advertisement
Updated 06 March 2014

Kolonkanker: ken die gevaartekens

Kolonkanker kom meer algemeen voor as wat mense dink. Maar dit hoef nie dodelik te wees nie. Die geheim is jy moet dit betyds opspoor.

0

Kolonkanker kom meer algemeen voor as wat mense dink. Maar dit hoef nie dodelik te wees nie. Die geheim is jy moet dit betyds opspoor.
Deur ILSE SALZWEDEL

Toe Ben Korf (74) in November 2008 skielik begin sukkel met diarree was hy nie bekommerd daaroor nie. Hy is dokter toe vir 'n voorskrif en toe weg met vakansie. Maar sy maag het bly pla en ná die vakansie is hy terug dokter toe.

Gelukkig vir Ben het sy huisdokter onraad vermoed en hom vir verdere toetse verwys. Vyf dae later is 20cm van Ben se kolon verwyder nadat kolonkanker gediagnoseer is.

Die siekte het hom heel onkant betrap omdat hy gesond geleef het en daar buiten borskanker geen kanker in sy familie was nie. "Ek het nooit gerook nie, elke tweede dag 6km gestap en was nie oorgewig nie. Ek het ook elke jaar vir 'n deeglike ondersoek by 'n internis gegaan."

Vandag is sy kanker in remissie. Dit het weliswaar 28 bestralings en ses kursusse chemoterapie in pilvorm oor ses maande geverg, maar hy leef en is optimisties oor die toekoms.

"Ek moet van nou af jaarliks vir 'n kolonoskopie gaan," vertel Ben, "en elke ses maande vir bloedtoetse. Ek was baie gelukkig, want nog voor ek behoorlik besef het ek het kanker, was die operasie verby."

Natalie Brandt, 'n 33-jarige mediese verteenwoordiger van Kaapstad, was maar 26 toe sy kolonkanker gekry het. "Eers het ek net kwaai maagkrampe gehad, maar later het my buik ook opgeswel gevoel. Daar was geen ander simptome nie," vertel sy.

Ná vier maande van vergeefs pille drink, het sy by 'n konferensie in Johannesburg ineengestort van pyn, en by 'n kliniek in die stad is 'n verdraaide kolon gediagnoseer.

"Ek was twee weke in die hospitaal en skaars terug in Kaapstad toe ek weer by 'n ongevalle-afdeling beland met die verskriklikste pyn," vertel sy.

Gelukkig het 'n chirurg besluit om te opereer om ondersoek in te stel. Hy het 'n kwaadaardige gewas in haar kolon ontdek en 'n stuk daarvan verwyder, en sy moes ook ses maande lank chemoterapie ontvang.

"Ek het nog nooit van groente gehou nie," bieg sy, "maar ek het wel vrugte geëet, en hoofsaaklik vis en hoender. My enigste oortreding was die gereelde kitskos wat ek geëet het. Deesdae sorg ek dat ek baie meer vesel inkry."

Sewe jaar later is sy steeds kankervry.

Alta le Roux van Alberton was minder gelukkig. Sy is op 35 dood aan kolonkanker.

"Sy het meer as 'n jaar lank by die huisdokter gekla oor hardlywigheid," vertel haar man, Christiaan.

"Toe sy eindelik na 'n spesialis verwys is, het hy 'n groot gewas op haar serviks ontdek en 'n ginekoloog het dit verwyder. Maar haar toestand het bly versleg en 'n week later het die dokters besluit om haar eierstokke en baarmoeder te verwyder."

Nog voor sy vir chemoterapie kon aanmeld, het sy weer in die ongevalle-eenheid van 'n plaaslike hospitaal beland, waar 'n studentedokter die gewas op haar kolon opgemerk het. Hy het 'n chirurg se mening gevra, 'n kolonoskopie is gedoen en die gewas is gevind.


Dit was vermoedelik al minstens drie jaar daar en die kanker van die serviks het eintlik van haar kolon versprei.

Vier maande ná die eerste operasie is Alta dood en Christiaan het alleen agtergebly met hul babaseuntjie, Gerhard, destyds 15 maande oud. Hy het intussen die Christelike steungroep Christian Cancer Care gestig en deel van hul missie is om mense aan te moedig om aan te dring op deeglike toetsing en 'n tweede mediese opinie.

Soos hy hartseer sê: "Ek glo Alta kon nog geleef het as sy net betyds gediagnoseer is."

2,500 nuwe gevalle in SA elke jaar

Kolonkanker 'n algemene kanker, ook bekend as kolorektale kanker, omdat dit ook die rektum kan betrek. Dit groei stadig en is simptoomloos in die vroeë stadia wanneer die behandeling nog baie suksesvol kan wees, sê dr. Paul Paradza, 'n kliniese onkoloog by die Unitas-hospitaal in Pretoria.

