advertisement
01 March 2010

Red jou tande!

Het jy 'n hoof-, nek- of kaakpyn wat net nie wil wyk nie en jy weet nie waar dit vandaan kom nie? Die kans is goed dat jy 'n tandeknerser is.

0

Het jy 'n hoof-, nek- of kaakpyn wat net nie wil wyk nie en jy weet nie waar dit vandaan kom nie? Die kans is goed dat jy 'n tandeknerser is – en dit kan ernstige gevolge hê as jy nie gou by 'n tandarts uitkom nie.

Deur MICHELLE PIETERS

Dit het gereeld gebeur. Eers was dit net 'n dowwe pyn, maar binne 'n dag het dit in 'n verblindende hoofpyn ontaard. Haar nuwe droomwerk was op die spel, want die hoofpyn het haar nie toegelaat om eens behoorlik te lees of op haar rekenaar te werk nie.

"Ek onthou hoe ek agter my lessenaar gesit en my kop vasgehou het. En elke keer as die pyn begin het, was ek angsbevange, want ek het geweet hoe seer dit sou wees en hoe hulpeloos dit my sou laat," vertel Ina (38)*, 'n enkelma van Johannesburg.

'n Migraine was dit beslis nie. Sy het al tevore migraines gehad, maar dié pyn was anders. Sy het elke denkbare pynpil gedrink net sodat die hoofpyn meer draaglik kon wees, maar sy het besef sy kan nie op pynpille leef nie.

Ina stres nie maklik nie, daarom het sy nie gedink spanning is die oorsaak nie. Eers het sy vermoed daar is fout met haar oë, maar 'n oogtoets het gewys niks skeel nie. Toe verwys haar huisdokter haar na ’n fisioterapeut. In haar nek was 'n bol spiere wat op 'n knop getrek was. Omdat die spasma tot reg in haar kop gestrek het, het die fisioterapeut besef dis g'n gewone spierprobleem nie.

Sy het vermoed Ina kners op haar tande en voorgestel sy gaan spreek 'n tandarts.

Die tandarts het haar ondersoek en sommer dadelik haar probleem verduidelik: Sy is 'n tandeknerser. Dit het tot inflammasie in haar kaak- en nekspiere gelei en die hoofpyne veroorsaak.

Ina was gelukkig om gou genoeg gediagnoseer te word, want anders het sy dalk een oggend wakker geword met 'n gekraakte tand. Of nog erger, sy sou haar tande eindelik so erg afgeslyt het dat sy óf chirurgie sou moes ondergaan óf selfs van haar tande sou moes laat verwyder en inplantate kry. Nie 'n lekker gedagte vir enigiemand nie, veral nie 'n 38-jarige beroepsvrou nie.

Die oplossing vir haar probleem was eintlik baie eenvoudig. 'n Bytplaatjie wat sy snags moes dra en wat bo-oor die kou-oppervlak van haar tande pas sou haar tande beskerm. Wanneer 'n mens 'n bytplaatjie in jou mond sit, raak die onderste en boonste tande nie aan mekaar nie en so dien die plaatjie as 'n buffer.

"Ek moes tien dae lank vir daardie bytplaatjie wag. Dit was die belangrikste ding in my lewe. Daarna het ek een hoofpyn gekry, maar die dokter het my gewaarsku dit kan gebeur. Sedertdien het ek nog nooit weer sulke hoofpyne gekry nie. As daar al ooit iets was wat my lewe verander het, was dit dié plaatjie," sê Ina nou.

Sy dra dit steeds, hoewel nie meer elke nag soos aanvanklik nie. Die saamgetrekte spiere in haar nek het nou al so ontspan dat sy die draery 'n paar keer sonder gevolge kan oorslaan.

Maar tandartse waarsku 'n mens kan nooit van tandekners genees word nie en daarom is dit 'n goeie plan om elke aand die plaatjie te dra en nie net wanneer jou kaak seer is of jy hoofpyn kry nie.

1 in 5 mense kners bedags

Die meeste mense kners die een of ander tyd in hul lewe. Sowat 20 persent van alle volwassenes kners bedags en sowat agt persent snags, sê prof. Greta Geerts van die fakulteit tandheelkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Tandekners is 'n gewoonte wat van die brein se sentrale senustelsel af kom. Mense wat bedags kners, doen dit gewoonlik weens stres of spanning. Jy kan selfs onbewustelik kners as jy oefening doen soos draf of dalk ingedagte agter jou rekenaar sit. 'n Mens raak gewoonlik ná 'n tyd daarvan bewus dat jy op jou tande kners en daarom kan dié wat bedags kners, dit afleer, sê Greta.

Dis wanneer jy snags kners dat die gevaarligte flikker, juis omdat dit onbewustelik in jou slaap gedoen en dus nooit afgeleer kan word nie. Nagtelike tandeknersers se toestand word as 'n slaapsteurnis bestempel. Navorsers in slaaplaboratoriums het gevind mense kners nie heelnag nie, maar net in sekere fases van die slaapsiklus. Sametrekking van die kouspiere vind gewoonlik plaas net voor die REM-fase van slaap.

Sommige mense klem hul kake, maar beweeg nie die tande teen mekaar nie, terwyl ander kners en dus hul tande beweeg. Albei is ewe erg. En tandeknersers se simptome verskil. Almal sal nie aan hoofpyn ly soos Ina nie. Jou kaak sal dalk net seer wees, of jy sal op 'n dag jou afgeslyte tande in die spieël opmerk, soos in die geval van Michelle (26)*, 'n rekenmeester van Sandton.

"My kaak was altyd soggens seer. Een dag het ek ook opgemerk een van my tande is effens afgeslyt. Ek is tandarts toe en hy het dadelik 'n bytplaatjie voorgeskryf," vertel sy.

Dis moeilik om te sê hoekom sommige mense meer geneig is om te kners as ander en wat die presiese oorsaak is.

Al wat tot dusver bekend is, is dat tandekners van die sentrale senustelsel afkomstig is en dat iets binne die brein skeefloop. Faktore soos angstigheid, spanning en frustrasie kan wel tandekners vererger. 'n Ongebalanseerde byt kan ook daartoe bydra, sê dr. Deon de Villiers, 'n prostodontis van Kaapstad.

Tandekners ly volgens hom tot tandpyn, beskadiging van die tandsenuwees, absesse, gewrigspyn, verlies van beweeglikheid in die kaakgewrig, spierpyn wat nekspiere affekteer en hoofpyn, maar slytasie van die tande is die algemeenste gevolg. Dit begin aan die voortande en versprei later agtertoe. 'n Mens kan so erg kners dat jy 'n tand kraak of morsaf breek, sê Greta.

So was dit in Michelle se geval. "Ek het een aand wakker geword van 'n harde kraakgeluid en besef ek kners. 'n Stukkie van my tand was afgebyt," sê sy. Toe sy eindelik 'n bytplaatjie kry, het sy dit ná twee weke gekraak, 'n bewys van hoe hard sy op haar tande kners.

"Selfs wanneer ek bedags werk, hoor ek 'n irriterende geluid. Dan besef ek dis ek wat op my tande kners! Ek het nou al agtergekom dit gebeur teen die einde van die maand wanneer ek onder groot druk by die werk is."

Volgens Deon kan 'n mens so erg kners dat dit jou koufunksie en spraak kan belemmer omdat kaakgewrigte beskadig word en spiere saambol.

Sekere toestande en medikasie kan tandekners vererger. Mense wat byvoorbeeld serebraal gestrem is, aan Parkinson se siekte ly of sommige soorte antipsigotiese medisyne gebruik, kners meer as ander. Navorsing onder dwelmverslaafdes het al gewys dwelmmisbruik, rook en alkoholmisbruik kan tandekners vererger, waarsku Greta.

Dis belangrik om 'n vroeë diagnose te maak sodat tandskade beperk word. In uiterste gevalle word tande amper gelyk geslyt met die tandvleis.

Die tande lyk dan baie kort en is gewoonlik sensitief omdat die tandemalje weggeslyt en die veel sagter dentien (die ivoordeel van die tand) ontbloot is. Dikwels bly daar so min van die tande oor dat dit nie herstel of gekroon kan word nie.

Dan moet tandvleischirurgie gedoen word of van die tande verwyder word, sê Greta.

Omdat dit ongeneeslik is, is behandeling gerig op die hantering van tandekners. Tandartse sal altyd 'n bytplaatjie voorskryf – iets anders as die mondskerm wat sportmense dra. "Die mondskerms wat jy by die apteek koop sal nie die ding doen nie," sê Greta.

'n Bytplaatjie word deur 'n tandarts of prostodontis voorgeskryf en gewoonlik deur 'n tandtegnikus in 'n laboratorium gemaak. Dit lyk amper soos 'n kunsgebit en die algemeenste een vir langtermyngebruik word gemaak van harde, deurskynende hars en is 1-2mm dik.

Sommige bytplaatjies pas net op die voortande van die bo- of onderkaak en nie op die agtertande nie. Dit help die spiere om die gewoonte af te leer, maar is eerder vir korttermyngebruik bedoel en net as die tandarts se aanwysings baie noukeurig gevolg word.

" 'n Bytplaatjie maak nie seer nie, maar dit beïnvloed jou spraak en voorkoms effens. Dit moet elke nag gedra word en ook soms bedags wanneer jy alleen is. Mettertyd sal sommige tandeknersers gaatjies deur die bytplaatjies skuur en dan moet dit vervang word," sê Greta.

Alternatiewe behandelings soos hipnose, akupunktuur of gesigsmassering sal jou nie laat ophou kners nie, maar hipnose kan dalk help om emosionele kwessies op te los wat moontlik tot spanning aanleiding gee. En akupunktuur kan gebruik word om spiersimptome te verlig. Pynstillers soos anti-inflammatoriese middels kan weer help om die pyn te verlig, sê Deon.

As 'n tandeknerser gou genoeg by die tandarts uitkom, is 'n bytplaatjie gewoonlik voldoende. Maar as groot skade reeds aangerig is, soos wanneer die tandemalje vernietig is, moet die tande eers herstel word voor 'n bytplaatjie gedra kan word. Soms, as die tande baie afgeslyt is, is chirurgiese kroonverlengings nodig.

Min navorsing is al gedoen oor tandekners, maar in een van die enkele klein studies is botoks op knersers getoets. Daar is gevind 'n reeks van sowat vyf botoksinspuitings in die masseterspier – die kouspier wat aan die hoek van die onderkaak vasgeheg is – het kaakspierpyne in van die proefkonyne tydelik verlig. Dit is al getoets maar is nog nêrens 'n roetine-behandeling nie, sê Greta.  Dit is wel iets wat dopgehou kan word en wat waarskynlik oor 'n paar jaar beskikbaar sal wees.

Deon meen egter botoks is nie doeltreffend nie, want volgens hom kan nie al die kaakspiere wat die knersaksie veroorsaak verlam word nie.

*Skuilname

 

Lees meer:

So lyk 'n knerser se tande

Hoe behandeling die sak ruk

Help, my kind is 'n knerser!

Die simptome van tandekners

 

Oral Health Condition Centre
Grinding your teeth?

 

 

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.