advertisement
01 June 2009

Nie die CSI nie, maar ons probeer

'n Dag in die lewe van 'n forensiese patoloog

0

’n Forensiese patoloog werk agter die skerms van ’n misdaadtoneel waar mense aan onnatuurlike of onverklaarbare oorsake dood is. Dis ’n donker en dikwels ontstellende werk – veral in Suid-Afrika
Deur Linda Liebenberg

Die polisie bel my tienuur die oggend. Blykbaar was ’n karwag en ’n dief die vorige nag in ’n aanhoudingsel opgesluit.

Sewe-uur die oggend het hulle ontbyt geëet. Omstreeks 07:55 is hul besittings aan hulle oorhandig. Teen 08:10 was die karwag dood. Die dief het bo-op hom gesit.

Ek daag by die polisiekantoor op en begin met my ondersoek. My misdaadtoneel-toerusting is eenvoudig: handskoene, ’n termometer, deppers en ’n sak om die bewysstukke te versamel. Voor ek die lyk ondersoek kyk ek eers die omgewing goed deur. Dis ongelooflik wat ’n mens in ’n vullisblik kan vind.

Dan soek ek na bewyse soos bloedspatsels of wapens. Die bewyse wat ek vind, word gestuur vir ondersoek deur die polisie se forensies-wetenskaplike laboratorium, die ballistiese eenheid of die forensieschemiese laboratorium.

Die slagoffer se liggaam dien as die forensiese patoloog se belangrikste misdaadtoneel. In dié geval word die slagoffer se oë vermis. Ek maak sy mond oop. Sy tong is weg. Daar is geen meswond of enige ander uiterlike rede vir sy dood nie. Ek soek na wurgmerke, maar sien niks nie.

’n Lykskouing is al manier hoe ek die antwoorde op dié tergende geheim sal vind. Lykskouings maak ’n groot deel van my werk uit, maar ek kan nog steeds nie gewoond raak aan die reuk van ’n lykshuis nie. ’n Lykskouing behels ’n uitwendige ondersoek (wat die klere insluit) en dan ’n volledige inwendige ondersoek van al die organe.

Ek soek eers na enige tekens van beserings aan die kop of liggaam en na enige natuurlike siektes. Ek neem ook die liggaamstemperatuur om die tyd van dood vas te stel. ’n Lewende liggaam is gewoonlik 36,8 °C en verloor sowat 1,5 °C per uur van die oomblik van dood.

Studente wat opleiding ontvang, woon die ondersoek by. Daar is ’n groot tekort aan gespesialiseerde forensiese patoloë in Suid-Afrika. In teenstelling daarmee hoop die gevalle van onnatuurlike sterftes elke dag op. Dis broodnodig dat ons aanhou om studente op te lei om seker te maak dat meer forensiese patoloë die bedryf betree.

Ek vind nie ’n onmiddellike verklaring vir die slagoffer se dood nie. Dis tyd vir die Lodox-X-straalmasjien. Dis ’n gespesialiseerde lae-dosering- radiografiese masjien van ’n hoë gehalte wat ideaal is vir forensiese ondersoeke.

Wat ek sien, verbaas my. Binne-in die slagoffer se oogholtes is twee muntstukke. Dit moes gebruik gewees het om hom te verblind. Ek vind ook ’n sirkonium-ring in sy keel.

Ek sou raai dat die slagoffer dalk sy aanvaller se ring gesteel en dit toe ingesluk het, of dat sy aanvaller dit by hom probeer steel het en hy dit ingesluk het sodat die ander man dit nie in die hande kon kry nie.

’n Worsteling het toe ontstaan, waartydens sy aanvaller die muntstukke in sy oë gedruk en sy tong uitgeruk het. My hipotese is dat hy óf dood is aan die skok wat deur die drukking op sy oë veroorsaak is, óf dat hy aan die ring verstik het. Omtrent onsmaaklik.

Dis my ervaring dat moorde in Suid-Afrika dikwels uiters wreedaardig is. Só het ek al ’n slagoffer ondersoek wat meer as dertig keer geskiet is, al was dit duidelik dat die eerste ses skote reeds genoeg was. Dwelms speel ’n ál groter rol in die toenemende geweld. Verskriklik baie sterftes hou daarmee verband, veral die wydverspreide misbruik van tik (metamfetamien).

Tikverslaafdes is afgestomp van skuldgevoelens en hartseer. Die dwelm maak hulle hoogs aggressief en gewelddadig, en dan pomp hulle selfvertroue. Maar dit laat hulle ook angstig en paranoïes voel. Tik word die Hitler-dwelm genoem, want dit is tydens die Tweede Wêreldoorlog aan Nazi-soldate gegee om hul aggressie aan te vuur, hulle paraat te hou en te verseker dat hulle vreesloos sou wees.

Vandag saai die Hitler-dwelm verwoesting in ons strate. Ek het onlangs ’n kleuter ondersoek wat aan interne beserings dood is nadat sy bedwelmde stiefpa hom as ’n rugbybal gebruik het – om geen rede hoegenaamd nie. Die ma was nie daar nie. Sy was besig om tik te soek.

Later die dag, ná die lykskouing, verskyn ek in die hof om deskundige getuienis af te lê in ’n saak van onnatuurlike dood. ’n Dronk man het sy vrou gewelddadig aangerand. Om hom onskadelik te stel, het sy haar pa gebel, wat hom met sy arm om die nek vasgehou het terwyl sy haar man se voete vasgebind het. Hy is in hul arms dood.

Die pa word van moord aangekla, maar soos ek aan die hof verduidelik, het hy nie sy skoonseun doelbewus vermoor nie. Omdat sy arm om die man se nek was, het hy onbewustelik drukking geplaas op die kopslagaar. Dis waar die baro- en chemoreseptors voorkom en dit speel ’n rol by die bloeddruk en hartklop. Die drukking het ’n hartaanval veroorsaak.

Ek getuig in die hof dat die saak ’n “gesinstragedie” is. Die vrou se pa kom later na my toe om my te bedank. Die dankie van ’n oupa wat twee jaar lank nie toegelaat is om sy kleinkinders te sien nie.

Ek is gewoonlik die stem van die oorledene, die een wat die waarheid oor sy dood kan vertel. Maar partykeer, soos in die bogenoemde geval, kan ek ook die lewendes help.

Wat motiveer ’n dokter wat jare lank geneeskunde bestudeer het om dié soort werk te doen? Wel, forensiese patologie bied uitsonderlike uitdagings. Maar ek voel nog steeds dat ek met pasiënte werk. Vir my is hulle nie lyke nie, maar mense wat stilgemaak is en wie se stories ek moet vertel.

’n Stelsel onder druk
Die internasionaal aanvaarbare aanbeveling vir ’n forensiese patoloog is nie meer as 250 sake per jaar nie. Maar in Suid-Afrika hanteer ons patoloë ’n kommerwekkende 900 sake per patoloog per jaar.

Daar is slegs 37 geregistreerde, praktiserende forensiese patoloë (dokters wat in dié rigting gespesialiseer het ná ses jaar se basiese mediese opleiding). Daarenteen is daar sowat 70 000 forensiese sake per jaar, en baie daarvan word ondersoek deur dokters wat nie die bykomende opleiding ondergaan het nie.

Dié kommerwekkende tekort en oorwerkte personeel het die departement van gesondheid genoop om in 2006 die polisie-lykshuise oor te neem en nie-mediese personeel op te lei.

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.