Daarom is gereelde toetsing so uiters belangrik.

In Suid-Afrika sal een uit elke 97 mans en een uit elke 162 vroue kolonkanker kry, volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Kolonkanker is een van die vyf algemeenste kankers onder mans sowel as vroue wêreldwyd, en in Suid-Afrika word minstens 2,500 nuwe gevalle jaarliks aangemeld.

Een uit elke drie mense wat met kolonkanker gediagnoseer word, sterf daaraan. Maar die goeie nuus is dat dit nie net ten volle genees kan word as dit vroeg genoeg opgespoor word nie, dit is ook uiters voorkombaar, volgens Paul.

Nog goeie nuus, sê prof. Paul Ruff, hoof van die onkologie-departement by die Universiteit van die Witwatersrand, is dat kolonkanker een van die navorsingsvelde met die beste vordering is.

Dit kom hoofsaaklik voor by mense in die middel- en hoër inkomstegroepe, en verwestering en verstedeliking speel 'n groot rol, sê hy. "Dit het te make met wat ons eet. 'n Vetryke dieet met min vesel is dikwels die oorsaak."

Studies toon ook 'n verband tussen hoë cholesterol en kolonkanker. "Dit hou verband met oorgewig. Te veel liggaamsvet is om verskeie redes gevaarlik. Baie gifstowwe skuil in die vet, en dit affekteer nie net jou metabolisme nie, maar ook jou immuunstelsel, en dit benadeel jou liggaam se vermoë om kanker suksesvol te beveg."

Mense met ulseratiewe kolitis of 'n geskiedenis van Crohn se siekte loop ook 'n groter gevaar om kolonkanker op te doen as ander, en in uitsonderlike gevalle is kolonkanker oorerflik. Bo 50 jaar word die risiko vir kolonkanker by alle mense toenemend groter en dit bly vergroot hoe ouer jy word.

Maar soms, soos in Natalie se geval, is daar geen ooglopende oorsaak nie. Paul Paradza meen dis die geval met sowat 30 persent van alle pasiënte. "Ek het al 'n kind van 17 jaar oud gehad wat in geeneen van die risikogroepe geval het nie," vertel hy.

Daarom benadruk kenners die belangrikheid van deeglike toetsing as jy verdagte simptome ervaar.

Die gevaartekens

  • Veranderinge in jou stoelgang. "As jy altyd hardlywig is en skielik begin sukkel met diarree of andersom, noem dit vir jou huisdokter. Net so as jy soms sukkel met hardlywigheid of baie los stoelgange," sê Paul Paradza. Gereelde slymerige stoelgang is nog 'n gevaarteken.
  • Bloed in die stoelgang is slegte nuus. As jou stoelgang donkerrooi of swart is, of as jy bloed in die toiletbak of op die toiletpapier sien, gaan dadelik vir 'n deeglike ondersoek. Jou huisdokter sal eers die moontlikheid van aambeie uitskakel. Dring aan op 'n kolonoskopie. As jou stoelgang byna swart is, is dit 'n teken van kwaai inwendige bloeding, wat kan dui op gevorderde kolonkanker, maar dit kan ook 'n maagseer wees.
  • Kwaai, onverklaarbare moegheid wat gepaardgaan met onverklaarbare gewigsverlies.
  • Aanhoudende kwaai maagkrampe of maagpyn wat nie op gewone behandeling reageer nie.
  • Opgeblasenheid en 'n konstante gevoel van versadig wees.
  • Bloedarmoede, veral by mans bo 40, kan dui op bloeding in die kolon wat nog nie met die blote oog waargeneem kan word nie. Mans bo 40 wat met onverklaarbare moegheid sukkel, moet hul bloed-ystervlakke laat toets, sê Paul Paradza. Jou dokter sal ook 'n monster van jou ontlasting laat toets vir tekens van bloeding.

Hoe toets dokters vir kolonkanker?

Daar is 'n hele klompie toetse wat kolonkanker kan uitwys. Jou huisdokter sal tydens 'n gewone ondersoek op jou maag druk om te voel vir vergrote kliere of 'n vergrote massa in die buikholte.

'n Rektale ondersoek kan moontlik gedoen word, en feses kan gestuur word vir toetse vir bloeding.

Nog toetse soos 'n barium-enema (x-strale waarvoor jy vooraf 'n kontrasmiddel drink), 'n sigmoïedoskopie, kolonoskopie en/of biopsie van verdagte weefsel sal toon of jy kolonkanker het of nie.

'n Sigmoïedoskopie is 'n prosedure waar 'n verligte buis deur die anus en via die rektum na die laerliggende deel van die kolon gestuur word om kwaadaardige poliepe op te spoor.

Ongeveer 65 persent van kolonkankers kan só opgespoor word. Dit is veral belangrik omdat kanker in die laer dele van die kolon en in die rektum maklik gemis kan word met 'n kolonoskopie, sê Paul Paradza.

'n Kolonoskopie werk net soos 'n sigmoïedoskopie, maar die hele kolon kan hiermee ondersoek word. Albei prosedures sal deur 'n gastroënteroloog gedoen word.

Dis nie pynlik nie, maar ongemaklik, en word onder ligte verdowing gedoen. Jy sal vooraf middles moet drink om jou derm heeltemal skoon te maak.

Die toetse wat kan keer dat jy kolonkanker kry

Gereelde toetse, of jy nou simptome het of nie, kan die risiko van kolonkanker dramaties verklein.

Die grootste oorsaak van kolonkanker is adenoom-poliepe in die dermwand. Die meeste is niekwaadaardig, maar daar is 'n kans van 1 persent dat poliepe kwaadaardig kan word en dat die kanker dan verder in die kolon en elders kan versprei.

'n Dokter sal poliepe wat tydens 'n roetine-ondersoek opgespoor word, verwyder en laat ontleed. As dit nie kwaadaardig is nie, word die moontlikheid van latere kwaadaardigheid so uitgeskakel, en as dit wel kwaadaardig is, word dit hopelik verwyder voor dit na die res van die kolon versprei, wat die kans op volkome herstel tot 90 persent verhoog.

Alle mense behoort hulle van hul 50ste verjaardag op 'n gereelde basis vir kolonkanker te laat toets. Moontlike toetse is die ontleding van 'n stoelgangmonster om bloeding op te spoor, 'n sigmoïedeskopie en 'n kolonoskopie.

Jou dokter sal aanbevelings doen oor watter toetse jy moet ondergaan en, na gelang van die uitslag, hoe gereeld jy opvolgtoetse moet laat doen.

As jy in 'n hoërisikogroep vir kolonkanker val, behoort jy op 40 al met 'n kolonoskopie te begin en dit elke jaar of tweede jaar te laat herhaal. Spreek jou dokter hieroor.

Die volgende faktore plaas jou in 'n hoërisikogroep, volgens die Amerikaanse kankervereniging:

  • Kanker of poliepe is al by jou gediagnoseer.
  • Jy ly aan Crohn se siekte of ulseratiewe kolitis.
  • Poliepe of kolonkanker is al gediagnoseer by 'n ouer, broer of suster of kind, almal jonger as 60 jaar, of by twee sulke familielede bo 60.
  • Daar is 'n familiegeskiedenis van oorerflike kolonkanker, soos die soort wat deur poliepe veroorsaak word, ook bekend as FAP, en 'n soort wat nie met poliepe verbind word nie, bekend as HNPCC.

Behandeling

Chirurgie is feitlik altyd deel van die behandelingsplan. Tydens chirurgie word die aangetaste deel van die kolon en nabygeleë limfknoppe verwyder.

Gewoonlik kan die twee gesonde dele van die kolon weer verbind word en jou kolon sal soos van ouds funksioneer. Soms is dit egter nodig om 'n opening in die buikwand te maak, bekend as 'n kolostomie, sodat die ontlasting direk na 'n sakkie buite die liggaam geneem word in plaas van deur die rectum en anus.

'n Totale kolektomie – wanneer die hele kolon verwyder word – kan ook gedoen word, soos in die geval van dr. Elsabe Pepler. Paul het 'n pasiënt wat nou al byna 40 jaar sonder 'n kolon leef.

Ná die operasie sal die chirurg jou na 'n onkoloog verwys wat vir jou 'n unieke behandelingsprogram sal uitwerk en wat bestraling en chemoterapie kan insluit. Elke kankergeval is uniek en wat vir jou vriend gewerk het, sal nie noodwendig vir jou kanker werk nie.

Jou onkoloog moet verskeie faktore in ag neem, soos die graad, soort en ligging van die kanker en of dit na die limfkliere of nabygeleë organe versprei het. Jou algemene gesondheidstoestand en ouderdom sal ook in ag geneem word.

Lees meer:
My lewe sonder 'n kolon
Ander nie-dodelike dermkanaalsiektes

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) – Herfs 2010

 
advertisement

Get a quote

advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Add your comment
Comment 0 characters remaining