Share

Haal die beste uit botoks

Toe die skalpel nog al was wat jou jonger kon laat lyk, het die meeste Suid-Afrikaners maar weggeskram van lyding vir ydelheid. Maar het jy opgelet dat ál meer mense skielik soveel jonger lyk en dit sonder 'n lang vakansie? Hier's 11 stukkies goeie raad oor botoks wat jou frons nog vinniger kan laat verdwyn.
Deur Marí Hudson, Health24

Helen Zille doen dit. En Angelina Jolie. So ook Melanie Griffith. En baie meer van jou vriende oor veertig as wat jy sou kon raai. Hulle botoks. En hulle vul op. Op die voorkop, tussen die oë, langs die oë, onder die oë, bo die lippe, op die lippe, langs die lippe, bo die kakebeen, in die nekvelle.

Botoksgebruik neem jaarliks in ons land toe. Duisende eenhede botoks word nou per kwartaal in Suid-Afrika gebruik: na raming genoeg om meer as 'n duisend fronse uit te stryk.

Vir 'n paar duisend rand – afhangende van hoeveel plooitjies betrokke is – kan jy 'n heel nuwe gesig kry. Baie vroue betaal dit met 'n glimlag elke drie tot ses maande om 'n frons te verwyder, hul voorkop glad te stryk en plooie om die mond te versag.

Die geheim is dat jy steeds natuurlik moet lyk: jou gesig moet net skielik oper lyk omdat die fronsplooi tussen jou oë weg is, jou wenkbroue "gelig" is vir 'n vriendeliker voorkoms, jou voorkop plooivry is en daar minder lagplooitjies om jou oë is. Die meeste mense wat hulle laat botoks, laat terselfdertyd ook hul lippe opvul – jy kan dus op die koop toe 'n sagte, voller mond kry pleks van die plooierige pruimmondjie waarmee so baie rokers opgeskeep sit.

Selfs die onderste deel van die gesig by die mond en kakebeen kan "opgelig" word deur die spiere wat alles laat hang, so effens te verlam. Ons het gaan inloer by die spreekkamer van 'n dokter wat botoks-inspuitings doen en gekyk hoe vier pasiënte in die loop van die oggend van voorkoppe en fronse tot kraaispoortjies en mondplooie laat uitstryk het met botilinum-toksiene, oftewel botoks.

Goeie raad 1: Goed begonne is half gewonne
Kies 'n ervare botoksdokter, maak nie saak of dit 'n plastiese chirurg of huisdokter is nie. Verneem by ander, hou jou oë en ore oop en kies 'n dokter met 'n goeie botoksreputasie. Enige dokter kan 'n inspuiting gee, maar net een met ervaring weet presies wáár om die regte dosis in te spuit vir die verlangde effek.

Die verskil tussen 'n jonger, natuurlike voorkoms, 'n verstarde maskergesig of byna geen verskil nie, lê letterlik in die hande van die dokter. Moenie verbaas wees as jy ná 'n spesiale afslag-aanbod (meestal deur 'n dokter wat pas 'n kort botoks-kursus voltooi het en proefkonyne soek) nie juis tevrede is met die resultaat nie.

"Ek het maar gedink botoks werk net nie vir my nie," sê Margie* (45) van haar aanvanklike teleurstelling. "Ek het gelukkig later 'n goeie dokter gekry en is elke drie maande hier vir my inspuitings."

Sy lê agteroor op die wit leerbekleedsel van die doktersbed en knip nie 'n oog toe die arts die dun naald sekuur in die spiertjies tussen haar oë indruk en die botoks inspuit nie.

Goeie raad 2: Die dosis tel
'n Vaardige dokter kan deur bloot die dosis te wissel, jou voorkop óf seepglad maar onbeweeglik en maskeragtig maak, óf die onderliggende spiere net deels verlam sodat jy nog uitdrukkings soos verbasing kan wys. Laasgenoemde staan al bekend as Hollywood-botoks omdat dit so gewild is onder sterre.

Goeie raad 3: Fyn gesny
Botoks kan plooie uitstryk wat ontstaan het weens die sametrekking van gesigspiere, maar dit kan nie opmaak vir die verlies aan vet en spiere nie – daarvoor het jy vullers nodig.

Dit kan ook nie die vel se verlies aan rekbaarheid as gevolg van ouderdom herstel nie. Dus kan hangwange, slap nekvelle of pap ooglede net met chirurgie glad getrek word. Ook as snywerk gedoen moet word, mik die chirurg daarna om 'n natuurlike voorkoms te skep en te groot oopgesperde oë of 'n te styfgetrekte vel te vermy.

Goeie raad 4: Dieper as die vel
Alles gaan oor die gesigspiere onder jou vel. Omdat gesigspiere dikwels verweef is of oorkruis lê, kan 'n inspuiting in een spier 'n ander beïnvloed. As die dokter byvoorbeeld die botoks te ver na die buitekant van jou voorkop inspuit, kan die sykant van jou wenkbroue sak, pleks van lig. Dit kan jou kwaaier en ouer laat lyk, eerder as jeugdiger, omdat die verkeerde spier verlam word.

Tussen jou oë loop twee klein spiertjies – ewe gepas die sinkplaat- spiere genoem – van elke wenkbrou na die bopunt van jou neus. Dié twee, saam met die middel-voorkopspier aan die bopunt van jou neus, frommel die vel tussen jou oë op as jy frons en trek die voorkopvel afwaarts.

Die spiere word met die jare ál korter en jou fronslyne ál duideliker. Selfs dieperige fronskepe tussen jou oë kan drasties versag word of selfs verdwyn as botoks dié spiere heeltemal of deels verlam. Dis verstaanbaar dat inspuitings in die frons tussen die oë die gewildste botoks-behandeling is.

Goeie raad 5: Pyn vergaan, mooi bly staan
Die inspuitings op die voorkop is nie juis seerder as ander inspuitings nie, maar die inspuitings in en om die mond is 'n ander storie. Annie* (60, maar sy lyk 45) klem die kante van die doktersbed behoorlik vas toe 'n nuwe sagte vuller in haar lippe ingespuit word. Die pyn is vergete wanneer sy minute later haar mooi, voller lippe van alle kante in die spieël bekyk.

Goeie raad 6: Meer maak minder
Mense wat jare lank gereeld botoks-inspuitings kry om byvoorbeeld hul frons- en voorkopplooie uit te stryk, het ál minder botoks nodig. Omdat die voorkopspiere verlam is en onaktief word, kwyn hulle weg.

Op die dokter se versoek trek Annie haar voorkop op 'n plooi. Daar is skaars 'n sigbare fronsie en haar voorkop bly glad, want die spiere het ná jare se gereelde botoksinspuitings so te sê verdwyn. Dis byna soos versnelde evolusie – as jy dit nie gebruik nie, verloor jy dit, selfs sonder botoks. As 'n mens dus op 35 met botoks begin, kan jy op sestig fronsvry wees.

Goeie raad 7: Vul die groewe op
Die meeste ouer mense het ook 'n vuller nodig om diep kepe, hol wange en dun lippe tot volheid te laat uitdy. Daar is allerlei soorte vullers: Sommige nuwes is sagter as ander. Soms word die vet wat in 'n vetsuigprosedure versamel word, as vuller ingespan. Jou lippe kan ook so vol en sexy soos Angelina Jolie s'n lyk, dit kan ons jou belowe.

Maar hoe weet ons haar lippe is gebotoks? Maklik! Jy ken 'n gebotoksde en gevulde bolip dadelik uit: as die vrou glimlag, krul die bolip aan die kante effens op- en uitwaarts – soos Angelina s'n – pleks daarvan om platter en dunner te trek.

Goeie raad 8: Moenie dit oordoen nie
Sommige mense raak byna verslaaf aan verjongingsbehandeling. Die Hollywood-aktrise Melanie Griffith se lippe het ná haar eerste behandelings nog taamlik natuurlik gelyk, maar omdat sy waarskynlik op te veel vullers aangedring het, het haar lippe kort voor lank in twee blaasoppies verander.

Goeie raad 9: Mooi loop ná die inspuiting
'n Mens se gesig kan vir 'n dag of wat geswel wees en jy kan eers ná 'n paar dae of selfs 'n week op jou beste lyk. Weerhou jou daarvan om die eerste vier tot ses uur die gebotoksde deel te vryf, vooroor te buk, te veel oefening te doen of plat te lê, sê kenners.

Goeie raad 10: Dis nie vir almal nie
Botoks-inspuitings kan nie aan iemand met 'n velontsteking gegee word of vir iemand wat allergies is vir albumien (eierwit) nie. Dit is ook nie geskik vir mense met spiersiektes soos myasthenia gravis nie. Dit word versigtigheidshalwe ook nie aanbeveel vir vroue wat swanger is of borsvoed nie.

Goeie raad 11: Wat botoks nog kan doen
Botoks kan ook ingespan word om kalkoenvelplooie in die nek uit te stryk, 'n puntneus in 'n wipneus te omskep, borste effe te lig en om pynlike keloïedlittekens minder gevoelig te maak.

* Die vroue het gevra dat ons nie hul vanne noem nie.

(Marí Hudson, Health24)

[Dankie aan dr. Nerina Wilkinson, ’n Kaapse plastiese en rekonstruktiewe chirurg, en dr. Alek Nikolic, ’n dokter wat spesialiseer in estetiese en teenverouderingsbehandeling in Kaapstad, Johannesburg en Londen, wat die inligting vir dié artikel verskaf het.]

Botox basics

Botox minimises scarring

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE