Share

Hartsiekte en beroerte: dood deur onkunde?

Kardiovaskulêre siekte maak elke dag 200 Suid-Afrikaners dood. Wat is jou risiko? "Laat jouself toets-dag" het onlangs plaas gevind en alle Suid-Afrikaners is aangemoedig om hulle gesondheid te laat ondersoek. Hierdie jaarlikse veldtog fokus op opvoeding en die bevordering van kennis oor die syfers en risiko's van hierdie toestande.

Die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika is diep betrokke by die bewusmaking van Suid-Afrikaners oor hoe belangrik dit is om hulle bloeddruk, cholesterol en glukose te laat toets, in 'n poging om die lyding en sterftes verbonde aan hartsiekte en beroerte te verminder. 'n Toets is die eerste stap!

Hoekom moet jy jou bloeddruk laat toets?

Hoë bloeddruk (hipertensie) is bekend as die 'stille moordenaar', en ongelukkig is baie Suid-Afrikaners salig onbewus van die hoë risiko van onkunde oor hulle status.

Omtrent ses miljoen Suid-Afrikaners ly aan hoë bloeddruk. "Twee derdes van alle mense met hoë bloeddruk is onbewus hiervan. Daar is baie risikofaktore wat 'n mens blootstel aan hoë bloeddruk, bv. 'n ongesonde dieet, oormatige alkoholinname, oorgewig en gebrek aan oefening," sê Shân Biesman-Simons, 'n geregistreerde dieetkundige en Direkteur van Voeding en Opvoeding by die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika. Wanneer mense onbewus van hulle bloeddruk-syfer is, is daar die gevaar dat hulle slagare en organe beskadig kan word, wat uiteindelik tot 'n hartaanval, beroerte, nierversaking en vroeë dood kan lei.

Alle volwassenes moet jaarlikse bloeddruktoetse ondergaan, veral as hulle baie stres by die werk of 'n familiegeskiedenis van hipertensie het. As jy met hipertensie gediagnoseer is, moet jy gereeld jou bloeddruk laat toets, soos deur jou dokter aanbeveel. Dit is 'n goeie idee om jou bloeddruk vanaf 'n vroeë ouderdom te laat toets, aangesien selfs sesjarige kinders aan hoë bloeddruk kan ly, veral wanneer hulle oorgewig is.

Kan hoë cholesterol aan oorgewig en vetsugtigheid gekoppel word?

Nie altyd nie. Die mees algemene oorsaak van hoë cholesterol vlakke is die inname van te veel vet, veral versadigde- en trans vette. Party mense het egter hoë cholesterolvlakke, alhoewel hulle 'n gesonde dieet volg (bv. mense met 'n seldsame oorerflike toestand wat familiale hipercholersterolemie genoem word, of diegene met 'n onderaktiewe skildklier, langtermyn nierprobleme of mense wat te veel alkohol gebruik).

Alle volwassenes oor die ouderdom van 20 moet elke vyf jaar 'n vas-lipogram laat doen, maar meer gereeld as jou totale cholesterol hoër as 5mmol/L is, en jy 'n man oor die ouderdom van 45 of 'n vrou ouer as 50 is, of as jy ander risikofaktore vir hartsiekte en beroerte het. Vir 'n vas-bloedtoets moet jy (gewoonlik vir ten minste 9 uur) voor die tyd vas.

Die proses van arteriosklerose (opbou van vetterige plaak in die slagare) begin gedurende 'n mens se kinderjare en bou stadig op namate jy volwasse word. Dit beteken dat party kinders se cholesterol ook getoets moet word – veral dié uit hoë-risiko families (ouers met hoë cholesterol of ouers/grootouers met hartsiekte op ouderdom 55 of jonger). Dit is belangrik dat elke mens se cholesterol getoets word, sodat hulle kan weet wat hulle risiko vir kardiovaskulêre siekte is. Hoë cholesterol is 'n tydbom wat net wag om geaktiveer te word.

Moet jy alleenlik jou glukose vlakke laat toets as jy diabetes het?

Weereens, nee.

'n Bloed-glukose-toets meet die hoeveelheid suiker, wat glukose genoem word, in jou bloed. Glukose word uit die koolhidrate in voedsel vervaardig. Dit is die hoofbron van energie vir die liggaam. Insulien is 'n hormoon wat jou liggaam se selle help om die glukose te gebruik. Insulien word in die pankreas vervaardig en in die bloed vrygestel wanneer die hoeveelheid glukose in die bloed styg.

Gewoonlik styg jou bloed-glukosevlakke effens nadat jy geëet het. Hierdie styging veroorsaak dat jou pankreas insulien vrystel, sodat jou bloed-glukosevlakke nie te veel styg nie. Glukosevlakke wat te lank te hoog bly, kan jou oë, niere en bloedvate beskadig.

Daarom is dit baie belangrik dat jou glukosevlakke getoets word, veral as jy:

  • Oorgewig is.
  • 'n Familiegeskiedenis van diabetes het.
  • 'n Diabeet is.
  • Oor die ouderdom van 45 is.

As jou gesondheid-syfers te hoog is, wat kan jy doen om jou vlakke te verlaag?

  • Maak seker jou gewig bly op 'n gesonde vlak.
  • Moenie rook nie – moenie hierdie dodelike polis uitneem nie – daar is geen voordele nie!
  • Volg 'n dieet met min sout en versadigde vet.  
  • Eet genoeg kalium-ryk voedselsoorte (vrugte, groente, neute, laevet- of vetvrye melk).
  • Doen elke dag of meeste dae 30 minute se fisiese aktiwiteit (bv. hardloop, dans, huisskoonmaak of enigiets anders wat jy geniet).
  • Beperk jou alkoholinname tot een drankie per dag vir vroue en twee vir mans.

Dischem Apteek bied vir 'n beperkte tyd vanaf 19 Julie gratis gesondheidstoetse aan Suid-Afrikaners. Dit is ter ondersteuning van "Laat jouself toets-dag" en die Big Heart 750 bewusmakings- en fondsinsamelings-veldtog.

Besoek die Big Heart 750 facebook page, www.heartfoundation.co.za en www.bigheart750.co.za vir meer inligting.

Jy het geen verskoning om oningelig te wees nie. Ken jou syfers, ken jou risiko!

- Persvrystelling van Die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika

- (Health24, Junie 2011)

Lees verder:

Lewenstylveranderinge oorwin cholesterol
Hartsiekte – die risikofaktore
Beroerte – hoe hoog is jou risiko?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE