Baie wêreldklasatlete – soos Tour de France-fietsryers – het al in die moeilikheid beland omdat hulle probeer het om hul prestasie met "bloedopkikkers" te verbeter. Met so 'n onderduimse strategie word een van die liggaam se natuurlike prosesse misbruik, naamlik rooibloedsel-produksie.
As normale, gesonde mense se rooibloedsel-telling tot laer as 'n sekere vlak daal, skei die niere 'n hormoon met die naam eritropoiëtien (EPO) af wat die beenmurg-stamselle aanpor om meer rooibloedselle te vervaardig. Maar as atlete met 'n normale rooibloedsel-telling sintetiese EPO neem, lei die verhoogde rooibloedsel-telling tot beter suurstoftoevoer en 'n sterker mededingingsvermoë. Meer rooibloedselle beteken dat die betrokke spiere meer suurstof kry en stel die liggaam in staat om harder te werk en langer vol te hou. En dit kan die verskil tussen wen en verloor beteken.
Maar dit kan ook die verskil tussen gesondheid en siekte beteken. As dit reg gebruik word, is EPO 'n doeltreffende behandeling vir toestande soos bloedarmoede. As dit egter deur oorgretige atlete misbruik word, kan dit hul bloed laat verdik sodat hulle die gevaar loop om 'n hartsiekte, beroerte of bloedklont op te doen.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)