Share

Is jou hond pessimisties?

As jy jou hond alleen by die huis wil laat, sonder om jou oor stukkendgekoude meubels of ’n onophoudelike geblaf te bekommer, moet jy maar hoop jou vierbeen-vriend weet hoe om die sonnige kant van die lewe raak te sien.  

’n Onlangse studie dui daarop dat honde wat pessimistiese gedragspatrone openbaar, meer geneig is om angstig en ontsteld te raak wanneer hulle alleen gelaat word en hulle misnoeë te kenne te gee deur te blaf, op meubels te spring, aan deure te krap en herhalende gedrag te toon. Optimistiese honde, daarenteen, was meer ontspanne en het hulle beter gedra wanneer hulle op hul eie gelaat is.

Die studie is deur die joernaal Current Biology gepubliseer.

Die studie

Om honde se vatbaarheid vir skeidingsangs te toets, het navorsers honde geneem wat onlangs in ’n hondeskut beland het, en alleen in ’n kamer, vir 20 minute, met elkeen van hulle gespeel. Die volgende dag het hulle elk van die honde na die kamer teruggeneem en die dier alleen daar gelos. 

Vir die daaropvolgende vyf minute het die navorsers video-opnames van die honde se gedrag gemaak en opgelet vir tekens van angstigheid soos ’n geblaf, op meubels spring en ’n gekrap aan die deur. 

Navorsers het toe die honde geleer dat wanneer ’n bak altyd op ’n spesifieke plek in ’n kamer geplaas is, hulle kon verwag dat die bak vol kos sou wees. As dit op ’n ander plek in die kamer geplaas is, sou dit leeg wees.

Toe het die navorsers die bak oral in die kamer begin los en dit in onvoorspelbare posisies geplaas, waar die honde nie verseker kon weet of dit kos sou bevat, of nie. 

Honde wat vinnig na die “onvoorspelbare” bak gehardloop het, is as “optimisties” beskou. Dié van hulle wat stadig na die bak beweeg het, is as “pessimisties" geklassifiseer.

Die bevindings

Die video’s het getoon dat die pessimistiese brakke meer geneig was om skeidingsverwante gedrag te toon wanneer hulle alleen gelaat is, terwyl die honde wat die lewe as ’n glas wat “half vol” is, beskou het, minder geneig was om angstig te raak wanneer hulle op hul eie gelos is.  

By mense, en miskien by honde, kan interne emosionele toestande gedrag en besluitneming beïnvloed, sê studie-skrywer Michael Mendl, ’n navorsingsmedewerker in die departement van kliniese veeartsenykunde aan die Universiteit van Bristol.    

Net soos depressiewe mense meer geneig is om die ergste te verwag, of onsekere situasies negatief te beoordeel, en gelukkige mense die sonkant van die lewe sien, tree honde waarskynlik soortgelyk op. 

"Honde wat tekens van skeidingsverwante gedrag getoon het, was ook meer geneig om pessimistiese veronderstellings oor onvoorspelbare stimuli te maak,” sê Mendl. “Omdat pessimistiese oordele verwant mag wees aan ’n onderliggende negatiewe emosionele toestand, gee dit ons ’n insig in die emosionele ingesteldheid van honde wat skeidingsverwante gedragspatrone openbaar."

Neurotiese gedrag

Volgens die studie het navorsers die ras, geslag en ouderdom van die hond, asook reuk-seine en hoe vinnig die hond geleer het watter bak die kos bevat het en watter een nie, in ag geneem. 

Katenna Jones, ’n diere-gedragskundige en humane opvoeder vir die American Humane Association het gesê dat terwyl sy honde oplei, sy al dikwels opgelet het dat honde wat skeidingsangs ervaar, ook ander tekens van hoogsbesnaarde of neurotiese gedrag openbaar, soos senuweeagtigheid, oorreaksie met betrekking tot aanraking en oormatige besitlikheid teenoor speelgoed en kosbakke.  

Jones sê egter dat die gebruik van woorde soos “optimisties” en “pessimisties” miskien te veel neig om honde te vermenslik of menslike gedrag en gedagteprosesse aan hulle toe te skryf.

"Ek is geen voorstaander van die terme ‘optimisties’ en ‘pessimisties’ nie. In plaas van optimisties kan ’n mens miskien woorde soos nuuskierig, ondersoekend of energiek gebruik,” sê Jones. “Ek vind dat honde wat meer selfvertroue het, wat sosiaal goed aangepas en minder angstig is, oor die algemeen gretiger is om nuwe dinge te leer."

Dit is egter nog steeds interessant om te wonder wat in jou troeteldier se kop aangaan.

Kry professionele hulp

"Is jou hond ’n Eeyore of ’n Tigger?" vra Jones. "Miskien dink ’n Eeyore-hond, 'Ag, wat help dit om te probeer. Die bak gaan tog leeg wees.’ ’n Pessimistiese of depressiewe persoon mag sê, ‘Dit maak geen sin om werk toe te gaan nie. Dit gaan tog net nog ’n slegte dag wees’.”

As jou hond in die huis urineer of huishoudelike items verwoes wanneer hy alleen gelaat word, moedig Jones en Mendl troeteldiereienaars aan om professionele hulp te gaan soek by bv. ’n veterinêre gedragsdeskundige. Honde kan geleer word om alleenwees beter te hanteer. 

Hou in gedagte, sê Jones, dat baie honde wat sulke gedrag openbaar nie noodwendig angstig is nie, maar dat hulle miskien verveeld is of nie genoeg aandag kry nie. 

Mendl voeg by: "Honde is baie populêre troeteldiere en daar is baie van hulle; maar hulle leef baie nou saam met mense en is afhanklik van ons vir hulle sorg en welstand. Dit is ook belangrik om honde te verstaan en sodoende die openbare risiko’s wat met hondegedrag gepaard gaan, te beperk.”


(Kopiereg © 2010 HealthDay. Alle regte voorbehou.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE