Share

Kos wat gevaarlik is vir jou hond

Om vir jou hond “mens-kos” te voer, mag sleg vir sy gesondheid wees. Hier is ’n paar van die gevare vir honde wat in alledaagse kos skuil:

  • Gaar of gekookte bene van pluimvee, vis of ander diere  
    Kan tot obstruksie of skeure in die verteringstelsel, asook pynlike hardlywigheid lei. Party bene kan in die tande of in die verhemelte van die dier vassit en skade veroorsaak. Dit is egter in die haak om elke nou en dan vir jou hond ’n rou murgbeen, wat jy by jou slagter gekoop het, te gee.  
  • Katkos
    Bevat oor die algemeen te veel proteïne en vet.
  • Sjokolade, koffie, tee en ander bronne van kafeïne
    Die kafeïne en teobromien wat hierdie voedsel bevat, kan giftig wees en die ingewande, hart en senustelsel aantas. Wat vir ons ’n klein stukkie sjokolade is, kan proporsioneel heel groot vir ’n hond of kat wees.   
  • Vet-afsnysels
    Om vir jou hond vet-afsnysels te voer, kan tot gewigstoename lei, met al die gesondheidsprobleme wat daarmee gepaard gaan (hart- en gewrigsprobleme). In sommige gevalle mag dit selfs pankreatitis by honde wat daartoe neig, veroorsaak.   
  • Druiwe en rosyntjies
    Bevat ’n onbekende gifstof wat die niere kan beskadig. Druiwesaad-ekstrak veroorsaak egter geen probleme nie.  
  • Hop
    ’n Onbekende bestanddeel lei tot ’n gehyg, versnelde hartklop, verhoogde liggaamstemperatuur, stuiptrekkings en sterfte.     
  • Menslike vitamien-aanvullings wat yster bevat    
    Kan die wande van die spysverteringstelsel beskadig en giftig wees vir die ander organe, insluitende die lewer en niere.
  • Groot hoeveelhede lewer
    Kan vitamien A-vergiftiging veroorsaak, wat spiere en bene aantas. Dit kan ook koper-stoor-siekte veroorsaak, wat sonder uitsondering dodelik is.  
  • Marijuana
    Kan die senustelsel onderdruk en vomering en hartklop-versteurings veroorsaak.
  • Melk en ander suiwelprodukte  
    Party volwasse honde het nie genoeg van die ensiem laktase om die laktose in melk af te breek nie. Dit kan tot diarree lei. Daar is melkprodukte sonder laktose vir troeteldiere beskikbaar.  
  • Muwwe, bederfde of weggooikos
    Kan verskeie gifstowwe bevat wat vomering en diarree veroorsaak en kan organe, veral die lewer, beskadig.   
  • Alkoholiese drank
    Kan tot intoksikasie, koma en sterfte lei.
  • Wilde sampioene  
    Mag toksiene bevat wat verskillende liggaamstelsels aantas, wat skok kan veroorsaak en tot sterfte kan lei.   
  • Uie en knoffel (rou, gaar of in poeiervorm)
    Bevat sulfoksiede en disulfiede wat rooibloedselle kan beskadig en anemie veroorsaak. Knoffel is minder giftig as uie, en katte is meer sensitief daarvoor as honde.   
  • Aartappel, rabarber en tamatieblare; aartappel en tamatiesteeltjies  
    Bevat oksalate wat die spysvertering- senuwee- en urinêre stelsels kan aantas.   
  • Rou eiers  
    Bevat ’n ensiem wat avidien genoem word, wat die absorbering van biotien (’n B-vitamien) verlaag. Gereelde inname kan tot vel- en pelsprobleme lei. Rou eiers kan ook met Salmonella besmet wees.  
  • Rou vis  
    Kan tot ’n tiamien (’n B-vitamien) tekort lei, wat aptytverlies, stuiptrekkings en in ernstige gevalle sterfte kan veroorsaak. Dit is meer algemeen as hulle gereeld rou vis gevoer word.
  • Sout
    As dit in groot hoeveelhede ingeneem word, kan dit tot ’n elektroliet-wanbalans lei.  
  • Kos met baie suiker
    Kan tot oorgewig en tandeprobleme lei.
  • Tafel-oorskietkos (in groot hoeveelhede)
    Tafel-oorskietkos is nie gebalanseer nie. Dit moet nooit meer as 10% van die dier se dieet uitmaak nie. Die vet moet van vleis afgesny word en ’n hond moet nooit gekookte bene kry nie.  
  • Tabak
    Bevat nikotien wat die spysvertering- en senustelsels aantas. Dit kan ’n vinnige hartklop, bewusteloosheid, koma en sterfte veroorsaak.  
  • Suurdeeg
    Kan uitsit en gas in die spysverteringstelsel produseer, wat pynlik is.  
  • Okkerneute
    Veral die saaddoppe van swart okkerneute, aangesien dit obstruksie in die dermkanaal kan veroorsaak, asook stuiptrekkings as die doppe skimmel het.
  • Suikervrye lekkers en ander items wat xylitol bevat
    Dit kan tot lewerskade en sterfte lei.

- (Hilda Geyer/Health24, hersien Oktober 2010)

Hersien deur veearts Dr. Katja Bier.

Lees verder:

Jou troeteldier se gesondheid
Hoe om jou hond te versorg

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE