Share

My lewe sonder 'n kolon

Ná 35 jaar van sukkel met haar kolon het Elsabe Pepler, 'n kommunikasie-en-mediakonsultant van Kaapstad, gehoor sy het kolonkanker.

"Hoewel ek dikwels siek was, is ek 'n A-tipe persoonlikheid wat dinge tot elke prys en op die vinnigste manier gedoen wil kry. Ek was altyd bang ek gaan verplig word om op te hou hardloop. Ek het geweet ek val in 'n hoërisikogroep vir kolonkanker weens chroniese ulseratiewe kolitis en het daarom jaarliks 'n kolonoskopie ondergaan."

Maar weens haar dermsiekte was die opspoor van die kanker deur 'n kolonoskopie nie so eenvoudig soos gewoonlik nie en dit is eers deur 'n latere toets in die dieper wande van die kolon ontdek.

Elsabé onthou hoe sy die werklikheid vir haarself probeer ontken het. Maar toe kom die skoknuus: Die kolon moes so gou moontlik verwyder word. Feitlik haar hele kolon, met die uitsluiting van die 16cm lange rektum, is toe in Junie 2007 verwyder.

Ses maande van chemoterapie het gevolg en nog twee maande later is sy terug na die chirurg. Die nuus was nie goed nie: Die rektum moes nou ook verwyder word.

In Maart 2008 is haar rektum verwyder en vir die volgende drie maande moes sy met 'n stoma-sakkie loop.

"Dit was waarskynlik een van die slegste ondervindings van my lewe omdat dit so onnatuurlik is dat jou derm hier op jou maag uitmond," vertel sy.

" 'n Mens is bang om uit die huis te gaan ingeval die sakkie begin lek. Maar ek was eintlik te siek om regtig om te gee. Gelukkig het 'n uiters bekwame stoma-suster minstens twee keer per week na my huis toe gekom om my te help met die vervanging van die sakkie."

Ná nog drie maande is sy vir die derde keer geopereer. " 'n Inwendige sakkie is van die dunderm geskep – en ek het weer beheer oor my ingewande gehad! Ek was nogtans dodelik bevrees die eerste keer dat kos deur my spysverteringstelsel moes beweeg."

Die eerste jaar was baie moeilik. "Ek moes leer watter kos werk en wat nie. Piesang, rys, gekookte appel en malvalekkers werk lekker! Ek drink daagliks tablette teen diarree en neem kalsium en kalium-aanvullings."

Deesdae gaan dit baie goed met Elsabe. "My lewensgehalte is beter as voor my kolon verwyder is en ek kry net soveel werk gedoen as 15 jaar gelede.

"My raad aan mense wat 'n stryd voer met 'n moeilike kolon is dat daar absoluut lewe is nadat alles verwyder is. As Oscar Pistorius sonder bene kan hardloop, kan enige mens sonder 'n kolon lewe vinnig hardloop! My lewe sonder 'n kolon is beslis beter as wat dit met ’n sieke was."

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) – Herfs 2010

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE