Share

Vat vyf hierdie winter

Dis donker wanneer jy werk toe gaan. En dis donker wanneer jy weer huiswaarts keer. Om van die koue nie eens te praat nie. Ja-nee, die winter het beslis sy donker kant, maar dis ook die seisoen wanneer die natuur sy winterslaap binnegaan en nuwe krag opbou. Hier is ’n vyfpuntplan om die winter beter te benut
Deur Heather Parker

1 Jou huis
Jou liasseerkabinet is so volgeprop dat jy nie nog een enkele stukkie papier daarin kan druk nie. Plastiekbakke sonder deksels tuimel uit as jy oorvol kombuiskaste oopmaak. Tasse wankel bo-op kaste, elkeen propvol klere wat jy lankal – na die vlees of die gees – ontgroei het. As jy jou weer kom kry, is jou ruimte oorgeneem deur dinge wat jy nie meer nodig het nie. Net omdat jy die rommel nie kan sien nie, beteken nie dis nie daar nie. Rommel kan jou energie opslurp. Dis ook ’n teken dat jy dinge uitstel en nie besluite kan neem nie. En dit kan van jou huis ’n stresvolle plek maak. Gebruik die winter om deur elke kamer te gaan en van die rommel ontslae te raak. Enigiets wat jy nie gebruik nie of wat slegte herinneringe het, moet vort. Gee alles wat bruikbaar is vir liefdadigheid. Komaan, jy weet wat jy moet doen. Jou hart sal ook ligter voel.

2 Jou vriende
’n Mens se sosiale lewe kry dikwels sy eie vaart en sommige vriende raak verlore in die warrelwind van jou lewe. Dis tyd om daardie spesiale vriendskappe wat jy verwaarloos het, op te diep en jou sosiale lewe te laat opflikker. Nooi vriende wat jy lank laas gesien het oor, begin ’n rolprentklub saam met mense wat van dieselfde flieks as jy hou, en soek mense op wat jy in jou lewe mis. Na ’n bietjie winterwoekery kan jy dalk net vind dat jou sosiale lewe teen die somer heel anders lyk.

3 Jou lyf
Jy het dit al dikwels gehoor, maar die feit bly staan – rook en oorgewig is dié twee leefstylkwessies wat die meeste gesondheidsprobleme veroorsaak. Om te neul, sal seker nie help nie. ’n Mens skrik ook nie altyd vir die gevaar van siektes nie. Maar probeer ten minste om hierdie winter na te dink oor jou leefstyl en die lewensgehalte wat jy graag wil hê en wat jou geliefdes gelukkig sal maak. In die herfs het ek jaloers toegekyk hoe ’n paartjie in hul sewentigs met ’n lyfplank in Hermanus se branders baljaar. Dis nou my nuwe doelwit: om steeds my lyf te geniet wanneer my eweknieë al te oud is om te loop.

4 Jou brein
Soos met vriendskappe die geval is, kan jou brein ook dom raak as jy dit afskeep en nie ten volle inspan nie. Jou breinsenuwees of grysstof word meestal deur jou gene bepaal. Maar jou witstof – die isolerende “telefoondrade” wat inligting help oordra – hou aan groei tot die ouderdom van omtrent 45 tot 50. Solank as wat hulle werk, sal mense jou nie behandel asof jy in ’n inrigting hoort nie. Die verskil tussen mense met ’n brein so rats soos ’n kat en dié met ’n lompe Labrador vir witstof, is die oefening wat hul brein kry. Om elke week ’n boek te lees is so goed jy laat jou brein teen ’n stywe pas stap. Skakel dus gerus die TV hierdie winter af en sleep die leunstoel – en ’n lekker boek – nader.

5 Jou vyfjaarplan
Dis nou ook die tyd om aan jou siel aandag te gee. Volg jy jou drome na, gebruik jy jou talente en voel jy hartstogtelik oor dit waarmee jy meestal besig is? Is jy gelukkig met die stappe wat jy gedoen het sedert die vorige winter? Indien nie – en vir party mense sal hul werk en passie nooit pasmaats wees nie – trek ’n vyfjaarplan op wat jou sal bring daar waar jy graag wil wees. Dit kan dalknodig wees dat jy verhuis. Of verder studeer. Dit kan selfs beteken dat jy sekere bande moet verbreek en selfs van voor af moet begin. Maar as dit is waar jou geluk lê, laat jou drome waar word.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE