Deur ELISE-MARIE TANCRED vir Huisgenoot-POLS
1. Slaaploosheid
Slaaploosheid (insomnie) is die algemeenste slaapversteuring
en die meeste mense ly die een of ander
tyd in hul lewe daaraan, sê dr. Frans Hugo, psigiater en geheue-kenner.
Stres, 'n swak dieet, hormoonveranderinge, onderliggende siektes of vlugvoosheid is die grootste sondaars. Ouderdom speel blykbaar ook 'n rol en meer vroue as mans sukkel ná hul middeljare hiermee.
Volgens Frans kan 90% van slaaploosheid sonder medikasie behandel word.
"Ek sê altyd vir my pasiënte Randy Gardner se rekord is elf dae – jy weet jy gaan ná twee weke slaap, want in die een of ander stadium is jou slaapskuld so groot dat jy eenvoudig gaan wegraak." Goeie slaapgewoontes is volgens hom net so doeltreffend om slaaploosheid hok te slaan as enige pil.
Slaappille is net 'n tydelike oplossing omdat die brein binne 'n paar dae verleer om self aan die slaap te raak. "Met medikasie lyk jou slaapargitektuur ook anders. 'n Mens het minder REM-slaap en die geheuefunksie word ook minder doeltreffend vasgelê," verduidelik Frans. Voor jy 'n slaappil in jou mond druk, moet jy jou afvra hoe lank jy dit gaan drink aangesien baie medikasie – veral die bensodiasepien- slaappille soos Valium – verslawend is.
2. Slaapapnee
As jy dink snork is glad nie gevaarlik nie, moet
jy weer dink. Dis dalk 'n waarskuwingsteken dat jy
slaapapnee kry, wat lewensgevaarlik kan wees.
Slaapapnee – waar jy vir kort tye ophou asemhaal wanneer jy slaap – is een van die mees ondergediagnoseerde toestande, meen Jan Top. "As jy sleg slaap, baie snork en oorgewig is, behoort jy dadelik jou huisdokter in kennis te stel."
Slaapapnee kom voor wanneer vet rondom die nek versamel – soos 'n dubbelken of spierweefsel wat verslap – en dan die slukderm tydens slaap platdruk en lugvloei vir tussen tien en sestig sekondes versper. Die brein registreer 'n tekort aan suurstof en jy snak na asem voordat jy weer normaal lug kry. Sulke voorvalle kan tot honderd keer per nag voorkom. Jy voel die volgende dag moeg, prikkelbaar en terneergedruk, en het dikwels hoofpyn weens die suurstoftekort.
"'n Mens kan nou wel grappies maak oor hoe jy jou buurman wakker snork, maar slaapapnee is dodelik," sê Jan. "Dit kan ernstige siektes soos diabetes, hartaanvalle, nierskade, beroerte en depressie veroorsaak. Wanneer 'n mens lees van iemand wat saggies in sy slaap heengegaan het, is dit dikwels weens slaapapnee."
Nuwe navorsing toon dat 'n tweede soort slaapapnee (wat niks te doen het met oorgewig en obstruksie nie, maar met 'n fout in die asemhalingbeheersentrum in die brein) baie bedrieglik en gevaarlik is, maar ook nou doeltreffend behandel kan word.
Sommige mense hou snags op met asemhaal omdat seine van dié sentrum in die brein nie die asemhalingspiere bereik nie, sê Bernard Tjallinks, neurofisioloog van die slaapkliniek by die Pretoria-Oos-hospitaal.
Albei soorte slaapapnee word in slaapklinieke gediagnoseer en behandeling vind plaas met 'n toestel wat lug by die mond inblaas en só aanhoudende suurstofinname verseker. Dokters waarsku dat slaapapneelyers nooit slaappille of verdowingsmiddels moet gebruik nie omdat dit hulle kan verhinder om weer te begin asemhaal.
3. REM-gedragsversteuring
REM-gedragsversteuring klink soos iets uit 'n Halloweenfliek,
maar kan ontwikkel wanneer die breinstam nie
daarin slaag om die liggaam tydens REM-slaap
tydelik te verlam nie.
Sulke mense leef dan letterlik hul drome uit. Jan vertel van 'n pasiënt wat haar een aand teen die muur van die slaapkliniek disnis gehardloop het toe sy 'n bal probeer vang het.
"Dis 'n seldsame toestand, maar dis skrikwekkend om so iets te aanskou en mense kan hulself of ander ernstig beseer."
In Amerika was daar al opspraakwekkende gevalle waar lyers moord gepleeg of ander mense gewelddadig beseer het weens dié versteuring. Medici verbind die mediese toestand vandag met ander siektetoestande soos Parkinson se siekte of breinstamskade.
4. Narkolepsie
Narkolepsie is wanneer iemand ondanks die feit dat jy snags normaal
slaap, bedags slaapaanvalle kry. Dié slaapaanvalle kom skielik
en kan van 'n paar sekondes tot sowat dertig minute duur. Mense
met narkolepsie kan ook katapleksie (die verlies van spierbeheer
gedurende 'n emosionele situasie soos 'n heftige argument), hallusinasies
en tydelike verlamming kry wanneer hulle wakker word.
Die toestand is ernstig omdat iemand hom noodlottig kan beseer of 'n ongeluk kan veroorsaak indien hy bestuur. Narkolepsie word dikwels oorgeërf, maar word ook soms met breinbeserings verbind. Dit word gewoonlik met stimulante of antidepressante behandel.
5. Rustelose-bene-sindroom
Rustelose-bene-sindroom kom in sekere families voor en is die
onaangename gekriewel, geprik of tinteling in jou bene of voete
wat jou dwing om hulle te beweeg om die gevoel te laat verdwyn.
Veral ouer mense sukkel hiermee. Snags veroorsaak dit slaaploosheid, maar dit word ook verbind met bloedarmoede, swangerskap en diabetes. Medikasie wat spesifiek op die breinoordragstof dopamien gerig is, is doeltreffend.
6. Periodieke ledemaat-beweging
(PLB)
Het jy al ooit in die middel van die nag wakker geskrik omdat jou
bedmaat een of albei sy bene skielik optrek, of sy voete beweeg, of
skielik skop en slaan? So erg dat dit jou wakker maak? Dan ly jou
bedmaat aan PLB, sê Peet Vermaak, neurofisioloog van The Pretoria Sleep Lab.
PLB is die enigste toestand waar iemand se ledemate onbeheers in sy slaap beweeg. Dit kan wissel van beweging van die knieë, enkels en tone tot groot bewegings van al vier ledemate.
Baie mense met PLB weet nie eens dat hul bene en voete in die nag skielik beweeg en hul slaap versteur nie. Hulle voel net die volgende dag moeg en vaak.
PLB neem toe met ouderdom: byna die helfte van mense ouer as 65 jaar ly hieraan. Behandeling met dopamien of slaappille om ononderbroke slaap te verseker, help.
7. Slaapwandelary
Slaapwandelary (somnambulisme) kom voor wanneer 'n slapende
mens sy bed verlaat en dinge doen wat gewoonlik met
wakkerheid verbind word. Die persoon kan gewoonlik slegs met
groot moeite wakker gemaak word, en as sy wakker word, kan
sy dikwels nie onthou wat gebeur het nie.
Slaapwandelaars kan hulself of ander beseer. Slaapwandelary kom voor in die diep fase 4-slaap.
In Amerika het die polisie 'n vrou van die pad getrek wat haar honde in die motor gelaai en sowat 40km ver gery het voor sy wakker geword het.
8. Nagvrese
Slaapangsversteuring, oftewel nagvrese, kom meestal by kinders
voor en laat 'n gewone nagmerrie na 'n vulletjie lyk. "Moenie
aan die kind raak of hom optel nie," sê Peet. "Skakel 'n dowwe
lig aan en stel jou kind in 'n sagte stem gerus tot die episode
verby is."
(Hierdie is 'n uittreksel uit 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)