Share

Eina! Ek het 'n SMS-duim

Dit lyk asof die tegnologie besig is om hom op ons te wreek. Elke dag gebruik ons meer elektroniese produkte en elke dag stroom ál meer mense na dokters en fisioterapeute toe. Dalk moet ons 'n slaggie kyk hoe tegnologies gevorderd ons kwale geword het...

Selfoon-elmboog
Lê jy elke dag ure op jou selfoon? Die hoek waarteen jy die foon teen jou oor hou, kan dieselfde  senuwee beskadig wat so seer is as jy per abuis jou elmboog stamp.
Volgens dr. Leon Benson van die Amerikaanse Akademie van Ortopediese Chirurge kan dié senuwee oorwerk raak, iets wat die bloedtoevoer beperk en 'n tintelende gevoel veroorsaak. Erger nog, dit kan dit later vir jou onmoontlik maak om fyn takies te verrig soos om te skryf of jou SIMkaart uit jou selfoon te haal.
In uiterste gevalle kan selfoonelmboog lei tot elmboog- en gewrigtonnelsindroom, 'n onvermoë om voorwerpe vas te vat, chroniese pyn en selfs misvorming van die pinkie en ringvinger.
Tegnowenk Ruil hande wanneer jy lank op jou selfoon praat of gebruik 'n toestel wat jou hande vry laat.

SMS-duim
Die afgelope tien jaar was daar 'n toename van 40 persent in die aantal kinders wat kla van 'n ooreisingsbesering wat as texter's thumb bekend staan. Dit word ook Nintenditis, Wii-duim en iPod-vinger genoem en is 'n pynlike ontsteking van die duimgewrig en senings. Dit word veroorsaak deur die herhaaldelike duimbewegings wat nodig is vir videospeletjies of die stuur van SMS'e.
"Toe ek twintig jaar gelede as dokter begin werk het, was minder as een persent van my pasiënte jonger as 18. Nou val tot 20 persent van hulle in daardie ouderdomsgroep. En dikwels ly hulle aan nuwe toestande soos SMS-duim," sê Sammy Margo, 'n fisioterapeut.
Tegnowenk Neem af en toe 'n blaaskans en laat jou selfoon, videospeletjies en die TV-afstandbeheerder eenkant lê.

Wii-skouer
Dié pynlike inflammasie is 'n besering van die spiere en beendere wat voorkom by mense wie se enigste oefening die gebruik van 'n speletjie se afstandbeheerder is.
"Net ná Kersfees het 'n pasiënt van 'n seer skouer kom kla. Ek het gevra of hy 'n Wii as geskenk ontvang het – en hy het," vertel die Britse pediater dr. Andrew Cowley.
Hy het aanbeveel dat die pasiënt twee weke lank nie die speletjie speel nie – en die pyn het verdwyn.
Tegnowenk Speletjieslawe moet gereeld hul Wii-spelery met ander aktiwiteite afwissel. Hier's 'n voorstel: Pleks van virtuele sport te speel kan jy gerus 'n slag die buitelug aandurf en die ware Jakob 'n kans gee. Moet dit ook nie oordoen as jy voor 'n skerm Wii-oefeninge doen nie.

Muis-skouer
Verbeel jou jou lessenaar is 'n tafel in 'n restaurant – is jou muis waar jy jou wynglas sou neersit? Indien wel, moet jy dit na 'n gesonder posisie skuif, min of meer waar jou mes of vurk sou wees. As jy die muis in die verkeerde posisie gebruik, kan dit spierspasmas teen jou rugstring af of in jou skouer veroorsaak.
Tegnowenk Sit met 'n regop rug voor jou rekenaar en hou jou liggaam in lyn met die skerm – moenie skeef sit of vooroor buig nie. "En neem gereelde blaaskansies, minstens twee minute elke halfuur. Maak in daardie rustyd groot, vloeiende bewegings met jou arms, asof jy besig is om borsslag te swem. Sulke bewegings is goed vir jou senustelsel; klein, herhalende bewegings is nie!" sê Francie Bührmann, 'n fisioterapeut van Kaapstad.

iPod-oor
Navorsers in Indië het gevind dat mense wat gereeld oorfoontjies gebruik om na musiek te luister duisende kere meer bakterieë in hul ore het as die res van ons. Die sagte soort oorfone – soos wat jy by iPods kry – vorm 'n dop op die oor en skep 'n warm, klam atmosfeer wat tog te lekker is vir allerhande kieme en bakterieë.
Tegnowenk Moenie oorfone met iemand deel nie en gee elke dan en wan jou ore lug deur die foontjies af te haal. Dit sal help om die groei van bakterieë te beheer. 

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE