Share

Verbloem so 'n bles

Permanente haarrekonstruksie

Hoe werk dit? Trigoloë kies menshare wat die beste by die voorkoms van jou eie hare pas. Dit word dan aan spesiale stroke geheg. Dié stroke word deur 'n plastiese chirurg ry vir ry aan jou kopvel geheg tot al die kaal kolle bedek is. Die prosedure word onder plaaslike verdowing gedoen en duur drie tot vier uur. Jy kan agterna 'n paar dae lank ongemak verduur.
Hoeveel kos dit? Tussen R14 000 en R17 000. Mediese fondse dek dit nie omdat dit as kosmetiese chirurgie beskou word.
Nasorg Dit hou 'n leeftyd en die ingeplante hare kan nes jou eie hare gewas, geborsel en behandel word, maar groei natuurlik nie saam met jou ou hare nie. Jy kan jou hare by enige salon laat knip of by die kliniek waar die rekonstruksie gedoen is. As jy ouer word, kan die hare gekleur word om by jou eie kleur te pas.

Haaroorplanting

Hoe werk dit? 'n Plastiese chirurg doen dit onder plaaslike verdowing. 'n Strook vel word met hare en al van die kante of agterkant van jou kop verwyder waar die hare nog goed groei. Dit word op die kaal kopvel geplaas en die deel waar die hare verwyder is, word met steke toegewerk. Hierdie hare word in klossies van twee tot drie hare elk verdeel en geplaas binne-in klein snytjies wat op die kaal kopvel gemaak is. Die liggaam se natuurlike "gom" anker dié hare binne minute. Die procedure duur etlike ure en hang af van die grootte van die kaal oppervlak wat bedek moet word. Die steke word 10 tot 12 dae later verwyder.
Die oorgeplante hare val oor die volgende paar weke uit, maar binne drie tot vier maande begin dit weer groei en hou vir die res van jou lewe aan groei. Die eindresultaat sal eers agt maande of 'n jaar later sigbaar wees; jy moet dus geduldig wees.
Hoeveel kos dit? Tussen R15 000 en R32 000 na gelang van die aantal oorplantingsessies wat jy nodig het.
Nasorg Hoewel jou oorgeplante hare permanent sal groei, kan jou ander hare steeds uitval, dus sal jy later dalk nog oorplantings moet laat doen.

Nie-chirurgiese veloorplanting (haar-vir-haar-rekonstruksie)

Hoe werk dit? Monsters van jou hare se kleur en tekstuur word geneem en 'n "pruik" van menshare word gemaak wat so goed as moontlik by jou eie hare pas. Dit duur omtrent ses weke. Wanneer jou nuwe hare gereed is, word jou kopvel skoongemaak, 'n chirurgiese kleefmiddel word aangewend en die nuwe hare word in een stuk vasgeheg. Geen steke of verdowing is nodig nie. Die prosedure word uitgevoer deur trigoloë by klinieke wat spesialiseer in haarvervanging.
Hoeveel kos dit? Tussen R6 000 en R8 000, na gelang van die grootte van die haarstuk.
Nasorg Hoewel jy met hierdie hare kan swem, moet jy elke vier tot ses weke weer salon toe gaan om seker te maak dis nog stewig vas. Die nuwe hare hou sowat 18 maande en moet dan vervang word.

Laserterapie

Hoe werk dit? Hierdie behandeling werk net as jy minder as vyf jaar bles is en dit werk die beste vir jong mense. Jy sit 30 minute op 'n keer onder ’n lasermasjien. Die laser roteer oor jou kopvel, verbeter die bloedsomloop en breek DHT, die hormoon wat haarverlies veroorsaak, af. Gereelde behandelings moet oor 'n tydperk van ses maande gedoen word.
Hoeveel kos dit? Tussen R5 000 en R11 000, na gelang van hoe groot jou haarverlies is.
Nasorg Laserterapie is meer geslaag as dit gebruik word saam met produkte wat DHT verminder. Jy moet jou trigoloog een keer per maand besoek sodat die sukses van die behandeling bepaal kan word.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE