Share

Onthou om te onthou

Christine Riley is in haar dertigs, maar kan nie onthou wat die vorige week of selfs gister met haar gebeur het nie. Haar korttermyngeheue is sedert 'n ernstige motorongeluk vier jaar gelede daarmee heen. Ondanks haar geheueverlies is sy steeds 'n skrywer en teksredakteur. Hier is haar storie.
Vir HUISGENOOT-POLS

Ek was nog altyd 'n onafhanklike mens, dikwels ten koste van verhoudings. In die verlede sou ek voet in die wind geslaan het die oomblik dat ek afhanklik begin raak het van iemand of wanneer iemand van my afhanklik geword het.

Toe ek my dus in 'n situasie bevind waar ek nie eens 'n voet kon beweeg nie, was ek omtrent paniekbevange. Skielik kon ek net met 'n kierie loop. En my vriende moes my met alledaagse take help...

Laat ek verduidelik: In 2004 het ek 'n byna noodlottige motorongeluk gehad. Die gevolg is dat ek nie meer nuwe herinneringe kan maak nie. Dis soos om te droom – vandag maak alles sin, maar môreoggend wanneer ek wakker word en probeer om die gebeure van die "droom" te onthou, is dit alles vaag.

Dit help ook nie dat jy my herinner nie. Elke dag word my geheue skoongevee – dit staan bekend as anterograde.

Sedert die ongeluk moet ek altyd aantekeninge maak om my te herinner aan wat die vorige dag gebeur het. Maar dit help ook nie altyd nie, want dikwels vergeet ek wat ek waar neergeskryf het en wanneer.

As ek byvoorbeeld neerskryf "betaal die elektrisiteit" sonder om 'n datum daarby te skryf of te merk dat ek dit reeds gedoen het, sal ek wanneer ek die volgende dag die nota lees, nie weet of ek dit al gedoen het of nog moet doen en wanneer nie.

Ek moet dus baie gedissiplineerd wees en alles datums gee en afmerk wanneer ek dit klaar gedoen het.

Ek het ook fisieke littekens. Ná die ongeluk op die Kommetjie-pad in die Kaapse Skiereiland, is 'n pypie in my nek gesteek sodat ek kon asemhaal. Dit het my 'n besonder aantreklike litteken besorg – 'n goeie aanknopingspunt vir geselsies.

'n Filter is in my hart ingeplant sowel as 'n pen in my regterbeen en albei my enkels is geopereer.

Jy kan vra hoe op dees aarde ek dit alles oorleef het. Wel, my versekering het my gehelp om finansieel die mas op te kom. En prakties en emosioneel oorleef ek met die hulp van my vriende – ek het nie familie nie.

Opdraande pad
Jy vind gou uit wie jou ware vriende is wanneer 'n ongeluk jou tref. Terwyl ek lank in die hospitaal was om te herstel, het van my sogenaamde vriende my nooit eens kom besoek nie.

Ander vriende het deur dik en dun by my gestaan. Aan die begin was ek so bedwelm deur medikasie dat ek skaars bewus was van wat om my aangaan. Maar waarvan ek heel eerste bewus was nadat ek van die waakeenheid na 'n gewone saal verskuif is, was my ware vriende, soos Tina.

"Ons was vreesbevange," sê Tina. "Daar was jy – die ene pype net waar 'n mens kyk. Hulle het vir ons gesê jy sal nooit weer loop nie. Ons het nie gedink jy sou ooit weer 'n normale lewe kan lei nie."

Nogtans het hulle besef hoe belangrik dit was om my gerus te stel. En natuurlik moes hulle dit oor en oor doen – want sodra hulle my iets vertel het, het ek dit vergeet. Ek sou selfs vergeet dat ek gerusstelling gesoek het, en dan weer vra.

"En dan moet hulle my weer van voor af gerusstel en dan het ek weer vergeet wat hulle gesê het en weer vergeet dat ek gevra het... So sou dit aangaan – ons was soos hamsters op 'n wiel. "Is my honde okei?" "Is my papegaaie okei?" "En wat van my apies?"

Partykeer wou ek oor en oor verseker word dat alles piekfyn is. Partykeer wou ek net hê dat iemand my hand vashou. Maar maak nie saak in watter bui ek was nie, my vriende was altyd daar. Partykeer het my dwelmbenewelde hallusinasies hulle laat lag. Partykeer het dit hulle afgeskrik. Maar hulle het altyd weer teruggekom.

Toe ek besef dat ek my korttermyngeheue verloor het, was ek nie te bekommerd nie.

Eerstens, as 'n mens in die hospitaal is, hoef jy jou nie juis te kwel oor jou dag nie. Dis reeds vir jou beplan. Daar's fisioterapie, dan middagete, dan is dit tyd vir 'n middagslapie.

Die een oomblik sou ek besig wees om 'n legkaart te bou in arbeidsterapie, dan sou ek weer op pad wees na... watter plek iemand ook al besluit het ek heen moet gaan. Aangesien ek vol medikasie en in 'n rolstoel was, is ek oral rondgestoot sonder dat ek my te veel aan enigiets hoef te gesteur het.

Tweedens was ek naïef genoeg om te aanvaar dat ek volkome gesond sou wees teen die tyd dat ek uit die hospitaal kom. Ek was vas oortuig daarvan dat ek weer op my voete sou wees, met alles vars in my geheue.

As dit maar so was! Die harde werk het eers begin die dag toe ek uit die beskermde omgewing van die hospitaal ontslaan is.

Eie potjie
Terug by die huis was dit 'n groot skok om te besef dat my lewe toe nié na normaal teruggekeer het nie. In die jaar wat gevolg het, het ek 30kg aangesit en 30cm om my middel uitgesit.

En ek is trots om te sê dat ek met baie oefening en deur op 'n gesonde dieet te gaan, elke liewe ekstra kilogram en sentimeter weer verloor het.

Nadat die dokters vir my gesê het dat ek nooit weer sal loop nie, is dit vir my wonderlik om elke dag vir minstens twee uur saam met my honde teen die berg agter my huis te gaan stap.

Dit kan dalk nou twee uur verg waar dit my altyd twintig minute gekos het, maar my honde gee glad nie om nie. Dit wil ook voorkom asof my brein besig is om te herstel aangesien my gehakkel verbeter het.

Toe ek ontslaan is, kon ek omtrent nie 'n woord uitkry nie. Deesdae gesels ek land en sand. Wat maak dit saak dat ek dinge herhaal? Ten minste doen ek dit sonder om te hakkel!

Wat vir my opvallend is, is dat almal gaan staan en grootword het sonder my. Of so voel dit. Voor my ongeluk was ek altyd aan die gang en was ek altyd op pad na die een of ander werk op die een of ander plek, aan die tik op my rekenaar by die huis, bedags aan die stap teen die berg en saans gereed vir uitgaan.

Maar sedert my ongeluk en my lang hersteltydperk het my vriende se lewe dramaties aanbeweeg. Myne het nie. Van hulle is getroud, ander het ouers geword en party is selfs al geskei.

Ek is baie huisgebonde, maar dit pas my, want ek is dol oor my huis. Ek bly alleen, maar die onderste deel van my huis is in 'n woonstel omskep wat ek verhuur. Wanneer ek regtig in die knyp is, kan ek altyd die huurder se hulp inroep.

Dit brand!
My angswekkendste ervaring sedert my ongeluk was net voor die huurder ingetrek het. 'n Verwoestende brand het in Scarborough, waar ek woon, uitgebreek.

My bure se huise het afgebrand, maar my houthuis het die vlamme vrygespring. Al wat van die bome langs die klipmuur rondom my agtertuintjie oorgebly het, was swart geraamtes. Die satellietskottel, sowat 5m van my huis af, het gesmelt.

Toe die vlamme ál nader kom, het ek 'n vriendin gebel, my diere gegryp en so vinnig moontlik – of so vinnig soos ek kon – by my tuinpaadjie afgesukkel. Ek kon nie al die diere vashou nie, en die honde het weggehardloop.

Sue het in 'n stofwolk stilgehou, en ek en my katjie het die volgende paar dae by haar deurgebring. Sue se man is 'n brandweerman. Hy het ons op die hoogte van die brand se verloop gehou en ook my honde opgespoor.

Dis ironies, maar dié ervaring het my selfvertroue 'n hupstoot gegee. Ek moes self die brand hanteer en ek het. Ek onthou dit trots.

En omdat my langtermyngeheue nog werk, kan ek aan meer as net die brand terugdink.

'n Ryk lewe
Ek onthou 'n vol en ryk lewe. Ek was gelukkig om baie te kon reis. As kind was my pa, wat in die Koninklike Lugmag was, op verskeie plekke gestasioneer.

Ek het ook later plekke soos Rio de Janeiro, Jamaika, die Florida Keys, Griekeland en die Maagde-eilande besoek saam met my stiefpa, wat ons met vakansies van drie maande lank geneem het, en self ook later as reisskrywer.

Ek het ook welslae behaal in mededingende sport. Ek het deelgeneem aan die karatewêreldkampioenskapstoernooi in die Verenigde Koninkryk, muurbal op provinsiale vlak gespeel en vir my skool se swemspan geduik.

Vandag beskou ek dit as 'n groot oorwinning om net met my tuinpaadjie af te stap. Ek sukkel nog met 'n paar uitdagings en my vriende sal nog vir 'n ruk my dinkwerk namens my moet doen.

Maar eendag sal ons agteroorsit met 'n glasie wyn met dieselfde gedagte: "Dankie tog dis alles verby!"

As my storie effens hartseer klink – dit is. Ek is nog nie gereed om voor 'n gehoor te staan en uit te basuin hoe ek nou 'n beter mens is en hoe ek gegroei het nie.

Om die waarheid te sê, ek is eintlik stiller as tevore, want ek is bang wanneer ek my mond oopmaak, ek dalk net iets sê wat ek nie moet nie!

Ek skryf steeds en versorg stories, my werk voor ek die ongeluk gehad het. Ek werk van die huis af as teksredakteur vir Full Circle, 'n glanstydskrif wat fokus op die Suidelike Skiereiland, my kontrei in die Wes-Kaap.

Ek kan basiese maaltye kook, besluit watter klere om te dra en my aantrek. Laat ons maar liefs nie wonder hoekom so baie mense my vra wat op dese aarde ek aanhet nie!

Verder konsentreer ek op my klein oorwinnings en hoop ek dat hulle net meer sal word. Ek sál nog die stryd om onafhanklikheid wen.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Lees meer: Geheueverlies

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE