Share

Moenie jou troeteldier bederf nie

As jy 'n troeteldiereienaar is, is jy waarskynlik ook 'n diereliefhebber – wat beteken dat jy goed vir jou troeteldier sorg. Of miskien nie? Partykeer "sorg" ons uit onkunde op die verkeerde manier vir ons diere. 

Hier is 'n paar van die mees algemene foute wat troeteldiereienaars maak:

Medisyne
"Die mees algemene manier hoe eienaars hulle diere skade aandoen, is deur hulle met medisyne wat vir mense bedoel is, te behandel," sê Dr. Brian Bergman, 'n veearts van Kaapstad.

Hy waarsku dat parasetamol (Panado) dodelik vir katte kan wees en dat aspirine (Disprin) tot nierversaking en maagswere by honde kan lei as hulle vir lang periodes aan dosisse wat vir mense bedoel is, blootgestel word.

Om vir jou Yorkshire-terriër wat 2kg weeg, dieselfde dosis te gee as wat jy vir 'n hoofpyn gebruik, is soos om self 'n inspuiting te kry wat vir 'n olifant bedoel is. Die dosis is net eenvoudig te groot vir die dier en kan dodelik wees.

Oorvoeding

Net soos by mense kan oorgewig enorme gesondheidsprobleme vir diere skep. " 'n Oorgewig dier het 'n groter risiko vir meegaande siektetoestande soos diabetes, hartsiekte en kanker, wat hulle lewens drasties verkort," sê Dr. Guy Fyvie, 'n veearts en raadgewer vir Hill's Pet Nutrition. "Verder kan die ekstra gewig artritis en beweeglikheidsprobleme veroorsaak, wat baie pynlik kan wees."

'n Vroeëre studie het getoon dat die lewe van 'n oorgewig hond met ten minste twee jaar verkort word (ekwivalent aan 'n verminderde menslike lewensverwagting van ongeveer 15 jaar).

So, wanneer Wagter die volgende keer vol afwagting na jou bord kyk, dink twee keer voor jy vir hom daardie happie gee – jy mag hom dalk net in 'n vroeë graf in bederf...

Vlooi- en luisbehandeling

Wanneer jy jou troeteldier vir vlooie en bosluise behandel, is dit nie net belangrik dat jy die regte produk gebruik nie, maar ook die regte hoeveelheid van die produk.

Jou kat kan doodgaan as jy hom/haar met vlooi/bosluis-middel wat eintlik vir honde bedoel is, behandel, en beide katte en honde kan vergiftig word as die konsentrasie te sterk is.

"Wees ook baie versigtig wanneer jy gif gebruik om peste soos rotte en slakke te beheer," waarsku Bergman.

"Troeteldiere eet dit, word vergiftig, en vrek dikwels."

Hitte en jou troeteldier

Hierdie is niks nuut nie, maar mense los nog steeds hulle honde in geparkeerde motors in die son. "Die diere kry hitteberoerte en gaan dood," sê Bergman.

Wagter mag nou wel 'n keel opsit wanneer jy winkels toe gaan en hy nie mag saamgaan nie, maar dit is beter om hom by die huis te los, as dat hy in die warm motor sit en bak terwyl jy jou inkopies doen.

En ten slotte maan Bergman dat jy nie jou troeteldier gedurende die warmste tyd van die dag vir sy wandeling moet neem nie. "Sekere rasse, soos die bulhond, kan long- en hartversaking kry en vrek, as hulle in die hitte gaan stap," waarsku hy. - (Wilma Stassen, Health24, September 2008)

Lees verder:
Pet Centre 
'Obesity a form of abuse'

- (Laaste hersiening: Junie 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE