Share

Stop die sweet!

Soms drup die sweet jou af al is dit nie baie warm nie. Selfs net ’n bietjie spanning of opwinding laat jou met klam handpalms rondstaan. Hier is raad as jou sweetdruppels darem net te veel pêreltjies uitslaan...
Deur DR. BETS BREEDT vir Huisgenoot-POLS

Omtrent almal van ons sweet soms kwaai as ’n natuurlike reaksie op hitte, oefening, ’n spanningsvolle situasie en selfs skerp kos.

Maar as jy jou so sopnat sweet dat dit vir jou ’n sosiale probleem word, is die kans goed dat jy een van die sowat 3 persent van mense wêreldwyd is wat ly aan ’n toestand genaamd primêre hiperhidrose, oftewel oormatige sweet.

Vir sommige mense is hiperhidrose so ’n enorme verleentheid dat hulle nie eens by hul dokter wil gaan hulp soek nie. Tog is die kans uitstekend dat jou dokter die gesweet kan hokslaan – en hy of sy moet ook seker maak dat dit nie as gevolg van ’n ander siekte is nie.

In verreweg die meeste gevalle is oormatige sweet die gevolg van ’n oorywerige simpatiese senustelsel, dié deel van die senustelsel wat onder meer die sweetkliere in die bolyf en lies beheer.

Mense met ’n ooraktiewe simpatiese senustelsel drup gewoonlik byna altyd van die sweet, ongeag die weer of ander oorsake. Die sweet slaan veral uit in jou oksels en op jou handpalms en voetsole. Dit vlek klere, laat skoene sleg ruik, maak jou handdruk klam, maak dit moeilik om te bestuur of ’n pen of mes styf vas te hou – en dit sorg natuurlik vir netelige sosiale, werk- en romantiese situasies.

Primêre hiperhidrose word stapsgewys behandel. Jou dokter sal eers die eenvoudigste terapie beproef en as dit nie werk nie, ’n meer ingrypende behandeling voorstel.

Oplossings

Oplossing 1: Sweetweerders
Oor-die-toonbank-middels
Die eerste stap is om ’n sweetweerder te beproef, maar kies een wat aluminiumchloried as een van die bestanddele aangee. Dié middels vorm klein proppies in die sweetgaatjies wat die sweet binnehou. Dit moet elke 24 tot 48 uur aangewend word en jy behoort ná drie weke ’n verbetering te sien.

As dit nie werk nie, is daar sterker sweetweerders beskikbaar. Dié produkte bevat aluminiumchloried-heksahidraat en voorbeelde is Drichlor, Perspirex, Drysol en Xerac. Die prys wissel tussen R100 en R150 per botteltjie.

Hoe goed werk dit? Dis matig suksesvol en bied korttermynverligting. Beproef verskillende handelsmerke tot jy die een vind wat jou die beste pas.

Nadele: Die produkte kan jou vel irriteer en ook branderigheid veroorsaak.

Oplossing 2: Iontoforese
Jou hande of voete word in gewone kraanwater gedompel en ’n flou elektriese stroom word dan deur jou vel gelei. Dit veroorsaak dat die sweetkliere minder sweet afskei.

Die behandeling word deur dermatoloë en by skoonheidsalonne gedoen en kos sowat R310 per sessie. Ongelukkig betaal mediese fondse nie vir dié behandeling nie.

Jy skop af met twee tot drie sessies van tien tot twintig minute elk per week, of ’n uurlange sessie een keer ’n week. Namate die situasie verbeter, sal jy net een keer elke twee tot drie weke ’n behandeling nodig hê. ’n Normale sweetpatroon ontwikkel gewoonlik ná ses tot tien behandelings.

In Suid-Afrika word net die hande en voete tans met iontoforese behandel. Dis nie pynlik nie, maar is nie geskik vir swanger vroue of mense met pasaangeërs nie. Jy kan ook jou eie iontoforese-masjien teen sowat R2 500 koop.

Hoe goed werk dit? Dis net so doeltreffend soos sweetweerders.

Nadele: Baie mense vind die behandeling ’n beslommernis en dit moet voortdurend herhaal word. Dit kan ook ’n velirritasie veroorsaak.

Oplossing 3: Medisyne
Sommige middels hou die senu-oordragstowwe wat die sweetkliere beheer, in toom. Dié middels moet deur ’n dokter voorgeskryf word. Vra jou dokter oor produkte soos Pro-banthine, Ditropan en Dixarit, of middels soos paroksitien, gabapentien, amitriptilien, propranolol en diltiazem. Die koste wissel tussen R30 en R200 per maand en kan met ’n voorskrif by die apteek verkry word.

Hoe goed werk dit? Dit verminder die swetery, maar neem dit nie heeltemal weg nie.

Nadele: Daar kan newe-effekte wees soos ’n droë mond, dowwe visie, waterteropeenhoping, hardlywigheid en hartkloppings. Mense met sekere siektes soos lae bloeddruk, asma en hartversaking mag dit glad nie gebruik nie.

Oplossing 4: Botoks
Dieselfde middel wat teen plooie en spierspasmas help, kan oormatige onderarm- sweet verbeter.

Altesaam vyftig eenhede botoks word in omtrent twintig plekke onder die arm ingespuit en verskaf sowat ses maande se verligting van oormatige sweet. Die inspuitings is effens seer, maar ’n baie fyn naald word gebruik.

Botoks is nog nie goedgekeur vir die behandeling van handpalm- en voetsool-sweterigheid nie.

Die prosedure word uitgevoer deur ’n dermatoloog, plastiese chirurg of ’n dokter wat in botoks-behandeling spesialiseer.

Hoe goed werk dit? Dit verminder die gesweet aansienlik en soms heeltemal.

Nadele: Dis duur – sowat R4 500 per behandeling – en moet elke ses maande herhaal word. Dit hang van jou eie mediese fonds af of hulle daarvoor sal betaal of nie.

Oplossing 5: Chirurgie
’n Skalpel kan baie doeltreffend met oormatige sweet klaarspeel, maar dis die laaste uitweg nadat ál die ander behandelings nie gewerk het nie. Daar is altyd risiko’s aan chirurgie verbonde, wat jou dokter met jou sal bespreek. Begroot enigiets vanaf R25 000 en dit hang van jou mediese fonds af hoeveel uitbetaal word.

Sleutelgatoperasie aan borskas
Wat gebeur? Simpatiese senuwees of senuweebondels in die borskas word uitgesny, gebrand of afgebind. Om die senuweebondels by te kom, moet jou bors oopgesny en jou long afgeblaas word.

Hoe goed werk dit? Handswetery word met meer as 85 persent verminder. Dit help in ’n mindere mate ook vir gesig- en armsweet.

Nadele: Dis ’n groot operasie met heelparty moontlike komplikasies, soos ’n long wat kan platval. Die vel kan soms agterna warm en droog voel. Oormatige sweet kan ook ná die operasie op ander dele van jou liggaam uitslaan – dit gebeur met 30 tot 50 persent van pasiënte.

Tot 10 persent van pasiënte kan ná die operasie sukkel met oormatige sweet terwyl hulle eet en daar is ’n kans van 1 persent op ooglidverlamming.

Liesoperasie
Wat gebeur? Senuwees en senuweebondels in die lies word uitgesny, verbrand of afgebind.

Hoe goed werk dit? Dié prosedure is sowat 90 persent suksesvol vir voetsweet.

Nadele: Soms begin jy meer op ander plekke sweet omdat jy nie meer deur jou voete kan sweet nie. Seksuele disfunksie is ook ’n moontlike komplikasie – die verwydering van senuwees is dus die allerlaaste uitweg.

Sweetklier-verwydering
Wat gebeur? Altesaam 30 persent van die sweetkliertjies word met buisies uitgesuig, net soos met vetuitsuiging.

Hoe goed werk dit? Jy sal permanent minder sweet in die area wat behandel is.

Nadeel: Littekens onder die arms.

Koel wenke

  • Tannien in tee kan help vir sweterige voete. Week jou voete in ’n skotteltjie met ’n tee-oplossing.

  • Dra los klere van materiale wat nie vlek nie.

  • Ruil jou sokkies of kouse ’n paar keer per dag om.

  • Dra absorberende binnesole in jou skoene en vervang hulle dikwels.

  • Dra leer- of katoenskoene en katoenkouse.

  • Moenie dieselfde paar skoene twee dae ná mekaar dra nie – gee hulle kans om droog te word.

  • Wend poeier aan nadat jy gebad het.

  • Bly weg van koffie, tee, sjokolade en kos met baie kafeïen, asook van skerp kosse. Dit jaag jou hartklop en asemhaling op, wat jou meer kan laat sweet.

  • Hou waar moontlik ’n glas yswater byderhand en druk dit soms teen jou palms om af te koel.

  • Daar’s niks mee verkeerd om ’n sakdoek saam te dra en jou gesig en hande af te vee wanneer nodig nie.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE