Share

Ek deel jou mooiste oomblik

Dis 'n veeleisende werk, maar 'n vroedvrou se vergoeding lê ook daarin dat die wonder van nuwe lewe deel van haar dagtaak is.
Deur CISKA VAN STATEN vir Huisgenoot-POLS

"Ali is kriewelrig," sê my mede-vroedvrou, Susan, oor die foon. Sy laat weet vir my dat een van ons ma's begin kraam het.

Ali se vorige baba was so gretig om die wêreld in te kom dat ek nie betyds was vir die geboorte nie en toe 'n plaaslike vroedvrou moes inroep.

Nou wil ek regtig graag daar wees om dié kleinding self te groet. Ek sorg dat ek vinnig by haar kom. Elke oomblik tel. Ali lê op haar bed, verswelg deur reuse-sametrekkings.

"Sê net weer vir my hoekom doen ons dit," maak sy 'n grappie na my kant toe terwyl sy op haar tande kners.

Sy vaar goed. Ek maak seker dat sy gemaklik is en stel 'n saal in die kleine op. My mobiele kraamtoerusting maak voorsiening vir moontlike geboorteprobleme – moederbloeding in die besonder. Ek hanteer elke geboorte asof dit komplikasies kan oplewer, en is toegerus as 'n primêre kliniek.

Ek het aarvoeding, volume-uitdyer (vir tydelike bloedvervanging), Syntocinon (wat sametrekkings kan aanhelp as dit nodig is) en suurstof. Ek het ook 'n suier om mekonium – die donkergroen, taaierige stof wat voor geboorte in die baba se ingewande vervaardig word – uit te suig om te voorkom dat dit deur die pasgeborene ingeasem word.

As vroedvrou help ek met sowel tuis- as hospitaalgeboortes. Vroue kraam die heel beste waar hulle veilig en geborge voel, maar ek sal nooit 'n tuisgeboorte aanbeveel in enige ander geval as 'n volkome normale swangerskap nie. Tuisgeboortes kan lieflike ervarings wees as die ma en baba albei blakend gesond is. Goeie voorgeboortelike klasse help ma's ook deur die geboorteproses.

Maar verloskundige bystand moet op 'n gereedheidsgrondslag wees in 'n noodgeval, en die heel belangrikste is dat 'n ma ondersteuning het. Vriende, familie of 'n doula (kraammaat) moet naby wees om die vertroosting en aanmoediging te gee wat elke aanstaande moeder nodig het.

Ali druk nou hard. Haar eerste kind, Mark, gaan saam met Ouma huis toe en Ali kan nou voluit op die geboorte fokus. Susan doen 'n vaginale ondersoek. Alles lyk perfek en die skreeuende bondeltjie kom skielik aan‚ so moeiteloos soos 'n kurk uit 'n bottel vonkelwyn. Die plasenta is uit en ek maak seker dat Ali nie bloei nie.

Die ekstatiese pa sit langs Ali met trane wat oor sy gesig stroom. Sulke tye geniet ek regtig my werk.

Maar die werk is nog nie klaar nie. Ali se bloed is rhesus- (Rh-) negatief, wat beteken sy het nie 'n algemene genetiese bloedproteïen nie. (Sowat 15 persent van die bevolking is Rh-negatief ). As haar baba Rh-positief is, kan Ali se liggaam teenliggaampies vervaardig wat skadelik vir haar volgende kind kan wees as daardie kind ook Rh-positief is.

Om te keer dat dié vernietigende teenliggaampies gevorm word, moet Ali binne 72 uur met Rho(D)-immuunglobulien ingespuit word. Ek gaan Rooi Kruis-kinderhospitaal toe om bloedtoetse te laat doen.

Op pad huis toe lui my foon. Ntombi, wat twee weke oor haar tyd is, moet geïnduseer word. Sy is opgeneem in die hospitaal waar hulle prostaglandien- vaginale jel gebruik, wat 'n kunsmatige hormoon bevat wat sametrekkings stimuleer.

Middernag is afskoptyd. Ek maak 'n paar oproepe om my rooster vir die volgende dag te herrangskik en rus soveel as wat ek kan.

Teen vyfuur die oggend laat kom die hospitaal my. Ntombi is voluit in kraam. Die baba word 'n paar uur later sonder enige probleme gebore. Binne net 24 uur is daar twee nuwe aankomelinge in die wêreld. Gelukkig was albei geboortes sonder komplikasies, maar dis nie altyd die geval nie.

Om 'n vroedvrou te wees is 'n genadelose dag-en-nag-leefstyl, maar ek is met my hele hart lief daarvoor. Vir my is 'n baba 'n besonderse vreugde, maar my grootste behae lê daarin om ouers die wonderlike ervaring van kindergeboorte te kan gee. Ek sien uit na nog baie.

Read more: The case for natural birth

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE