Share

Ek sê eet reg, jy sê eet sleg

Kan iemand wat fanaties oefen en gesond eet ewige liefde vind by 'n oorgewig stoepsitter? Dis moontlik – en dit kan albei se gesondheid bevoordeel. Maar dit kan ewe maklik skeefloop.

Deur NATANYA MULHOLLAND

Party mense sê dat teenoorgesteldes mekaar juis aantrek. Ander meen weer dat hoe meer 'n paartjie se gewoontes ooreenstem, hoe gelukkiger is hulle. Waar die waarheid ook al lê, dit bly 'n feit dat uiteenlopende leefstyle groot probleme tussen lewensmaats kan veroorsaak.

Jou wederhelf se leefstyl het verseker 'n uitwerking op jou, al is dit subtiel. Miskien hou hy daarvan om naweke te sit en muf op die bank voor die TV terwyl jy al vroeg op is en berge wil versit. Miskien laat ryk kos en vyfgangmaaltye jou mond water terwyl hy vyf groentes en 'n vellose hoenderborsie op sy bord skep nadat hy by die gim was.

Julle kan wees wat julle wil, maar as julle saam is, sal daardie verskille na weerskante toe 'n uitwerking op jul geestelike en liggaamlike welsyn hê. En nie altyd ten goede nie.

Positiewe invloed

"Susan was die beste ding wat ooit met my gebeur het," sê Derek*, 'n 70-jarige sakeman wat soos sy geliefde in Johannesburg bly. Toe hulle drie jaar gelede ontmoet het, was hy oorgewig en kon hy net met heimwee terugdink aan die fikse, gesonde lyf waarmee hy in sy jonger dae gespog het. Susan*, 30 jaar jonger, het op hom verlief geraak ondanks sy ongesonde leefstyl.

"Sedert ek 30 jaar gelede opgehou het om 60 sigarette per dag te rook het ek met my gewig gesukkel," vertel Derek. "Ek het al elke dieet onder die son probeer – een keer het ek selfs in die hospitaal beland nadat 'n kitsdieet my suikervlak op hol gehad het."

Maar toe kom Susan in sy lewe – iemand wat hou van organiese produkte en rou kos, en wat 'n gesonde eetprogram en leefstyl volg. Kort voor lank het hy nie net oë gehad vir Susan nie, maar ook 'n gesonder verhouding met kos aangekweek.

Derek se vriende sê Susan het 'n nuwe mens van hom gemaak deur hom saam te neem wanneer sy gaan draf en gesonde kos voor te sit.

"Ek dink dis grootliks te danke aan Susan se passie vir 'n gesonde leefstyl dat ek so baie te wete gekom het en nou ook gesond leef," sê Derek. "En natuurlik maak die liefde ook dikwels 'n mens se kop oop."

Gelukkig en gesond

Dieselfde het gebeur met Justine*, 'n 36-jarige Kaapstadse plantkundige, toe sy Vuyo* twee jaar gelede ontmoet het. Ná 'n ruk het sy agtergekom sy leef gesonder.

As sy terugdink aan haar vorige vyf jaar lange verhouding is die verskil duidelik. "Destyds was ek dikwels siek. Dit was nooit iets ernstigs nie – gewoonlik net 'n seer keel en loopneus, maar my immuunstelsel was duidelik nie sterk nie. Deesdae word ek nooit siek nie. Dis nie asof 'n gelukkige verhouding alles genees nie; ek kry steeds nare hoofpyne weens te veel tyd agter die rekenaar. Ek dink wel ek is gesonder omdat ek gelukkiger is."

Dis nie die eerste keer dat 'n man haar gesondheid beïnvloed nie. As student het Justine 'n depressiewe kêrel gehad. "My geestesgesondheid het ook daaronder gely. Al het ons nie saamgebly nie, het sy uitkyk op die lewe en sy onsekerheid en gebrek aan lewenslus my ondergekry. Toe ek hom uiteindelik los, het dit gevoel asof die son vir die eerste keer in 'n lang tyd weer skyn."

 Gedeelde sorge is halwe sorge

Aan die ander kant was dit weer vir Valerie* (35) en Herman* (38) moeilik om 'n balans tussen hul uiteenlopende leefstyle te vind. Soms het dit maar bars gegaan – en 'n paar keer amper hul huwelik gekos.

Herman was 'n ware partytjiedier, lief vir drank en dwelms, maar uiteindelik was dit juis sy huwelik en liefde vir Valerie en hul twee kinders (nou 9 en 11) wat hom oorreed het om 'n sober leefstyl te volg. En natuurlik sy besluit om meer waardering vir homself te hê.

"My minagting vir my gesondheid het veral my vrou swaar getref," sê hy. "Dis grootliks danksy haar dat ek nou bewustelik gesonder leef. Sy het my gedwing om self die antwoorde te vind. Sy het my ook 'n gesonde rigting laat inslaan – so nie was siekte beslis my voorland."

Aan die begin was dit juis hul gesamentlike najaag van plesier wat hulle bymekaargebring het. Later sou dit hulle byna uiteendryf. "Ons het in ons laat tienerjare ontmoet en ons het albei vir partytjies geleef," onthou Valerie.

"Ons het gerook, gedrink en in klubs geboer – om nie te praat van dwelms gebruik nie. Dit was pret, maar 'n paar jaar later het ek op 'n boek oor meditasie afgekom. Dit het my bewus gemaak van 'n ander manier van lewe, een waarin natuurlike gesondheid die botoon voer.

"Ek het begin mediteer en 'n vegetariër geword, opgehou drink en alternatiewe genesing en organiese voeding bestudeer. Herman het bly partytjie hou. Ons het begin stry kry oor ons uiteenlopende gewoontes en is uiteindelik uitmekaar."

Ironies genoeg was dit Valerie wat siek geword het, met hepatitis A. Sy het in die hospitaal se hoësorgeenheid beland. Vrees wou haar onderkry en toe sy vir Herman bel, het hy haar kom besoek.

"Dit het my aangespoor om gesond te word," sê sy. "Ek het hom so gemis dat ek besef het ons liefde is sterker as ons verskille. Ons het opgemaak en 'n paar maande later was ek swanger."

Sy was egter nog steeds op die gesondheidspad terwyl Herman op sy ou patroon voortgegaan en selfs meer gedrink en dwelms gebruik het. "Met die baba se koms het ek ál sterker op 'n gesonde leefstyl begin fokus. Die spanning tussen ons het stadig maar seker toegeneem. Ons sou baklei oor waar hy sy gaskoeldrank bêre, want ons kind sou dit in die yskas kry en dan in trane uitbars as ek dit by haar wegvat. Het hy sy koeldrank in die spens gebêre, was die gort ook gaar," vertel Valerie.

Dwelm verslawing

Groter probleme het ontstaan toe Herman heeltemal aan dwelms verslaaf geraak het. Teen dié tyd het hulle nie net 'n veeleisende kleuter gehad nie, maar ook 'n tweede baba en hoë stresvlakke.

"Ek het probeer om nie 'n klakous te wees nie, maar die druk om twee kinders te probeer grootmaak terwyl ek heeltyd bekommerd was of Herman onder die invloed van dwelms was of dronk agter die stuur, het uiteindelik sy tol geëis. Nadat ek hom vir die derde keer voor 'n ultimatum gestel en gesmeek het om tussen my en sy kinders of sy whisky en kokaïen te kies, het ek uiteindelik sy tasse gepak. Ek het vir hom gesê hy kom nie terug voor hy sy lewe agtermekaar het nie."

Herman het hom by ’n rehabilitasiesentrum aangemeld en dié besluit het waarskynlik sy lewe gered. Ses maande later was hy terug by die huis en gereed om 'n gesonde leefwyse te volg.

Sewe jaar is intussen verby en hul huwelik en gesin is sterker en gesonder as ooit. Deesdae mag Herman sy gaskoeldrank in die yskas bêre, Valerie woeker met haar lappie organiese groente en die kinders leer uit albei ouers se siening.

"Ons moes albei besef dat ons eerder onsself – en nie mekaar nie – moes verander," sê Valerie. "Ek moes ophou om 'n gesondheidsdiktator te wees en Herman moes verantwoordelikheid aanvaar vir die onderliggende oorsake van sy verslawings.

"Ons gesondheidskrisis het ons laat besef dat 'n mens net in eensgesindheid met iemand anders kan saamleef as jy sorg dat jy self gelukkig en gesond is," sê Herman.

Sáám op die gesondheidspad

Die beste manier om onderlinge gesondheidsprobleme te hanteer is om daaroor te praat, sê Romey Russell, 'n Kaapse raadgewer wat dwelmverslaafdes help. Hoe jy dit doen, sal egter die deurslag gee. Wees ondersteunend, maar oorreed jou maat met deernis om die feite in die oë te kyk.

"Gestel jou maat kla heeltyd oor sy gewig, maar hou aan om sjokolade en ongesonde kos te verorber. Praat met hom wanneer jy nie kwaad is nie en sê dan: 'Jy kla omdat jy gewig aansit, maar jy hou aan sjokolade eet. Wat gaan ons daaromtrent doen?' So sal hy voel dat jy hom ondersteun."

Dr. Murray Rushmere, 'n homeopaat en huisdokter van Kaapstad, stem saam dat 'n paartjie mekaar moet ondersteun wanneer hulle ongesonde gewoontes aanpak.

"Afbrekende gedrag is nooit eenvoudig nie," sê hy. "Ongesonde gewoontes is dikwels verslawend, of word as troos gebruik. Dis soos om te probeer vergoed vir 'n groot gemis in jou lewe. Daarom help dit nie altyd om bloot te sê hou op sjokolade eet of rook nie. Moedig mense eerder aan om hulp te kry en uit te vind waarom hulle so baie eet, drink of rook."

Moenie polisieman speel nie

Dis ook belangrik om nie self polisieman te wil speel nie. "Jy wil nie by 'n kat-en-muis-speletjie betrokke raak waar die een vir die ander dinge wegsteek nie. So aanvaar mense nooit verantwoordelikheid vir hul eie optrede nie en moedig jy eintlik verkeerde gedrag aan. Staan so 'n bietjie opsy en laat sake hul gang gaan. Terselfdertyd kan jy mense wel op die gevolge van hul optrede wys."

Indien jy bekommerd is dat jou maat besig is om in 'n ongesonde siklus van drink, eet en dwelmverslawing te verval, maar nie heeltyd daaroor wil neul nie, volg dan hierdie raad van Romey: Wanneer jou maat weer olik voel nadat sy 'n ruk lank ongesond geleef het, stel voor dat sy dokter toe gaan. Sê dat dit bloot is om enige "ernstige probleme" uit te skakel. So bly jy ondersteunend en moedig jy haar aan om self verantwoordelikheid vir haar gesondheid te neem. So betrek jy ook die dokter wie se mening dalk meer gewig sal dra as hy op gevaartekens wys.

As jy reeds in die rol van klakous verval het – veral waar drank- of dwelmverslawing betrokke is – is dit belangrik dat jy dit aan jouself moet erken en dit moet oorweeg om jou tasse te pak.

"Die klaer bly dikwels by die drinker en uiteindelik is dit die probleem wat hulle bymekaar hou," sê Russell. "Die klaer word deel van die siek gedragspatroon en die gevolg is dikwels dat hy of sy ook siek word.

"Hoe meer die alkoholis drink, hoe meer word die lewensmaat daardeur vasgevang. Dit word dan die fokus van hul verhouding, wat op sigself ongesond is."

Hoe graag ons ook al ons lewensmaats wil help of wil hê dat hulle ons moet help om gesond te leef; ons gesondheid bly ten slotte ons eie verantwoordelikheid.

* Skuilname

Regruktyd

Hoe goed is jy?

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE