd wil afknyp, doen sy dit soos 'n godin. Want sy het balans gevind…
Deur MARIE OPPERMAN, Foto's: AUBREY JONSSON

Eksoties. Dis hoe Heléne Lombard lyk hier waar sy op haar stoep sit en tuisgemaakte cappuccino drink. Swart hare glad oor haar skouers, swart oogomlyner wat effens by die ooghoeke opkrul, soel vel. Vrolike rokkie.

Sy weet, erken die aktrise, dat sy nogal lyk na die Mexikaanse skilder Frida Kahlo, wat die wêreld 'n halfeeu ná haar dood steeds met haar helderkleurige kunswerke en selfportrette betower.

Afdrukke van dié portrette hang in die woonkamer. Teen ander mure hang geraamde plakkate van Heléne as Frida, van desjare toe sy 'n jaar lank 'n eenvrouvertoning oor die skilder gedoen het.

Heléne (41) raap haar eenjarige blonde blouoog, Ronin, op. "Ek identifiseer beslis met Frida," sê sy. "Sy fassineer my. Sy is vir my die versinnebeelding van die mistieke, die spirituele in my. Sy is my kreatiewe kant."

Frida sou tuis gevoel het hier in Heléne en haar sakeman-man, Craig Hallowes (41), se huis in Sandton. Sonneblomme staan in 'n groen vaas op 'n oranje-en-pienk tafel en op die stoep groei kaktusse in helderpienk potte. Hier is 'n blou muur, 'n blougeverfde kas. Bo die stoof is 'n groen-en-blou kunswerk van mosaïek wat Heléne gemaak het.

Veranderende Vrou

'n Trossie turkoois stene blom aan haar vinger, 'n swierige armband krul in 'n turkoois blompatroon om haar regterpols. "Ek dra graag turkoois," sê sy. "Dis 'n simboliese kleur van die Veranderende Vrou in die Indiaanse mitologie. Sy is uit die aarde gebore, sy is skeppend en verander saam met die seisoene."

Heléne het self die afgelope tyd 'n gedaantewisseling ondergaan. "Ek het in ’n jaar 18kg verloor," vertel sy. "Ek het my leefstyl heeltemal verander. Ek was by 'n dieetkundige en het my emosionele etery gelos. Ek eet nou net as ek honger is – en dan kos wat my liggaam voed.

"Ek het ook begin oefen en berei voor vir die Ystermankompetisie in Januarie. Vanoggend het ek 10km gedraf."

Asof haar drie woelige seuntjies – behalwe Ronin is daar nog Lucien (5) en Marcel (3) – haar nie fiks genoeg hou nie. Want as ons 'n paar dae later opdaag om die foto's te neem, speel sy en haar spruite so woes op die grasperk dat hulle haar skoon platduik. Sy slaan holderstebolder bollemakiesie en staan laggend weer op.


Later is sy vol sjokoladestrepe en hondehare soos die kinders en troeteldiere oor haar klim en klouter, maar sy glimlag steeds onverstoord en vriendelik vir die kamera.

Eksoties, moederlik, skeppend, veranderlik . . . wie presies is Heléne, die aktrise wat ons leer ken het as die slinkse Sandra Stutterheim in 7de Laan en onlangs as die skoonheidsdeskundige Felicity Conradie in die SABC2-sitkom Konsternasie Oppie Stasie?

Sy is iets van alles en dis hoe dit moet wees, verduidelik sy. "Alles gaan oor balans. Die lewe is soos 'n weegskaal. Soms is 'n mens uit balans en dan weet jy dit diep binne-in jou. Jy moet balans vind in jou benadering tot gesondheid, fiksheid, werk, jou huwelik, kinders grootmaak, alles. Dis waarna ek streef.

"Maar dis nie altyd maklik nie. Ek is die ma van drie klein seuntjies. Ek is 'n huisvrou, 'n vrou en 'n aktrise. Maar ek wil ook werk. Ek, Heléne, wil dit doen. Dis goed vir my."

Balans van vrouwees

Vir vroue lê die kuns daarin om al die aspekte van vrouwees te balanseer, glo Heléne. Sy noem dit die godinne binne-in jou.

"Dit het gevoel asof ek myself begin verloor," vertel sy. "Ek was net 'n ma. Wie ek was voor die kinders het verdwyn. Ek het gevoel daar moet 'n manier wees om weer balans te kry. Toe het ek twee jaar gelede 'n godinne-kursus gedoen.

"Ek het toe besef ek was hoofsaaklik die godin Demeter, die moeder. Maar ons het ook in ons Athena die sakevrou, Aphrodite die sensuele skoonheid, Persephone die intuïtiewe geneser, die sportiewe Artemis, die stille Hermione. Op verskillende tye in ons lewe moet ons krag uit elkeen put.

"By werkende vroue, veral in die korporatiewe wêreld, is Athena sterk. In ons verhoudings moet ons die Aphrodite binne ons na vore bring om sensueel en sexy te wees, en die skoonheid in dinge raak te sien en te waardeer."

Haar doelwit is om 'n bietjie van al die godinne in haar te hê en haar op hulle te beroep wanneer sy hulle nodig het, sê Heléne. Om dit reg te kry, meen sy, is 'n reis wat 'n leeftyd kan duur.

" 'n Mens hoef nie maer te wees om Aphrodite te wees nie, maar noudat ek my lyf terug het, voel ek meer sexy en is dit vir my makliker om my innerlike Aphrodite te bereik.

"Vir ’n rukkie ná my kinders se geboorte het ek vergeet van haar. Toe my derde kind twee maande oud was, rondom my 40ste verjaardag, het ek vir my man gesê: 'Ek is nou vyf jaar lank vet, ek wil my lyf terughê. As ek nie nou maer word nie het my kinders dalk vir die res van hul lewe 'n vet ou vrou vir 'n ma. Ek wil saam met hulle speel, hulle duik, optel en ronddra. Ek wil ook vir hulle 'n inspirasie wees – 'n ma wat fiks genoeg is om saam met hulle in die bos fiets te ry en in die berge te stap.

"Ek het met elkeen van my kinders 'n hele paar kilogramme opgetel. Ek was uiteindelik 17kg oorgewig. Dit het my 'n jaar van fokus, wilskrag en deursettingsvermoë gekos om dit te verloor. Ek weeg nou ongeveer 63kg, dieselfde as voor my swangerskappe."

Persoonlike afrigter en dieetkundige

Heléne het vir Craig gesê sy wil 'n persoonlike afrigter en dieetkundige hê, want sy het gevoel sy moes hulp kry omdat sy dit nie self kon regkry nie.

"Omdat ek nog geborsvoed het, kon ek nie verslankingsmiddels gebruik nie," vertel sy. "Ek het toe ses maande lank 'n dieetkundige by 'n dieetkliniek besoek. Die dieet is nou 'n leefwyse.

"Ek eet baie proteïene. En net een keer per dag koolhidrate, gewoonlik met ontbyt. My hoofmaaltyd is in die middag wanneer ek vleis, hoender of sosaties eet, saam met 'n slaai of groente. As ek honger is, eet ek sommer drie blikkies tuna in ’n lekker sous. Ek eet net wanneer ek honger is. Craig het saam met my so geëet en seker 12kg afgeskud.

"My liggaam weet nou wanneer ek kos eet wat goed is vir my, want dan voel ek goed. As ek brood eet, voel ek opgeblaas en ongemaklik. Ek word nie lus vir ongesonde kos soos koek nie.

"Ek het ses maande lank twee keer per week saam met 'n persoonlike afrigter geoefen en nog vier keer per week op my eie. Die afrigter het my baie met gewigte laat werk om my spiere ferm te maak. Ek het ook begin stap. Omdat ek so onfiks was, het ek aanvanklik net 3km op 'n slag gestap en ál meer gedoen tot ek kon draf. Ek kan nou met gemak 12km haal."

Nadat sy haar doelgewig bereik het, het Heléne so goed gevoel dat sy reg was om 'n atleet te word. Sy het aan driekampe begin deelneem en omdat sy 'n doelwit wou hê, het sy die oefenprogram vir die halwe Ysterman-kompetisie vir beginners van die internet afgelaai en dit begin volg.

"Ek weet nie of ek ooit aan die kompetisie sal deelneem nie, maar ek doen driekampe," sê sy. "Ek voel sterk, gesond en fiks, en kan lekker saam met my kinders speel."

Sy en Craig het eers baie dinge saamgedoen soos om te gaan ski of fiets te ry. Ongelukkig is dit nie meer moontlik met die kinders nie, maar hulle het ontdek hulle doen die lekkerste dinge saam as gesin net hier by hul huis. "Ons swem, hou piekniek op die gras, bou legkaarte. Ons gaan ry steeds saam fiets, met 'n kind op die rug."

Dis vir haar 'n uitdaging om nie skuldig te voel wanneer sy na haar eie behoeftes omsien nie, vertel Heléne. "Ons vroue vergeet maklik onsself sodat ons ons kinders, gesin en ander mense kan dien. Is dit iets wat die gemeenskap van ons verwag of is dit 'n oeroue ding? Waarom voel ons skuldig as ons na onsself omsien?

"Oefen is hoofsaaklik wat ek op die oomblik vir myself doen. Ek is ook mal daaroor om met kerse te gaan bad en masserings te kry. Ek woon graag seminare oor spirituele dinge by en ek lees dinge wat my inspireer, my laat wonder, my stimuleer. Ek het 'n hunkering om my spirituele kant te ontwikkel."

Verskillende rolle

Sedert Heléne vier jaar gelede weg is by 7de Laan het sy benewens die rol in Konsternasie Oppie Stasie ook 'n rol in Generations as Grace se ma Rachael gehad. "Dis 'n groot uitdaging om alles te kan doen," sê sy. "Dit verg ongelooflike organisasie. En ek moet fiks en gesond wees en genoeg slaap.

"Konsternasie Oppie Stasie is oor twee maande geskiet en ek was ses dae per week twaalf uur per dag op stel. Drie vriendinne, my skoonma, my ma, my man en ons huiswerker het met die kinders gehelp. Ek het 'n rooster opgestel vir wie almal wat, wanneer en waar moet doen."

Sy is nou 'n rol aangebied in ’n rolprent wat in Knysna geskiet gaan word. "Aan die een kant weet ek nie hoe ek dit sal doen sonder om my gesin te ontwrig nie; aan die ander kant sal dit my kreatiewe, intellektuele kant voed. So nie sal ek iets anders moet vind om daardie eienskappe te stimuleer.

"Ek is 90 persent van die tyd by my kinders, maar ek mag nie net in 'n moederrol verval nie. Ek was onlangs vir die eerste keer sedert my kinders gebore is tien dae lank saam met 'n vriendin na Hongkong en Thailand. En my kinders was piekfyn.

"Daar is die verhaal van 'n ma en haar kinders wat in ’n vliegtuig is wat val en sy moet kies of sy die suurstof vir haar kinders of haarself gaan gee. Sý is die een wat dit moet kry sodat sy hulle kan help. 'n Ma moet na haarself omsien om na haar kinders te kan omsien."

Natuurlike medisyne

Ook wat haar gesin se gesondheid betref glo Heléne aan balans. "My skoonma, Maggy, is 'n apteker en ek noem my 'n naturalis. Ons verteenwoordig die twee kante van gesond wees.

"Ek glo aan homeopatie en aan natuurlike rate, soos dat 'n mens gemmer moet eet as jy naar is. Dis vir my 'n voortdurende uitdaging om my kinders so natuurlik gesond te hou as moontlik, maar ook om te weet wanneer om op konvensionele medisyne te vertrou. Ek weet dat 'n mens vir sekere siektes gewone medisyne moet gebruik."

Heléne spring op en kom terug met 'n kissie met botteltjies homeopatiese pilletjies. "Dit is the little blue box. Ek dokter my kinders hiermee. 'n Mens kry dit by baie apteke, ook my skoonma hou dit aan. Daar's 'n boekie wat vir jou presies sê wat om waarvoor te gebruik. 'n Mens kan die meeste kwale hiermee dokter: loopneus, hoofpyn, seer keel, tandekry. Hier is selfs pilletjies wat gehelp het om 'n doring uit een van my seuns se voet te trek.

"Ek dokter my en my man ook hiermee. Craig neem dit, maar hy glo nie so sterk aan homeopatiese middels soos ek nie."

Met haar eerste kind was sy paranoïes, erken Heléne. "Ek het hom organiese kos gegee, opgepiep, gedit en gedat. Met die derde kind besef jy dat hy in elk geval gaan oorleef. Ek gee my kinders nou basiese, gesonde kos. Ek dink my derde kind het sjokolade geproe nog voor hy vaste kos geëet het. Die oupas en oumas mag hulle maar lekker bederf.

“Maar ek oordoen niks. My kinders mag net koek bak as hulle verjaar en hulle kry net ysies as hulle vriende hier kuier. In die algemeen eet hulle gebalanseerd. Ek maak eenvoudige, gesonde, smaaklike kos wat nooit vetterig is nie. Dis maklik en vinnig om gesonde kos te maak.

"Alles gaan oor balans. Dis my grootste doel en uitdaging, vir my self en vir alles anders in my lewe."

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE