Share

Lewendige rotte!

Opgehoopte vuilis in die Johannesburgse middestad as gevolg van die onlangse vuilis-staking het volgens berigte tot 'n rotteplaag gelei – en bekommernis oor die gepaardgaande gesondheidsrisiko's. Is rotte werklik die gevreesde draers van siektes soos algemeen aanvaar word, en selfs al is dit nie waar nie, wat kan jy doen om hulle van jou eiendom af te hou?

Sedert die builepes, wat 'n derde van die bevolking van Noord-Europa in die veertiende eeu uitgewis het, is die arme rot die simbool van siekte én al die ellendes van die Donker Eeue. En dit was nie eers die rotte se skuld nie – hulle was bloot die draers van die vlooie wat die werklike sondaar oorgedra het: die plaag bakterium. Die rot se reputasie was egter permanent aan flarde.

Rotte kan siektes aan mense oordra, maar as jou huis skoon, en jou basiese higiëne goed is, is die risiko dat jy enige siektes gaan kry redelik klein. Jy wil hulle nie aanmoedig om in jou huis in te trek nie, maar 'n verdwaalde rot hier en daar is nie genoeg rede om die gesondheidsowerhede of pesuitroeiers in te roep nie.

Dit is ook nie nodig om gif, gom-lokvalle of rotvalle te gebruik nie. Hierdie metodes is wreed en kan ander diere en kinders beseer.

Ek het werklik baie van hierdie leser se onhisteriese en knaagdier-vriendelike brief aan die Envirohealth Forum gehou:

Daar is rotte in my buitegeboue (in die geute en dak). Hulle skuil gedurende die dag, maar kom snags uit. Ek  het al probeer om kruisement orals te sit, maar dit het nie gehelp nie. My honde slaap daar en hulle kos is ook daar. Moet ek miskien die kos verwyder? Ek wil nie die rotte uitroei nie; ek wil net hê hulle moet 'n ander blyplek vind.

Hoe om rotte te laat 'uittrek'

Dit is prysenswaardig om voorkomende maatreëls te tref, eerder as om knaagdiere dood te maak – en dit is nie te moeilik as jy konsekwent optree nie. Doen eers 'n bietjie moeite voor jy die rotvalle en gif nader trek, of die pesuitroeiers bel.

Wat jy basies moet doen om knaagdiere van jou eiendom af weg te hou, is om seker te maak daar is niks wat hulle aanlok nie. Hulle wil kos, water, 'n plek om nes te maak en maklike toegang hê. Die beste plan is dus om hierdie geriewe te beperk:

  • Bestuur jou huishouding goed: as jy kos mors, maak dit dadelik skoon, moenie kos laat rondstaan nie en hou al jou oorskietkos in verseëlbare houers. Vuilisblikke, voëlkos en kosbakke vir diere is potensiële bronne van kos vir rotte. Onthou, hulle knaag deur alles (bv. deur vuilissakke, kartonbokse en selfs deur hout) en hulle kan deur baie klein gaatjies kruip. Moet ook nie water aan hulle voorsien nie – maak druppende krane heel en maak jou troeteldiere se waterbakke snags leeg.
  • Raak ontslae van rommel en vuilis, binne en buite – rotte kan dit as skuiling gebruik. Hulle hou ook van lang gras en bosse; hou dus die areas om geboue skoon. As rotte hulle in jou dak tuisgemaak het, maak die spasie onder die dak deeglik skoon en verwyder enige mis, nesmateriaal, ens. Stop dan al die gate en splete toe sodat hulle nie weer kan inkom nie.
  • Verseël gate en krake in mure en vloere en die areas om deure en vensters. Maak seker daar is nie gate in jou omheining waar rotte kan deurkruip nie. Hulle kan ook goed klim; verwyder dus enigiets (soos oorhangende takke) wat hulle kan gebruik om by geboue in te kom. Rotte kan wegkruip en nesmaak in bome (meestal die wortels), veral in vrugtebome.
  • Dis miskien nie goed om te veel op hierdie metode staat te maak nie, maar huiskatte en baie soorte honde is uitstekende rotvangers, en hulle teenwoordigheid is 'n goeie afskrikmiddel. Binne 'n maand nadat ons ingetrek het, het my gestreepte kat die bure se rotte (en ongelukkig ook 'n oulike klein spitsmuisie) wat in die bure se klimop nesgemaak het, uitgeroei. Jy moet egter bereid wees om die 'presentjies' wat jou troeteldiere van hulle jag-ekspedisies saambring, te aanvaar... En dis eintlik ook nie goed dat jou troeteldiere dit wat hulle vang, eet nie, want hulle kan op hierdie manier siektes optel.  
  • Pepermentolie (en kruisement) is blykbaar 'n afskrikmiddel vir knaagdiere. Ander, nie-giftige afskrikmiddels wat jy kan probeer, is knoffel en cayennepeper.

Om die diere lewendig te vang en los te laat, is iets om te oorweeg. Die idee is dat jy jou huis onaantreklik vir knaagdiere maak en dan die oorblywendes vang met 'n soort val wat die dier nie vermink of doodmaak nie. Die Dierebeskermingsvereniging stel voor dat 'n mens die maatskappy Animal Handling Support Systems kontak wat pynlose valle voorsien. Jy laat dan die rotte so gou as moontlik vêr weg van (of ten minste buite) jou knaagdier-bestande huis vry. Hou aan daarmee tot die rotte die boodskap kry en groener weivelde gaan soek.

- Olivia Rose-Innes, EnviroHealth Redakteur, Health24, hersien April 2011

Lees verder:
Jou huis: 'n kakkerlak-hotel

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE