Share

Histerektomie ontbloot

Party sê dis ’n operasie wat gans te maklik deur snylustige dokters uitgevoer word. Ander beskou dit weer as ’n mediese oplossing wat jou lewensgehalte kan verbeter. Karena du Plessis skei die feite van die fiksie vir vroue wat ’n histerektomie oorweeg

Sy het jare lank gesukkel met swaar bloeding en kwaai menstruasiepyn, maar Gill Evans (40) was nog steeds wantrouig toe haar dokter ’n histerektomie aanbeveel.

Teen dié tyd het sy al elke kuur en raat onder die son beproef, en niks wou help nie. Vir elke maand se siekverlof het sy ook nie meer kans gesien nie. En sy wou in elk geval nie nog kinders hê nie.

Maar dit was steeds vir haar ’n drastiese besluit om haar baarmoeder te laat verwyder.

Dis nou drie maande ná haar histerektomie en sy is in ekstase. “Ek het uiteindelik my lewe terug. Ek was lamgelê deur die pyn en die voortdurende bloeding en was bloedarmoedig en heeltyd moeg. Nou dink ek selfs daaraan om met vakansie te gaan – iets wat ek jare lank nie kon doen nie.”

’n Histerektomie hou in dat die baarmoeder – en soms ook die eierstokke en Fallopius-buise – verwyder word. Die eerste histerektomie is meer as tweehonderd jaar gelede in Engeland, uitgevoer op ’n pasiënt wat baarmoederkanker gehad het.

Dis egter ook ’n ruk lank gebruik om psigiatriese afwykings te behandel. Die denke hieragter was dat ’n vrou se baarmoeder haar onvoorspelbaar laat optree. Verwyder dit en jy het ’n kalmer en “minder histeriese” vrou.

Vandag weet ons dat dit wisselende hormoonvlakke is wat ’n vrou se bui en optrede kan beïnvloed. Natuurlik sal geen dokter deesdae daarvan droom om ’n histerektomie vir buierigheid aan te beveel nie. Tog het hierdie operasie steeds ’n twyfelagtige reputasie.

Suid-Afrikaanse statistiek is nie so geredelik beskikbaar nie, maar volgens ’n voorlegging aan die Amerikaanse Senaat in 1993 is histerektomieë die tweede algemeenste groot operasie in die VSA. (Eerste op die lys is ’n keisersnee.) Een uit elke drie Amerikaanse vroue het op sestig reeds ’n histerektomie ondergaan.

Vroue het dalk vroeër gans te gou onder die mes deurgeloop, maar dr. Tobie de Villiers, die volgende voorsitter van die Internasionale Menopousevereniging, meen die sogenaamde “histerektomie-histerie” is nie meer geldig nie.

“Die aantal histerektomieë wat uitgevoer word, het die afgelope dekade met meer as die helfte afgeneem,” sê hy – en dit word gestaaf deur syfers van ander nywerheidslande. “Die nuwe ontwikkelinge in vrouegesondheid bied baie alternatiewe vir ’n histerektomie. As dit egter nodig is, sal ek nie huiwer om dit vir iemand aan te beveel nie.”

Nommerpashisterektomie
Daar is verskillende maniere waarop en grade waarvolgens ’n histerektomie uitgevoer kan word. Die algemeenste is ’n volkome histerektomie, waar die serviks en die baarmoeder verwyder word. In ’n gedeeltelike histerektomie word die boonste deel van die baarmoeder verwyder terwyl die serviks in plek gelaat word. In sekere kankergevalle word ’n radikale histerektomie uitgevoer: die verwydering van die baarmoeder, serviks, boonste deel van die vagina en die ondersteunende weefsels.

Die baarmoeder kan op een van drie maniere (sien kassie onder) verwyder word. Raadpleeg jou dokter oor watter opsie vir jou spesifieke toestand die geskikste is. Dit is natuurlik ’n ingrypende operasie en het sy nadele. Jy sal sowat ses weke siekverlof moet neem en sal drie tot vier weke lank nie kan bestuur nie. As albei eierstokke verwyder word, sal jy onmiddellik menopousaal wees. Dit beteken dat jy nie meer menstrueer nie en dalk kan sukkel met warmgloede, vaginale droogheid en gewigstoename.

Tobie is nie ten gunste van die vanselfsprekende verwydering van gesonde eierstokke tydens ’n histerektomie vir enige ouderdomsgroep nie. “Selfs by ’n post-menopousale vrou is die eierstokke hormonaal aktief en vervaardig hulle klein hoeveelhede hormone wat ’n belangrike rol speel in haar liefdeslewe,” verduidelik hy. “Die besluit om dit nie te verwyder nie, moet egter opgeweeg word teen die klein risiko dat sy later kanker van die eierstokke kan kry.”

Hoe word dit gedoen?

Daar is meer as een manier om die operasie te doen. Hier is die opsies:
Abdominale histerektomie
Die meeste histerektomieë word gedoen met ’n “bikini-snit” deur die maag – ’n horisontale snit net bo die skaamhare. Dis presies dieselfde snit as ’n keisersnee.

Vaginale histerektomie
Omdat dit deur die vagina plaasvind, is daar geen eksterne littekens nie. Dis gewoonlik vinniger, het minder komplikasies en die hersteltydperk is gouer. ’n Vaginale histerektomie is egter nie moontlik in sekere gevalle nie, soos wanneer die uterus baie groot is weens fibrose.

Laparoskopiese histerektomie
Drie tot vyf klein snitte word in die buik gemaak en ’n laparoskoop (’n soort teleskopiese instrument waarmee die chirurg kan sien waar hy opereer) word gebruik. Normaalweg word die baarmoeder en/of serviks in kleiner deeltjies opgesny om deur die snitte verwyder te word. Dié proses is minder ingrypend en die hersteltydperk is korter as met ’n abdominale histerektomie. Maar die laparoskopiese operasie is langer en duurder, en sommige siekefondse betaal nie graag daarvoor nie.

Waarom die afname?
Studies wys dat daar minder histerektomieë as vroeër gedoen word. Dis heel moontlik vanweë die toename in alternatiewe, minder ingrypende operasies. Volgens Tobie speel die laedosis-voorbehoedpil ook ’n groot rol omdat dit kwaai menstruasie baie doeltreffend verlig deur die bloeding te verminder en die menstruele siklus te beheer.

’n Histerektomie word egter steeds vir seker toestande (sien kassie op vorige bladsy) aanbeveel, waaronder ernstige gevalle van onhanteerbare menstruasie. Swaar menstruasie wissel natuurlik van vrou tot vrou, maar soos met Gill Evans kan langdurige en ongereelde bloeding jou emosioneel en fisiek uitmergel. ’n Ystertekort en bloedarmoede kan voorkom, terwyl voortdurende bloeding kan klaarspeel met jou sekslewe – en jou lewensgehalte oor die algemeen.

“In die verlede het dokters gehuiwer om die Pil voor te skryf vir menstruele beheer as ’n vrou ouer as 38 jaar is, weens die toenemende risiko van beroerte,” sê Tobie. “Deesdae is die dosisse egter dramaties laer. Waar die Pil eens tot 50 mikrogram estrogeen bevat het, is daar nou pille wat so min as 15 mikrogram bevat. Dié hoeveelhede kan heel veilig vir ’n lang tydperk gebruik word, asook tot met menopouse. Partykeer is dit al wat nodig is om menstruasie onder beheer te bring.”

Volgens dr. Janet Cole, ’n ginekoloog en verloskundige van Kaapstad, speel die Mirena, ’n progesteroon-vrystellende intra-uteriene apparaat, ook ’n rol in die afname in die aantal histerektomieë.

“Dit kos sowat R1 600 teenoor chirurgie, wat jou sowat R25 000 uit die sak sal jaag. Daarby sit die dokter dit binne vyf minute in, sommer daar in sy spreekkamer. En dis die ideale manier om hewige menstruasiebloeding hok te slaan,” sê sy. Daar is wel ’n nadeel aan verbonde – sommige siekefondse betaal nie vir die Mirena nie. Daarby neem die toestel vier tot vyf maande om aan te pas, waartydens ’n mens ongereelde bloeding kan ervaar. Ook is sommige vroue se lyf nie geskik vir die apparaat nie – ’n teleurstellende moontlikheid wat dikwels eers tydens die prosedure self ontdek word.

“Endometriese verwydering, waar die uterusvoering deur hitte of koue vernietig word, kan ook help om bloeding te beheer,” sê Janet. Maar dis nie die enigste alternatiewe chirurgiese prosedure wat dalk bydra tot die afname in histerektomieë nie.

Fibrose (tesame met ondraaglike menstruasie, die grootste rede waarom vroue hulle tot ’n histerektomie wend) kan opgelos word deur ’n miomektomie, waar die fibrose verwyder word, maar nie die uterus nie. Dis nie ’n nuwe prosedure nie en word gedoen om ’n vrou haar vrugbaarheid te laat behou. Die fibrose kan egter terugkeer. Daarby kan die prosedure vergroeiings veroorsaak, wat sal maak dat die Fallopius-buise nie behoorlik sal kan funksioneer nie.

Daar is egter steeds gevalle waar die beste oplossing ’n histerektomie is: kanker, groot fibrose, en in skaars gevalle bloedverlies tydens kraam – om maar net ’n paar te noem. En vir iemand wie se lewensgehalte deur menstruele bloeding gedreineer word, is ’n histerektomie die enigste behandeling wat verseker dat die bloeding sal ophou.

Is ’n histerektomie vir jou?
Dis ’n gewigtige besluit. Behalwe vir die voor- en nadele en die moontlike newe-effekte wat jy teen mekaar moet opweeg, is daar die emosionele uitwerking wat dié lewensveranderende operasie op jou kan hê.

Só het Nireshni Govender se histerektomie haar in ’n hewige depressie gedompel. “Ek het drie kinders op natuurlike wyse in die lewe gebring, wat verlies aan blaasbeheer veroorsaak het,” vertel dié besig ma van Durban-Noord in KwaZulu-Natal. “Ek het verskeie oefeninge en medikasie beproef, maar sonder enige sukses. Ten einde raad het ek besluit om ’n histerektomie te ondergaan.”

Die operasie het glad en sonder enige komplikasies verloop. Nogtans het Nireshni teenstrydige gevoelens ervaar. “Ja, dit was fantasties om nie meer ‘glipse’ gedurende die dag te hê nie, maar ek het gevoel asof ek my identiteit verloor het. Hoewel ek nie nog kinders beplan het nie, het die histerektomie in elk geval nou ’n stokkie daarvoor gesteek. Dit het my depressief gemaak. Ek voel nou beter, maar dit het my gedwing om opnuut te dink oor my siening van myself as ’n ma en vrou.”

Volgens Tobie is daar steeds baie wanopvatttings oor histerektomieë wat die ronde doen – veral dat jy jou liefdeslus vaarwel kan toeroep ná so ’n operasie. Maar hy sê hy vra sy pasiënte altyd of die histerektomie hul sekslewe geraak het. “Die meeste sê dan altyd hulle wens hulle het dit vroeër gedoen.”

“Ek is verbaas dat ’n histerektomie ’n twyfelagtige reputasie het, want my ondervinding met pasiënte ná hul operasie toon dat dit ’n uiters positiewe prosedure is. Om die waarheid te sê, vroue wat ’n histerektomie om die regte redes ondergaan is in die meeste gevalle alte bly vir die verbetering wat dit in hul lewe gebring het.”

As jy nog altyd bang is vir mesbehepte dokters en ’n histerektomie, onthou dat jy baas van jou liggaam is. Wees voorbereid. Sorg dat jy en jou gesin genoeg weet van die operasie. Oorweeg die langtermyngevolge, wees ingelig oor al jou opsies en moenie huiwer om ’n tweede en selfs derde mening te kry nie. Só sal jy die regte besluit kan neem oor wat die beste vir jou is.

Waarvoor is dit nodig?
’n Histerektomie help met die behandeling van ’n hele paar ginekologiese toestande. Dit sluit in:

  • Voortdurende vaginale bloeding Swaar of ongereelde menstruasie, asook siklusse wat lank aanhou, kan met ’n histerektomie behandel word indien niks anders die bloeding onder beheer kry nie.

  • Fibrose Dis algemene nie-kwaadaardige gewasse op of in die baarmoeder se spierwand. Fibrose is gewoonlik sonder simptome, maar dit kan ook hewige bloeding, lang menstruasie en pyn (en in seldsame gevalle onvrugbaarheid) veroorsaak.

  • Endometriose Dis ’n algemene toestand waar die baarmoederweefsel buite die uterus groei (gewoonlik op die Fallopius- buise, eierstokke, die buitekant van die uterus of enige ander deel in die bekken). Simptome sluit in kwaai en ongereelde menstruasie, pyn en onvrugbaarheid.

  • Uitsakking van die baarmoeder Dis wanneer die spiere en ligamente wat die uterus ondersteun, verswak word deur geboorte of spierinspanning. Dit veroorsaak dat die baarmoeder in die vagina insak. Dis meer algemeen ná menopouse. Die simptome sluit in rugpyn, pyn tydens seks en swak blaasbeheer.

  • Kanker ’n Histerektomie word veral gedoen vir die behandeling van servikale kanker en kanker van die endometrium (voering van die baarmoeder), eierstokke en Fallopius-buise (uiters seldsaam).

  • Chroniese bekkenpyn Indien die pyn duidelik van die baarmoeder afkomstig is, kan ’n histerektomie ’n doeltreffende laaste oplossing wees. Dis is wel belangrik om enige ander moontlike redes vir bekkenpyn uit te skakel voor die operasie gedoen word.

  • Van dié gevalle is voortdurende bloeding en fibrose die algemeenste redes vir ’n histerektomie.

‘Hoe ons dit ervaar het’
Kan dit regtig jou lewe verander?
“Beslis. Ek het altyd die grootste deel van die maand op die rusbank deurgebring, platgetrek deur hewige bloeding. Ek was bloedarmoedig en het ’n hoë risiko van osteoporose gehad. Ek het nog nooit ’n operasie gehad nie en het nie gedink ek sou ooit ’n histerektomie oorweeg nie.
My fibrose was egter so kwaai dat ’n histerektomie die beste opsie was. Vandag is ek bly dat ek daarop besluit het. Die hersteltyd is ietwat moeilik, maar dis nou drie maande later en ek wens ek het dit vroeër gedoen.”
Sue Samuels (38), Rolprentredigeerder , Kaapstad

Berading en jy
“Ek dink nie my dokter het genoeg moeite gedoen om die operasie aan my te verduidelik nie. Ek voel asof ek oorhaastig daarop moes besluit. Ek het vyf kinders en my baarmoeder het gesak. Ek is wel gelukkig met die resultate, maar dit het alles so gou gebeur en daaroor is ek nie bly nie.”
Thandiswa Ndevu (48), persoonlike assistent vir die uitvoerende direkteur van ’n maatskappy, Randfontein

En seks?
“Om met jou eerlik te wees, ek was nie voorbereid op my vrou se histerektomie nie. Dit het my onkant betrap. Liz was maar 35 jaar oud toe sy geopereer is. Dit het nie vir my daarom gegaan dat ons nie nog kinders kon hê nie.
Ons het twee wonderlike seuns en ek het al ’n vasektomie gehad. Dit was dus nie asof ons nog kinders beplan het nie. Maar dit was so finaal. Ek het my heeltemal van my vrou onttrek, wat groot spanning in ons huwelik veroorsaak het. Ek werk nou daaraan om haar en die situasie beter te verstaan.”
Andre Breitenbach (42), druiweboer , Paarl

Nie jou enigste opsie
“Ek is jare lank deur menstruasie lamgelê. Ek het drie kinders en het nie nog beplan nie. Toe ek my dokter gaan spreek het, was ek desperaat. Ek het ’n histerektomie verwag. My ma het een gehad toe ek ’n tiener was en ek onthou hoe dit haar ontstel het. Maar my ginekoloog het die Mirena voorgestel. Ek was eers skepties, maar nou weet ek dis die beste besluit wat ek kon geneem het. Dis briljant. Ek voel weer soos ’n tiener.”
Joanne Hendricks (44), ma, Pretoria

Baarmoederkanker: sny of los?
“My ma het gesterf weens kanker van die baarmoeder toe ek 25 was. Toe my Papsmeer dus die aanwesigheid van abnormale selle toon, het ek – en my ginekoloog – nie twee keer gedink nie. Ek is bly ek het ’n histerektomie gehad. Dis jammer dat ek nie kan kinders hê nie, maar die kanker is betyds gekeer. En ek is bly ek leef.”
Sheila Walters (36), eienaar van ’n haarsalon, Kempton Park

Name is verander, maar nie die ouderdom, beroep of woonstreek nie.

Voordele...

  • ’n Histerektomie kan die verspreiding van baarmoederkanker voorkom.

  • Dit maak ’n einde aan swaar bloeding en verminder die gevaar van bloedarmoede.

  • Dit los die probleem van ’n uitgesakte uterus op.

  • Jou sekslewe verbeter.

  • Dis normaalweg nie nodig vir ander behandelinge of operasies nie.

… en nadele . .

  • Jy kan nie kinders baar nie.

  • Jou menopouse kan vroeër begin.

  • Dit kan ’n demper op jou sekslewe plaas.

  • Jou hormone kan deurmekaargekrap word.

  • Dit kan ’n invloed hê op hoe jy as vrou oor jouself voel.

  • As jou eierstokke verwyder is, sal jy met hormoonbehandeling moet begin.

  • Dis duur.

  • Dis onomkeerbaar.

Hysterectomy revolution?

The pros and cons of a hysterectomy

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE