Share

Dwelms by die werk

Alkohol oor middagete, lang toiletpouses en nog 'n dag se "siekverlof". Die meeste middelmisbruikers het wél 'n werk – maar party werke behels meer risiko's as ander.

"Middelmisbruik in die Suid-Afrikaanse werkplek is aan die toeneem," sê Ronelle Sartor, uitvoerende offisier by die South African Association for Social Workers in Private Practice (SAASWIPP).

Die algemene indruk dat dwelmmisbruikers uit die geledere van boemelaars en werkloses kom, is verkeerd, sê sy: die oorgrote meerderheid (ongeveer 70%) kom uit die aktiewe werkerskorps.

Die mees sigbare dwelmmisbruikers – dié in die finale stadiums van verslawing – kan nie 'n werk hou nie. Maar die meeste misbruikers is die vroeë stadiums van die proses en kan dus redelik onopgemerk in die werkplek met hulle aktiwiteite voortgaan.

Hoë-risiko werk vir middelmisbruik

Geen beroep is immuun nie, sê Sartor, maar veral die volgende groepe behels 'n hoë risiko:

  • Werkers in brouerye en distilleerderye
  • Hoteliers en kroegmanne 
  • Die mynindustrie
  • Direkteurs van maatskappye
  • Huishulpe
  • Werkers op see en mense wat internasionaal werk
  • Professionele mense soos dokters en prokureurs 
  • Vroulike bestuurspersoneel
  • Militêre personeel 
  • Werkers op olie-boorplatforms
  • Mense in die advertensie- en filmbedryf

Die oorsaak van die risiko

Daar is verskeie faktore in sekere bedrywe wat mense meer vatbaar vir dwelmmisbruik maak, soos die volgende:

  • Beskikbaarheid van alkohol en dwelms. Brouery-werkers en kroegmanne is 'n ooglopende voorbeeld; huishulpe wat toegang tot alkohol in hulle werkgewers se huise het, is nog 'n voorbeeld.
  • Stres. Dit is 'n faktor in gevaarlike fisiese werk soos op olieplatforms of werk wat hoë vlakke van verantwoordelikheid en prestasie-angstigheid behels, soos mense in top bestuursposisies. Vroulike bestuurders mag stres ervaar as gevolg van hoë verwagtings en druk deur manlike kollegas om 'by te hou'. Misbruikers in hierdie groep kies dikwels kalmeerpille en slaappille.
  • Sosiale druk. Die druk om gesellighede na werk en by werkverwante geleenthede by te woon, is veral sterk in sekere industrieë soos die advertensie- en filmbedryf.
  • Isolasie. Die gebrek aan normale sosiale of seksuele verhoudings kan problematies wees. Mynwerkers, bestuurders en rondreisende verkoopsverteenwoordigers wat baie tyd weg van die huis deurbring, voel dikwels eensaam, wat tot middelmisbruik kan lei. Mense op see en internasionale werkers is dikwels veral kwesbaar as gevolg van verveeldheid en sosiale druk.
  • Baie lae of baie hoë inkomste. Mense wat die heel minste verdien, sukkel met stres by die werk en by die huis en spandeer dikwels hulle hele salaris op alkohol. Top verdieners kan natuurlik die meer gesofistikeerde, onwettige dwelms soos kokaïen bekostig.
  • Werk in die gesondheidsprofessies. Onder professionele mense is gesondheidsorg-werkers, ironies genoeg, 'n hoë risiko-groep, as gevolg van emosioneel uitmergelende werk en maklike toegang tot dwelms.

Watter dwelms is die grootste sondebokke?

Alkohol, omdat dit wettig, sosiaal aanvaarbaar en maklik beskikbaar is, is heel bo aan die lys – iets wat Suid-Afrika byna R9 miljard per jaar kos. Nommer twee is die ander wettige middels: oor-die-toonbank en voorskrifmedisyne soos pyndoders en slaappille. Volgens Sartor is die volgende kategorie daggaheroïen en kokaïen. Sy wys daarop dat alhoewel daar beslis baie werkende mense is wat onwettige dwelms gebruik (dit kos per slot van rekening 'n klomp geld), dit nie so gewild by hierdie groep is nie omdat dit moeiliker is om weg te steek.

Dagga word oor die algemeen meer gereeld deur ongeskoolde werkers gebruik, terwyl net mense in die hoër inkomstegroep kokaïen en heroïen kan bekostig. 

'Onsigbare' misbruikers kos werkgewers baie geld

'n Geskatte 6%-20% van werkers is waarskynlik middel-afhanklik, maar die meeste van hulle is 'onsigbaar' vir hulle kollegas en werkgewers.

Die kwessie van middelmisbruik in die werkplek verwys nie net na die meer blatante 'klassieke' gevalle – soos 'n bottel in die lessenaarlaai of kokaïen-strepies in die toilette nie. Dwelmmisbruik by die huis, oor middagete en funksies buite werksure het ook 'n effek op die werkplek. Ernstige negatiewe gevolge sluit in lae produktiwiteit, versuim om sperdatums te haal, ontoepaslike gedrag, afwesigheid van die werk en swak tydsbenutting.

'n Oormatige drinksessie ná betaaldag lei dikwels tot 'n afwesigheid van twee of drie dae. 'n Uitgerekte middagete, of afwesigheid na middagete kan 'n aanduiding van drankmisbruik oor middagete wees.

Dwelms in die werkplek lei tot 'n hoër risiko vir misdaad, konflik, geweld en ongelukke in die werkplek. Meer as 50% van ongelukke in die werkplek is dwelmverwant, en diefstal by die werkplek en ander kriminele aktiwiteite verdriedubbel as gevolg van dwelms. Dit lei dikwels daartoe dat werkgewers meer aan regskostes en sekuriteit moet uitgee.

Middelmisbruikers veroorsaak ook dat gesondheidskostes styg omdat hulle meer geneig is om gesondheidsversekering en mediese hulp te gebruik. (In 'n studie in die VSA was drankverslaafdes vir 89% van alle uitbetaalde mediese voordele verantwoordelik.)

As 'n mens alles in berekening bring, kos 'n heimlike dwelmmisbruiker sy werkgewer 'n verdere 25% van sy salaris, sê Sartor.

Hoe om 'n dwelmprobleem uit te ken

Volgens Sartor moet 'n mens op die volgende let:

  • Laer werklewering en produktiwiteit
  • Vergeetagtigheid, swak konsentrasie en oordeel
  • Onbestendige werkpatroon
  • Versuim om sperdatums te haal
  • Verlaagde belangstelling en motivering
  • Aangetaste kommunikasie- en interpersoonlike vaardighede
  • Swak konflikbestuur
  • Aggressiewe of onvanpaste gedrag
  • Slordige voorkoms
  • Laatkommery en afwesigheid van die werk

- Olivia Rose-Innes, Health24, hersien Maart 2010

Die verskil tussen misbruik en verslawing
Stel 'n vraag aan die Occupational Health Expert 
Stel 'n vraag aan Cybershrink

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE