Party plante en bessies kan jou
lelik siek maak of laat jeuk as jy
hulle kou. Mense raak ál meer
bewus van gevaarlike tuinplante,
maar weet nie altyd wat is
wat nie. Hier is die plante waarvoor
jy moet ligloop
Deur BETINA LOUW vir Huisgenoot-POLS
Vyftien blare van die selonsroos, 'n beker maanblomtee, 'n
hand vol pitjies van die stinkblaar, 'n hap van 'n varkoorblaar
en tien seringbessies...
Die eerste kan jou doodmaak, die
tweede en derde kan jou so mal soos 'n haas maak, die vierde
kan jou mond laat brand – en die laaste sal niks aan jou doen nie.
Dat Suid-Afrikaners besorg is oor giftige tuinplante, is nie altemit nie.
Gifinligtingsentrums kry weekliks navrae hieroor.
Daar is baie verwarring oor watter plante giftig is – dis duidelik uit dié
navrae, want die meeste mense is bekommerd oor die gifstowwe van die
seringboombessie.
Maar al is dié bessiepitte giftig, is dit so hard dat jy hulle skaars met 'n voorhamer kan stukkend slaan. Al sluk jy een, sal dit heel deur jou liggaam beweeg sonder dat 'n kriesel gif uit die harde dop ontsnap. Dit is al keer op keer bewys, sê dr. Gerbus Müller, kliniese toksikoloog by die Tygerberg-gifinligtingsentrum.
Hy meen plantvergiftiging word dikwels oorbeklemtoon en die meeste mense jaag te vinnig spoke op.
Plante se name is ook verwarrend. Baie mense dink byvoorbeeld die gewilde klimop wat so baie mure vol rank, is giftig – maar hulle verwar dié rankplant uit Europa met die gif-klimop (poison ivy) wat glad nie in Suid- Afrika voorkom nie. Selfs in Noord- en Suid-Amerika, waar die gif-klimop inheems is, sal mense nie doodgaan as die blare teen hulle skuur nie. Hulle sal wel blase daarvan kry.
Ons lysie van agt plante wat die afgelope twintig jaar die grootste probleme in Suid-Afrika veroorsaak het, sluit gewilde tuinplante in. Dié bêregids bevat inligting oor hul uitwerking en watter behandeling nodig is.
Plante wat gifstowwe bevat
1. STINKBLAAR of MALPITTE
(Datura stramonium)
Waar kom dit voor?
Die plant is inheems
in Noord-Amerika, maar word
oral in Suid-Afrika aangetref.
Watter deel van die plant?
Die sade bevat hoë konsentrasies chemiese
stowwe wat soortgelyk is aan
atropien, 'n opkikker wat jou mond
droog maak en jou laat hallusineer.
Hoe gevaarlik is dit?
Dit is 'n baie
giftige plant. As jy net vier van die
klein pitjies eet, kan dit al tekens
van vergiftiging veroorsaak – en
'n hand vol maak mense regtig so
mal soos 'n haas.
'n Koppie daarvan kan noodlottig wees. As 'n baba 'n paar pitte inkry, moet jy die kind hospitaal toe neem. Al die gevalle van ernstige malpittevergiftiging wat die afgelope tien jaar in Suid-Afrika behandel is, was tieners wat dit op die proef gestel het.
Hoe sal jy voel?
Jou mond en vel
voel droog, jou pupille vergroot, jy
voel koorsig en jou pols is vinniger.
Jy kan versteurde visie en hallusinasies
ervaar. In uitsonderlike gevalle
kan epileptiese aanvalle, nierversaking
en die dood volg.
Wat kan jy doen?
Die meeste mense
wat dié pitte inkry, moet hospitaal
toe gaan omdat hulle beheer oor
hul optrede verloor en dom dinge
aanvang. Tieners wat daarmee eksperimenteer
weens die hallusinasies
wat dit veroorsaak, moet baie goed
opgepas word omdat hulle sommer
voor 'n motor kan inhardloop of by 'n
venster kan uitval. Mense word vir 'n
dag of wat in die hospitaal opgeneem
tot die gif uitgewerk is.
2. SELONSROOS
(Nerium oleander)
Waar kom dit voor?
Dié Asiatiese
plant word oral in die land
aangetref, byvoorbeeld in tuine
en langs snelweë soos die N1 in
die Wes-Kaap. Die selonsroos met
sy kenmerkende pienk, geel of
wit blomme pas goed aan in droë
gebiede en is daarom 'n gewilde
tuinplant.
Watter deel van die plant?
Alle
dele is uiters giftig. Dit bevat die
hartverlammende en dodelike
gifstof oleandrien. Die bitter smaak
van die blare keer gelukkig dat
mense groot hoeveelhede inneem.
Hoe gevaarlik is dit?
Die giftige
stof in die selonsroos se blare,
sade en takke kan die hart
aantas en jou dood veroorsaak.
Meer as vyftig mense het die
afgelope tien jaar dele van die
selonsroos ingekry, maar
gelukkig te min om vergiftig
te word. Sowat 4g of vyftien
blare is genoeg om die dood
te veroorsaak. In Sri Lanka
maak mense wat wil selfmoord
pleeg, soms 'n tee
van die geel selonsroos se blare
en sade.
Hoe sal jy voel?
Naar, verward en
swak. As jou hartspiere aangetas
word, kan hulle so verswak dat
jou hart kan gaan staan omdat
die ritme versteur is. Dié simptome
kan eers ure of 'n dag later
ontwikkel.
Wat kan jy doen?
As daar 'n
verandering in jou hart se ritme
is, moet jy vinnig by 'n dokter of
hospitaal kom.
3. MAANBLOM
(Brugmansia candida)
Waar kom dit voor?
Dit is gewilde
tuinblomme oral in Suid-Afrika, maar
is oorspronklik van Suid-Amerika.
Watter deel van die plant?
Net
soos met malpitte, bevat die blare,
blomme en sade stowwe wat soos
atropien werk.
Hoe gevaarlik is dit?
Die stof het
die kwaaiste uitwerking wanneer jy
tee van die blare en blomme maak
en dié konkoksie drink. Dit veroorsaak
hallusinasies en aggressiewe
gedrag, sodat gebruikers stapelgek
en onverantwoordelik kan optree.
Die uitwerking is minder ernstig as jy bloot die plant se blare of blomme eet. Al die gevalle van maanblom-vergiftiging wat die afgelope tien jaar in ons hospitale voorgekom het, was tieners wat dit op die proef wou stel. Gelukkig sal iemand nie baie siek word as hy net een blaar of pit eet nie.
Hoe sal jy voel?
Maak jou reg vir
versteurde visie, hallusinasies, aggressiewe
gedrag, koors, 'n droë
vel, droë mond, vergrote pupille,
vinnige polsslag, gedisoriënteerdheid
en selfs epileptiese aanvalle,
nierversaking en die dood.
Wat kan jy doen?
Pasiënte moet
24 uur lank in die hospitaal bly tot
die simptome uitgewerk het.
4. GEVLEKTE STOMRIET
(Dieff enbachia)
5. OLIFANTSOOR
(Colocasia esculenta)
6. GERAAMTEPLANT
(Monstera deliciosa, algemeen bekend as delicious monster)
7. VARKOOR
(Zantedeschia
aethiopica)
Waar kom dit voor?
Al vier dié
plante kom oral in Suid-Afrika voor.
Die varkoor is inheems, terwyl die
ander plante oorspronklik van Noord- en
Suid-Amerika is.
Watter deel van die plant?
Die blare,
en soms ook die blomme en vrugte,
bevat kalsium-oksalaatkristalle wat
die mond se slymvlies kan beskadig.
Hoe gevaarlik is dit?
Die skerp,
langwerpige en onoplosbare
oksalaatkristalle in die blare se sap
is soos 'n klomp fyn spelde wat die
mond se slymvlies stukkend steek,
sodat jou mond kwaai begin brand.
Kinders is geneig om die plante te kou, maar hulle hou gewoonlik gou op as hul mond begin brand. Daar is byna elke maand 'n kind wat aan een van dié plante kou, maar die meeste gevalle is nie ernstig nie.
Hoe sal jy voel?
Jy sal dadelik 'n
brandgevoel in jou mond kry. As
jy nog daarvan inkry, kan jou keel
toeswel sodat jy moeilik asemhaal.
Hoewel dié simptome in handboeke
beskryf word, het Gerbus se span
nog nooit asemhalingsprobleme
gesien nie.
Wat kan jy doen?
Suig aan ys of eet
roomys vir die brandgevoel. As jou
keel ook brand, gaan dokter toe om
seker te maak dit is nie geswel nie.
8. SERINGBOOM
(Melia azedarach)
Waar kom dit voor?
Dié boom is inheems in
Asië, maar kom oral in Suid-Afrika voor.
Watter deel van die plant?
Die ryp bessies se
pitte bevat meliatoksiene, wat giftige stowwe is.
Hoe gevaarlik is dit?
Die seringbessie veroorsaak
byna nooit vergiftiging nie omdat die pit
binne-in die bessie so hard is dat jy selfs sal sukkel
om dit met 'n hamer oop te kap. Die pit word
gewoonlik heel ingesluk en beweeg amper
altyd heel deur die liggaam. Die afgelope dertig
jaar was daar net een geval waar diarree dalk
deur seringbessie-vergiftiging veroorsaak is.
Hoe sal jy voel?
In uitsonderlike gevalle kan
naarheid, braking en diarree binne 'n uur voorkom.
Wat kan jy doen?
Behandel die simptome met
middels teen naarheid en diarree. Stel die pasiënt
gerus en hou sy toestand dop.
Plant inheems en veilig
Dit is interessant dat die meeste plantsoorte wat giftig is of lastige reaksies veroorsaak, uitheems is. Ernst van Jaarsveld, kurator
en plantkundige van die Kirstenbosch- botaniese tuin se konservatorium in Kaapstad, het vir ons 'n lys opgestel van die toptien
inheemse blomme, struike, klimplante en bome wat nie lastige reaksies uitlok nie, maklik in ons klimaat groei en boonop mooi is:
- Malva (Pelargonium spp.)
- Spekboom (Portulacaria afra)
- Vallende sterretjies (Crocosmia aurea)
- Pers haselaar of lintbos (Hypoestes aristata)
- Wit katjiepiering (Gardenia thunbergia)
- Ligblou salie (Salvia chamelaeagnea)
- Clematis-klimop (Clematis brachiata)
- Soetdoringboom (Acacia karroo)
- Hen-en-kuikens (Cholorophytum comosum)
- Persbesem (Polygala virgata)
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)