Share

Gered deur 'n liefdesgeskenk

Weens 'n seldsame bloedsiekte was die kans bitter skraal dat klein Adriaan van den Berg ooit ouer as 13 sou word. Toe kom sy ousus tot sy redding.
Deur ILSE SALZWEDEL

Hy was maar altyd so bleek van gelaat en soms het hy met 'n bloeiende neus en bloukolle gesukkel. Sy ma het gedink dis weens 'n ystertekort en het gesorg dat hy die nodige aanvullings kry.

Maar in Februarie verlede jaar toe Adriaan van den Berg agt jaar oud was, was sy ma so bekommerd oor 'n bloukol dat sy by die dokter gaan raad vra het. Ná 'n reeks bloedtoetse en 'n beenmurgbiopsie is die Pretoriase seuntjie tot almal se skok met Fanconi-anemie gediagnoseer.

Fanconi-anemie is 'n seldsame aangebore toestand wat veroorsaak dat die beenmurg ophou werk en die immuunstelsel dus nie behoorlik kan funksioneer nie. Dit maak lyers baie vatbaar vir gevaarlike siektes, onder meer kanker.

"Ons het verskriklik groot geskrik," vertel ma Clarice, "veral toe ons uitvind 'n Fanconi-lyer het 'n gemiddelde lewensverwagting van net 12 of 13 jaar."

Gelukkig was die dokter wat Adriaan gediagnoseer het 'n Fanconi-kenner. Sy het gesê die beste behandeling vir Adriaan is 'n beenmurgoorplanting, verkieslik met die beenmurg van 'n familielid.

"Ons moed het in ons skoene gesak toe ons hoor die kans is maar 25 persent dat 'n geskikte skenker in ons gesin gevind sou word," vertel Clarice.

Sy, haar man, Francois, en Francis (nou 14) en Clarice (nou 13) moes inderhaas getoets word. Ná vier senutergende weke het die uitslag gekom: Clarice junior was 'n geskikte skenker.

Dit was vir haar 'n lewensveranderende oomblik toe sy besef sy kon haar kleinboet help.

In Julie is Adriaan in die Faerie Glenhospitaal in Pretoria opgeneem sodat hy vir die oorplanting voorberei kon word. Eers moes sy eie beenmurg deur chemoterapie vernietig word sodat dit vervang kon word met sy sussie se gesonde beenmurgselle.

Van halfnege soggens tot halfdrie die volgende oggend is chemo- en ander middels by sy tenger lyfie ingepomp. Elke oggend is tussen ses en nege buise bloed getrek om te kyk of die behandeling werk.

Adriaan moes vier weke lank in isolasie bly om te keer dat sy immuniteitsgebrek hom gevaarlik siek maak. Clarice het by hom in die kamer ingetrek.

"Die weke saam in isolasie was 'n frustrerende, maar ook 'n wonderlike tyd. Adriaan was so dapper en het my by tye moed ingepraat. Hy het nie een keer gekla nie."

Daar in isolasie is sy nie toegelaat om aan haar man of dogters te raak nie en eintlik ook nie aan Adriaan nie. "Soms sou ek hom 'n skelm drukkie gee as niemand kyk nie. Dit was swaar, want as jou kind siek is, wil jy hom mos net in jou arms toevou."

Chemoterapie is klaar 'n gevaarlike proses, maar vir Fanconi-lyers hou dit 'n nog groter risiko in. "Ek het een oggend vieruur wakker geword en Adriaan in 'n plas bloed aangetref. Sy bloed kon nie stol nie, want daar was geen bloedplaatjies in sy liggaam nie. My kind het selfs deur sy oë gebloei! Toe blyk dit boonop die bloedbank het nie bloedplaatjies nie."

Gelukkig het Clarice 'n netwerk vriende gehad wat bloedplaatjies wou skenk en later daardie dag was die krisis verby.

Maar die volgende paar dae sou daar nog baie laagtepunte wees. "Hy het soms geruk en gebewe van die chemoterapie en by tye was sy bloeddruk so laag dat dit gelyk het of hy gaan sterf. Dan moes hulle adrenalien direk in sy hart inspuit."

Daar was darem ligter oomblikke ook, onthou Clarice. "Adriaan was benoud dat hy 'n dogtertjie sou word met so baie van sy sussie se selle in sy beenmurg!"

Ná sewe dae was sy beenmurg amptelik morsdood. Clarice junior moes haar intussen vyf dae lank inspuit met Neupogen, 'n middel wat die liggaam help om ekstra stamselle te maak.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek waarop haar ekstra stamselle vir haar kleinboet geoes kon word. Onder plaaslike verdowing is 'n buisie in haar lies ingeplant. Dis toe gekoppel aan 'n oesmasjien wat op dieselfde beginsel as 'n roomafskeier werk. Die bloed word getap, die ekstra stamselle word uitgehaal en dan word die bloed weer in haar lyf teruggepomp.

Die mediese personeel het Clarice genooi om self die oesmasjien aan te skakel en vir 'n rukkie kon sy darem by een van haar dogters wees.

Sy klink steeds 'n bietjie verstom oor die wonder van die proses. " 'n Mens kon met die blote oog die selletjies sien lê. Alles het omtrent agt uur geduur en in daardie tyd is 15L bloed deur die masjien. 'n Mens het omtrent net 3L bloed in jou lyf, wat beteken Clarice se bloed is vyf keer deur die masjien gepomp."

'n Yslike hoeveelheid stamselle is geoes, waarvan 'n deel gevries is vir latere gebruik indien nodig. Die oorplanting is agterna net daar in die isolasiekamer gedoen. Die selletjies is doodgewoon deur 'n drup by sy lyf ingetap.

Deur alles heen was Adriaan die toonbeeld van rustigheid, sê sy. "Terwyl 'n span medici om sy bed gestaan het, het hy rustig aanhou PlayStation speel. Die dokters was verstom en toe ek hom later daaroor uitvra, wou hy verbaas weet of ons dan nie die klomp engele om sy bed kon sien nie."

Clarice junior is die volgende dag terug skool toe. Sy was piekfyn, net 'n bietjie moeg.

Nege dae ná die oorplanting het toetse gewys die stamselle begin groei. "Die eerste week is van kritieke belang weens die groot gevaar van infeksie. Maar Adriaan was so positief – hy het selfs elke oggend vir sy stamselle die Vodacom-liedjie You've got to move it, move it! gesing," vertel Clarice.

Hy is minder as drie weke ná die oorplanting ontslaan. Tuis moes hy nog drie maande lank in isolasie aansterk.

Met die volgende beenmurg-biopsie het die trane weer gerol: dié keer van vreugde, want Adriaan se beenmurg was gesond. 'n Jaar later moes hy van voor af ingeënt word teen kindersiektes.

Vandag, 18 maande ná die oorplanting, lei hy 'n normale lewe. "Ons moet hom mooi oppas, maar hy is in alle opsigte 'n gewone seuntjie. En gesond," sê Clarice.

Sy dink 'n bietjie na. Dan sê sy: "As my dogter van 12 jaar oud beenmurg kon gee, kan enigiemand dit doen. Dis 'n lewegewende geskenk. Ek hoop dat ek ook eendag bevoorreg genoeg is om so 'n wonderlike geskenk van hoop te gee."

Lees meer:
As familie se beenmurg nie pas nie
Hoe om te skenk
'n Jaar van genade

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE