Share

Hoe gesond is ons gesondheidsdienste?

Ek is bekommerd oor die stand van gesondheidsdienste in Suid-Afrika. Ek weet nie of iemand anders bekommerd is nie, want ek lees niks in die dagblaaie – nie in indiepte ondersoekende artikels nie en nie juis iets in die briewekolomme - of hoor niks op die radio van joernaliste, individue of groepe wat besorg is nie.

Dr. Manto Tsabalala-Msimang meen dis alles in orde as ‘n tiental pasgebore babas binne ‘n kort tydjie in ‘n enkele hospitaal weens ‘n hospitaalverworwe infeksie sterf.

Watse boodskap stuur dié optrede uit: dis normaal en goed en wel dat pasgebore babas in ‘n hospitaal doodgaan weens kieme wat deur personeel weens onhigiëniese hantering aan die babas oorgedra is.

Iemand het nagelaat om hande te was. Die heel basiese beginsel van goeie gesondheidsorg is nie nagekom nie. Het die nie-handewasser nie van beter geweet nie of net nie omgegee nie?

Ek het met elf mense in die gesondheidsektor gesels en die inligting wat ek ingewin het, maak my bekommerd. Dit is glad nie ‘n indiepte verslag nie.

Hier is ‘n vinnige kykie na van die tendense wat my bang maak:
  • Korrupsie en omkoopgeld. Voorvalle waar “manne van Bisho” groot somme omkoopgeld gevra het as voorvereiste vir die goedkeuring vir die bou van ‘n klein kliniek op ‘n groot Oos-Kaapse dorp, is een van talle voorbeelde wat onder my aandag gekom het. Die bou van die kliniek is skielik deur die “Bisho”-regering afgekeur toe die dokters nie die omkoopgeld wou betaal nie. Was omkoopgeld by ander gesondheidsprojekte wat wel die afgelope dertien jaar goedgekeur is, betrokke?
  • Agteruitgang in veiligheids- en higiëniese standaarde in hospitale. Die onlangse babasterftes in Natal en Oos-Kaap spreek vanself. Hoeveel ander voorvalle haal nooit die pers nie? Suid-Afrika het geen objektiewe riglyne in plek om seker te maak dat kwaliteitsbeheer in staats- en private hospitale afgedwing word nie en dat alle verdagte sterftes of waar mense lank in hospitale moet bly, outomatiese ondersoek word nie. Selfs nie nadat ‘n studie in Amerika getoon het dat tussen 44 000 en 98 000 pasiënte per jaar weens hospitaal- en mediese nalatigheid sterf nie. ‘n Britse studie het net sulke skokkende syfers getoon. As mens dié syfers ekstrapoleer, is dit moontlik dat tussen 10 000 en 20 000 pasiënte per jaar onnodiglik in Suid-Afrika weens nalatigheid sterf.
  • Geldvermorsing en agteruitboer. Sommige staatshospitale en staatsgesubsidieerde hospitale wat eens binne hulle begrotings doeltreffende dienste gelewer het, word nou deur swak bestuur gekelder. Groot bedrae geld word vermors op onnodige reis- en verblyf-uitgawes van hospitaalbestuurders, terwyl sale toegemaak moet word weens gebrek aan geld. ‘n Streekregering het onlangs besluit om alle staatsgesubsidieerde hospitale ten volle oor te neem. Die oorname kan die streekregering etlike miljoene per hospitaal kos omdat die spesifieke gemeenskap wat gehelp het om die hospitaal oor al die jare in stand te hou, se aandele uitgekoop moet word, volgens ‘n regskenner. Waar gaan die streekregerings die bykomende geld kry? Of het die streekregerings gemeen hulle gaan dié hospitale se oorblywende aandele gratis oorneem?
  • Die tekort aan verpleegsters. Daar was al dertien jaar gelede ‘n tekort aan verpleegsters in die land. In Wes-Kaap het die ou apartheidsregering die streek en die land ‘n groot onreg aangedoen toe hulle die inname van nuwe verpleegsters vir opleiding van 2000 per jaar tot ‘n skamele 100 per jaar gesny het, en pakette aan verpleegdosente gegee het. Toe oud-min. Kader Asmal die verpleegkolleges sluit, was dit soos die laaste spyker in ‘n doodskis. Die verpleegkolleges het nou weer geopen. Maar al die ervare verpleegdosente is weg. Die opleidingstrukture bestaan nie meer nie en moet van voor-af gevestig word. Dit kan dekades duur.
  • Die de-professionalisering van die verpleegberoep. Gee verpleegsters nog genoeg om vir pasiënte of is dit net nog ‘n werk? Die ou regering het in die negentigerjare ‘n magdom geregistreerde verpleegsters (saalsusters) afgedank, en daardeur basies die ruggraat van ons land se verpleegsorg vernietig. Hoewel ons dankbaar is vir elke verpleegster met een jaar opleiding (verpleegassistente) of twee jaar opleiding (ingeskrewe verpleegsters), is dit die geregisteerde verpleegster met vier jaar opleiding se diepte kennis en leiding wat nodig is in doeltreffende infeksiebeheer, waaksorg, teatersorg en hantering van siek pasiënte wat binne-aarse voeding of behandeling moet kry. Swak vergoedingspakkette, swak koordinering van verpleegdienste op streek- en nasionale vlak, en die toenemende gevoel onder baie pasiënte dat baie verpleegsters verpleging as net nog ‘n werk beskou, wek kommer.
  • Die standaard van dokters-opleiding in die land. Volgens universiteite het die opleiding van dokters en spesialiste nie die afgelope tien jaar agteruit gegaan nie. Maar mense buite die staatsektor stem nie saam nie. Sal Suid-Afrika oor 20 en 50 jaar nog spesialiste hê wat met die bestes in die wêreld kan meeding?
  • Die bekostigbaarheid van gesondheidsorg. Dis wêreldwyd ‘n knelpunt. Net superrykes kan private gesondheidsdienste bekostig sonder om aan ‘n mediese fonds te behoort. Lidbydraes moet styg en voordele moet ingeperk word, bloot om die mediese fonds op gesonde finansiële grondslag te hou. Hoe lank sal private pasiënte nog die bydraes kan bekostig vir toegang tot hoë kwaliteit dienste? En as hy nie kan nie, is die staatsektor al uitweg. Die staatshospitale wat ek onlangs besoek het, het my laat skrik. Swak higiëne, oorvol sale, ‘n gebrek aan medisyne, verslete toerusting, en waar goeie toerusting is, is daar min kundiges wat weet hoe om dit te gebruik.
  • Die staat se planne om ‘n nasionale gesondheidstelsel te vestig. Gaan die Regering private gesondheidsdienste skade aandoen, of gaan hy dit laat voortbestaan?

Dit is van die kwessies wat my onrustig maak.

( Marí Hudson is ‘n bekroonde joernalis en is werksaam by Huisgenoot/Pols)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE