advertisement
24 August 2009

Jy het dalk ook TB

Twee derdes van alle Suid-Afrikaners is blykbaar reeds met TB besmet. Die waarheid is: niemand is veilig nie.

0

Twee derdes van alle Suid-Afrikaners is blykbaar reeds met TB besmet. Die waarheid is: niemand is veilig nie.
Deur OLIVIA ROSE-INNES en ILSE SALZWEDEL vir Huisgenoot-POLS

As jy wil keer dat jy TB kry, moenie asemhaal nie,” sê professor Nulda Beyers, direkteur van kliniese navorsing by die Desmond Tutu TB-sentrum in Kaapstad.

Sy’s ernstig. Deesdae is tuberkulose in Suid- Afrika so wydversprei dat dit byna onmoontlik is om blootstelling te vermy.

Om die waarheid te sê word daar volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Tuberkulosevereniging (Santa) vermoed dat minstens 66 persent van ons bevolking besmet is – maar dat die bakterie in die meeste gevalle sluimer sodat die draer nie weet hy is besmet nie.

Dit beteken twee derdes van alle Suid- Afrikaners het TB – dit is dubbel die reeds verbysterende wêreldsyfer, wat nader aan een derde is. En dit sluit baie mense uit ’n bevoorregte agtergrond in.

Hoewel ’n mens aan die stereotiepe TB-lyer dink as iemand wat deur armoede geteister word, is niemand deesdae immuun teen dié uitmergelende en potensieel dodelike siekte nie.

Bakterieë versus die liggaam
Die meeste besmette mense ontwikkel in werklikheid nooit aktiewe TB nie. Dit beteken hulle word nie siek nie, is nie aansteeklik nie en weet miskien nie eens hulle is draers van die bakterie nie.

Dit is omdat die immuunstelsel die infeksie beheer deur “mure” om die bakterieë te vorm waarbinne dit sluimerend of latent bly.

Maar dié sluimerende toestand beteken nie dat ’n mens veilig is nie. Tien uit elke honderd mense met latente TB sal die een of ander tyd aktiewe TB ontwikkel – hoogs waarskynlik binne die eerste twee jaar ná besmetting.

Aktiewe TB kan ook direk ná besmetting plaasvind indien die bakterieë die liggaam se immuunstelsel oorwin en vermenigvuldig. Party mense ontwikkel TB binne weke nadat hulle besmet is – hul immuunstelsel is eenvoudig te swak om die bakteriële groei hok te slaan.

Ander mense met latente TB word later siek wanneer hul immuunstelsel verswak word deur byvoorbeeld siektes of gedrag wat immuniteit onderdruk (veral MIV, chemoterapie, swak voeding en dwelmmisbruik).

Wat gebeur as jy aktiewe TB het? Dit val gewoonlik die longe aan en kan dele van die weefsel vernietig, wat dit moeilik maak om asem te haal. In sommige gevalle versprei die bakterieë na ander dele van die liggaam, insluitend die dermkanaal, blaas, niere, bene, gewrigte, senustelsel, limfkliere en vel.

Dit kan selfs die brein as ’n dodelike vorm van breinvliesontsteking aanval of werwels afbreek, wat dan lyers se rug laat kromtrek. ’n Seldsame vorm van TB kan ook die sagte weefsel van die gesig skend.

Maar, sê Beyers, daar kan ook ’n grys gebied tussen besmetting en siekte wees. “Party mense word besmet en kry dan net ’n baie ligte vorm van die siekte, dikwels met griepagtige simptome. Dus kan hulle nie weet dat hulle dit ooit gehad het nie.”

Toetse, behandeling en teenvoeters
Die eerste diagnostiese toets vir TB-besmetting is die tuberkulien-veltoets. ’n Klein hoeveelheid toetsvloeistof wat tuberkulien genoem word, word onder die vel van die arm ingespuit en as ’n knoppie vorm waar die inspuiting toegedien is, dui dit gewoonlik TB-besmetting aan. Doodeenvoudig.

Maar TB is ’n ingewikkelde siekte wat in skaamte gehul is. Een van die grootste TB-mites is dat besmette mense vermy moet word of vir maande geïsoleer moet word. Dié stigma beteken dat baie mense bang is om getoets te word of om hul diagnose bekend te maak.

“Party mense steek hul TB-status weg omdat hulle dink hulle sal hul werk verloor as hulle oop kaarte speel,” sê professor Umesh Lalloo, hoof van die asemhalingseenheid aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Nkosi Albert Luthuli- Sentrale Hospitaal in Durban.

“Maar as die medisyne reg geneem word, sal iemand met aktiewe TB reeds ná twee weke se behandeling nie meer aansteeklik wees nie.”

Ja, TB is ’n gevaarlike en potensieel dodelike siekte, maar dit kan doeltreffend behandel word. Daar is egter een voorvereiste: die medikasie (meestal ’n kursus van ses tot nege maande) moet streng volgens voorskrif geneem word.

Baie mense hou op om hul medikasie te neem sodra hulle begin beter voel of omdat hulle onaangename neweeffekte ondervind. Die tragiese gevolg hiervan is die ontwikkeling van medikasieweerstandige vorms van TB, wat dit baie moeiliker maak om die epidemie te beheer.

Laastens is voorkoming, soos altyd, beter as genesing. Om jou teen TB te beskerm, moet jy ’n gesonde lewenstyl handhaaf en jou immuunstelsel deur middel van goeie voeding, gereelde oefening en genoeg rus ondersteun.

Om jou kanse verder te verbeter, vind uit wat jou MIV-status is en moenie rook nie. Tabakrook verhoog die risiko van TB-besmetting, die ontwikkeling van latente TB tot TB-siekte, en TB-verwante sterftes.

Wat dinge vererger, is die feit dat tweedehandse rook ook kinders se kans op besmetting verhoog. Nog ’n rede om op te hou!

Hoe kry jy TB?
Wanneer ’n besmette mens hoes, nies, praat, lag of spoeg, word klein druppeltjies speeksel wat Mycobacterium tuberculosis bevat – die bakterie wat TB veroorsaak – in die lug vrygestel.

Mense in die omgewing kan dié bakterieë inasem en dan besmet raak. Maar al versprei TB hoofsaaklik deur die lug wat ons inasem, word dit gewoonlik eers oorgedra as jy baie aan iemand met aktiewe TB blootgestel is.

Mense met aktiewe TB of TB-siekte neig ook meer om die bakterie oor te dra aan familielede, kollegas en mense saam met wie hulle elke dag tyd deurbring.

Nadat ingeasemde TB-bakterieë hulle in jou longe tuisgemaak het, kan een van twee dinge gebeur: óf jou immuunstelsel slaag daarin om die bakterieë te bedwing en dit in ’n onaktiewe of “latente” toestand te hou, óf die bakterieë vermenigvuldig en maak amok, wat tot die ontwikkeling van TB-siekte lei.

Behoort jy getoets te word?
’n TB-toets word ten sterkste aanbeveel in enige van die volgende gevalle:

  • Jy het onlangs (dit wil sê die afgelope twee jaar) tyd deurgebring saam met iemand wat TB het, of jy werk in ’n omgewing waar die voorkoms van aansteeklike TB baie hoog is, soos ’n groot gesondheidsorginrigting.

  • Jy is MIV-positief of jy ly aan ’n ander toestand wat jou immuniteit onderdruk. As iemand met latente TB MIV opdoen, verhoog sy kans om aktiewe TB te ontwikkel van 10 persent oor ’n leeftyd tot 10 persent per jaar.

  • Jy ontwikkel simptome wat op TB dui, soos ’n hardnekkige hoes, die ophoes van speeksel of bloed, borspyn, moegheid, onverklaarbare gewigs- of aptytverlies, koue en koors, nagsweet en kortasemigheid of ’n gehyg. Minder algemene simptome sluit in gewrigspyn, diarree, gehoorverlies, ’n hardnekkige knop of seerplek en opgeswelde vingers of tone.

  • As jy op die punt staan om chemoterapie te ondergaan, kan jou dokter ’n TB-toets en behandeling vir latente TB aanbeveel as jy positief toets.

  • Kinders onder vyf het ’n hoë risiko om TB-siekte te ontwikkel nadat hulle besmet raak. Indien ’n onderwyser of kinderoppasser met TB gediagnoseer word, is dit ’n goeie plan om jou kind te laat toets.

In alle hoërisiko-gevalle vereis ’n positiewe TB-toets behandeling. Selfs al is jou diagnose latente TB, moet jy steeds ’n voorkomende kursus medikasie neem om te voorkom dat aktiewe TB ontwikkel

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Meer oor tuberkulose

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.