Share

Hoekom het ons nou eintlik versekering nodig?

Ons het versekering nodig om ons teen finansiële risiko te beskerm. As daar geen finansiële risiko was nie, sou daar geen nodigheid vir versekering gewees het nie.

Finansiële beplanning is eintlik die proses om die finansiële risiko van 'n gegewe gebeurtenis (soos dood of ongeskiktheid) te identifiseer en dit dan op die mees doeltreffende moontlike manier aan te spreek. As jy genoeg fondse het om jou (of jou familie) in die geval van dood of ongeskiktheid te dek, kan jy kies om jou nie daarvoor te verseker nie.

Ek het byvoorbeeld 'n vriend wat gekies het om nie die inhoud van sy huis te verseker nie, omdat hy liewer die premium wat hy elke maand sou betaal, wou spaar... hy het gereken dat hy genoeg geld gespaar sou hê vóór iets gebeur waarvoor hy sou moes eis. Dit staan bekend as self-versekering en teoreties is dit 'n goeie idee – op voorwaarde dat jy genoeg geld gespaar het voordat daar by jou ingebreek word, of jou watersilinder ontplof. Die nare realiteit is egter dat die meeste van ons nie in staat is om op 'n maandelikse grondslag genoeg geld te spaar nie, of nie die finansiële verlies sal kan dra nie – dus maak ons op versekering staat.

In 'n reeks opnames wat in 2009 en 2010 gedoen is, het dit geblyk dat Suid-Afrikaners hoploos onderverseker is. Myns insiens is dit net waar as dit op die bevolking as 'n geheel toegepas word, aangesien die meerderheid van ons heeltemal geen versekering het nie. Maar ek het 'n spesmaas dat van diegene wat wel verseker is, baie eintlik oorverseker is.

Pas op vir verskuilde belange

Ek dink dit het iets te doen met die manier hoe mense wat versekering verkoop, besoldig word. Ons moet oppas vir die verskuilde belange van die verskillende partye wat by versekerings-ooreenkomste betrokke is.

Statisties is daar maar ongeveer 'n 0.4% kans dat jy as ongeskik verklaar sal word. Dit is nie juis beduidend nie, maar dit is die "sê nou maar" faktor wat in ag geneem moet word. En omdat die meeste van ons nie kan bekostig om self die risiko te dra nie, en daarom een of ander vorm van ongeskiktheidsdekking (inkomstevervanging is waarskynlik die beste) nodig net, moet ons ook al die ander faktore in ag neem. Ek het byvoorbeeld 'n jong familie ontmoet (met twee kinders) wat gretig was om 'n stewige klomp ongeskiktheidsdekking aan te skaf. Toe ons egter al die faktore in ag neem, het ons agtergekom dat daar 'n familietrust ter waarde van ongeveer R18 miljoen is, wat in geval van ongeskiktheid gebruik sou kon word. Hoekom dan geld op versekering mors?

Hoeveel het ek nodig?

Ek het 'n kliënt wat op 55 met leukemie gediagnoseer is. Op ongeveer dieselfde tydstip het haar man besluit hy het genoeg van sy familie gehad en die pad gevat om "homself te vind", en haar met twee kinders en sonder enige mediese hulp of -versekering gelaat.

Sy kon boedel oorgegee het en gewag het om dood te gaan, maar in plaas daarvan het sy by 'n staatshospitaal gaan aanklop, waar sy tot die afgryse van haar vriende, soos die meeste ander Suid-Afrikaners, in 'n tou gaan staan het. Ses jaar later is sy in volle remissie en leef 'n vol lewe. Sy is positief oor die ondervinding en het net lof en bewondering vir die spesialiste en verpleegpersoneel wat haar versorg het. Sy kan nie mediese hulp bekostig nie, maar haar vorige ondervinding het haar oortuig dat, indien dit nodig sou wees, sy altyd op die staatshospitale kan staatmaak.

Dit is 'n konsep wat vir die meeste van ons te afgryslik is om aan te dink, maar die harde werklikheid is dat vir die meeste Suid-Afrikaners private mediese hulpskemas en versekering eenvoudig net te duur is. Ons het dus twee keuses: ons doen niks en beland in die staatstelsel (waar daar dikwels steeds uitstekende diens gelewer word), of ons is pragmaties en neem die versekering/dekking uit wat ons kan bekostig.

En dit is die regte ding om te doen! Ons sou natuurlik almal die 'Rolls-Royce' mediese skema-opsies wou kies, maar in werklikheid moet die meeste van ons tevrede wees met die 'Citi Golf' weergawe. Gedeeltelike dekking is beter as heeltemal geen dekking nie, en dit is ons verantwoordelikheid om seker te maak dat ons weet wat gedek word en wat nie. 

(Gregg Sneddon,  Health24, Maart 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE