Share

Gewildste laserbehandelings

1. HAARVERWYDERING

Die verwydering van ongewenste haartjies deur laserterapie is 'n baie gewilde prosedure, sê dr. Hilmar Lückhoff, 'n plastiese chirurg by die Panorama Plastic Surgery Clinic net buite Kaapstad.

Dis vir jou as jy moeg is vir skeer of waks, of vir haartjies wat ingroei.

Hou in gedagte Hoe ligter jou vel en hoe donkerder en dikker die haartjies, hoe groter is die kans op sukses. Dit werk die beste op arms en bene, die rug en bors, asook die bikinilyn. Haartjies op die gesig (veral die bolip en ken) is die moeilikste om te verwyder – en die seerste.

Hoe dit werk Die pigment (kleur) in jou hare trek die straal soos 'n magneet aan. Dit veroorsaak hitteskade aan die haar se skag en follikel sonder dat die vel beskadig word. Die haartjie word óf permanent verwyder óf met 'n baie fyner haartjie vervang. Na elke sessie is die hare aansienlik minder. Jy kan tussen sessies steeds skeer of waks.

Pynfaktor Dit is minder seer as om te waks, maar steeds ongemaklik.

Hersteltyd Geen.

Aantal sessies Ses tot agt.

Koste R360 tot R2 000 per sessie, na gelang van die deel wat behandel moet word.

Voordele

  • Daar's minder haartjies wat ingroei.
  • Haargroei word aansienlik beperk.
  • Die haartjies is ligter, fyner en verder uitmekaar.

Nadele

  • Dit werk nie vir blonde, wit en grys hare nie.
  • Nie al die haartjies verdwyn permanent nie, hulle word wel minder.

2. OPPERVLAKHERNUWING

Dié prosedure behandel plooie, merke en kolle. Die boonste laag vel word verwyder om die gladde, helderder vel daaronder bloot te lê. Drie soorte hernuwing is beskikbaar: diep laserbehandeling, fraksionele laserbehandeling en mikro-laserskilfering.

Diep laserbehandeling

Dis vir jou as jy 'n swak veltekstuur, akneemerke of jare se sonskade, bruin kolle en plooie het. Dit is ook 'n goeie opsie as jy verkies om die prosedure op een slag te laat doen, ongeag die pyn, ongemak en hersteltyd. "Die behandeling is gewilder onder effens ouer mense," sê dr. Ean Smit van die Cape Town Cosmetic Dermatology Centre.

Hou in gedagte Dis nie vir bangbroeke nie. Jou vel sal rooi en geswel wees, en 'n paar weke lank rofies vorm en "lek". En maak seker dat jy dit deur 'n spesialis soos 'n plastiese chirurg laat doen – jy kry narkose en die prosedure word gewoonlik in 'n teater uitgevoer.

Hoe dit werk Die hele boonste laag vel word verwyder.

Pynfaktor Die resultaat is merkwaardig, maar die ongemak en pyn is baie erg.

Hersteltyd Een tot twee weke. Jou vel kan tot twee maande lank rooi bly, maar grimering sal dit verdoesel.

Aantal sessies Een.

Koste R4 000 tot R28 800 (wat verdowing en oornagverblyf insluit).

Voordele

  • Die vel lyk pragtig en daar is 'n merkwaardige verandering.
  • Jy hoef net een keer te gaan.

Nadele

  • Dis baie pynlik.
  • Dit kan nie op die nek- en borsarea gedoen word nie.
  • Baie wondversorging by die huis is in die hersteltyd nodig om rowe en letsels te voorkom.
  • Jy kan agterna 'n paar pigmentasiemerke oorhou.

Fraksionele laser

Dis vir jou as jy lugtig is vir diep laserbehandeling, maar ongelukkig is met jou vel se tekstuur of as jy sonskade, bruin kolle, plooie, sproete, fyn lyntjies of akneemerke het. "Dis die jongste laser-velhernuwing en is minder drasties as die diep laser," sê Hilmar. Ean sê dis een van die gewildste behandelings by hul kliniek.

Hou in gedagte Jy kan tussen ligter en drastieser sessies kies.

Hoe dit werk Dele van die vel word gelaser en die omringende dele word net so gelaat. Jou vel genees dus vinniger.

Pynfaktor Pynlik, veral met die drastieser behandelings.

Hersteltyd Om en by drie dae vir die ligter behandelings en 'n week vir die drastieser behandelings.

Aantal sessies Jy kan ses ligter maandelikse sessies kies, of een of twee wat drastieser is.

Koste Vanaf R3 000 per sessie.

Voordele

  • Dis minder pynlik as die diep laserbehandeling.
  • Jou vel lyk baie mooi.
  • Die hersteltyd is korter en die wondversorging minder as in die geval van diep laserbehandeling.

Nadele

  • Jy moet 'n paar keer gaan.
  • Jy moet steeds tyd opsysit of van die werk af wegbly.
  • Daar is steeds rooiheid en swelling.

Mikro-laserskilfering

Dis vir jou as jou vel sonskade het of as jy pigmentasieprobleme het.

Hou in gedagte Dit is oppervlakkiger as 'n diep laserbehandeling of die fraksionele laser.

Hoe dit werk "Dieselfde laser as wat vir die diep laserbehandeling gebruik word, word teen 'n laer intensiteit aangewend om 'n dieper laag vel te verwyder as vir gewone mikroskilfering of 'n ligte chemiese skilfering," sê Hilmar.

Pynfaktor Pynlik, maar plaaslike verdowing word gebruik.

Hersteltyd Twee tot vier dae om gesond te word, dan dop jy af en is jou vel 'n week of twee lank rooi.

Aantal sessies Een tot twee keer elke ses maande, en dan een keer per jaar vir die beste resultate.

Koste Vanaf R4 000 per sessie.

Voordele

  • Jou vel lyk vars en nuut.
  • Pigmentasie en sonskade is minder.
  • Die hersteltyd is korter.

Nadele

  • Die behandeling is net oppervlakkig.
  • Dis steeds seer en ongemaklik.

3. VERWYDERING VAN BRUIN KOLLE

Bruin kolle (wat ook son- of lewerkolle genoem word) is plat en oneweredige donker kolle op die gesig, nek, bors, hande, arms, skouers of enige deel wat gereeld aan die son blootgestel is. Dis gewoonlik nie skadelik nie, maar kan jou ouer laat lyk en voel as wat jy is.

Dis vir jou as jy 'n voormalige sonslaaf is wat nou opgeskeep sit met bruin kolle op jou gesig of lyf, en jy reeds sonder sukses bleikroom en voorgeskrewe retinoïede (vitamien A-room) beproef het.

Hou in gedagte Dis makliker om oppervlakkige bruin kolle te behandel. "Vra jou dokter om eers 'n stukkie van jou vel te toets om te bepaal hoe moeilik dit gaan wees om van die kolle ontslae te raak," stel Ean voor.

Hoe dit werk Lasers wat kort polse uitstuur, teiken een kol op 'n slag, maar een laser kan met honderde kolletjies klaarspeel. So nie kan intensiewe polslig-masjiene (nie lasers nie) gebruik word om groter kolle of 'n groter area te behandel.

Pynfaktor 'n Paar oomblikke se ongemak en ligte pyn – dit hang af hoe groot die deel is wat behandel word.

Hersteltyd Die kolle word eers vaal en dan donker. Hulle bly sowat 'n week lank donker op die gesig, twee weke op die bors, arms en hande, en drie weke op die bene voor hulle afdop.

Aantal sessies Twee tot agt sessies oor vier tot agt weke.

Koste R450 tot R3 000 per sessie.

Voordele

  • Tussen 80 en 90 persent van die kolle kan verwyder word.
  • Dis nie nodig om by die huis te bly nie.

Nadele

  • Die kolle kan terugkeer.
  • Dit verwyder bestaande bruin kolle, maar kan nie voorkom dat nuwes vorm nie.

4. BEHANDELING VAN ROOI VEL WEENS PROMINENTE BLOEDVATE

Dis vir jou as jy besorg is oor rooiheid in jou gesig, 'n "blosende" gelaat of klein, rooi bloedvaatjies om jou neus en/of wange.

Hou in gedagte Die rooiheid sal bes moontlik ná 'n paar jaar terugkeer en dan sal jy nog 'n sessie nodig hê.

Hoe dit werk Die lig teiken die rooi kleur van oppervlakkige aartjies, gebarste aartjies en digte massas bloedvaatjies om hulle van binne af te vernietig.

Pynfaktor Dis nie so erg nie – amper asof 'n klein rekkie teen jou vel geskiet word.

Hersteltyd Die behandelde deel sal tussen 'n paar uur en 'n dag lank geswel wees.

Aantal sessies Drie tot vier.

Koste R1 500 tot R3 000 per sessie.

Voordele

  • Rooiheid, die blosende voorkoms en gebarste bloedvaatjies word verminder.
  • Jou gelaat is helderder.
  • Die vel se struktuur is beter.

Nadele

  • Dit sal nie die toestand genees nie en die bloedvate kan weer hul verskyning maak.
  • Jy moet dit dalk elke een tot drie jaar herhaal.
  • Dit veroorsaak soms swelling.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE