Share

Só verdrink jou brein in drank

Een drankie en jy gesels ’n bietjie makliker. Nog enetjie en jy voel hoe jy ontspan en jou selfvertroue groei. Jy wil nou net partytjie hou. Ná nog ’n drankie voel jy oulik en flambojant. Maar klim jy later in die bed, draai die wêreld. En die volgende oggend het jy die moeder van alle hoofpyne.

Wat het met jou brein gebeur?

Alkohol is ’n onderdrukkende middel; dit onderdruk dus die normale funksies van jou brein. Dis geen toeval dat jy eers joviaal voel en later sukkel om regop te bly nie. Die onderdrukkende uitwerking van alkohol is amper soos ’n golf of brander wat deur die brein spoel, het wetenskaplikes bevestig.

Die golf breek voor in die brein, spoel dan sywaarts en agtertoe, oor en deur die brein, en versprei ten slotte na die diepste en weerloosste binnekant daarvan, sê dr. Izak Loftus, forensiese en anatomiese patoloog van die Pathcare-groep op Somerset-Wes.

Jou sywaartse sig kan ná ’n enkele glasie wyn aangetas wees, al het die volle golf nog nie jou agterbrein bereik nie.

Kyk ’n bietjie, stap vir stap, hoe die alkohol deur jou brein spoel:

1. Die joviale fase
Ná minder as ’n halwe glasie per uur onderdruk alkohol die funksies van die frontale lobbe, wat jou inhibisies, selfbeheer, wilskrag, oordeelsvermoë en konsentrasie beheer.

As dié deel van die brein onderdruk word, verminder jou inhibisies, jou selfvertroue neem toe, en jy raak gemoedeliker en ook waagmoediger. Jy praat meer en sommer ook luidrugtiger. Alkohol is werklik ’n goeie sosiale smeermiddel.

Dié fase begin reeds as die vlak van alkohol in jou bloed 0,01 g/100 ml is.

Minder as ’n halwe glas per uur is nodig om dié vlak te bereik en dis ver onder die wetlike perk van 0,05 g/100 ml.

Maar glo dit as jy wil, jy ervaar reeds ’n verlies aan oordeel en ’n veranderende persoonlikheid wat jou risiko verhoog om weens onnatuurlike oorsake, soos in ’n ongeluk of bakleiery, te sterf.

Baie mense kan deur goeie selfbeheer vir hulself en ander wegsteek dat hul oordeel aangetas is, maar of jy dit kan verdoesel of nie, jou oordeel ís wel aangetas.

2. Die sleeptong-fase
Die volgende deel van jou brein waaroor die alkoholbrander spoel, is die pariëtale lobbe bo-op en langs die kant van jou kop.

As jy sowat 0,10 g/100 ml (so twee tot drie drankies per uur) gedrink het, word jou motoriese vaardighede ingekort.

Jy praat moeiliker en met 'n sleeptong wat jy – snaaks genoeg – self nie hoor nie. Jy kan begin bewe en ingewikkelde bewegings, soos die vasmaak van hempsknope, raak moeiliker.

Jy sal nie meer so maklik op ’n reguit lyn kan loop nie. Terselfdertyd stomp jou sintuie af en jou reuk-, smaak- en tassin is net nie meer wat dit behoort te wees nie.

3. Die sukkel-om-te-sien fase
As die alkohol jou agterkop en oksipitale lob bereik, is die vlak van alkohol in jou bloed gewoonlik sowat 0,15 g/100 ml.

Jy het dan al so vier tot vyf drankies (of twee tot drie dubbels) in ’n uur weggeslaan.

Nou begin dinge werklik gevaarlik raak, al dink jy nie so nie. Jy sien ál slegter. Jy sukkel ál meer om beweging en afstand te skat, en jy kan nie meer goed uit die hoek van jou oog sien nie.

As jy nou in skemerlig jou kar bestuur, gaan jy sukkel om ’n voetganger of die seuntjie wat agter sy bal aanhardloop, betyds te sien. Jy kan hulle doodry of agter in ’n stadig bewegende vragmotor vasjaag.

4. Die omval-fase
As jou bloedalkoholvlak ongeveer 0,20 g/ 100 ml is, en jy dus so vier tot ses doppe of so drie dubbels per uur agter die blad het, tref die alkoholgolf jou kleinbrein.

Nou is jou balans aangetas en sukkel jy om regop te bly. Hopelik het jou vriende jou al êrens veilig neergelê sodat jy jou roes kan afslaap.

5. Die papdronk-fase

Ons hoop jy is êrens veilig in ’n bed, want jy is nou byna bewusteloos van dronkenskap.

Die vlak van alkohol in jou bloed is digby 0,25 g/100 ml en dit spoel oor jou middelbrein.

Jy is lam. Jy bewe. Jy kan naar word en jou reflekse is kwaai onder druk. Hopelik hou jy net-net kop sodat jy in dié toestand maar liewer op jou maag aan die slaap raak – lê jy op jou rug, kan jy stik en sterf.

Teen dié tyd is jou bewussyn só onder druk dat jy in ’n koma kan wees.

6. Doodsake-fase
As jy vier dubbels per uur drink, sal jou bloedalkoholvlak gou hoër wees as 0,35 g tot 0,40 g/100 ml, en met soveel alkohol in jou lyf, tref die alkoholgolf jou weerlose breinstam met mening.

Dis nou doodsake, want onderdruk die alkohol die medulla oblongata (die dele van die brein wat jou asemhaling en bloedsomloop beheer), sterf jy.

Die volgende oggend
Jy het nie bedoel om te veel te drink nie, maar...

Dokter só die kopseer beter:

  • Drink baie water, verkieslik met ’n bietjie suiker of glukose daarin. ’n Groot, soet sportdrankie kan help, of ’n paar koppies soet tee. Die vloeistof sal ontwatering voorkom en die alkohol ’n bietjie verdun, en die suiker sal jou bloedglukosevlak verhoog. Die ekstra glukose help om asetaldehied, die giftige afbraakproduk van alkohol wat die hoofpyn veroorsaak, uit die breinselle te verplaas.
  • ’n Bruistablet wat vitamien B, C en die slymlosmaker N-asetielsisteïen bevat, kan jou liggaam gouer van asetaldehied help ontslae raak.
  • As jy ’n pynstiller nodig het, kan een wat aspirien of die teeninflammatoriese middel naproksien bevat, goed werk. Moet nooit meer as die voorgeskrewe dosis gebruik nie.

Voorkoming bly die beste genesing
Dis sekerlik beter om glad nie te drink nie. Maar ’n mens bly ’n mens.
Beperk so die uitwerking van alkohol op jou brein:

  • Eet ’n vrug, ’n toebroodjie of ’n stukkie wildsbiltong voor of wanneer jy drink. Kies ’n versnapering wat nie te olierig of vetterig is nie, anders sal jy dalk later weer na drank wil gryp as jy sien hoe vet jy die vakansie geword het as gevolg van al die eetgoed.
  • Drink stadig as jy moeg is of oefening gedoen het – alkohol tas jou gouer aan as jy moeg is.
  • Probeer om nie meer as een drankie per uur te drink nie. Só maak jy ook seker jou bloedalkoholvlak bly binne die wetlike perk van 0,05 g/100 ml bloed.
  • ’n Vrou se liggaam verwerk alkohol stadiger as dié van ’n man omdat mans meer spiere en dus ’n vinniger metabolisme het.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE