Share

Pasop vir jou troetelkat

Hardnekkige verkoue- of griepsimptome is dalk baie ernstiger as wat dit lyk – veral as jy 'n kat het. Toksoplasmose is 'n ernstige aandoening wat van jou troetelkat na jou gesin oorgedra kan word. Maar dit beteken gelukkig glad nie jy moet van Kietsie afstand doen nie.

Deur SUSAN ERASMUS, HEALTH24

Die vierjarige Wayne Smith van George was siek. Al weer. Sy gesondheid het al 'n hele ruk wipplank gery: griepsimptome, long-infeksies, maagpyn, 'n seer keel en op die koop toe 'n veluitslag. En ná verskeie besoeke aan die dokter en 'n rits kursusse antibiotika het dit begin lyk asof sy immuunstelsel wou tou opgooi.

Sy ouers, Yolandie en Stephen, en ouma Liana Olivier het ook begin siek voel – siek van bekommernis.

"Ons was rasend," sê Liana, wat uit die Midde-Ooste – waar haar man as skofkoördineerder werk – moes kom om die gesin by te staan. "Niemand kon ons sê wat aan die gang was nie en ons het glad nie geweet wat om verder te doen nie."

En toe in Februarie vanjaar verskyn daar eienaardige knoppe aan Wayne se sy en in sy regterarmholte. Nog 'n besoek aan die dokter en nog antibiotika het gevolg, maar hy het steeds nie beter geword nie.

"In een jaar het hy ses maande se kleuterskool gemis en elke drie weke weer 'n lugweginfeksie gekry waarvoor daar nog antibiotika voorgeskryf is," sê Liana. "Hy het geen energie gehad nie, het heeltyd gehuil en was regtig baie siek. Toe 'n pediater ons op die ou end na 'n chirurg verwys, het ons die ergste begin vrees."

Kanker is as 'n moontlikheid genoem en die knoppe is in Maart verwyder. Terwyl die gesin gespanne op die toetsuitslag gewag het, het klein Wayne selfs nog sieker geword.

Uiteindelik het die uitslag gekom: Wayne het toksoplasmose.

Dié infeksie word veroorsaak deur 'n enkelsel-parasiet met die naam Toxoplasma gondii en katte is die enigste troeteldiere wat dit versprei. Terwyl die meeste huisdiere – honde, hamsters en voëls inkluis – draers van die siekte kan wees, skei net katte die eiertjies uit wat die infeksie veroorsaak. Mense word aan die eiertjies blootgestel wanneer hulle met katontlasting in aanraking kom, byvoorbeeld wanneer hulle katte se sandkissies skoonmaak of in sandputte speel waar katte hul besigheid begrawe het. Katte soos Wayne se troeteldiere, Tom en Micky.

Toe die siekte eers gediagnoseer is, was dit maklik om die oorsprong daarvan na te speur: Tom en Micky het gereeld op die gholfbaan naby hul huis gaan jag. Hulle het hul prooi, dikwels 'n rot, met trots vir hul eienaars kom wys. Katte kan met toksoplasmose besmet word wanneer hulle klein diertjies vang en vreet.

"Hulle het die rotte dikwels snags in die huis geëet en ons het dan soggens op die oorblyfsels in die sitkamer afgekom. Sover ons weet, het Wayne nooit naby die rotte gekom nie, maar die katte het dikwels op sy bed geslaap," sê Yolandie.

Een van die dinge wat ouers die bangste maak, is wanneer hul kind se gesondheid deur 'n gesiglose vyand bedreig word. Omdat toksoplasmose ten volle met antibiotika behandel kan word, het Wayne vinnig gesond geword nadat die parasiet uitgeken is.

Vaarwel Kietsie?

Beteken die gevaar van toksoplasmose dus dat jy jou troetelkat die huis moet verbied?

"Nee," sê dr. Andrew Whitelaw, 'n senior spesialis aan die Universiteit van Kaapstad se departement mikrobiologie.

"As 'n mens versigtig is en alle aanraking met katontlasting vermy, hoef Kietsie nie uitgeskop te word nie."

Statistiek wys dat hoewel gemiddeld een uit elke vier mense vermoedelik aan toksoplasmose blootgestel word, die meerderheid 'n natuurlike immuniteit opbou. Baie min mense toon dus enige simptome en nie elke kind of volwassene wat in aanraking gekom het met 'n besmette troeteldier sal die siekte kry nie.

Maar as jou immuunstelsel verswak is, loop jy die gevaar om siek te word. En dit is presies wat met Wayne gebeur het.

Voortdurende lugweginfeksies, keelseer en verkoue het die seuntjie se immuniteit verswak en hom 'n maklike teiken vir toksoplasmose gemaak. Maar dis 'n ope vraag watter infeksie eerste gekom het.

"Dis baie moeilik om te bepaal presies hoeveel mense dié besmetting opdoen of selfs die teenliggaampies het," sê Andrew. "Maar terwyl baie mense die teenliggame het, is die siekte self eintlik heel seldsaam."

Hoe om die besmetting uit te ken

Baie mense weet nie eens dat hulle met toksoplasmose besmet is nie. Die simptome word ook baie maklik met griep verwar en daarom nie herken nie, sê Andrew.

'n Mens moet dus nie nare, voortslepende verkoue- en griepsimptome wat nie op antibiotika of gewone medisyne wil reageer, ignorer nie. As daar boonop blootstelling aan katte was, is dit dalk tyd om 'n toksoplasmosetoets te oorweeg.

By mense met 'n verswakte immuunstelsel – soos Wayne – kan simptome erg wees en die volgende insluit: koors, hoofpyn, verwardheid, vaakheid, swakheid of gevoelloosheid in dele van die liggaam, stuiptrekkings, swak koördinasie en visuele versteurings.

In die ergste en seldsaamste gevalle kan die simptome tot 'n koma en selfs die dood lei, tensy die infeksie betyds gediagnoseer en behandel word.

Wat kan 'n radelose ouer doen? En hoe verseker jy dat 'n diagnose betyds gemaak word? Dis eenvoudig: 'n Dokter doen 'n bloedtoets om te kyk of daar teenliggaampies teen die parasiet teenwoordig is.

'n Positiewe resultaat beteken nie noodwendig jy het 'n aktiewe infeksie nie, maar dit wys dat jy in die verlede met die parasiet besmet is en die gevaar loop om toksoplasmose te kry.

'n Negatiewe toets dui daarop dat jou risiko om die infeksie op te doen baie laag is.

Die vier jaar oue Wayne is uiteindelik met die hulp van 'n positiewe toets gediagnoseer.

"Ons het nie gedink dis nodig om die res van die familie te laat toets nie omdat ons gesond was," sê Yolandie. "Maar ek hoop ons storie kan ander ouers bewus maak van die moontlike gevare.

"Dit het omtrent ses weke se behandeling gekos voor Wayne ten volle herstel het. Maar sy eetlus is terug en hy is weer 'n lewenslustige knapie."

Lees meer:

Hoe om gesond en in harmonie met jou kat saam te lewe

Swanger vroue, pasop!

Hoe om ander sondaars uit te skakel

 (Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

 

 

Toxoplasmosis: know this about your kitty
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE