Share

Is jou metgesel 'n vetsak?

Vanoggend kon jou lewensmaat nie sy boonste hempsknoop toe kry nie. Vanaand kuier julle by vriende en jy sien hoe hy sy derde bier nader hark – dit is nou ná al die skyfies en grondboontjies wat hy alreeds verorber het.

En jy wil moord pleeg. Dit wil sê as die doodsengel jou nie voorspring nie.

Jy wil graag hê jou metgesel moet fiks en gesond wees, en wat sy gewig betref nie soos die Oros mannetjie lyk nie. Jy wil nie hê hy moet op 41 aan 'n hartaanval beswyk, of soos 'n drein klink wanneer hy asemhaal nie.

So, wat staan jou te doen? Begin jy aan hom torring? Laat jy pamflette oor hartsiekte op strategiese plekke rondlê? Staak jy alle sosiale interaksie? Maak jy hom mal met jou konstante geneul oor sy middellyf? Dreig jy om jou tasse te pak?

"Die belangrikste vraag in hierdie geval is eintlik waar jou verantwoordelikheid eindig en syne begin," sê Ilse Terblanche, 'n sielkundige van Kaapstad. "Onthou dat jy hier met ’n volwassene te doen het en dat jy nie al die verantwoordelikheid vir sy gesondheid kan dra nie. Op die ou end is dit sy probleem en nie joune nie. Hy sal jou net kwalik neem oor jou geneul, en al hou hy op rook, begin 'n dieet of sluit by 'n gym aan – as dit nie sy idee was nie, sal hy jou blameer as sy pogings onsuksesvol is."

'n Neulery verskuif die fokus

"As jy aanhoudend neul, is die kanse goed dat jou metgesel jou na 'n ruk nie meer ernstig gaan opneem nie. Die fokus sal verskuif na jou gekerm en nie bly op die kwessies wat jy wil aanspreek nie," sê Terblanche.

Sy stel ook voor dat jy nie belangrike kwessies aanroer wanneer jy kwaad is nie. Dit is beter om met jou metgesel te praat wanneer altwee van julle kalm is en tyd het. Stel jou saak duidelik en moenie hom skuldig laat voel nie. Herinner jouself deurentyd daaraan dat die doel van die bespreking is om die probleem op te los en nie om 'n argument te "wen" nie.

Hier is 'n paar praktiese oplossings:

Moenie jou eie mislukking bewerkstellig nie. As jy volle verantwoordelikheid vir iemand anders se gesondheid en welsyn aanvaar, is jy besig om jou eie mislukking te bewerkstellig. Elke volwassene kan net vir hom- of haarself verantwoordelikheid aanvaar. As jy snags wakkerlê oor jou lewensmaat se gesondheid hoef hy dit nie te doen nie. Jy doen dit vir hom. Jy wil graag hê jou metgesel moet gesond wees, maar is dit nie sy plig om self iets aan die saak te doen nie? En as hy dit nie doen nie, moet dit nie hy wees wat die gevolge dra nie?

Maak seker daar is gesonde kos in die huis. Om op te som, verban die oliebolle en bring die vrugte. Doen moeite om gesonde laevet kos te koop. Groente en laevet doopsouse is beter peuselkos as pakkies aartappelskyfies. Moet net nie lekkers en koek en borrelkoeldrank met hope suiker koop nie. Jou familie sal eet wat daar in die huis is – en selfs al gaan hulle nou en dan uit om gemorskos te koop, sal hulle baie minder daarvan eet as wanneer dit die hele tyd by die huis beskikbaar is. Vars vrugte is wonderlik om aan te peusel.

Pas jouself op. Jy wil jou nie morsdood bekommer oor jou metgesel se gesondheid nie. Dit is kontraproduktief. As jy jouself goed oppas, dra dit die boodskap oor dat dit 'n goeie idee is om gesonde kos te eet, genoeg slaap te kry, gereeld oefening te doen, nie te rook nie en jou alkoholinname te beperk. Doen dit in elk geval vir jouself, of jou lewensmaat hom daaraan steur of nie. Jy is nie in 'n posisie om vir hom oor sy gesondheid te preek as jy self elke dag twee pakkies sigarette rook en 'n bottel wyn uitdrink nie.

Kook gesonde kos. Olierige kos maak vet! Hoe jy kook, kan 'n groot verskil maak aan die hoeveelheid kalorieë in 'n maaltyd. Om te rooster eerder as om te braai, is 'n goeie idee. Gebruik liewer speserye as vetterige souse. Skaf 'n laevet kookboek aan en jy sal gou uitvind dat laevet kos nie smaakloos hoef te wees nie. Probeer om volgraan en baie vars groente te gebruik. Moenie te veel sout byvoeg nie, aangesien dit neig om 'n mens se bloeddruk op te stoot.

Maak 'n punt om te stap. As jy elke keer jou motorsleutels gryp wanneer jy êrens heen wil gaan, moet jy jou denkpatroon verander. Vir duisende jare het mense orals heen gestap. Ek stel nou nie voor jy moet Durban toe stap vir jou vakansie nie, maar as jy eiers en brood van die winkel nodig het, gebruik jou voete en nie jou wiele nie. As jy dit doen, is die kanse goed dat jou familie jou voorbeeld sal volg. Moet nooit ry as jy kan stap nie (binne redelike perke), tensy dit stortreën en jy nie jou neus by die deur kan uitsteek nie, of as jy vir jou tannie in die gramadoelas gaan kuier.

Organiseer gesonde familieuitstappies. Liewer as om met jou familie 'n draai by die plaaslike kitskos-restaurant te maak, gaan hou 'n gesonde piekniek op 'n mooi plek. Of gaan stap op die berg (as daar een in die omgewing is). Anders kan julle net gaan stap. Sluit aan by 'n sportklub, lanseer 'n vlieër of gaan neem danslesse. Enigiets om jou van die gemorskos af weg te hou. Verbrand 'n paar kalorieë terwyl jy saam met jou familie ontspan. Dit sal ook jou algemene stresvlakke verlaag, iets wat essensieel is, veral as jou metgesel 'n stresvolle werk het.

Moenie in die huis rook nie. Sigaretrook trek oral in. Die meubels, die gordyne – en jou kinders se longe. Jy kan nie eintlik vingerwys na jou lewensmaat se lewenstyl of gewoontes as jy self gereeld 'n dampie slaan nie. As jy nie rook nie, kan jy daarop aandring dat die huis 'n rookvrye sone bly, veral as daar kinders is. En as daar nie in die huis gerook mag word nie, kan dit die boodskap oordra dat die gewoonte nie net vir die roker self sleg is nie, maar ook vir almal anders in die familie.

Pak gesonde middagetes. Dit is beslis nie altyd net jou verantwoordelikheid nie. Maar 'n kosblik met 'n volgraan toebroodjie, vars vrugte en joghurt is baie beter vir jou as 'n pakkie slaptjips. Om realisties te wees, kan jy nie iemand daarvan weerhou om oliebolle en worsrolletjies te eet nie, maar as hy reeds die inhoud van die kosblik wat jy vir hom ingepak het, geëet het, sal dit die hoeveelheid gemorskos wat hy kan verorber, beperk.

Aanvaar dat hy niks sal doen voor hy gereed is nie. 'n Konstante geneul sal nie die gewenste uitwerking hê nie. Dit sal jou net die sondebok maak. "Die indiwidu moet self die verantwoordelikheid aanvaar," sê Terblanche. "As jou metgesel gedragsveranderinge moet maak, kan jy beslis help deur byvoorbeeld versoekings te verwyder, hom aan te moedig en selfs nou en dan fees te vier wanneer doelwitte bereik is. Jy kan baie help deur jou lewensmaat te ondersteun, maar net hy kan die nodige lewenstylveranderinge maak."

Voer hom multivitamiene. Wees proaktief. As jou metgesel (en elke lid van die familie) elke oggend 'n multivitamientablet sluk, sal dit sy immuunstelsel 'n hupstoot gee en baie help om verkoues, griep en ander kwale te vermy. Jy sal vind dat multivitamiene baie goedkoper is as verkoue- en griepmedisyne. Baie mense hou nie daarvan om tablette te sluk nie – hulle moet egter in gedagte hou dat wanneer hulle griep kry, hulle soveel meer pille sal moet sluk.

(Susan Erasmus, hersien Februarie 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE