Share

Nie so slank nie? Steek dit weg

Dis lekker strandweer en die water wink. Maar jy het nog steeds jou winterpakkie aan: 'n lekker stel handvatsels net bo jou heupe en 'n paar nare kuiltjies op jou sitvlak.

Terwyl daar nog tyd is om 'n paar kilo's af te skud is dit te laat om vóór jou jaarlikse standvakansie in Angelina Jolie te verander. Dit is tyd vir krisisbeheer:

Probeer selfverbruining
Ja, dis waar, daardie dele van jou lyf wat nie meer so ferm is nie, is minder opvallend wanneer jy 'n lekker brons vel het.  Maar 'n regte sonbruin – in die son en of op 'n sonbed – is eenvoudig te gevaarlik.

Die beste alternatief? Selfverbruining

Die dae toe selfverbruining 'n streperige wortelkleurige vel beteken het, is verby. Deesdae is daar uitstekende selfverbruiningsrome op die mark wat 'n gladde, eweredige sonbruin verseker.

Aanvaar die uitdaging en belê hierdie somer in 'n goeie produk. Maak net seker jy doen voor die tyd 'n afskilfering en dat jou vel skoon en droog is voor jy die room aansmeer. En was gedurende en ná die aanwending jou hande, anders bederf jy dalk jou strandvoorkoms met lelike, donker handpalms.

Kies die regte swemkostuum

Bekyk jouself goed in die spieël. Besluit watter deel van jou liggaam jy moet bedek: jou sitvlak en dye, jou maag of al drie?

As dit jou agterent en dye is, mag jy dalk wegkom met 'n bikini-bostuk en 'n sarong of  board short. As dit jou maag is, sal jy heel moontlik 'n vollengte swemkostuum moet aanskaf. As dit al drie is, sal 'n volle baaikostuum met 'n sarong die probleem oplos.

Kies 'n swemkostuum/bikini wat jou voldoende borsondersteuning bied, veral as jy 'n voller figuur het. En moenie 'n styl kies wat jou ongemaklik laat voel nie – deurtrekkers mag vir party mense werk, maar dis beslis nie vir almal beskore nie.

Wanneer jy 'n nuwe baaikostuum aanpas, is dit belangrik om te rek en rond te beweeg om seker te maak dit pas gemaklik.

Belê in donker kleure

As jy effens oorgewig is, kies liewer 'n gedempte, eenkleurige kostuum as 'n helder, kleurvolle een. Donkerder kleure, soos swart en marieneblou is oor die algemeen meer vleiend as ligter kleure.

Die donker-kleur-reël is ook van toepassing op jou gewone klere. Belê in 'n "klein swart nommertjie" wat jou figuur pas – so sal jy iets hê waarop jy kan staatmaak vir die komende Kersfunksies en somer-skemerpartytjies. Mik vir reguit, eenvoudige lyne.

En terwyl jy aan die gang is, kry ook vir jou 'n paar hoë-hak-skoene om by jou swart rokkie te pas. Dit sal ekstra lengte byvoeg en jou bene slanker laat lyk.

Dra die regte soort strepe

Horisontale strepe is nou al 'n hele ruk lank in die mode. 'n Strepies-toppie is miskien byderwets, maar dit kan jou ongelukkig ook swaarder laat lyk en jou somervoorkoms bederf.

As jy regtig strepe wil dra, kies liewer vertikale strepe. Dit laat jou maerder lyk. Maak net seker die strepe is subtiel.

Kolle is ook op die oomblik in die mode, maar wees gewaarsku: dit kan ook die aandag op daardie mollige liggaamsdele vestig. Weereens is dit beter om liewer by eenkleurige uitrustings te hou.

Vestig die aandag op jou beste eienskappe

Moenie die effek van 'n goedversorgde voorkoms onderskat nie. 'n Mooi haarsnit, goedversorgde hande en voete en slim grimeringskeuses kan baie help om die aandag van jou saalsakke af te trek. Gaan na 'n professionele haarstilis en bespreek 'n sessie by 'n goeie grimeersalon – jy sal nie jammer wees nie.

Neem jou tyd wanneer jy gaan klere koop. Probeer 'n verskeidenheid style uit en kyk wat werk die beste vir jou spesifieke liggaamsvorm. Vermy toppies wat opkruip en jou middellyf ontbloot as jy 'n magie het. Koop liewer iets wat 'n bietjie langer is. Vermy ook klere wat te styf pas.

Kies bykomstighede wat die aandag op jou beste bates vestig, bv. 'n mooi halssnoer of oorringe as jy 'n aantreklike nek het, of 'n stylvolle belt as jy 'n slanke middellyf het.

- (Carine van Rooyen, Health24, hersien November 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE