Hoe veilig is mikrogolfoonde, rekenaarskerms, selfone, kragbesparende lampies en WiFi werklik?
Deur Huisgenoot-POLS
"Daardie selfoon gaan jou brein gaar kook." Of: "Ek gaan dit net gou in die mikrogolf nuke." Die galgehumor wat ons dikwels gebruik wanneer ons oor elektroniese toerusting praat, wys hoe bekommerd ons werklik oor sulke dinge is.
Ons gebruik nou al meer as honderd jaar lank elektrisiteit, wat beteken wetenskaplikes het oorgenoeg tyd gehad om seker te maak dat ou staatmakers soos TV's en radio's ons waarskynlik geen skade gaan aandoen nie.
Maar deesdae is ons aan meer elektroniese toerusting verbind (en verslaaf) as ooit tevore. En baie daarvan, soos selfone en ander koordlose toestelle, is nog nie so lank met ons nie – in elk geval te kort vir wetenskaplikes om te weet presies watter uitwerking dit op die lang duur op ons gesondheid gaan hê.
Alle elektroniese toestelle – van die beskeie gloeilamp tot Bluetooth – gee 'n klein hoeveelheid bestraling af wat elektromagnetiese strale genoem word. (Die bestralingsgebied om die bron word die elektromagnetiese veld genoem.)
Selfs wanneer dit opbou, is die korttermyn-uitwerking op ons gesondheid skaars merkbaar. Maar omdat biljoene mense, baie van hulle kinders, dié artikels elke dag gebruik (en boonop naby aan hul liggaam), neem die mediese wetenskap die kwessie van die potensiële langtermyn-uitwerking baie ernstig op.
Ons behoort dieselfde te doen.
Kyk gerus na die jongste konsensus oor die gesondheidsrisiko's van 'n paar algemene elektroniese toestelle. Omdat anekdotiese verslae en sekere gerekende wetenskaplikes van die konsensus verskil en dié toestelle as gevaarliker beskou, raai ons lesers aan om liewer na die veilige kant te neig.
Wat is bestraling?
Bestraling verwys na energie wat uitwaarts
beweeg (uitstraal) vanaf 'n sentrale bron. Dié
term sluit 'n hele aantal soorte in, party skadeloos
en party potensieel skadelik.
Die meeste soorte bestraling beweeg in die vorm van elektromagnetiese golwe, terwyl ander soorte as 'n partikelstroom beweeg. 'n Belangrike verskil is of bestraling ioniserend of nie-ioniserend is.
Ioniserende bestraling is hoë-energie- en hoëfrekwensiebestraling en produseer elektries gelaaide partikels (ione) in die voorwerp wat dit tref.
Wanneer dit lewende weefsel tref, kan dit selle doodmaak of genetiese afwykings veroorsaak. Dit kan tot kanker lei, en in baie hoë dosisse tot bestralingsiekte, soos in die geval van mense wat by 'n kernontploffing of -ongeluk betrokke was.
Dit kan ook op 'n hoogs gekontroleerde manier tydens bestralingsterapie gebruik word om kankerselle te vernietig. 'n Radioaktiewe stof straal ioniserende strale uit.
Nie-ioniserende bestraling, wat radiogolwe, mikrogolwe, infrarooi lig, sigbare lig en ultraviolet lig insluit, bevat te min energie om enigiets te ioniseer. Al ons bekende elektroniese toestelle, asook kragstasies en kragkabels, is nie-ioniserend en dít wat hulle uitstraal, is aan die lae kant van die energieskaal.
Toestelle
Selfoon
Moet jy bekommerd wees?
Ja, binne perke.
Wat die wetenskap weet
Dit kan
dekades duur voor sekere siektes soos kanker
ontwikkel, dus het wetenskaplikes in die vroeë
jare van selfoongebruik nie baie epidemiologiese
materiaal gehad om mee te werk nie.
Maar die bewyse is stadig besig om in te kom. Die verdoemendste hiervan is die verband tussen selfoongebruik en kanker in die deel naaste aan waar jy jou selfoon hou: jou brein.
Party van die jongste – en wetenskaplik deurslaggewende – studies dui aan dat mense wat tien jaar of langer gereeld selfone gebruik het, 'n hoër risiko het vir die ontwikkeling van gewasse aan die kant van hul kop waar hulle hul foon hou.
Dit sluit in gewasse op die brein, die akoestiese senuwee (wat jou oor en brein verbind) en die speekselklier (naby die oor en kakebeen). Daar is nog 'n sterk debat in die wetenskaplike gemeenskap oor die uitslag van sulke studies en verdere navorsing is nodig voor eenstemmigheid bereik kan word.
Wat jy kan doen
- Moenie so lank op jou selfoon praat nie. Gebruik liewer jou landlyn of stuur 'n SMS.
- Hou jou selfoon verder van jou af weg. Gebruik 'n handvrye toestel en dra die foon weg van jou liggaam. Selfs al hou jy dit net effens verder van jou kop af, maak dit 'n verskil.
- Gebruik soms die ander oor!
Slotsom
Moenie jou selfoon weggooi
nie, maar verander die manier hoe jy – en
veral jou kinders – selfone gebruik. Kinders
word as veral vatbaar vir selfoonbestraling
beskou omdat hul skedels dunner is.
Mikrogolfoond
Moet jy bekommerd wees?
Nie juis nie.
Wat die wetenskap weet
Mikrogolfoonde vir huishoudelike
gebruik is geïsoleer en daar bly geen mikrogolwe in die
oond of kos oor nadat die toestel afgeskakel is nie. Ons gebruik
al sedert die 1970's mikrogolfoonde en daar is geen aanduiding
dat hulle skadelik is vir mense nie.
Groot dosisse mikrogolwe kan wel kwesbare organe aantas soos die oë (waar dit katarakte kan veroorsaak) en testes (waar dit tydelike onvrugbaarheid kan veroorsaak deur die sperma dood te maak) deur hulle letterlik van binne te kook, net soos 'n mens 'n eier in 'n mikrogolf sou kook.
Daar is geringe kommer oor 'n moontlike laevlak-effek omdat baie mikrogolfoonde effens lek. Blootstelling aan groot dosisse mikrogolfbestraling (soos van 'n oond waarmee daar gelol is sodat dit met 'n oop deur kan werk) kan hitteskade aan ander liggaamsweefsels veroorsaak.
Dit sluit ernstige brandwonde in wat nie onmiddellik van buite sigbaar kan wees nie omdat mikrogolwe dieperliggende weefsel met 'n hoër voginhoud verhit. Daar is geen maklike manier om vas te stel of jou oond lek nie. As die deur nie ordentlik toemaak nie, as daar 'n duik aan die buitekant is of as jou oond gehawend lyk, is dit beter om nie 'n kans te waag nie. Koop maar liewer 'n nuwe een.
Wat jy kan doen
- Moenie reg langs die oond staan wanneer jy dit gebruik nie; staan eerder 'n paar treë weg. As jy aanhoudend deur die deur loer en daar is 'n lekkasie, kan jy uiteindelik jou oë gaar kook.
- Moenie die oond gebruik as die deur nie ordentlik toemaak nie.
- Moenie die oond gebruik as dit aanhou werk wanneer die deur oop is nie.
- Volg die vervaardiger se aanwysings.
Slotsom
Dis veilig indien jy verstandige voorsorgmaatreëls
tref.
Kragmaste en oorhoofse kabels
Moet jy bekommerd wees?
Miskien effens, indien jy kinders het.
Wat die wetenskap weet
Daar
is geringe bewyse dat kragdrade kinderleukemie
veroorsaak, maar die bewyse is
swak. Bewyse van ander gesondheids-
risiko's is selfs geringer.
Wat jy kan doen
Moet kinders liewer nie in 'n huis reg langs 'n
kragmas grootmaak nie. Onthou dat die intensiteit
van die elektromagnetiese veld kwaai verminder
hoe verder jy daarvandaan wegbeweeg.
Slotsom
Moet jou nie onnodig hieroor
kwel nie, maar hou dit tog in gedagte.
Rekenaar
Moet jy bekommerd wees?
Nie juis nie.
Wat die wetenskap weet
Bestraling van rekenaarskerms is soortgelyk
aan dié van televisieskerms – baie
lae-energie-, laefrekwensie- elektromag-
netiese golwe.
Die gesondheidsrisiko's wat met rekenaargebruik gepaardgaan, waaroor daar baie navorsing gedoen is, het hoofsaaklik te doen met 'n slegte postuur en die feit dat mense te lank te na aan die skerm sit. Dit kan tot seer oë en rugprobleme lei.
Wat jy kan doen
- Bestraling daar gelaat, is dit 'n goeie idee om jou werk gereeld te onderbreek – wat natuurlik ook jou blootstelling aan die klein hoeveelhede bestraling sal verminder. Maak seker jou kinders leer dié gewoonte aan.
- Oorweeg dit om 'n plat skerm vir jou rekenaar (en TV) te kry. Dis beter vir jou oë én veroorsaak minder bestraling.
- Bestralingsfiltreerders vir rekenaars hou blykbaar geen gesondheidsvoordele in nie.
Slotsom
Hou aan om jou
rekenaar te gebruik, maar onthou
van die wêreld ander kant die
kuberruimte.
WiFi
Moet jy bekommerd
wees?
Nie juis nie.
Wat die wetenskap
weet
Tot dusver is daar
geen onweerlegbare bewyse
dat WiFi 'n openbare gesondheidsrisiko
inhou nie.
Die bestralingsblootstelling is waarskynlik laer as dié van 'n selfoon.
Wat jy kan doen
- Bly ingelig oor nuwe bewyse van huidige studies oor die uitwerking van lae elektromagnetiese velde.
- Volg dieselfde voorsorgmaatreëls wat vir alle elektriese toestelle aanbeveel word: skakel dit af wanneer jy dit nie gebruik nie (veral waar daar geslaap word) en sorg vir gereelde onderbrekings wanneer jy werk.
Slotsom
WiFi word tans
as net so veilig soos tradisionele
toestelle soos jou
radio en TV beskou, maar
dit is beter om liewer eers
versigtig te wees.
CFL- of langlewe-gloeilampe
Moet jy bekommerd wees?
Nie juis nie.
Wat die wetenskap weet
Die probleem
is dat CFL- of langlewe-gloeilampe meer
ultraviolet lig as tradisionele gloeilampe uitstraal.
UV-strale het 'n hoër frekwensie as sigbare lig en
die ultraviolet in sonstrale word met velkanker
en sekere ligsensitiewe veltoestande geassosieer.
Die UV van CFL'e is baie minder as wat 'n mens van die son kry, en die afskaal van tradisionele gloeilampe (wat baie minder energiedoeltreffend is) word oor die algemeen as omgewingsvriendelik en noodsaaklik beskou. Die debat duur voort, maar op die oomblik is die konsensus oor die UV-kwessie dat dit veilig is om CFL'e te gebruik.
Wat jy kan doen
- Koop liewer LED-gloeilampe as 'n plaasvervanger vir die langlewe-opsie. Die liguitstralende diodes (LED's) hou tien keer so lank as CFL-gloeilampe.
- As jy steeds bekommerd is oor bestraling (of die energiekrisis), kweek die gewoonte aan om wanneer moontlik ligte af te skakel; dit sal ook help om kragonderbrekings te voorkom. Dieselfde geld vir alle elektroniese toestelle: gun hulle, en jouself, 'n bietjie rus.
Slotsom
Dit is baie onwaarskynlik dat
CFL'e skadelik is, en dit is 'n belangrike
wapen in die stryd om energie te bespaar
en klimaatsverandering teen te werk.
Is langlewe-
gloeilampe veilig?
Dit bevat wel kwik, maar nie
baie nie. Indien een van dié gloeilampe
breek, moet jy die stukkies
versigtig opvee en die kamer
ventileer. Raak verkieslik deur
'n e-afvalherwinner
daarvan ontslae.
E-gevare
Toksiese komponente in persoonlike rekenaars
Persoonlike rekenaars
en ander elektroniese
toerusting bevat onderdele
wat vir daaglikse gebruik
geen gevaar inhou nie,
maar wat skadelik word
indien jy nie op die
regte manier daarvan
ontslae raak nie.
As dit op opvulterreine ophoop of in verbrandingsoonde beland, kan hierdie gevaarlike stowwe in die omgewing vrygestel word.
Katodestraalbuise in rekenaarmonitors en televisiestelle bevat tot 3,6 kilogram lood. Die Amerikaanse regering klassifiseer stukkende rekenaarmonitors as gevaarlike afval en reguleer die vervoer daarvan.
Plat LCD- monitors wat vinnig besig is om bonkige monitors te vervang, bevat minder toksiese materiaal, maar daar is kwik in die lampe wat die skerms van agter verlig. Persoonlike rekenaars bevat toksiese stowwe soos lood, berillium en heksavalente chroom.
Dioksiene word vrygestel wanneer drade met 'n PVC-omhulsel verbrand word om by die koper uit te kom. Nuwe herbenuttingstegnologie – veral in Europa waar herbenutting verpligtend is – maak dit al hoe meer ekonomies om die waardevolle metaal in persoonlike rekenaars te herbenut.
Gesondheidsrisiko
Die elemente en samestellings in e-afval kan in die
grond en water insyfer of as deeltjies in die lug versprei
wanneer elektroniese afval verkeerd opgebreek,
verbrand of in opvulterreine begrawe word.
Lood
Lood beskadig die senuweestelsel, niere
en voortplantingstelsel. Selfs laevlakblootstelling
kan 'n kind se verstandelike
ontwikkeling aantas.
PVC
Die verbranding van hierdie veeldoelige
plastiek stel uiters giftige dioksiene vry.
Gebromineerde vlamvertragers
Hierdie groep samestellings kan skade aan
die tiroïed veroorsaak en die ontwikkeling
van 'n ongebore baba skaad.
Barium
Verhoogde blootstelling aan barium
veroorsaak spysverteringversteurings,
spierswakheid, asemhalingsprobleme en 'n
styging of daling in bloeddruk.
Chroom
Inaseming van die heksavalente vorm van
chroom kan die lewer en niere beskadig, die
risiko vir longkanker verhoog en asmatiese
brongitis veroorsaak.
Kwik
Dit word verbind met brein- en nierskade en
is skadelik vir 'n ontwikkelende fetus. Kwik
kan deur borsvoeding oorgedra word.
Berillium
Die stofdeeltjies van hierdie kankerwekkende
stof veroorsaak longsiektes.
Kadmium
Langtermynblootstelling aan hierdie
kankerwekkende stof beskadig die niere
en beendere.
Suid-Afrika het nie sulke streng regulasies oor die vervoer en herbenutting van e-afval nie. Maak dus seker dat jou ou toestelle by 'n e-afval- herwinnaar uitkom. African Sky e-Waste Recycling (www.ewaste.co.za) hanteer hierdie soort afval, of besoek www.e-waste.org.za vir nog inligting.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)
Steeds bekommerd? Stuur jou vrae aan ons Omgewingsdeskundige