Share

Sensuele somer

Dis weer daardie wilde, warm tyd van die jaar – stimuleer jou sintuie en laat jou verhouding vlam vat. Ons wys jou hoe om jou gemaksones in te ruil vir sensuele somerpret.
Deur JONTI SEARLL vir Huisgenoot-POLS

Somer is 'n skitterende seisoen. Die lug is blouer, die dae langer en die buitelewe nog meer avontuurlik as gewoonlik. Daar is vars smake om te proe, en eindelose sorgvrye vakansiedae. Daar is strande en sexy bikini's en sjampanje-aande onder die sterre.

En die beste van alles is dat namate die hittegraad buite styg, ons ál warmbloediger raak. Dis dus die volmaakte tyd om afgekoelde passie weer op te warm en om van jou inhibisies én jou klere ontslae te raak.

'n Hoër libido in die somer
Hoekom is die somer so 'n intens sensuele seisoen? Dis omdat die warmer maande gepaard gaan met 'n gevoel van vryheid. En hoe meer jy van die lae winterklere ontslae raak, hoe meer ontluik jou sensualiteit.

Daar is 'n teorie dat jou libido in der waarheid in die somer styg. Wanneer jy in die buitelug is – in die son, op die strand, in die swembad – vloei die bloed na die oppervlak van jou vel. Dit laat jou ligter voel en meer in voeling met jou sintuie.

Jy word meer sensitief vir aanraking. Die vars briesie streel jou lyf. Die sensasie van koue water op jou warm vel laat jou tintel. Die geur van blomme en die kleure van die somer veroorsaak ’n sensuele sensasie-ontploffing waaraan jy moet uiting gee.

Haal die meeste hieruit deur bewus te wees van al dié sensasies – die lig, die hitte, die smake en geure. Hierdie bewuswording is een van die belangrikste aspekte van sensualiteit.

Om jou lyf gereed te maak vir 'n sensasionele somerervaring kan jy kies om ten volle in die hede te leef – maak nie saak waarmee jy besig is nie. Geniet daardie eerste teug van jou yskoue drankie aan die einde van 'n snikwarm dag. Proe elke stukkie van daardie sappige vrug. Kyk 'n oomblik diep in jou geliefde se oё en voel die fisieke en emosionele band tussen julle.

Wees waaghalsig
Skrapse somerklere wink vol belofte. Om jou maat 'n vinnige kykie na 'n geheime deel van jou lyf te gee kan ongelooflik opwindend wees op 'n openbare plek soos 'n stil deel van die swembad of die donker hoekie van 'n skemerkelkiekroeg. En as dit heeltemal onverwags is, des te beter.

Mans is uiters visueel ingestel (nie dat vroue nié is nie) en jy kan sy hartklop die hoogtes injaag bloot deur hom só 'n skelm voorsmaak te gee van wat later op hom wag.

Dit kan natuurlik ook die wilde waaghals in jou uitbring, wat julle albei net nog meer sal opwerk. Onthou, wanneer dit kom by seksspeletjies, is dit belangrik dat julle albei bereid is om saam te speel. As jy sien dat jou maat opgewerk raak, sal jy selfs nog meer geprikkel raak – en die spel sal nog warmer word.

Stoutigheid onder die son
As dit warm word, wink die natuur. Die privaatheid van jou tuin is natuurlik die ideale plek om te begin eksperimenteer met nuwe plekke om in liefde te maak. Maar in ons pragtige land is daar baie ander eksotiese plekke om te verken – en waar julle mekaar kan verken.

Een van die opwindendste dinge van stout wees op openbare plekke is die kans dat iemand julle dalk kan sien of uitvang. Dit dra beslis tot die opwinding by.

Blitsseks in die natuur sal jou uitasem en vuurwarm van passie laat. As jy 'n bietjie aan die skaam kant is, gebruik dié plekke om jou maat te verlei met 'n fluisterwoordjie of 'n aanraking, of wys 'n bietjie vel.

'n Sanderige storie
Die strand is dikwels net die ding as jy 'n afgeleё plekkie soek vir 'n bietjie private pret. Die see, die son wat op jou vel bak – dit dra alles by tot die sensuele ervaring.

Die grootste nadeel van die strand is egter die strand self. 'n Paar sandkorrels op die verkeerde plek kan uiters ongemaklik wees, om nie te praat van pynlik nie.

'n Groot handdoek is dus noodsaaklik, asook genoeg intieme smeermiddel om seker te maak dat alles glad verloop.

Dan is daar ook die kans dat jy kan brand op plekke wat lanklaas, indien ooit, son gesien het. Sonbrand is maklik om te verduidelik, maar hoe verduidelik jy sonbrand dáár? Moet dus nie die sonskerm vergeet nie; jy kan dit selfs inspan vir 'n sensuele massering.

Parate pret
Wees paraat en gereed vir al dié buitelug-avonture. Natuurlik wil jy nie enige spontaneïteit doodsmoor nie, maar hoe gemakliker jy is, hoe meer sal jy die ervaring geniet.

Water is vir baie mense 'n baie sensuele element, maar dit droog ook delikate weefsel uit – veral swembadwater wat met chemikalieë behandel is. As jy dus 'n sensuele swemsessie beplan, onthou die intieme smeermiddel.

Ons is gelukkig om soel someraande te kan geniet waar ons die kat in die donker kan knyp. Maar dis nie al wat kan knyp nie – dis ook die tyd wanneer goggas en ons vlieënde vriende hul verskyning maak.

'n Muskiet wat in jou oor zoem, kan omtrent jou passie in jou skoene laat sak. Al ruik dit nie so lekker nie, gebruik maar muskietwerende sproei. Onthou waar jy dit oral aangespuit het, want jy wil nie met 'n onsmaaklike mondvol eindig nie!

Liplekker
Somervrugte en -kos kan op meer as een manier lekker wees. Die sap van 'n waatlemoen wat oor jou ken teen jou nek afdrup, smeek om afgelek te word.

Jy kan ook jou minnaar se lyf in 'n smaaklike vrugtegereg omskep – sny 'n paar somervrugte in klein happies en rangskik dit oral op sy lyf. Al wat jy dan nog kort, is room en die fees kan begin.

Onthou, dis dikwels die eenvoudigste dingetjies wat tel. As jou maat 'n ruk lank in die son gelê en bak het, sal 'n blokkie ys wat jy stadig teen haar rug en in die geheime valleie van haar bene laat afgly, haar laat ril van lekkerkry.

Gee jou verbeelding vrye teuels en eksperimenteer met alles wat dié seisoen jou bied. Die somer is die tyd vir pret en plesier. Skep nou warm herinneringe wat die vlamme van passie regdeur die winter sal laat brand.

Warm wenke
Vir mans: Gebruik jou tyd. Onthou, romanse is nie rugby nie. Dit gaan nie daaroor om 'n drie te druk nie, maar om haar gelief en spesiaal te laat voel.
Vir vroue: Gee jouself vrye teuels. Dis nou die tyd vir avontuur en om jou spelerige, sensuele sy te voorskyn te laat kom.

* Jonti Searll is 'n sensualis en mediapersoonlikheid van Johannesburg. Hy bied landwyd werksessies aan oor seksualiteit en sensualiteit.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more: Sex Centre

Sex: Tips and techniques

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE