Share

Manlike oorgangsjare

Middeljarige man van Shutterstock
Middeljarige man van Shutterstock

Die mediese professie stry al jare lank oor of daar 'n manlike ekwivalent van die vroulike menopouse is. 'n Vinnige opname by vroue wat met mans in hulle 50's saamleef, sal hierdie debat sonder moeite beëindig. Die waarheid is dat daar min twyfel bestaan dat hormonale veranderings die lewens van 'n beduidende aantal mans om en by daardie ouderdom ordentlik deurmekaarkrap.

Dit is goed om te weet dat die opvatting dat ten minste party van die "knorrige ou mans" in ons lewens 'n geldige mediese probleem het, en nie net 'n fiktiewe middeljarige krisis vir hulle buitensporige gedrag blameer nie, deesdae stadig maar seker wetenskaplik aanvaar word.

'n Hormonale afplatting

Die sekshormone wat jou 'n man  maak deur onder andere die vorming van jou seksuele organe, die produksie van spermselle in jou testes, die groei van jou baard, die aanvuring van jou seksdrif en die verandering van jou stem en spiere word androgene genoem. Dit word in die byniere en testikels geproduseer. Die bekendste is testosteroon, maar daar is verskeie ander hormone soos dehidroëpiandrosteroon (DHEA), androsteroon en dihidrotestosteroon (DHT).

Androgene word gedurende puberteit in groot hoeveelhede in jou liggaam vrygestel en bereik gewoonlik tussen 15 en 25 hulle hoogste vlakke. Na die ouderdom van 30 daal testosteroonvlakke met omtrent 10 persent per dekade as 'n natuurlike byproduk van veroudering. Alhoewel die meeste mans vir baie jare daarna gesonde testosteroonvlakke handhaaf, ondervind ongeveer 30 persent in hulle laat 40's en vroeë 50's simptome van verminderde testosteroon.

Verskille tussen mans en vroue

Daar is natuurlik belangrike verskille tussen wat gedurende menopouse met vroue gebeur en dít wat mans op omtrent dieselfde ouderdom ondervind. Terwyl menopouse die algehele staking van die aktiwiteit van 'n vrou se voortplantingsorgane behels, hou mans aan om sperm te produseer en is tot op 'n hoë ouderdom nog in staat om kinders te verwek. Die veranderinge wat vroue ondervind, gebeur redelik vinnig, maar by mans is die proses meer geleidelik.

Verskillende name

By mans word die nadelige gevolge van lae androgeenvlakke partykeer die "manlike menopouse" genoem, maar die term "andropouse" is meer korrek. Die volgende terme word ook gebruik: 

  • verminderde androgeen by die ouer-wordende man (ADAM);
  • testosteroon gebreksindroom (TDS);
  • laat aanvangs hipogonadisme(LOH);
  • viropouse / viropause; en
  • prikkelbare man sindroom (IMS).

Simptome

Nie alle mans gaan deur andropouse nie en by diegene wat dit wél ondervind, kan die graad van die simptome baie verskil. Daar is 'n aantal simptome wat aan andropouse gekoppel word, maar aangesien 'n vermindering van testosteroon ook aan sekere siektes soos diabetes, metaboliese sindroom en Alzheimer se siekte gekoppel word, is die presiese situasie nog redelik omstrede.

Baie van die simptome van andropouse is soortgelyk aan dié van vroue in hul menoupouse, maar is oor die algemeen minder intens:

  • moegheid, swakheid, gebrek aan stamina, lewenskrag en energie;
  • skete en kwale;
  • verminderde seksdrif en die vermoë om 'n sterk ereksie te behou;
  • episodes van impotensie;
  • depressie, lusteloosheid;
  • verwarring, besluiteloosheid, lae selfvertroue;
  • nagsweet, hartkloppings, oormatige sweet;
  • slaapprobleme;
  • onvermoë om te konsentreer, aangetaste geheue, stadiger denkproses;
  • woede, knorrigheid, buierigheid, frustrasie en angstigheid;
  • opgeswelde of gevoelige borste;
  • verminderde spiertonus, -grootte en -krag;
  • haarverlies;
  • osteoporose, en
  • 'n vermeerdering van liggaamsvet.

Behandeling

Hier is 'n paar van die behandelingsopsies wat dokters vir mans met die simptome van andropouse kan voorskryf:

  • Testosteroon vervangingsterapie beoog om jou testosteroonvlakke deur inspuitings, pleisters, kapsules, inplantate, rome of jels te verhoog. Daar is bewyse dat dit simptome soos lae libido, depressie en moegheid by sommige mans verlig. Testosteroon-vervangingsterapie dra die moontlike risiko van verhoogde kanse vir prostaatkanker, hart-, en longsiektes, beroerte en die onderdrukking van testikulêre funksie.
  • 'n Laevet, hoë-vesel dieet. Sekere voedselsoorte is bekend daarvoor dat hulle testosteroon-produksie aanhelp, soos selery, oesters, eiers, amandels, suiwelprodukte en essensiële vetsure (bv. in olierige vis soos salm en sardyne).
  • Stresverminderingsmaatreëls en antidepressante medikasie.
  • 'n Gereelde oefeningsprogram.

’n Video oor andropouse

Dink jy jy ly moontlik aan andropouse? Dr. Andre Berger gee in hierdie informatiewe YouTube-video ’n oorsig oor die onderwerp. Kyk dit en raadpleeg dan jou eie dokter:

 

Verdere inligting oor andropouse:

Boeke oor andropouse

Mans en die afplatting gedurende die middeljare

Manlike menopouse: meer feit as mite

Is testosteroon besig om jou dood te maak?

 (Andreas Späth, Health24, Desember 2009)

Prentjie: Middeljarige man van Shutterstock

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE