advertisement
29 April 2011

Hoekom rook jou oud laat lyk

Sukkel jy om die rookgewoonte te laat staan? Miskien sal dit help dit as jy weet hoeveel rook tot vinnige veroudering bydra.

0

Sukkel jy om die rookgewoonte te laat staan? Miskien sal dit help dit as jy weet hoeveel rook tot vinnige veroudering bydra.

Die advertensies (in die goeie oud dae) was treffend: rook was 'n paspoort tot die glansryke lewenstyl van die sterre. Dit sou jou "cool" en begeerlik laat lyk, terwyl jy fiks en gesond teen sneeubedekte hange afski, of op swierige jagte die wêreld verken.

Die minder romantiese gevolge van rook is egter nooit aan die gehore wat deur al die glans meegesleur is, gewys nie. Die rede hiervoor is heel eenvoudig: in die werklike lewe is daar niks aanloklik omtrent rook nie. Dit is bloot 'n vinnige manier om lank voor jou tyd oud te lyk.

In 2001 het die regering sigaret-advertensies verban, en sedertdien word ons nie meer oral verlei deur beelde van jong, beeldskone modelle met 'n sigaret in die hand nie.

Maar wat presies doen dit aan jou?

Wel, waar begin 'n mens? Met diep plooie en sakkies onder jou oë? Miskien slegte asem, geel tande en gevlekte vingers? Of hart- en longsiektes, of selfs impotensie?

En om alles te kroon, maak dit jou dood. Yussuf Salojee, Uitvoerende Direkteur van die Nasionale Raad teen Rook meen dat 12% van vroeë sterftes wêreldwyd aan rook toegeskryf kan word; en die Kankervereniging van Suid-Afrika berig dat meer as 25,000 Suid-Afrikaners elke jaar aan tabakverwante siektes sterf (hierdie syfers sluit nie die mense in wat dodelik siek is as gevolg van rook of die inaseming van tweedehandse rook nie.)

Uit elke 100 mense in Suid-Afrika wat aan 'n rookverwante siekte doodgaan, sterf: 
- 28 aan chroniese obstruktiewe pulmonêre siekte (COPS)
- 19 aan tuberkulose (TB)
- 13 aan longkanker
- 12 aan iskemiese hartsiekte (IHS)
- 10 aan kanker van die lip, mond farinks en slukderm 
- 9 aan beroerte en vaskulêre siekte
- 9 aan ander rookverwante toestande

Jou gesig

Een van die gevolge van rook is baie duidelik sigbaar. Plooie verskyn namate die jeugdige blos van 'n gesonde vel verdwyn. En dit is nie al nie: Thorax, 'n joernaal van die British Medical Association (BMA), het navorsing gepubliseer wat toon dat middeljarige rokers met swaar geplooide gesigte 'n vyf keer groter kans het om aan chroniese obstruktiewe pulmonêre siekte (COPS) te ly as rokers sonder plooie.

Rook is berug as 'n oorsaak vir die vroeë veroudering van die vel, asook emfiseem en brongitis, wat die lugweë blokkeer en die vloei van suurstof deur die liggaam beperk.

Die enigste positiewe aspek in hierdie geval is dat die bevindings oor die plooi-faktor 'n kortpad vir dokters kan wees om pasiënte te diagnoseer.

" 'n Groot hoeveelheid plooie kan aandui dat die pasiënt baie vatbaar is vir die gevolge van sigaretrook en dat daardie pasiënte spesifiek vir lugweg-obstruksie ondersoek moet word," sê die navorsers.

Maar as jy alreeds 'n senior burger is en onlangs eers begin rook het, moet jy bekommerd wees oor die gevolge van rook? Dit duur per slot van rekening redelik lank voordat die chroniese siektes wat met die gewoonte geassosieer word, begin kop uitsteek.

Beslis, volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR).

"Baie ouer rokers mag vir nog 10 of 20 jaar lewe, waartydens die impak ervaar mag word..." lui 'n verslag deur Dr. Debbie Bradshaw, die Uitvoerende Direkteur van die MNR se Siektelas-navorsingseenheid.

En onthou, hoe langer jy al rook, hoe groter is die siektelas wat jy dra.

Wat veroorsaak die skade?

Ja, sigarette het filters, maar hulle verwyder nie genoeg teer om die produk minder gevaarlik te maak nie. En dan is daar die bygevoegde smaak-chemikalieë in die tabak wat die kankerrisiko verhoog.

As jy nog steeds nie die mag van nikotien kan weerstaan nie, is dit miskien goed dat jy presies weet wat elke behaaglike teug bevat:

  • Ammoniak: die meeste mense gebruik ammoniak vir dinge soos die skoonmaak van vensters en toiletbakke. Deur ammoniak by sigarette te voeg, kan die nikotien in rook vinniger deur jou longe geabsorbeer word. Dit beteken op sy beurt dat jou brein met elke teug 'n hoër dosis nikotien verkry.
  • Kadmium: in industriële en verbruikersprodukte word kadmium in batterye, pigmente, metaaloortreksels en plastiek gebruik. Kadmium beskadig die longe, kan niersiektes veroorsaak en kan die spysverteringstelsel irriteer.
  • Bensien: 'n natuurlike stof wat deur vulkane en bosbrande geproduseer word en in baie diere en plante voorkom. Bensien is ook 'n belangrike industriële chemiese stof wat van steenkool en olie gemaak word. Bensien word ook gebruik om ander chemikalieë te maak, asook party tipes plastiek, skoonmaakmiddels en plaagdoders. Dit is ook 'n bestanddeel van petrol en word aan leukemie gekoppel.
  • Formaldehied: word in gom vir houtprodukte en as 'n bederfwerende middel in sekere verwe gebruik. Dit kan tranerige oë, 'n brandgevoel in die oë, neus en keel, naarheid, hoes, benoudheid op die bors, 'n gefluit van die bors, veluitslae en allergiese reaksies veroorsaak.
  • Nikkel: 'n harde, silwer-wit metaal. Dit veroorsaak verhoogde vatbaarheid vir longinfeksies, chroniese brongitis en verlaagde longfunksie.
  • Lood: word in ammunisie, dakke, petrol, verf, keramiek en kalfatering gebruik. Lood kan byna elke orgaan en stelsel in jou liggaam beïnvloed. Die sensitiefste is die sentrale senustelsel, veral by kinders. Lood beskadig ook die niere en die immuunstelsel. Blootstelling aan lood is gevaarliker vir jong kinders en ongebore babas. Negatiewe effekte sluit in vroeggeboorte, kleiner babas, verminderde verstandelike vermoëns by babas, leerprobleme en vertraagde groei by jong kinders.
  • Asetoon: word aangetref in voertuig-uitlaatgasse, tabakrook en stortingsterreine. Die inaseming van middelmatige tot hoë vlakke asetoon vir kort tydperke kan die neus, keel, longe en oë irriteer. Dit kan ook die volgende veroorsaak: hoofpyn, lighoofdigheid, verwardheid, verhoogde polsslag, bloedprobleme, naarheid, bewusteloosheid en selfs koma, en 'n verkorting van die menstruele siklus by vroue.
  • Piridien: word gemaak van koolteer en ander chemikalieë en word gebruik om ander stowwe op te los. Hoofpyn, duiseligheid, vaakheid, polsversnelling en vinnige asemhaling is al deur mense wat piridien ingeasem het, ondervind. 

Baie van hierdie chemikalieë is bygevoeg om die roker in staat te stel om toksiese hoeveelhede sigaretrook beter te verdra. En onthou: hierdie stowwe is bygevoeg met die doel om 'n mens na meer te laat smag.

(Robyn von Geusau, Health24, hersien Julie 2010)

Lees verder:
Maniere om op te hou rook
Hou op rook

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.