Share

Streel jou sintuie

Voel dit of die fut uit jou liefdeslewe is? Kom weer in aanraking met jou sensuele kant. Dr. Eve vertel in haar Pillowbook hóé.
Deur Dr. Eve vir HUISGENOOT-POLS

Op my lessenaar by die huis is daar stapels naslaanboeke en stukke leë papier wat net wag om met my kreatiewe idees gevul te word.

Penne, potlode en gekleurde koki's staan gereed in 'n houer wat versier is met my kind se vingerverfkuns – dis 'n geskenk wat ek by haar gekry het toe sy drie was.

My blompot is altyd vol blomme sodat ek hul geur en prag kan waardeer wanneer ek opkyk. Wierook brand van vroeg af en daar speel musiek; net die ding om my in die regte stemming te bring.

My huis is 'n veilige, sensuele toevlugsoord. Die plante is gekies omdat hulle lekker ruik en ek sorg elke paar maande vir nuwe eenjaarplante sodat daar altyd verskillende kleurkombinasies is om my en my gaste te stimuleer.

Elke tapyt, ornament en skildery vertel 'n storie van 'n plek, persoon of besonderse oomblik in my lewe. Visueel en emosioneel gee dit my plesier en prikkel dit my sintuie.

Dink watter sintuig jou die meeste inspireer. Deur jou met jou gunsteling- geure, -smake, -teksture, -musiek en -beelde te omring, sorg jy dat jou omgewing met stimulasie en plesier gevul is.

Kyk 'n bietjie in jou huis rond. Let op watter voorwerpe en ervarings spreek tot jou sintuie. Nooi die tapyt jou om kaalvoet daarop te loop? Laat die geure uit die kombuis jou mond water? Speel jy musiek wat jou na ’n goeie plek meevoer?

Kyk in jou werkplek rond. Het jy jou omring met dinge wat aan jou sensuele plesier verskaf? Neem foto's van jou kat of hond, jou gunsteling- kunswerk of jou tuin en kyk gereeld daarna. Dié herinneringe sal jou passievol laat voel oor jou alledaagse lewe.

Stap deur jou huis. Raak aan jou ornamente, boeke, plante, lakens, handdoeke, breekware en meubels. Watter herinneringe wek dit by jou van hoe, waar, wanneer en waarom jy dit gekoop het?

Natuurlik moet jy prakties wees en sal daar funksionele dinge in jou huis wees, maar ook dít kan sensueel wees. As jy dalk wonder hoe op aarde 'n sensuele kastrol lyk, onthou dat dit nie die kastrol self is wat sensueel is nie – dis jou houding wanneer jy dit koop wat dit sensueel maak.

Voor jy 'n kastrol koop, vra jou af of jy hou van die vorm, kleur, reuk en gevoel daarvan. Dan is dit nie net nog 'n kastrol nie; dis 'n voorwerp waaruit jy genot put en dit wakker jou sensualiteit aan.

Dit verg dié soort denkproses om 'n sensuele leefstyl te skep. Pas dit toe op enigiets wat jy in jou leefruimte inbring.

Skep 'n sensuele slaapkamer
Toe jy die eerste keer met jou lewensmaat nesgeskop het, het jy heel moontlik 'n matras of futon op die vloer gehad. Jy was seker maar te dankbaar vir linne wat jy by jou familie oorgeneem het en was in ekstase toe julle saam jul eerste verwarmer gekoop het.

Namate die eerste fase van romantiese liefde oorgewaai het en die nuutjie om die hele tyd bymekaar te wees sy glans verloor het, het jou slaapkamer waarskynlik te klein begin raak. Jy het begin voel dat jy graag 'n slag na jou eie musiek wil luister, of gewens dat jy net 'n private plekkie het vir jou eie plesier.

Dan bereik jy jou dertigerjare en trek na 'n groter plek, wat gou gevul word met dinge soos TV's, satelliet-dekodeerders en skootrekenaars. Die huwelik, huis- en motorverbande, oorsese vakansies en uiteetsessies beteken daar is 'n stywe pas om vol te hou. Voor jy jou oë uitvee, is die slaapkamer vol dinge waarmee jy glad nie 'n verhouding het nie. Hoe meer jou slaapkamer vir TV kyk of werk gebruik word, hoe minder word dit ingespan vir seks.

Dan daag die kleingoed op en jou slaapkamer verander in 'n speelpark. Speelgoed lê die wêreld vol en jou bedlinne ruik die ene kos. Later begin jou tiener ure lank voor jou badkamerspieël pleks van voor haar eie pronk.

Die vinnige knippie oggendseks word 'n vae herinnering. Dit word ál moeiliker om 'n orgasme te kry, want óf julle wag vir die kinders om hul rekenaars af te skakel en te gaan slaap, óf jy is bang hulle betrap julle op heter daad terwyl julle liefde maak.

Wanneer jou kinders uiteindelik die nes verlaat, het jy dalk al lankal vergeet hoekom julle in die eerste plek 'n bed deel. Hy snork, jy lees tot laat en as julle die slag wel liefde maak, is dit allesbehalwe bevredigend.

Dit hoef nie so te wees nie. As jy sensualiteit in jou huis inbring, is dit 'n subtiele dog slim manier om jou seksuele drange weer te laat ontwaak. As jy sensueel bewus is, sal jy dit makliker vind om seksueel te voel.

Ontdek nuwe sensasies
Om sensueel te leef beteken dat jou bank gemaklik genoeg moet wees dat julle saam daar kan opkrul. Is die materiaal sag genoeg om jou naakte vel te streel?

Het jy genoeg kussings vir ondersteuning as julle skielik lus raak vir seks? Is die tapyt mooi genoeg sodat jy saam met jou maat of alleen daarop wil lê? Is daar 'n stoel wat groot genoeg is sodat jy bo-op hom kan klim vir 'n sekssessie? Hou jy 'n voorraad skoon, potensieel interessante seksspeelgoed in jou kombuis?

Dink net: 'n verestoffer om mekaar mee te kielie, borsels om mekaar se rug saggies mee te streel, selfs slaplemmesse en houtlepels vir 'n seks-strafsessie of twee...

As jy jou een sintuig ontneem, sal jou ander sintuie verskerp. Om geblinddoek te wees gee jou 'n wonderlike gevoel van sintuiglike afwagting. Met mekaar se toestemming kan jy en jou maat beurte neem om verskillende sensasies te ervaar – lek, byt en krap mekaar en gee mekaar liefdevolle houtjies met verskillende voorwerpe en seksspeelgoed.

Eksperimenteer met warm en koue sensasies, voer mekaar onverwagte smaaksensasies en smeer olie, sjokolade of vonkelwyn aan mekaar se lyf om agter te kom wat dit is wat jou prikkel.

Skep jou boudoir
Die verleidelike atmosfeer in my slaapkamer is 'n versoeking op sigself. Ek sien altyd uit na die eerste keer dat ek my spesiale ruimte betree – die blinkertjies op my Indiese dekens knipoog skitterend in die lig, spieëls en erotiese kunswerke wink my nader en my kristallamp werp 'n rooi gloed oor die kamer.

Boeke staan op my bedkassie gestapel en die CD-houer bevat 'n groot verskeidenheid musiek. My sintuie word aangevuur deur die belofte van plesier.

Dink aan die wonderlikste slaapkamer wat jy al gesien het – een waarin jy die meeste op jou gemak, vol passie en sensueel gevoel het. Hoekom het dit jou so fantasties laat voel? Tot watter sintuie het dit gespreek? Kan jy 'n boudoir skep wat jou weer só kan laat voel?

Jy hoef nie baie geld uit te gee nie, dink bloot skeppend. Gee jou verbeelding vrye teuels.

Wees kreatief met beligting as jy selfbewus is oor hoe jy lyk. Skep sagte beligting met kerse of gooi 'n gekleurde lap oor jou lamp. In haar boek How to Tell a Naked Man What to Do stel Candida Royalle voor dat jy nie die kers naby die bed sit nie, sodat die lig nie direk op jou gesig en lyf skyn nie.

Jy dink dalk dis beter om die kat in die donker te knyp omdat jou maat nie dan al jou liggaamsfoute kan sien nie. Die naakte waarheid is dat die donker nie juis sal help om jou op te werk en tot aksie te bring nie. Jou maat sal ook nie juis gestimuleer wees nie.

Laat hy jou ook met sy oë liefkoos, selluliet en al. Verskillende materiale op jou bed sal jou lyf verskillende sensasies laat ervaar. Vou 'n sysarong oor jou lyf, sorg dat daar 'n fluweel- of chenille-deken is en slaap op lakens van suiwer katoen. As jy dit verkies, voeg kristalle by wat in die sonlig skitter, en gebedeklokkies om jou wakker te klingel.

Hou erotiese verhale of foto's wat jou prikkel langs jou bed. Of hou die skootrekenaar byderhand vir aanlyn-prikkels. Musiek kan 'n atmosfeer skep en 'n stemming verander. Of dit nou 'n danstreffer of Barry White is, laat jou lyf vrylik op maat van die musiek beweeg.

Tuisspel

  1. Kies musiek, materiaal, kos of parfuum (of 'n kombinasie) wat jou kussingstories simboliseer. Nie lank nie, of jy sal dit met jou seksuele en sensuele plesier begin vereenselwig.
  2. Vul jou sensuele ontdekkingsjoernaal met die dinge wat jou sintuie stimuleer. Spuit die bladsye met jou gunsteling- parfuum. Plak stukkies materiaal van verskillende teksture daarin om aan te raak. As jy weer met vakansie of op 'n romantiese afspraak is, neem 'n blom uit die blompot of pluk 'n blaar daarvan af om in jou joernaal te sit as herinnering. Laat jou sensuele leefstyljoernaal 'n sensasie-dagboek wees wat jou leefstyl weerspieël. Jy sal verbaas wees oor die sensuele en lekker gevoel waarmee dit jou laat elke keer dat jy aan jou boek werk of daardeur blaai.
  3. Maak 'n lysie van jou gunsteling-kossoorte en -speserye. Eet jy genoeg daarvan? 'n Mens eet dikwels kos omdat dit gesond is en nie noodwendig omdat dit lekker is nie. Soos ryskoekies! Maar ryskoekies wat dik gesmeer is met roomkaas en 'n skerperige sousie, kan 'n sensasionele maaltyd wees. Sorg dat jy elke dag iets eet wat vir jou lekker smaak.
  4. Skep jou eie boudoir wat gewy is aan jou geliefkoosde sintuie. As jy byvoorbeeld van fluweel hou, skaf 'n fluweelkussing aan.
  5. Sorg dat jy spesifiek dié sintuie stimuleer wat jy afskeep. As jy selde proe wat jy eet, wees meer oplettend. Spits jou ore vir verskillende klanke. Luister na musiek waaraan jy nie gewoond is nie. Let op hoe jou lyf daarop reageer.
  6. Koop met jou sensuele plesier in gedagte. As jy byvoorbeeld seeppoeier koop, besluit eers of jy van die ontwerp en geur hou. Sal dit jou plesier verskaf?
  7. Maak gebruik van wat jy in jou huis het. Herrangskik jou meubels, skilderye en ornamente, pas 'n "sensuele skoonmaaksessie" toe en gooi alles weg wat jou nie sensueel prikkel nie.

Wat is 'n kussingboek (pillowbook)? In die vroeë 14de eeu was dit 'n tradisie in Japan dat 'n jong bruid se ma met haar trounag vir haar 'n kussingboek gee. Dit is dan onder die bruid se kussing geplaas en daarin was seksuele gewaagdhede, wenke, raad en tegnieke vir die pasgetroude paartjie.

Kliek hier om Dr. Eve se Pillowbook deur Kalahari.net te bestel.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE