advertisement
05 July 2010

Gestrem, maar nou ken ek geluk

Marcelle Kapp (38) se lewe het onherroeplikverander ná 'n ernstige fietsryongeluk vier jaar gelede.

0

Marcelle Kapp (38) se lewe het onherroeplik verander ná 'n ernstige fietsryongeluk vier jaar gelede. Sy het by die dood omgedraai – juis daarom leef sy vandag haar lewe met nuwe waardering.
Soos vertel aan ILSE SALZWEDEL

So op 'n koue winteroggend in Gauteng – net nog 'n doodgewone dag vir 'n prettige uitstappie, dink jy – verander jou hele lewe in 'n oogwink...

Daardie Saterdag in Julie 2006 het ons groep fietsryers oudergewoonte by die Crestawinkelsentrum in Randburg bymekaargekom vir ons weeklikse pretrit. Ons wou later daardie jaar in die Highveld 94.7 Cycle Race ry en ons het elke Saterdag so saam getrap om te oefen.

Kort ná vyfuur het ons weggespring, maar pleks van ons gewone roete via Beyers Naudé-rylaan het ons 'n ander roete met 14e Laan langs gekies, al kronkelend deur Northcliff.

Ek onthou niks van wat daardie oggend gebeur het nie. Vir my mederyers is alles ook 'n waas. Al wat hulle weet is dat ek een oomblik nog deel van die groep was en die volgende langs 'n verkeerslig op my gesig gelê het.

Presies wat gebeur het, weet niemand. Daar was feitlik geen skade aan my fiets nie – net die bande was gebars. Het ek dalk uitgeswaai vir iets? Het ek te vinnig teen die skuinste afgery en toe te hard gerem en op los gruis gegly?

Een van die ryers het my man, Johan, teen halfses gebel om te sê ek het 'n "klein ongelukkie" gehad en hy moes na die toneel kom. Maar kort daarna het hulle weer gebel: Hy moes nou na die Flora-kliniek ongeveer 'n kilometer daarvandaan gaan.

Ek glo dit was so bestem dat 'n ER24-paramedikus kort ná die ongeluk by die toneel verbygery het. Sy het pas van diens gekom en het dadelik 'n ambulans ontbied nadat sy my bekyk het.

By die hospitaal is ek dadelik vir 'n MRI-skandering gestuur om te kyk waar die skade was. Die nuus was sleg: Ek het op vier plekke breinbloeding gehad. Dokters het meer as 'n uur in die ongevalle-eenheid met my gespook, en toe het een vir Johan gaan sê ek is breindood verklaar.

Hy was genadiglik verkeerd omdat die toets wat hy gedoen het, die verkeerde inligting oorgedra het. In der waarheid het 'n beensplinter die optiese senuwee na my linkeroog afgesny sodat dit nie op lig gereageer het nie. Die regteroog se funksies was ook belemmer omdat die deel van die brein wat dit beheer, in die ongeluk beskadig is. Tot vandag is my sig ernstig aangetas – ek kan niks aan my linkerkant sien nie en net 'n deel van dit wat voor my is.

Daar was bykans geen merke aan my lyf nie en die enigste uitwendige beserings was aan die linkerkant van my gesig. Maar my kopbeserings was so erg dat ek bewusteloos was ná die val, al het dit eers nie gelyk asof ek ernstig beseer was nie.

Die geweld van die impak het 'n groot stuk uit my valhelm gebreek – sonder die valhelm weet ek nie wat sou gebeur het nie.

Nadat ek in die waakeenheid opgeneem is, is die diepte van my koma as ses uit tien aangeteken, wat 'n skraal kans op herstel beteken. Ek is twee weke lank in 'n geïnduseerde koma gehou, gekoppel aan 'n ventilator. 'n Monitor het konstant die drukking op my brein gemeet.

Gelukkig was die bloeding op my brein nie so erg dat 'n operasie nodig was nie. Maar my kakebeen was op twee plekke gebreek en my sinusholte het met die val heeltemal gedisintegreer. Twee dae ná die ongeluk is my kakebeen geopereer en met plate geheg. Ek het ook 'n trageotomie – 'n insnyding in die lugpyp – gekry vir die ventilator.

Ná twee weke se verdowing is ek geleidelik uit my koma gebring. Toe ek begin wakker word, wou geen dokter dit waag om my herstel te voorspel nie. Een van hulle het eers onlangs vir ons gesê niemand het gedink daar is enige kans dat ek ooit weer normaal sou funksioneer nie.

Johan was angstig om te weet of ek hom en my ouers herken. Om te bepaal of my brein funksioneer, het hy met my Duits gepraat. Duits is nie my moedertaal nie, maar ek was 'n Duits-onderwyser. Toe ek hom in Duits antwoord, het hy moed geskep.

Ek was daarna nog drie weke lank in die waakeenheid. Johan het daardie hele maand by my gesit en letterlik net huis toe gegaan om te gaan bad en slaap. Hy het selfs langs my bed gesit en werk op sy skootrekenaar.

My ouers was ook gedurig daar en my ma het gereeld my voete gevryf. Johan het vir my oorfone opgesit sodat ek heeltyd na my gunsteling- klassieke musiek kon luister.

As dit van hulle afgehang het, sóú ek weer die ou Marcelle word...

Rehabilitasie

Teendie einde van Augustus is ek na die Riverfield Lodge-sentrum in Sandton vir rehabilitasie. Voor my ongeluk het ek 42kg geweeg, maar nou was ek 'n skrale 32kg. Ek moes steeds medikasie gebruik wat so sterk was dat dit my laat hallusineer het.

Die volgende drie maande was hel. Ek spot altyd en sê dit was soos 'n militêre strafkamp. Ek moes alles van voor af leer: alleen eet, sit, staan, loop, selfs weer normaal praat. Ek het soos 'n robot gepraat, alles op dieselfde monotoon.

Ek het rehabilitasie geháát. Jy word elke oggend op dieselfde tyd wakker gemaak, gebad, ge-alles. Later het ek besef die ysere roetine is noodsaaklik, want daar moet 'n splinternuwe patron in die brein vasgelê word vir net mooi alles.

Dit was geweldig uitputtend. Rehab is 'n eindelose rits aktiwiteite: fisio-, arbeids- en spraakterapie, asook breinterapie. Legkaarte bou, teken, kruip op jou knieë . . . Daar's eenvoudig geen kans vir rustig wees nie.

Teen Desember het ek genoeg vordering getoon om huis toe te gaan, maar dit was 'n geweldige aanpassing vir ons albei om die nuwe ek te aanvaar.

Voor die ongeluk was ek baie fiks en het ek fietsgery, tennis gespeel en elke dag gegim en geswem. Nou loop ek steeds platvoet en met my hande sywaarts gelig om my balans te hou, want dis permanent versteur deur die ongeluk. Dit keer ook dat ek in dinge vasloop weens my beperkte sig.

Ek kan nie meer bestuur nie, is ongeskik vir werk verklaar en is skielik vir die meeste dinge van ander mense afhanklik. Ek mis my loopbaan as Duits-onderwyser. Ek mis my sport, my onafhanklikheid. Ek mis dit om mooi hoëhakskoene te kan dra en weer mooi te loop of selfs eendag weer te sou kon hardloop.

Nog tot onlangs het ek gesukkel met intense rugpyn. Die spasmas was so erg dat ek die meeste nagte net omtrent drie uur geslaap het. Ek moes dikwels opstaan en strek om die pyn te verlig.

Drie maande gelede het ek die eerste keer 'n massiewe epileptiese aanval gekry. Dit was in die middel van die nag en Johan het hom byna doodgeskrik. Ek het ophou asemhaal en in sy paniek het hy my oor sy skouer gegooi op pad motor toe. In die proses het ek genadiglik weer begin asemhaal.

Ek is dadelik weer in die waakeenheid opgeneem. Daar het ek nog 'n aanval gekry en was ek weer 'n paar dae lank onder verdowing en aan 'n ventilator gekoppel. Sedertdien moet ek medisyne teen epilepsie gebruik.

My neuroloog sê die ontsettende rugpyn was eintlik my liggaam se manier om my te probeer waarsku daar is steeds êrens fout. Vandat ek die medikasie neem, is die pyn feitlik weg en kan ek vir die eerste keer deur die nag slaap.

Ek is ontsettend gelukkig om 'n man soos Johan te hê. Hy het my soos 'n klein kindjie versorg en nooit opgehou om my lief te hê of in my te glo nie. Boonop het die breinbesering persoonlikheidsveranderinge tot gevolg gehad. Ek was voor die ongeluk glad nie 'n perfeksionis nie, maar is nou selfs erger as hy!

Johan, my ouers en die res van my familie se liefde dra my. Sonder hulle sou ek nie tot hier gevorder het nie. En natuurlik ook nie sonder God nie. Sy weë is soms duister. Ons is 16 jaar getroud en het jare vergeefs probeer om kinders te hê. Vandag verstaan ons hoekom.

Aanpassing

My lewe is steeds vol aanpassings. Ek kan byvoorbeeld net een ding op 'n slag doen en daarom wil ek ook nie hê dat Johan iets anders doen terwyl ek met hom praat nie. Hy moet alles los en na my luister.

My korttermyn-geheue is vrot – ek moet elke ding neerskryf wat ek wil onthou. As ek kos kook, moet ek my selfoon se alarm stel om my daaraan te herinner om die plaat te gaan afdraai. Ek kan ook nie meer ruik en proe nie.

Maar dinge raak tog beter. Ons het nuwe roetines ontwikkel en ek het geleer om baie dinge anders te doen.

Dit klink dalk vreemd, maar die gehalte van my lewe is nou beter as tevore. Ek síén nou die sonsondergang of 'n mooi blom en ervaar die Here se hand daarin. Ons lewe nou op 'n ryker, dieper vlak.

Johan was voor die ongeluk 'n senuweewrak weens werkstres. Die ongeluk het al ons perspektiewe verander, en ons besef nou wat werklik belangrik is. Ek kan regtig sê die lewe het vir ons meer waardevol geword – en ek weet vandag niks gebeur toevallig nie.

As dit jou sou tref

  • Moet geen hulp van die hand wys nie. Almal se hulp, woorde of dade beteken baie.
  • As daar dinge is wat jy nie kan verander nie, verander die manier waarop jy daaroor dink.
  • Dank God elke dag dat jy so goed herstel het – dit kon soveel erger gewees het. Wees dankbaar vir dit wat jy het.
  • Moet nooit van jou maat af weggaan sonder om te groet nie – dit kon die laaste keer gewees het.
  • Liefde word versterk wanneer 'n mens saam deur moeilike tye werk.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) – Somer 2009/2010

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.