advertisement
16 November 2009

Sal hy 2100 haal?

Die moontlikheid dat ons kinders 100 jaar oud kan word, is baie groot. Vind uit wat jy en jou gesin kan doen om lank en gesond te lewe.

0

As die jongste navorsing enigsins betroubaar is, kan jou kind die volgende eeu met net soveel krag en lewenslus tegemoetgaan as wat hy in hierdie stadium van sy lewe het. Maar hoe kan jý daarby baat? Lees hier hoe om lewe by jou jare te voeg.
Deur ROB WHITAKER vir Huisgenoot-POLS

Die moderne wetenskap is aan ons kant. Nie net ons kinders nie, maar ook ons as grootmense is goed op pad om gesonde en aktiewe honderdjariges te word.

Die jongste navorsing is besig om die horlosie terug te draai en ontslae te raak van ouderwetse idees oor oud word. Danksy die tempo waarteen mediese tegnologie ontwikkel (en 'n paar slim lewenstylkeuses) kan ons kinders waarskynlik die 22ste eeu met 'n huppel in hul stap verwelkom.

Mense leef reeds langer as ooit tevore. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die lewensverwagting gedurende die afgelope eeu van 48 tot tagtig jaar vir vroue en van 46 tot 75 jaar vir mans gestyg.

En Suid-Afrika is nie ver agter dié internasionale neiging nie, meen Bruce Muir, 'n dokter van Kaapstad wat in geneeskunde teen veroudering spesialiseer.

"Terwyl een deel van ons bevolking jonk doodgaan as gevolg van vigs, het ons ook ’n eerstewêreldse gemeenskap waar die groeipatroon van mense ouer as tagtig dié van die VSA weerspieël."

Op die oomblik het jy 'n tien keer groter kans as jou grootouers om 'n driesyfer-ouderdom te bereik. En jou kinders sal moontlik nóg langer leef. Die mediese wetenskap werk oortyd om die volgende geslag gelukkiger en gesonder te hou, want hul lewe raak ál langer.

Die wetenskap van 'n langer lewe
Tien jaar gelede was die algemeen aanvaarde idee dat indien jy honderd haal, dit net deur jou gene bepaal is. Dit is dalk nie die volle verhaal van hoe 'n mens 'n rype ouderdom bereik nie, maar dis beslis 'n baie belangrike hoofstuk.

Hier is die eenvoudige waarheid: As jou ouers, oumas en oupas of grootjies ouer as negentig geword het, kan jy dalk ook 'n rukkie langer in die land van die lewendes wees. Ons weet dit instinktief en tans word die rol van die familieverband in buitengewone langlewendheid deur navorsing* gerugsteun.

Ja, maar daar is meer by langlewendheid betrokke as bloot goeie gene, voeg Bruce versigtig by. "Goeie gene is 'n sterk begin, maar selfs die beste gene kan jou nie teen die gevolge van 'n swak lewenstyl beskerm nie."

Gelukkig is jy ook nie heeltemal uitgelewer aan die twyfelagtige geen wat jy geërf het nie. Slegte gene moet eers "aangeskakel" word voor hulle 'n uitwerking op jou kan hê. As jy 'n familiegeskiedenis van chroniese siektes het, kan jy jou risiko deur slim lewenstylkeuses verminder.

Aan die ander kant kan jy onderliggende siektes wat jy van jou ouers geërf het "aanskakel" as jy rook, ernstig oorgewig is, gevaarlike transvette en versadigde vette inneem of aan sekere chemikalieë en besoedeling blootgestel word.

Kyk nou maar na 'n energieke agtjarige. As hy die berugte geen vir hoë cholesterol wat in sy familie voorkom, geërf het, kan dit beteken dat hy al vroeg in sy lewe 'n hartaanval sal kry. Maar studies dui aan daardie genetiese merker bly in byna 'n derde van alle draers onaktief.

Hoekom? Waarskynlik omdat hulle nooit gerook het nie en tonne vars vrugte en groente geëet het – veral sitrusvrugte, groen blaargroente en vars produkte wat ryk aan vitamien B en folaat is.

As die agtjarige kind hierbo ook so maak, kan hy keer dat die swak geen aan- geskakel word en hoef hy nie 'n vroeë hartaanval te vrees nie. Indien Pieter nie sy ouers versigtig gekies het nie, kan hy ook 'n neiging hê om vroeg al Alzheimer se siekte te ontwikkel. Dié oorerflike neiging kan ook aangeskakel word. En as hy rook en dikwels 'n glas of twee alkohol drink, sal sy kanse om die toestand te ontwikkel elf keer groter wees as iemand wat rook en drank vermy.

Die rol van inflammasie
Nog 'n faktor wat die knoppie kan druk om die verouderingsproses te versnel, is een van die liggaam se normale, nuttige prosesse: inflammasie. Dit is die liggaam se selfbeskermende reaksie teen infeksie, beserings en siektes.

Terwyl 'n matige immuunstelsel die liggaam teen skade kan beskerm, het 'n langdurige, laegraadse ontsteking skadelike newe-effekte. Wanneer die liggaam se verdedigingstelsel homself aanval, veroorsaak dit veranderinge aan die selle en die genetiese materiaal binne die selle wat lei tot die simptome van veroudering en siekte.

Nuwe navorsing het onthul dat inflammasie die grondoorsaak van baie ouderdomsverwante toestande is, insluitend hartsiektes, hoë bloeddruk, ateroom (agteruitgang van die slagaarwande weens vetaanpaksels), tipe-2 diabetes, Alzheimer se siekte, Parkinson se siekte, outo-immuuntoestande, sekere soorte kanker en miskien selfs plooie en 'n hangvel.

Die ontdekking van die ontstekingseffek beteken dat die geleentheid nou bestaan vir beter behandeling en voorkoming. Dit is bekend dat 'n aspirientablet elke dag 'n positiewe uitwerking op hartsiektes het – heel waarskynlik omdat dit inflammasie verminder.

Navorsing oor nuwe teenontstekingsmiddels kan lei tot 'n ouderdomsomkerende wondermiddel vir enigiets van ateroom tot Alzheimer se siekte.

Selfs nog interessanter is die feit dat daar reeds bewyse is dat vetsugtige mense 'n hoër bloedvlak van ontstekingsproteïene het – en dat die vlak daal wanneer hulle gewig afskud.

Navorsing dui ook aan dat 'n dieet wat ryk is aan vars vrugte, groente en volgraan (moontlik ook deur aanvulling met multivitamiene, antioksidante en omega-3-visolie) ontsteking kan verminder en so jou algehele gesondheid 'n hupstoot gee.

Dit lyk asof dieselfde omgewingsfaktore wat jou swak gene kan aktiveer, 'n onbeheerbare ontstekingsreaksie kan ontketen. Dié faktore sluit in dieet, te veel stres, besoedeling, chemikalieë wat kanker veroorsaak en virus- en ander infeksies. Jou lewenstylkeuses en omgewing speel duidelik 'n dubbele rol: Hulle kan die ontstekingsproses óf afkoel óf aanvuur en so swak gene aanskakel.

Dis duidelik uit navorsing: Jou lewenstylkeuse kan jou gesondheid verbeter en langlewendheid beïnvloed – maak nie saak wat jou genetiese samestelling is nie. Bruce meen beter eetgewoontes is een van dié faktore. "As gevolg van ons verbeterde dieet en beter daaglikse beskikbaarheid van proteïenbronne soos vleis en vis, het dit makliker geword om goeie gesondheid te handhaaf."

Dan is daar meer oefening, beter gesondheidsonderrig en 'n magdom mediese ontwikkelinge wat help om ons lewe te verleng en welstand te bevorder. "Faktore soos die ontwikkeling van antibiotika, 'n beter begrip van chroniese toestande en moderne mediese en farmaseutiese tegnologie het ook gehelp om jare by ons lewe te voeg," sê Bruce.

Lewe in die blou sones
Wetenskaplikes raai al lank oor die "blou sones" – geografiese gebiede waar die aantal mense wat ouer is as honderd jaar, tien uit elke 100 000 beloop. Het hulle die genetiese boerpot gewen of is dit ingewikkelder?

Die langlewendheid-navorser Thomas Perls glo dat dié fenomeen meer te doen het met jou omgewing as met die goeie gene wat jy geërf het. "Familielede deel dikwels baie omgewingsfaktore," sê Thomas en wys daarop dat jou omgewing 70% meer invloed op jou langlewendheid het as jou gene.

Navorsers sê ook dat hóé jy leef belangriker is as wáár. Dus pleks daarvan om na die Japanse eiland Okinawa te verhuis – wat boaan die lys van blou sones is – sou dit beter wees om soos die mense van Okinawa te leef.

Dit sluit in 'n dieet ryk aan plantmateriaal (soos tofu) teenoor kilojouleryke voedselsoorte, 'n aktiewe en interaktiewe lewenstyl tot in jou middeljare en later, en om volgens die beginsel van hara hachi bu te leef, wat beteken dat jy net moet eet tot jy 80% versadig is.

Wat kan jy nou reeds doen?
Wondermedikasie en nuwe tegnologie kan gouer verskyn as wat ons dink. Maar dit beteken nie dat jy kan eet, drink en vrolik tekere gaan tot dit wel gebeur nie. Om 'n gebalanseerde lewe te lei en jou kinders te leer hoe om gesonde keuses te doen, is die beste manier om in hul supergesonde ouderdom te belê. Probeer dus die volgende maklike en vinnige veranderinge... vandag nog!

  1. Help jou hart. Net dertig minute se aërobiese aktiwiteit vier keer per week sal help om jou bloedvate se tonus te verbeter en jou risiko vir hartsiektes te verminder. Ondersteun dit met 'n laevetdieet wat jou bloedvate vry van vetterige neerslae sal hou deur meer vrugte en minder transvette te eet.

  2. Gee jou beendere 'n hupstoot. 'n Gereelde oefenprogram plus drie glase afgeroomde melk per dag vir voldoende kalsiuminname sal jou risiko vir osteoporose verminder. Probeer lae-impak-, gewigdraende oefening (soos stap) wat help om 'n gesonde beendigtheid in stand te hou.

  3. Leer jou brein. "Neem gereeld deel aan nuwe en uitdagender breinaktiwiteite soos legkaarte pak of kopkrappers aanpak. Leer speel 'n nuwe musiekinstrument of leer 'n nuwe taal," sê Perls. Daar is bewys dat dié kragoefeninge vir jou brein geheueverlies en Alzheimer se siekte vertraag.

  4. Vlos meer. Glo dit of nie, om daagliks te vlos, kan jare by jou lewe voeg. Indien jy nie vlos nie, kan dit tot chroniese tandvleisontsteking lei, wat op sy beurt veroorsaak dat ontsteking-chemikalieë in die bloedstroom vrygestel word, wat tot die verstopping van slagare kan bydra.

  5. Druk dit dood. Volgens navorsing wat in die British Medical Journal gepubliseer is, kan jou oorlewing dié van 'n lewenslange nieroker ewenaar indien jy teen die ouderdom van dertig ophou rook. En as jy teen vyftig ophou, sal jy jou risiko om binne die volgende vyftien jaar te sterf, halveer. As jy dink dis te laat om die gewoonte stop te sit, dink weer, sê die kardioloog en president van die Canadian Association of Cardiac Rehabilitation, dr. Neville Suskin: "Mense wat ná 'n hartaanval ophou rook, verlaag hul risiko van nog 'n hartaanval met byna 30%."

  6. Stres minder. In sy befaamde New England Centenarian Study het Perls 'n interessante neiging by sy bejaarde "proefkonyne" van oor 'n honderd opgelet – hulle het nie toegelaat dat hul stres oorneem nie. Die mikpunt is dat jy jou stres beheer en nie toelaat dat dit jou beheer nie. "Dit is nie soseer die hoeveelheid stres in jou lewe wat tel nie, maar eerder hoe goed jy dit bestuur," sê hy.

  7. Praat minder. Muir beveel aan dat jy die tyd wat jy op jou selfoon deurbring tot 'n minimum beperk, of dat jy 'n handvrye stel gebruik. "Die bestraling van 'n uitsaaiende selfoon is reeds gekoppel aan die ontstaan van sekere soorte kanker," sê Bruce. In dié geval moet daar op akoestiese neuroom gelet word. Kinders het 'n groter risiko omdat hul skedel minder dig is en die bestraling dieper kan binnedring.

Deskundiges beveel aan dat jy met net twee of drie lewenstylveranderinge begin, dit goed onder beheer kry en dan 'n paar byvoeg. Studies toon dat as jy 'n verandering in jou gedrag ses weke lank volhou, jy in staat sal wees om dit vir die res van jou lewe vol te hou. En as die neiging is soos ons dit voorspel, kan dit tot in lengte van dae wees.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more: Who lives the longest and why?

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.