Share

Moordenaars sonder grense

Die golf van uiters gevaarlike middelweerstandige malaria spoel meedoënloos uit die noorde na Suid-Afrika. As jy na malariagebiede reis moet jy weet die gevaar is groter en dodeliker as ooit.
Deur KARENA DU PLESSIS vir Huisgenoot-POLS

Met sy terugkeer in Kaapstad ná ’n duikvakansie op ’n eiland aan die Mosambiekse kus was Stephan Wolff in die wolke.

Hulle het heerlik geduik, die verblyf was net die regte kombinasie van luuks en ontspanne, en hy was reg om sy stresvolle werk as ingenieur met nuwe ywer aan te pak.

Toe hy drie weke ná sy vakansie begin sleg voel, het sy dokter gemeen dis ’n kwaai griepaanval en gesê hy moet ’n paar dae in die bed bly.

Maar Stephan se koors en bewerasie wou nie weggaan nie. Ook nie die moordende hoofpyne wat hom laat sweet en van die pyn laat kreun het nie. Dit was eers nadat sy vriendin, Liesel Bredenkamp, dieselfde simptome ontwikkel het dat ’n familielid wat ’n verpleegster is, twee en twee bymekaargesit en malaria as ’n moontlikheid genoem het.

“Ons is terug dokter toe en hy het ’n bloedtoets gedoen,” sê Stephan. “Toe die uitslag positief terugkom, kon hy nie genoeg om verskoning vra dat hy dit nie vroeër gediagnoseer het nie. Ek kan hom egter nie kwalik neem nie, want ek het nie vir hom gesê ons was weg nie.

’n Maand later is enige vakansie maar ’n vae herinnering en malaria was die laaste ding waaraan ek gedink het. Wie kry in elk geval in Kaapstad malaria? "Ons hét ons pille gedrink – en toe heeltemal daarvan vergeet.”

Gesoute reisigers
Muskiete het min respek vir landsgrense en vlieg elke dag heen en weer oor dié van Suid-Afrika. En hoe meer mense uit Zimbabwe en Mosambiek na Suid-Afrika kom, hoe vinniger versprei malaria, veral medisyne-weerstandige malaria.

Die noordelike en noordoostelike gebiede van Suid-Afrika – en veral die Limpopo-provinsie en dele van Mpumalanga, asook die gebied langs en in die Krugerwildtuin – word nou almal as malariagebiede beskou waar medisyne-bestande muskiete aktief voorkom.

Hoewel malaria-gevalle in Suid-Afrika sedert 2001 dramaties afgeneem het, bly dit vir miljoene mense oor die wêreld heen en in die res van Afrika ’n siekte wat lewens verwoes en ontwikkelende ekonomieë aan bande lê.

’n Malariadood is iets verskrikliks. Die tekens is koors, hoofpyn, braking en ander griepagtige simptome. As dit nie behandel word nie, kan dié besmetting tot lewensgevaarlike anemie en ’n koma lei.

Kinders word deur stuiptrekkings, skok en die dood in die gesig gestaar terwyl hul onderontwikkelde immuunstelsel teen die siekte stry.

En die slegte nuus is dat medisyne- weerstandige vorms van die siekte tans in die meeste Afrika-lande voorkom, en dat dié vorms reeds oor die Mosambiekse en Zimbabwiese grense na Limpopo en Mpumalanga versprei het.

Die probleem word deur aardverwarming vererger. Muskiete is nou in staat om heelwat verder suid en noord van die ewenaar aan te teel, wat ’n groter deel van die bevolking as voorheen in gevaar stel.

Wie moet wegbly van malariagebiede?
“Kinders onder vyf moet liefs nie na ’n malariagebied geneem word nie,” sê dr. Jaco Folmer, mediese direkteur van Netcare Travel Clinics.

“Malaria is een van die ernstigste, lewensgevaarlikste siektes wat kinderreisigers kan tref. Elke dertig sekondes is die siekte êrens in die wêreld verantwoordelik vir ’n kind se dood, en dit veroorsaak een uit elke vyf kindersterftes in Afrika.”

Kinders met malaria kan vinnig ’n groot klomp malaria- parasiete in hul bloed ontwikkel en hulle kry makliker ernstige komplikasies, insluitend skok en stuiptrekkings, waarop ’n koma en die dood kan volg. Wat dit nog erger maak, is dat die aanvanklike simptome van malaria by kinders baie ander algemene oorsake van pediatriese koors kan na-aap, wat tot vertraagde diagnose en behandeling kan lei.

As jy selfs net ses uur wag voor die kind behandeling kry, kan dit die verskil tussen lewe en dood beteken. As jy ’n kind na ’n malariagebied móét neem, is daar voorkomende voorskrifmedisyne vir kinders wat vyf kilogram of meer weeg.

Pediatriese dosisse word volgens kinders se gewig uitgewerk en hul mediese geskiedenis moet ook in ag geneem word om vas te stel of die medisyne vir hulle veilig is. Omdat n oordosis dodelik kan wees, moet jy malaria-voorkomingsmiddels buite bereik van babas en kinders hou, waarsku Jaco.

Maar dit is nie net kinders wat ’n groter gevaar loop om die siekte te kry nie. As jy swanger is, moet jy ook liewer nie na malariagebiede reis nie.

Swanger vroue het ’n groter risiko vir malaria omdat hul liggaamstemperatuur hoër is en omdat hulle meer koolsuurgas uitasem – alles dinge wat muskiete aanlok, verduidelik Jaco. “Swanger vroue is ook geneig om ’n erger graad van malaria te kry. Dit kan ’n voornemende ma ernstig siek maak en selfs tot ’n miskraam lei.”

Goeie nuus aan die tuisfront
Ondanks al die vreesaanjaende feite hierbo is Suid-Afrika geseën met ’n goed-georganiseerde malaria-beheerprogram en daar is reeds beduidende vooruitgang met die bekamping van dié siekte gemaak.

Dr. Rajendra Maharaj staan aan die hoof van ’n malarianavorsingsprogram van die Mediese Navorsingsraad (MNR) in Durban. “Suid-Afrika het reeds noemenswaardige sukses met die beheer van malaria behaal,” sê hy.

DDT – eens omstrede, nou ’n redder
Die spuit van DDT in huise het ’n sleutelrol gespeel in die hantering van malaria, sê Rajendra. “DDT is ’n plaagdoder wat kwaai emosies uitlok en mense met afgryse vervul omdat dié gifstof in die grond en grondwater opbou en mens en dier kan vergiftig.

Dit is in 1976 vir landbougebruik verbied, maar nooit vir gebruik in openbare gesondheid nie. In 2000 was daar ’n kommerwekkende toename van malaria-gevalle in KwaZulu-Natal en die spuit van DDT is weer ingestel.”

Muskiete vlieg by huise in en suig mense se bloed, maar wanneer hulle versadig is, kan hulle nie meer so goed vlieg nie en moet dan eers rus om hul maaltyd te verteer. Die veronderstelling is dat hulle in die rustende toestand ’n dodelike dosis insekdoder sal absorbeer en hopelik dood sal neerslaan. Dit voorkom dat die muskiete aanteel en mense verder besmet.

“Die kommer dat DDT dood en verwoesting in die omgewing saai, moet ook binne konteks gesien word,” sê Rajendra. “Toe dit in die VSA gebruik is om katoenvelde te bespuit, is daar enorme hoeveelhede gebruik en het dit na die grondwater en waterstrome deurgesyfer.”

“Die huidige spuitprogram behels net ’n paar gram DDT op ’n slag en die hutte wat bespuit word, word volgens tradisie elke jaar opnuut met modder gepleister, wat beteken dat die DDT nie in die grondwater beland nie.”

Weerstand teen medikasie neem toe
Ondanks die welslae van die malaria-navorsingsprogram bly weerstand teen medikasie ’n ernstige probleem. Dr. Jaishree Raman, ’n molekulêre bioloog by die MNR, bevestig dit: “Medisyne-weerstandigheid begin wanneer pasiënte ophou om hul voorgeskrewe medikasie te neem sodra hulle beter voel.

’n Klein aantal malaria-parasiete kan dan oorleef en in die bloedstroom vermenigvuldig. Dié medisyne- weerstandige parasiete ondergaan dan genetiese veranderinge wat hulle immuun maak teen normale dosisse van die middel.

Daar is ’n bykomende probleem – in ’n gemeenskap waar malaria-voorkomingsmiddels geneem word, versprei die weerstandige parasiete blitsvinnig deur die bevolking.”

Navorsers voer ’n eindelose stryd. Hulle ontwikkel nuwe, doeltreffende malaria-voorkomingsmiddels terwyl die malariaparasiet maniere vind om dit te uitoorlê. Eers was dit chlorokien, maar die parasiete het ’n weerstand daarteen opgebou.

Toe wend dokters hulle tot middels wat as SP’s bekend is – veilig vir swanger vroue en kinders, en betreklik goedkoop. Maar weer het die parasiete ná vyf tot tien jaar ’n weerstand teen die medikasie ontwikkel.

Op die oomblik is ’n kombinasie van twee middels, wat ACT genoem word, een van die doeltreffendste maniere om die pasiënt vinnig te genees en die verspreiding van die siekte hok te slaan.

Kenners is egter baie bekommerd omdat daar al klaar gevalle van ACT-weerstandigheid aangemeld is – veral weens foutiewe gebruik van die middel of van goedkoper, substandaard-namaakmedisyne wat nie doeltreffend is nie. Die middelweerstandigheid kan binnekort van Asië na Afrika versprei, soos voorheen al gebeur het.

As jy dink hoe baie mense daardeur geraak word, is dit verrassend dat malaria nie as ’n prioriteitsiekte beskou word nie. Farmaseutiese maatskappye belê nie groot somme geld in die ontwikkeling van nuwe malaria-voorkomingsmiddels nie – groter winste kan gemaak word deur ander middels te ontwikkel.

Tensy ACT’s goedkoper gemaak word vir Afrikalande, alle substandaard- of vervalste malariamedikasie van die mark verwyder word en lande behoorlike toetse doen om vas te stel watter ACT die beste vir hul omstandighede is, sal malaria in Afrika volgens Jaishree nooit uitgeroei word nie. Daar vind tans byna glad nie behoorlike toetse plaas nie.

Alle hoop word nou op die verantwoordelike gebruik van DDT en die ontwikkeling van ’n malaria-entstof geplaas. ’n Switserse biotegnologie-maatskappy het aangekondig dat hulle met sukses ’n malaria-entstof getoets het wat bemark kan word, maar nie voor 2014 nie.

Hoe om malaria te voorkom
Daar is tans drie soorte tablette vir die voorkoming van malaria in Suid-afrika beskikbaar. Dis belangrik om te onthou dat een spesifieke middel nie vir alle mense reg is nie en dat elke reisiger daarom op sy eie geëvalueer moet word.

  • Malarone (dieselfde as Malanil) het baie min newe effekte. Jy begin dit drink een dag voor jy die malariagebied besoek, en gebruik dit vir ’n verdere sewe dae ná jou terugkeer. Die grootste nadeel is die prys. Een pil kos sowat R38 en ’n vakansie van twee weke vir ’n gesin van vier kan jou dus baie duur te staan kom!
  • Meflokien (Mefliam/Lariam) is die enigste keuse vir swanger reisigers, wat liefs uit malariagebiede moet wegbly maar andersins sterk aangeraai word om ’n voorkomingsmiddel te neem.

    Die Wêreldgesondheidsorganisasie meen dat dié middel vanaf die tweede trimester van swangerskap veilig is, maar dat dit nie deur mense met sielkundige probleme soos depressie en angstigheid gedrink moet word nie, en ook nie deur mense met hartprobleme of epilepsie nie. Vir die regte mens werk dit baie goed.

    Die keersy is dat newe-effekte intense drome of slaaploosheid, kwaai hoofpyn en selfs ’n ondraaglike gesuis in die ore kan insluit. Jy moet ’n week voor jy ’n malariagebied besoek, begin om een pil per week te neem, en dit vir ’n verdere vier weke ná jou tuiskoms volhou.

  • Doksisiklien is ’n vorm van die antibiotikum tetrasiklien, maar slegs doksisiklien word vir die voorkoming van malaria gebruik. Dit word een keer per dag gedrink en jy begin daarmee ’n dag voor jy die malariagebied binnegaan. Jy neem dit daagliks terwyl jy daar is, en daagliks vir nog vier weke ná jou tuiskoms.

    Dit is taamlik goedkoop en werk baie goed. Dit kan sonsensitiwiteit, sonsteek en sooibrand by party mense veroorsaak, maar met die regte voorsorgmaatreëls kan dit met veiligheid gebruik word.

    Gebruik sonskerm met ’n hoë beskermingsfaktor en dra ’n hoed. Dit kan ook die doeltreffendheid van mondelikse voorbehoedmiddels en party ander medisynes verlaag. Bespreek dit met jou apteker.

“Al drie beskikbare midddels is sowat 90 persent of meer doeltreffend, maar ongelukkig is geen voorkomingsmiddel 100 persent doeltreffend nie en as jy gedurende of ná ’n verblyf in ’n risikogebied siek word, moet jy altyd malaria as oorsaak oorweeg,” sê dr. Jaco Folmer van Netcare.

“Daar is ’n mite dat dit moeilik is om malaria te diagnoseer as jy ’n voorkomende middel geneem het, maar dis onsin. Eintlik word mense wat voorkomende medisyne geneem het net nie so erg siek nie.

Dis omdat minder parasiete in jou bloed en ligter simptome jou ’n beter kans op oorlewing gee. Dis die simptome wat jou doodmaak en die voorkomingsmiddel onderdruk juis die simptome.”

Behalwe vir voorkomende middels word jy aangeraai om die volgende voorsorgmaatreëls te tref wat op alle reisigers, kinders inkluis, van toepassing is:

  • Slaap onder muskietnette wat met insekdoder behandel is.
  • Maak seker dat dit aan alle kante van die bed ingesteek is.
  • Hou kinders binne van skemer tot dagbreek.
  • Dra langmouhemde, langbroeke, sokkies en skoene van skemer tot dagbreek wanneer jy buite is.
  • Spuit of smeer insekweerders op ontblote vel. Let op die vervaardiger se aanbevelings, veral vir jong kinders.
  • Gaasnette voor deure en vensters help om muskiete uit te hou.
  • Gebruik ’n waaier of lugreëling in die kamer.
  • Brand muskietwerende spirale en bespuit slaapplekke met insekdoder.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Lees meer: Malaria

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE