As iemand met Parkinson se siekte gediagnoseer word, kan die dokter saam met die pasiënt drie opsies oorweeg.
- Is die simptome erg genoeg om met behandeling te begin? Die siekte self is ingewikkeld, maar die medikasie het dikwels ook ongewenste newe-effekte. Parkinson se siekte gaan, behalwe vir die rukkerige bewegings, dikwels gepaard met depressie, angsversteuring, gemoedskommelings, psigose en delirium. Dis waarskynlik regstreekse gevolge van die skade aan die breinselle, sê prof. Anthony Schapira, 'n bekende Britse neuroloog verbonde aan die National Hospital en die Royal Free Hospital in Londen asook aan die National University College of London.
- Behandeling met dopamien-agoniste of levo-dopa-medikasie. Albei middels kan newe-effekte hê. Dit kan onder meer die bloeddruk en hart aantas en onderliggende psigoses, vervolgingswaan en ander waangedagtes aanwakker. Levo-dopa-middels moet in ál groter dosisse toegedien word om die gewenste uitwerking vol te hou. Dit veroorsaak ook later rukbewegings weens weerstandigheid teen die medikasie, soos met die bekende akteur en Parkinson-lyer Michael J. Fox gebeur het. Dié middels lei egter byna nooit tot impulsiwiteitsbeheer-versteuring (IBV) nie. Met dopamien-agoniste is die rukbewegings nie so 'n probleem nie en dit help ook vir die depressie wat dikwels met Parkinson se siekte gepaardgaan. Dit kan egter IBV veroorsaak.
- Die enigste ander behandeling is diepbrein-stimulasie (DBS), 'n operasie waartydens elektrodes in die brein geplant word om die oorblywende dopamienselle voortdurend te stimuleer. Dit word deur enkele neurochirurge in die land gedoen. DBS bied vir sommige lyers jonger as 60 jaar dieselfde mate van verligting van simptome as die beskikbare medikasie, maar sonder die newe-effekte. Sodra alle breinselle wat dopamien vervaardig dood is, help DBS nie meer nie.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)