Daar is vier grade van endometriose.
- Graad 1 en 2 is lig. Ná chirurgie is daar gewoonlik 'n goeie kans dat jy binne ses maande swanger kan raak en ná die swangerskap klaar die toestand gewoonlik vanself op.
- In gevalle van graad 3- en 4-endometriose het jy 'n kans van 50 persent om ná chirurgie natuurlik swanger te raak. Ook dan is die beste kans op swangerskap binne ses maande na die operasie.
Daarna val die kanse op swangerskap drasties. "As jy nie natuurlik swanger kan raak nie, word in vitro-bevrugting aanbeveel," sê die spesialis dr. Johan van Schouwenburg. As 'n vrou nie dadelik wil swanger raak nie, sal sy waarskynlik weer 'n laparoskopie moet laat doen om die hergroeide weefsel uit te sny.
In ernstige gevalle is 'n operasie vir endometriose net vir 12 tot 18 maande doeltreffend. Daarna groei die weefsel weer. As 'n vrou swanger wil raak, moet sy probeer om dit so gou moontlik ná 'n laparoskopie te doen, voor die endometrioseweefsel weer groei. Ongelukkig doen elke operasie 'n bietjie skade en laat dit letsels aan die dele waar die weefsel uitgesny is, soos die blaas of buik, sodat dokters nie graag te veel kere wil opereer nie.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)