Share

Siekteverlof-mites opgeklaar

Is jy onseker of jy ’n doktersbrief moet voorlê as jy vir twee of drie dae siek was? Hier is die feite:

Mite – ’n Doktersbrief van ’n tradisionele heler is nie ’n geldige siektesertifikaat nie.  
Feit – ’n Siektesertifikaat van ’n tradisionele heler is geldig solank die praktisyn geregistreer is. Die wet sê dat ’n mediese sertifikaat uitgereik en geteken moet word deur ’n mediese praktisyn – dit is ’n persoon wat gesertifiseer is om pasiënte te diagnoseer en te behandel – wat by ’n professionele raad geregistreer is wat deur die parlement gewettig is. 

Mite – Ek moet ’n siektesertifikaat voorlê as ek vir twee opeenvolgende dae afwesig was.    
Feit – ’n Werkgewer kan alleenlik ’n mediese sertifikaat vereis as ’n werknemer vir langer as twee opeenvolgende dae afwesig was – met ander woorde van die derde dag af. ’n Werkgewer kan ook ’n doktersbrief aanvra as ’n werknemer meer as twee keer binne agt weke ’n dag se siekteverlof neem. As die werknemer onder hierdie omstandighede nie ’n geldige mediese sertifikaat kan toon nie, hoef die werkgewer nie die werknemer vir die dag wat hy of sy nie gewerk het nie te betaal nie.  

As ’n werkgewer baie probleme met siekteverlof ondervind, mag hy of sy ’n klousule in die indiensnemingsvoorwaardes insluit wat vereis dat die werknemer onder sekere omstandighede ’n siektesertifikaat moet voorlê, byvoorbeeld wanneer siekteverlof op ’n Maandag of Vrydag geneem word.   

Mite – Werkgewers het geen reg om ’n siektesertifikaat te bevraagteken nie.
Feit – Die feit is dat ’n werkgewer inderdaad die reg het om ’n doktersbrief te bevraagteken, veral as daar rede is om te glo dat die werknemer nie werklik siek was nie – soos in die geval van die werknemer wie se foto in die koerant verskyn het toe hy ’n gholftoernooi gewen het op die dag toe hy kwansuis griep gehad het. ’n Werknemer kan egter nie sonder rede die siektesertifikaat verwerp nie en moet bewyse kan lewer – óf dat die siektesertifikaat ongeldig is, óf dat ’n ooggetuie die “siek” werknemer bv. die vorige aand in ’n nagklub gesien het.

Mite – Siekteverlof werk volgens ’n jaarlikse siklus.  
Feit – Siekteverlof werk volgens ’n drie-jaar-siklus. Gedurende die eerste ses maande by ’n werk mag ’n werknemer een dag siekteverlof vir elke 26 werksdae neem. Daarna mag die werknemer gedurende ’n drie-jaar-siklus die aantal dae wat hy of sy normaalweg binne ’n periode van ses weke werk as siekteverlof neem.   

Mite – Ek moet normale verlof neem as ek by die huis bly om ’n siek kind op te pas.  
Feit – As die werknemer vir langer as vier maande by ’n werkgewer gewerk het en ten minste vier dae per week werk, mag hy of sy drie dae betaalde familieverantwoordelikheidsverlof gedurende elke jaar van indiensneming neem. Familieverantwoordelikheidsverlof geld wanneer die werknemer geboorte skenk, wanneer die werknemer se kind siek is of wanneer ’n eggenoot of eggenote, lewensmaat, ouer, pleegouer, grootouer, broer of suster of aangenome kind van die werknemer sterf.

’n Werknemer mag vir ’n redelike bewys van so ’n gebeurtenis vra wanneer hierdie soort verlof geneem word, soos bv. ’n doodsertifikaat of doktersbrief in die geval van ’n siek kind.  

Mite – Ek kan my siekteverlof gebruik wanneer ek op normale verlof is.  
Feit – Die wet laat hom nie hieroor uit nie en regulasies mag van maatskappy tot maatskappy verskil. Arbeidswet-konsultant Michael Bagraims glo egter dat werknemers nie by magte is om hulle normale verlof vir siekteverlof te “ruil” as hulle gedurende hulle vakansie siek word nie.

Mite – Ek moet normale verlof neem elke keer wanneer ek na die kliniek toe moet gaan om my medikasie te gaan haal.  
Feit – Volgens Michael Bagraims kan ’n werknemer siekteverlof gebruik wanneer hy of sy iets moet doen wat met siekte verband hou. – (Health24, hersien Junie 2010)

Lees verder:

Somer-siekteverlof laag
Gesonde werkers werk hard

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE