Share

Parkinson: jou pille maak jou dalk 'n dobbelslaaf

Vir lyers van Parkinson se siekte is dopamien-middels een van die min doeltreffende medikasies wat hulle weer beheer oor hul bewegings gee. Maar nou word dit ál duideliker dat van hierdie medisyne soms bizarre gedrag kan veroorsaak, soos verslawing aan dobbel.

Deur BETINA LOUW EN MARí HUDSON

Niemand kon destyds verstaan hoe Manie Venter, die gerespekteerde stadsklerk van Johannesburg, amper oornag verander het in 'n dobbelslaaf wat uiteindelik enigiets sou doen om sy verslawing te voed nie.

Nou eers, amper twintig jaar nadat sy gesin en vriende hulpeloos moes toekyk hoe hy sy reputasie  vernietig en sy geld verkwis, weet hulle dit was die onafwendbare gevolg van die medisyne wat hy vir Parkinson se siekte gedrink het.

Die onvoorspelbare uitwerking van sekere middels bekend as dopamienagoniste kom algaande aan die lig. In Amerika verskyn daar nou byna daagliks waarskuwings op televisie om mense bewus te maak van die gedragsveranderinge wat kan ontstaan as te hoë dosisse van hierdie middels gebruik word.

En die skielike impulsiewe gedrag is eintlik bisar – 'n ondraaglike dobbellus by slagoffers, 'n oordrewe kooplus, soms selfs brandstigting.

Vir Manie se gesin, wat in die tyd voor sy dood twaalf jaar gelede deur diepe vernedering moes gaan, het dié inligting nie net begrip gebring nie, maar ook troos. Nou kan hulle vrede maak met hul pa se

onverklaarbare gedrag.

Op die toppunt van sy loopbaan was Manie, 'n briljante geoktrooieerde rekenmeester, agt jaar lank Johannesburg se stadsklerk. 'n Man wat die toon aangegee het, 'n pa op wie jy trots kon wees.

Toe, in 1991, word hy met Parkinson se siekte gediagnoseer. Hy was net 53 jaar oud toe hy die nuus moes oordra aan sy vrou en sy toe reeds volwasse kinders, Marius, Deon en Amanda. Vir sy familie en vriende, net soos vir sy gesin, was hy 'n steunpilaar en vertroueling.

"Hy was 'n innemende man wat altyd vriendelik was en maklik met ander gedeel het," onthou sy oudste seun, Marius. Maar 'n paar jaar later sou Marius wens sy pa was liewer dood. Manie se fisieke agteruitgang was vinnig; sy geestelike ineenstorting nog vinniger.

Vinnig agteruit gegaan

"My pa het binne maande bewerig begin raak. Hy het kort-kort sy balans verloor en sy sig het baie verswak. 'n Paar maande later is hy as medies ongeskik vir werk verklaar en dit was asof hy meteens sy lus om te lewe verloor het," sê Marius.

Die gesin het besluit om 'n vulstasie te koop om Manie weer by iets sinvols te betrek. "My pa was betroubaar en nougeset. Die werk by die vulstasie het hom weer laat voel hy beteken iets."

Maar sonder hul wete het Manie kompulsief begin dobbel. Op 'n dag het een van die petroljoggies gebel om te sê "oupa" het nie opgedaag nie. "Hy is al ure tevore by die huis weg. Ons het gedink hy is ontvoer, want hy het ons nog nooit tevore in die steek gelaat nie. Ons het hospitale en lykshuise gebel, maar daar was geen teken van hom nie."

Vieruur daardie Sondagoggend het Manie by die huis ingestap. "Ek het gaan dobbel," het hy hulle ingelig. "Van daardie dag af was my pa nooit weer vir my dieselfde mens nie," sê Marius.

Toe stort alles in duie. "Die bankbestuurder het 'n afspraak met my en my pa gemaak. Hy het gesê ons geldsake lyk nie goed nie. Ek kon dit nie verstaan nie – die besigheid het dan goed gevaar."

Maar die bankbestuurder kon sien hoe duisende rande uit sy pa se persoonlike rekening getrek word, als dobbelgeld...

Mense het begin praat. "Hulle het ons voorgekeer en dan het ons maar weer dieselfde dinge gehoor: 'Shame. Jul pa lyk sleg, is julle nie bang hy maak 'n ongeluk nie, hy bewe so erg en sukkel om te loop of sien... lyk darem of hy baie wen, want hy is gereeld daar, hoor ons...'

Persoonlikheid het ook verander

"Ook my pa se persoonlikheid het verander. Hy het baie aggressief teenoor ons geraak en gereeld weggeraak om te gaan dobbel. Ek was woedend vir hom. My ma was raadop." Hulle het hom vir berading geneem, hom gesmeek om op te hou, maar vergeefs. Later kon hy skaars sien of loop, maar hy't tog by dobbelhuise oor die land heen uitgekom.

"Ek het gebid dat hy moet doodgaan – hy het die lewe vir my ma hel gemaak wanneer hy so verdwyn het."

Hoe hard hulle ook al probeer het, kon niemand Manie se totale persoonlikheidsverandering verstaan nie. Nog minder kon hulle begryp dat hy oënskynlik geen weerstand gehad het teen die drang om skielik te gaan dobbel nie. En dit was iemand wat altyd so kundig en verstandig met geld omgegaan het!

Hulle sou dit alles eers begin begryp toe 'n susterskind van Manie einde verlede jaar Jonah Lehrer se boek The Decisive Moment: How the Brain Makes Up Its Mind gelees het. Jonah skryf onder meer van Ann Klinestiver, 'n Parkinson-lyer van Wes-Virginia in Amerika wat ook skielik 'n onkeerbare dobbeldrang ontwikkel het nadat sy 'n dopamien-agonis – in haar geval Requip – begin gebruik het.

Vir dié onderwyser was die middel eers soos 'n wonderwerk. Maar toe ontdek sy die dobbelmasjiene. Soggens seweuur was sy al aan die dobbel en in die vroeë oggendure moes die veiligheidswagte haar uitgooi. Ann was volkome in die greep van die drang om te dobbel. Niks kon haar laat ophou nie – tot sy gebruik van die middle gestaak het. Sy het weer bewegingsprobleme ontwikkel, maar die drang om te dobbel het onmiddellik verdwyn...

Wat laat mense so vreemd optree?

Tot 13 persent van mense wat dopamienagoniste gebruik ontwikkel 'n ernstige dobbelverslawing, skryf Jonah. Die gedragsveranderinge staan bekend as impulsiwiteitsbeheer-versteuring (IVB), verduidelik prof. Jonathan Carr, hoof van die departement neurologie van die Tygerberg-hospitaal en die Universiteit van Stellenbosch.

Breinselle in die diep deel van die brein, bekend as die substantia nigra, skei hoofsaaklik die breinoordragstof dopamien af. Dopamien beheer willekeurige bewegings soos om vorentoe te tree, te gaan sit, op te staan en om te draai.

Maar in Parkinson-lyers word dié spesifieke breinselle wat dopamien vervaardig algaande vernietig. Hoe meer breinselle vernietig word, hoe laer daal die dopamienvlak in dié deel van die brein en hoe

meer simptome word sigbaar. Die simptome word algaande erger en die agteruitgang kon tot dusver met geen medisyne of behandeling gestop word nie.

Teen die tyd dat motoriese simptome soos bewerigheid sigbaar word, is 50 tot 80 persent van die breinselle wat dopamine en ander oordragstowwe soos serotonien afskei, reeds dood.

Normaliseer dopamine-vlakke

Die enigste medisyne wat die simptome onder beheer kan bring, is middels wat die dopamien-vlakke in die brein normaliseer. Daar is twee soorte: dopamien-agoniste soos Requip en Pexola, wat oorblywende breinselle help om meer dopamien af te skei, of middels wat dopamine self bevat soos Carbilev, Madopar, Sinemet en Stalevo. Dié middels word kortweg levo-dopa-medikasie genoem.

Albei middels verhoog die vlak van dopamien in die brein en albei laat die simptome bedaar sodat die pasiënt weer normaal kan funksioneer, maar albei het ook ongewenste newe-effekte.

Dopamien beheer nie net willekeurige bewegings, dis ook die mens se plesierhormoon; die hormoon wat in oorvloed afgeskei word as jy verlief is of as jy 'n aangename beloning afwag.

As jy iets in 'n dobbelspel wen is jy maklik in die sewende hemel van geluk. Maar omdat dobbel ook slegte gevolge kan inhou, temper jou brein dié chemiese genot met boodskappe wat sê jy moet

briek aandraai. In sommige mense op dopamien-agonis-medikasie word dié boodskap egter nie gestuur nie. Die gevolg: Hulle jaag plesier na selfs as dit 'n slegte nadraai het. Dis dié  gedragsveranderinge wat as IBV beskryf word.

IBV

Die simptome IBV word gekenmerk deur 'n onvermoë om 'n impuls of drang wat slegte gevolge

kan inhou, te weerstaan. Die algemeenste IBV by sommige mense wat te hoë dosisse van dopamien-agoniste neem, is chroniese dobbelary, onbeheerste inkopietogte, pornografie op die internet en impulsiewe ooretery.

Skielike woede-uitbarstings, kleptomanie, brandstigting en selfs die uittrek van hare kan ook simptome wees.

Sodra die medikasie gestaak word, hou die gedrag onmiddellik op, sê Jonathan. "Die geheim is om pasiënte deurentyd te monitor.

"Sodra familie of vriende bewus word van enige gedragsverandering moet hulle dit onder die dokter se aandag bring sodat die pasiënt se behandeling aangepas kan word."

Lees meer:

Vroeë tekens van Parkinson se siekte

Waarom kry iemand Parkinson se siekte?

Hoe Parkinson spierbeheer en beweging beïnvloed

So word Parkinson se siekte vasgevat

Sorg so dat die siekte stadiger ontwikkel

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Parkinson's Disease

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE