advertisement
12 January 2009

Mediese dossier: Ontrafel Arafat se siekte

Dae aaneen was daar bespiegelings oor Arafat se onafwendbare agteruitgang. Sy dood is uiteindelik Donderdag aangekondig, maar nie die finale doodsoorsaak of diagnose nie.

0

Dae aaneen was daar bespiegelings oor Arafat se onafwendbare agteruitgang. Sy dood is uiteindelik Donderdag aangekondig, maar nie die oorsaak van sy dood of die diagnose van sy siekte nie.

Mari Hudson en Carine van Rooyen van Health24 het 'n forensiese en anatomiese patoloog genader om te probeer om uit die karige inligting tot ons beskikking 'n moontlike oorsaak van sy dood te bepaal.

'n Yslike kombers van geheimhouding - byna erger as in die dae van Nikita Chroesjtsjof en die Politburo - word getrek oor die siekte van die Palestynse leier Jasser Arafat (75).

Twee mediese kwessies kom met dié gebeure sterk ter sprake: die verskil tussen koma en breindood, en die diagnose van sy siekte.

Die kwessie van breindood en koma
Die berigte oor sy koma en breindood was inderdaad verwarrend. Dokters het op 'n dag gesê hy is breindood en die volgende dag dat hy in 'n onomkeerbare koma is. Hoewel dit moontlik is om die asemhaling en hartklop van 'n mens wat dood is aan die gang te hou, kan dit net 'n beperkte tyd lank gedoen word.

Verskeie toetse word gedoen om te bepaal of 'n pasiënt breindood is, maar die laaste en kritieke toets is die afskakeling van die respirators. Indien dokters 'n respirator afskakel van 'n pasiënt wie se hart nog klop maar wat breindood verklaar is, en die pasiënt toon dan die geringste teken dat hy op sy eie probeer asemhaal, sal die respirator onmiddellik weer aangeskakel word.

Dokters kan iemand sowat 18 uur lank ná breindood aan 'n respirator gekoppel en stabiel genoeg hou deur spesifieke vloeistowwe en hormone toe te dien, maar die liggaam se proses van "afskakeling" begin onmiddellik ná breindood.

Al hou respirators bloed aan die vloei deur die organe, sal organe soos die lewer, hart en niere binne 12 tot 24 uur ná breindood ophou funksioneer sonder die toediening van groot dosisse hormone, verduidelik 'n Kaapstadse oorplantingchirurg.

Wat het Arafat dan makeer?
Dr. Izak Loftus, forensiese en anatomiese patoloog van die PathCare-groep, het ons gehelp om soos 'n mediese speurder die karige stukkies van die legkaart bymekaar te probeer pas om te probeer vasstel wat Arafat makeer het. Dit was inderdaad 'n kat-en-muis-speletjie waarin stellings gemaak en ontken is, en min werklike feite aan die lig gekom het.

Eers is berig Arafat ly aan 'n "bloedsiekte wat verband hou met 'n virus-infeksie, kanker of vergiftiging". Twee dae later ontken Palestynse afgevaardigdes dat Arafat aan leukemie ('n soort bloedkanker) ly.

Die legkaartstukke van sy siekte-simptome kan dalk só bymekaar begin inpas:

  • Op 24 Oktober word berig dat Arafat 'n kwaai griepaanval gekry het. Hierdie punt lyk aanvanklik onbelangrik, maar is 'n belangrike faktor om in ag te neem vir 'n moontlike diagnose. Juis die feit dat hy "kwaai" griep het, dui daarop dat sy risiko vir infeksie baie hoog is. Sy witbloedseltelling is dus waarskynlik laag en hy is immuun-onderdruk, sê Loftus.
  • Op 28 Oktober berig dokters dat sy bloedplaatjie-telling (trombosiettelling) uiters laag is en hy dus 'n trombositopenie het. Plaatjies is bloedselle wat bloed help stol. Hulle groepeer saam om "proppies" te vorm om klein gaatjies en skeurtjies in beskadigde bloedvate toe te stop. 'n Lae plaatjietelling beteken dat die pasiënt 'n groot kans op bloeding het - veral in die inwendige organe soos die brein (soos wat inderdaad Woensdag met Arafat gebeur het) en lewer.

As 'n mens se plaatjietelling bloot laag is, verhoog dié lae plaatjietelling nie jou risiko vir infeksie nie, net jou bloedingsneiging. Maar indien 'n mens se plaatjietelling laag is én hy het ook 'n verhoogde risiko vir infeksie, moet 'n mens oorweeg dat die beenmurg se vermoë om nuwe plaatjies, witbloedselle en rooibloedselle te vervaardig, aangetas is.

Loftus wys nog 'n belangrike aspek uit. In televisie-opnames het Arafat die laaste paar maande baie bleek voorgekom. Sy bleek gelaat ondersteun die vermoede dat hy reeds maande lank aan bloedarmoede ('n lae rooibloedseltelling) ly.

Al dié faktore - die verhoogde risiko vir infeksie (en daarmee gepaardgaande lae witbloedseltelling), die bevestigde lae plaatjietelling en die sigbare tekens van bloedarmoede dui sterk op beenmurgversaking. Kortom: Sy beenmurg is nie meer in staat om hierdie drie komponente te produseer nie.

Wat kan beenmurgversaking veroorsaak?
Oorsake van beenmurgversaking sluit drie hoofstrome van moontlikhede in, naamlik een van verskeie kwaadaardige prosesse of kankertipes, aangebore bloedsiektes, of dalk 'n "buite" - faktor soos bestraling, 'n virus of 'n chemiese substans soos 'n middel of toksien (gifstof).

Kwaadaardige prosesse wat die beenmurg kan infiltreer en normale beenmurgselle kan verdring, is onder meer leukemie (witbloedselkanker), miëloom ('n seldsame kanker wat tot abnormale plasmaselle lei), limfoom (limfklierkanker) en karsinoom (kanker wat in die buitenste membraanlaag van 'n orgaan ontstaan, soos veral longkanker, borskanker, dikdermkanker, maagkanker, velkanker en servikale kanker).

Ander abnormale weefsel soos fibreuse weefsel, wat nie self kankerweefsel is nie, kan egter net soos kankerweefsel die beenmurg verdring, soos in die geval van 'n siekte bekend as miëlofibrose. As die beenmurg nie meer in staat is om volwasse bloedselle te vervaardig nie, staan dit as miëlodisplastiese sindroom bekend.

Wanneer kanker of abnormale weefselgroei nie 'n rol speel nie, maar die beenmurg nie meer die voorloperselle vir alle soorte bloedselle kan vervaardig nie, staan dit as aplastiese anemie bekend.

Aplastiese anemie kan aangebore wees. Só 'n voorbeeld is Fanconi-anemie. Die eerste simptome van dié siekte word reeds in die kinderjare duidelik. Arafat was te oud. Dié diagnose is dus uitgeskakel.

Aplastiese anemie kan egter ook verworwe wees deur 'n virus-infeksie, bestraling of blootstelling aan middels soos teenkankermiddels, langtermyn-blootstelling aan insekdoders of bensiendampe.

In 50% van alle gevalle bly die oorsaak van beenmurgversaking onbekend.

"Ek dink 'n moontlike diagnose is leukemie/ limfoom met infiltrasie in die beenmurg, miëlodisplastiese sindroom of verworwe aplastiese anemie," sê Loftus.

Moontlik sal die oorsaak van Arafat se beenmurgversaking aan die lig kom, moontlik nie. Maar dat Arafat se beenmurg nie meer gefunksioneer het nie, staan soos 'n paal bo water.

Waarom hy nie vroeër gediagnoseer en behandel is nie, is 'n ander vraag en kwessie.

(mhudson@health24.co.za en cvrooy@health24.co.za, November 2004)

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.