Share

Haar hart het ophou klop

Die Suid-Afrikaanse skrywer Dalene Matthee is onlangs in die ouderdom van 66 aan hartversaking dood. Hoe hou 'n mens se hart net op met klop? Kan mens die tekens uitken? Hoe versaak 'n mens se hart en wat behels dit? Health24.com werp lig daarop.

Mens se hart hou net op met klop en gaan staan as die laaste stap in hartversaking. Hartversaking beteken jou hart is nie meer in staat om sterk genoeg saam te trek om genoeg bloed met 'n enkele pompslag deur al jou liggaamsdele en organe te pomp sodat dié dele genoeg suurstof kry nie. 'n Versakende hart kan nog pomp, maar nie doeltreffend nie. Dit trek al hoe swakker saam. Veral die linkerventrikel - wat suurstofryke bloed na die liggaam en brein moet stuur - pomp teen slegs 'n derde van sy ideale kapasiteit, of selfs minder.

Mettertyd word die regterventrikel, wat bloed na die longe pomp waar dit met suurstof verryk word, ook aangetas. Dit lei tot swelling van die bene en die maag.

Die liggaam, in sy pogings om te verseker dat voldoende bloed wel die organe en brein bereik, skakel sekere hormonale en senu-reaksies "aan" wat die bloeddruk verhoog, sout en water in die liggaam vashou, en die hart vinniger laat klop. Dié kompenserende reaksies kan aanvanklik die liggaam help, maar net op die korte duur. Op die lange duur vererger dit die hartversaking.

Die gevolg is 'n hart wat algaande swakker maar vinniger pomp, en stadig aan ál groter word omdat hy nie bloed uit die hart gepomp kry nie. Dit laat al hoe minder plek vir die inkomende bloed en die hart rek al hoe groter. Die hart in versaking - eens 'n kragtige spiermassa die grootte van jou vuis - rek tot die grootte van 'n pap voetbal, met bloed wat in die hart en longe opbou. Dit klop al hoe vinniger en swakker, totdat dit net fladder en gaan staan.

Wat is die oorsake?
Hartversaking is die eindresultaat van verskeie hartprobleme. Die algemeenste oorsake van hartspierskade en gevolglike hartversaking sluit die volgende in:

  • iskemiese hartsiektes (gekenmerk deur verstopte hartvate en hoë cholesterolvlakke) langdurige hoë bloeddruk
  • kardiomiopatie (dikwels weens 'n virus, selfs die griepvirus)
  • hartklepskade
  • aritmie
  • aangebore hartdefekte
  • hartskade weens blootstelling aan gifstowwe (soos ook langdurige misbruik van alkohol) vernouende ( constrictive ) perikarditis waar die sak om die hart aangetas is

Mense met dié hartprobleme het 'n hoër risiko om hartversaking te kry.

Simptome
Aan die begin kan jy dalk geen simptome toon nie. Dan begin die simptome stadigaan verskyn, eers net tydens strawwe oefening, en later is die simptome byna altyd aanwesig. Die simptome sal algaande vererger. Let op na:

  • Kortasemheid wat erger is as jy lê, maar beter is as jy sit of staan. Iemand kan snags wakker word van 'n gehoes of gehyg, vinnige hartklop en die gevoel dat hy versmoor. Hy kan asemhalingsprobleme en kortasemheid ontwikkel as hy take verrig of oefening doen wat hom nie voorheen kortasem gelaat het nie.
  • 'n Droë hoes, veral as jy lê.
  • Geswelde enkels, bene en voete.
  • Duiseligheid, moegheid of swakheid.
  • Vinnige gewigstoename weens die vog-terughouding.
  • Meer gereelde urinering snags.
  • Naarheid, swelling van die maag en selfs pyn en teerheid om die maag.
  • Geswelde nekare.
  • Velsere aan veral die bene weens die swelling.

Spreek jou dokter as jy enige van dié simptome het.

Behandeling
In sommige pasiënte kan hartversaking omgekeer word deur die onderliggende oorsaak korrek en doeltreffend te behandel, deur byvoorbeeld hartklepchirurgie. Maar in die meeste gevalle kan die onderliggende probleem nie opgelos of verwyder word nie. Dit is belangrik om hartversaking gou te identifiseer sodat verdere hartspierskade voorkom kan word deur lewenstylveranderings, medisyne of selfs chirurgie.

Dokters het eens op 'n tyd gemeen mense met hartversaking moenie oefening doen nie, maar nuwe studies toon dat matige oefening jou hart inteendeel kan versterk. Gesels met jou dokter voordat jy begin oefen sodat hy of sy vir jou kan sê hoeveel oefening genoeg is.

Voorkoming is steeds die beste. Jy kan jou risiko vir hartversaking verminder deur nie te rook nie, of op te hou rook, jou bloedcholesterolvlakke in toom te hou met laevetkosse en medisyne (soos deur jou dokter voorgeskryf indien nodig), doeltreffende beheer van jou bloeddruk (dit moet laer as 140/90 mm Hg wees), oefening te doen en minder alkohol te drink. (mhudson@health24.co.za, Maart 2005)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE