Party sê dis ’n operasie wat gans
te maklik deur snylustige dokters
uitgevoer word. Ander beskou dit
weer as ’n mediese oplossing wat jou
lewensgehalte kan verbeter. Karena du Plessis skei die feite van die fiksie vir vroue wat ’n histerektomie oorweeg
Sy het jare lank gesukkel met swaar bloeding en kwaai menstruasiepyn, maar Gill Evans (40) was
nog steeds wantrouig toe haar dokter ’n histerektomie
aanbeveel.
Teen dié tyd het sy al elke kuur en raat onder
die son beproef, en niks wou help nie. Vir elke maand se
siekverlof het sy ook nie meer kans gesien nie. En sy wou in
elk geval nie nog kinders hê nie.
Maar dit was steeds vir haar ’n drastiese besluit om haar
baarmoeder te laat verwyder.
Dis nou drie maande ná haar histerektomie en sy is in ekstase.
“Ek het uiteindelik my lewe terug. Ek was lamgelê deur die
pyn en die voortdurende bloeding en was bloedarmoedig en
heeltyd moeg. Nou dink ek selfs daaraan om met vakansie te
gaan – iets wat ek jare lank nie kon doen nie.”
’n Histerektomie hou in dat die baarmoeder – en soms
ook die eierstokke en Fallopius-buise – verwyder word. Die
eerste histerektomie is meer as tweehonderd jaar gelede
in Engeland, uitgevoer op ’n pasiënt wat baarmoederkanker
gehad het.
Dis egter ook ’n ruk lank gebruik om psigiatriese
afwykings te behandel. Die denke hieragter was dat ’n vrou
se baarmoeder haar onvoorspelbaar laat optree. Verwyder
dit en jy het ’n kalmer en “minder histeriese” vrou.
Vandag weet ons dat dit wisselende hormoonvlakke is wat
’n vrou se bui en optrede kan beïnvloed. Natuurlik sal geen
dokter deesdae daarvan droom om ’n histerektomie vir buierigheid
aan te beveel nie. Tog het hierdie operasie steeds ’n
twyfelagtige
reputasie.
Suid-Afrikaanse statistiek is nie so geredelik beskikbaar
nie, maar volgens ’n voorlegging aan die Amerikaanse
Senaat in 1993 is histerektomieë die tweede algemeenste
groot operasie in die VSA. (Eerste op die lys is ’n keisersnee.)
Een uit elke drie Amerikaanse vroue het op sestig reeds ’n
histerektomie ondergaan.
Vroue het dalk vroeër gans te gou onder die mes deurgeloop,
maar dr. Tobie de Villiers, die volgende voorsitter
van die Internasionale Menopousevereniging, meen die
sogenaamde “histerektomie-histerie” is nie meer geldig nie.
“Die aantal histerektomieë wat uitgevoer word, het die afgelope
dekade met meer as die helfte afgeneem,” sê hy – en
dit word gestaaf deur syfers van ander nywerheidslande.
“Die nuwe ontwikkelinge in vrouegesondheid bied baie
alternatiewe vir ’n histerektomie. As dit egter nodig is, sal
ek nie huiwer om dit vir iemand aan te beveel nie.”
Nommerpashisterektomie
Daar is verskillende maniere waarop en grade waarvolgens ’n histerektomie uitgevoer
kan word. Die algemeenste is ’n volkome histerektomie, waar die serviks en die baarmoeder
verwyder word. In ’n gedeeltelike histerektomie word die boonste deel van die
baarmoeder verwyder terwyl die serviks in plek gelaat word. In sekere kankergevalle
word ’n radikale histerektomie uitgevoer: die verwydering van die baarmoeder, serviks,
boonste deel van die vagina en die ondersteunende weefsels.
Die baarmoeder kan op een van drie maniere (sien kassie onder) verwyder word.
Raadpleeg jou dokter oor watter opsie vir jou spesifieke toestand die geskikste is. Dit is
natuurlik ’n ingrypende operasie en het sy nadele. Jy sal sowat ses weke siekverlof moet
neem en sal drie tot vier weke lank nie kan bestuur nie. As albei eierstokke verwyder
word, sal jy onmiddellik menopousaal wees. Dit beteken dat jy nie meer menstrueer nie
en dalk kan sukkel met warmgloede, vaginale droogheid en gewigstoename.
Tobie is nie ten gunste van die vanselfsprekende verwydering van gesonde eierstokke
tydens ’n histerektomie vir enige ouderdomsgroep nie. “Selfs by ’n post-menopousale
vrou is die eierstokke hormonaal aktief en vervaardig hulle klein hoeveelhede
hormone wat ’n belangrike rol speel in haar liefdeslewe,” verduidelik hy.
“Die besluit om dit nie te verwyder nie, moet egter opgeweeg word teen die klein
risiko dat sy later kanker van die eierstokke kan kry.”
Hoe word
dit gedoen?
Daar is meer as een manier om die
operasie te doen. Hier is die opsies:
Abdominale histerektomie
Die meeste histerektomieë word
gedoen met ’n “bikini-snit” deur die
maag – ’n horisontale snit net bo die
skaamhare. Dis presies dieselfde
snit as ’n keisersnee.
Vaginale histerektomie
Omdat dit
deur die vagina plaasvind, is daar geen
eksterne littekens nie. Dis gewoonlik
vinniger, het minder komplikasies en
die hersteltydperk is gouer. ’n Vaginale
histerektomie is egter nie moontlik in
sekere gevalle nie, soos wanneer die
uterus baie groot is weens fibrose.
Laparoskopiese histerektomie
Drie
tot vyf klein snitte word in die buik
gemaak en ’n laparoskoop (’n soort teleskopiese
instrument waarmee die
chirurg kan sien waar hy opereer) word
gebruik. Normaalweg word die baarmoeder
en/of serviks in kleiner deeltjies
opgesny om deur die snitte verwyder te
word. Dié proses is minder ingrypend
en die hersteltydperk is korter as met
’n abdominale histerektomie. Maar die
laparoskopiese operasie is langer en
duurder, en sommige siekefondse
betaal nie graag daarvoor nie.
Waarom die afname?
Studies wys dat daar minder histerektomieë as vroeër gedoen word. Dis heel
moontlik vanweë die toename in alternatiewe, minder ingrypende operasies.
Volgens Tobie speel die laedosis-voorbehoedpil ook ’n groot rol omdat dit kwaai
menstruasie baie doeltreffend verlig deur die bloeding te verminder en die menstruele
siklus te beheer.
’n Histerektomie word egter steeds vir seker toestande (sien kassie op vorige
bladsy) aanbeveel, waaronder ernstige gevalle van onhanteerbare menstruasie.
Swaar menstruasie wissel natuurlik van vrou tot vrou, maar soos met Gill Evans
kan langdurige en ongereelde bloeding jou emosioneel en fisiek uitmergel. ’n
Ystertekort en bloedarmoede kan voorkom, terwyl voortdurende bloeding kan klaarspeel
met jou sekslewe – en jou lewensgehalte oor die algemeen.
“In die verlede het dokters gehuiwer om die Pil voor te skryf vir menstruele
beheer as ’n vrou ouer as 38 jaar is, weens die toenemende risiko van beroerte,” sê
Tobie. “Deesdae is die dosisse egter dramaties laer. Waar die Pil eens tot 50 mikrogram
estrogeen bevat het, is daar nou pille wat so min as 15 mikrogram bevat. Dié
hoeveelhede kan heel veilig vir ’n lang tydperk gebruik word, asook tot met menopouse.
Partykeer is dit al wat nodig is om menstruasie onder beheer te bring.”
Volgens dr. Janet Cole, ’n ginekoloog en verloskundige van Kaapstad, speel
die Mirena, ’n progesteroon-vrystellende intra-uteriene apparaat, ook ’n rol in die
afname in die aantal histerektomieë.
“Dit kos sowat R1 600 teenoor chirurgie, wat jou sowat R25 000 uit die sak sal jaag.
Daarby sit die dokter dit binne vyf minute in, sommer daar in sy spreekkamer. En dis
die ideale manier om hewige menstruasiebloeding hok te slaan,” sê sy. Daar is wel ’n
nadeel aan verbonde – sommige siekefondse betaal nie vir die Mirena nie. Daarby
neem die toestel vier tot vyf maande om aan te pas, waartydens ’n mens ongereelde
bloeding kan ervaar. Ook is sommige vroue se lyf nie geskik vir die apparaat
nie – ’n teleurstellende moontlikheid wat dikwels eers tydens die prosedure self
ontdek word.
“Endometriese verwydering, waar die uterusvoering deur hitte of koue vernietig
word, kan ook help om bloeding te beheer,” sê Janet. Maar dis nie die
enigste alternatiewe chirurgiese prosedure wat dalk bydra tot die afname
in histerektomieë nie.
Fibrose (tesame met ondraaglike menstruasie, die grootste rede waarom
vroue hulle tot ’n histerektomie wend) kan opgelos word deur ’n miomektomie,
waar die fibrose verwyder word, maar nie die uterus nie. Dis nie ’n
nuwe prosedure nie en word gedoen om ’n vrou haar vrugbaarheid te laat
behou. Die fibrose kan egter terugkeer. Daarby kan die prosedure vergroeiings
veroorsaak, wat sal maak dat die Fallopius-buise nie behoorlik sal
kan funksioneer nie.
Daar is egter steeds gevalle waar die beste oplossing ’n histerektomie is:
kanker, groot fibrose, en in skaars gevalle bloedverlies tydens kraam – om
maar net ’n paar te noem. En vir iemand wie se lewensgehalte deur
menstruele bloeding gedreineer word, is ’n histerektomie die enigste
behandeling wat verseker dat die bloeding sal ophou.
Is ’n histerektomie
vir jou?
Dis ’n gewigtige besluit. Behalwe vir die voor- en nadele en die moontlike
newe-effekte wat jy teen mekaar moet opweeg, is daar die emosionele
uitwerking wat dié lewensveranderende operasie op jou kan hê.
Só het Nireshni Govender se histerektomie haar in ’n hewige depressie
gedompel. “Ek het drie kinders op natuurlike wyse in die lewe gebring,
wat verlies aan blaasbeheer veroorsaak het,” vertel dié besig ma van
Durban-Noord in KwaZulu-Natal. “Ek het verskeie oefeninge en medikasie
beproef, maar sonder enige sukses. Ten einde raad het ek besluit om
’n histerektomie te ondergaan.”
Die operasie het glad en sonder enige komplikasies verloop. Nogtans
het Nireshni teenstrydige gevoelens ervaar. “Ja, dit was fantasties
om nie meer ‘glipse’ gedurende die dag te hê nie, maar ek het gevoel
asof ek my identiteit verloor het. Hoewel ek nie nog kinders beplan het
nie, het die histerektomie in elk geval nou ’n stokkie daarvoor gesteek.
Dit het my depressief gemaak. Ek voel nou beter, maar dit het my
gedwing om opnuut te dink oor my siening van myself as ’n ma en vrou.”
Volgens Tobie is daar steeds baie wanopvatttings oor histerektomieë
wat die ronde doen – veral dat jy jou liefdeslus vaarwel kan toeroep ná
so ’n operasie. Maar hy sê hy vra sy pasiënte altyd of die histerektomie
hul sekslewe geraak het. “Die meeste sê dan altyd hulle wens hulle het
dit vroeër gedoen.”
“Ek is verbaas dat ’n histerektomie ’n twyfelagtige reputasie het,
want my ondervinding met pasiënte ná hul operasie toon dat dit ’n
uiters positiewe prosedure is. Om die waarheid te sê, vroue wat ’n histerektomie
om die regte redes ondergaan is in die meeste gevalle alte
bly vir die verbetering wat dit in hul lewe gebring het.”
As jy nog altyd bang is vir mesbehepte dokters en ’n histerektomie,
onthou dat jy baas van jou liggaam is. Wees voorbereid. Sorg dat jy en
jou gesin genoeg weet van die operasie. Oorweeg die langtermyngevolge,
wees ingelig oor al jou opsies en moenie huiwer om ’n tweede
en selfs derde mening te kry nie. Só sal jy die regte besluit kan neem
oor wat die beste vir jou is.
Waarvoor is
dit nodig?
’n Histerektomie help met die
behandeling van ’n hele paar ginekologiese
toestande. Dit sluit in:
- Voortdurende vaginale bloeding Swaar
of ongereelde menstruasie, asook siklusse
wat lank aanhou, kan met ’n histerektomie
behandel word indien niks anders
die bloeding onder beheer kry nie.
- Fibrose Dis algemene nie-kwaadaardige
gewasse op of in die baarmoeder se
spierwand. Fibrose is gewoonlik sonder
simptome, maar dit kan ook hewige
bloeding, lang menstruasie en pyn (en
in seldsame gevalle onvrugbaarheid)
veroorsaak.
- Endometriose Dis ’n algemene toestand
waar die baarmoederweefsel buite die
uterus groei (gewoonlik op die Fallopius-
buise, eierstokke, die buitekant
van die uterus of enige ander deel in
die bekken). Simptome sluit in kwaai
en ongereelde menstruasie, pyn en
onvrugbaarheid.
- Uitsakking van die baarmoeder Dis wanneer
die spiere en ligamente wat die
uterus ondersteun, verswak word deur
geboorte of spierinspanning. Dit veroorsaak
dat die baarmoeder in die vagina
insak. Dis meer algemeen ná menopouse.
Die simptome sluit in rugpyn, pyn
tydens seks en swak blaasbeheer.
- Kanker ’n Histerektomie word veral gedoen
vir die behandeling van servikale
kanker en kanker van die endometrium
(voering van die baarmoeder), eierstokke
en Fallopius-buise (uiters seldsaam).
- Chroniese bekkenpyn Indien die pyn duidelik
van die baarmoeder afkomstig is,
kan ’n histerektomie ’n doeltreffende
laaste oplossing wees. Dis is wel
belangrik om enige ander moontlike
redes vir bekkenpyn uit te skakel voor
die operasie gedoen word.
- Van dié gevalle is voortdurende
bloeding en fibrose die algemeenste
redes vir ’n histerektomie.
‘Hoe ons dit
ervaar het’
Kan dit regtig jou
lewe verander?
“Beslis. Ek het altyd die grootste deel
van die maand op die rusbank deurgebring,
platgetrek deur hewige bloeding.
Ek was bloedarmoedig en het ’n hoë
risiko van osteoporose gehad. Ek het
nog nooit ’n operasie gehad nie en het
nie gedink ek sou ooit ’n histerektomie
oorweeg nie.
My fibrose was egter so
kwaai dat ’n histerektomie die beste
opsie was. Vandag is ek bly dat ek daarop
besluit het. Die hersteltyd is ietwat
moeilik, maar dis nou drie maande later
en ek wens ek het dit vroeër gedoen.”
Sue Samuels (38),
Rolprentredigeerder ,
Kaapstad
Berading en jy
“Ek dink nie my dokter het genoeg
moeite gedoen om die operasie aan
my te verduidelik nie. Ek voel asof ek
oorhaastig daarop moes besluit. Ek
het vyf kinders en my baarmoeder
het gesak. Ek is wel gelukkig met die
resultate, maar dit het alles so gou
gebeur en daaroor is ek nie bly nie.”
Thandiswa Ndevu (48),
persoonlike assistent
vir die uitvoerende
direkteur van ’n maatskappy,
Randfontein
En seks?
“Om met jou eerlik te wees, ek was
nie voorbereid op my vrou se histerektomie
nie. Dit het my onkant
betrap. Liz was maar 35 jaar oud toe
sy geopereer is. Dit het nie vir my
daarom gegaan dat ons nie nog kinders
kon hê nie.
Ons het twee wonderlike
seuns en ek het al ’n vasektomie
gehad. Dit was dus nie asof ons
nog kinders beplan het nie. Maar dit
was so finaal. Ek het my heeltemal
van my vrou onttrek, wat groot spanning
in ons huwelik veroorsaak het.
Ek werk nou daaraan om haar en die
situasie beter te verstaan.”
Andre Breitenbach (42),
druiweboer , Paarl
Nie jou enigste opsie
“Ek is jare lank deur menstruasie lamgelê.
Ek het drie kinders en het nie nog beplan
nie. Toe ek my dokter gaan spreek het,
was ek desperaat. Ek het ’n histerektomie
verwag. My ma het een gehad toe ek ’n
tiener was en ek onthou hoe dit haar ontstel
het. Maar my ginekoloog het die
Mirena voorgestel. Ek was eers skepties,
maar nou weet ek dis die beste besluit
wat ek kon geneem het. Dis briljant. Ek
voel weer soos ’n tiener.”
Joanne Hendricks (44),
ma, Pretoria
Baarmoederkanker: sny of los?
“My ma het gesterf weens kanker van
die baarmoeder toe ek 25 was. Toe my
Papsmeer dus die aanwesigheid van
abnormale selle toon, het ek – en my
ginekoloog – nie twee keer gedink nie.
Ek is bly ek het ’n histerektomie gehad.
Dis jammer dat ek nie kan kinders hê
nie, maar die kanker is betyds gekeer.
En ek is bly ek leef.”
Sheila Walters (36),
eienaar van ’n haarsalon,
Kempton Park
Name is verander, maar nie die ouderdom,
beroep of woonstreek nie.
Voordele...
- ’n Histerektomie kan die verspreiding van
baarmoederkanker voorkom.
- Dit maak ’n einde aan swaar bloeding en verminder
die gevaar van bloedarmoede.
- Dit los die probleem van ’n uitgesakte uterus op.
- Jou sekslewe verbeter.
- Dis normaalweg nie nodig vir ander behandelinge
of operasies nie.
… en nadele . .
- Jy kan nie kinders baar nie.
- Jou menopouse kan vroeër begin.
- Dit kan ’n demper op jou sekslewe plaas.
- Jou hormone kan deurmekaargekrap word.
- Dit kan ’n invloed hê op hoe jy as vrou
oor jouself voel.
- As jou eierstokke verwyder is, sal jy met
hormoonbehandeling moet begin.
- Dis duur.
- Dis onomkeerbaar.
Hysterectomy revolution?
The pros and cons of a hysterectomy