Share

Dodelike kieme

Dit lyk asof die nuwe soort superkieme besig is om die oorhand oor mense te kry. Is ons medisyne sterk genoeg om dié gevaarlike kalante die doodskoot te gee?
Deur dr. Greg Calligaro

STEL jou die volgende voor: Open bare plekke is verlate, leë treine ry in en uit by stasies en die paar passasiers wat dit nog waag om openbare vervoer te gebruik, loer wantrouig agter hul gasmaskers uit.

Op lughawens bespied die sekuriteitsmense inkomende passasiers met hittegevoelige beeldkameras waarop dié wat moontlik besmet is, se koors hulle in ’n infrarooi gloed laat uitstaan.

In die voorstede is verdagtes onder kwarantyn, dopgehou deur videokameras en gebrandmerk deur elektroniese pols-etikette wat elke beweging monitor. As ’n vreemdeling hoes of snuif, is daar paniek – die dood is in die lug.

Dit klink soos ’n skrikaanjaende toekomsvisie uit ’n wetenskapsfi ksie-fliek, maar dit was werklike scenario’s in Asiatiese stede soos Bangkok en Singapoer tydens die ears- (ernstige akute respiratoriese sindroom-) epidemie. Dié virus het einde 2002 in die provinsie Guangdong in China kop uitgesteek, maar wêreldwyd paniek gesaai toe dit meer as 8 000 mense aangesteek en 774 sterftes van Asië tot in Noord-Amerika veroorsaak het.

Die wêreld het in baie opsigte lig daarvan af gekom: Die siekte het verdwyn sonder om ’n wêreldwye pandemie te word. Danksy vinnige optrede kon dokters die uitbreking hokslaan.

Deskundiges sê die volgende keer as ’n dodelike kiem toeslaan, sal ons dalk nie weer so gelukkig wees nie – hulle waarsku dat die omstandighede vir die ontstaan en verspreiding van so ’n kiem deesdae ideaal is. “ ’n Virus leef net ’n 24-uur-vlug ver van elke stad op aarde,” skryf Richard Preston in sy blitsverkoper Th e Hot Zone.

“Wanneer dit die lugdiensnetwerk tref, kan dit binne ’n dag enige plek ter wêreld bereik – Parys, Tokio, New York, Los Angeles. Oral waarheen daar vliegtuie is.” Met internasionale stralerverkeer kan mense wat met so ’n siekte besmet is, hul ongewenste “passasiers” na verre lande of na hul families by die huis saamdra selfs voor die eerste simptome kop uitsteek.

Dit is egter nie net die doeltreff ende inter nasionale vervoer wat die omstandighede ryp gemaak het vir ’n wêreldwye epidemie nie.

Verskeie ander mens like aktiwiteite het tot die verskyning en ver - spreiding van nuwe siektes gelei. Die vernietiging van die reënwoude en menslike inbreuk op natuurlike leefwêrelde, gepaardgaande met die ontwikkeling van nuwe dorpe en huisvestings in landelike gebiede, lei tot kontak tussen mense en diere en hul onbekende mikrobes.

Veranderings in die landbou, soos die bekendstelling van nuwe gesaaides, trek op hul beurt nuwe landbouplae aan wat boerdery gemeenskappe aan onbekende siektes blootstel.

En die snelle groei van stede in baie ontwikkelende lande veroorsaak dat groot getalle mense in oorbevolkte gebiede met swak sanitasie saamtrek. In sulke omstandighede vier dié aansteeklike siektes hoogty.

Dodelike kieme op vrye voete

Die bedreiging van ’n nuwe wêreld wye siekte het onlangs op die horison verskyn. H5N1- griep, algemeen bekend as voëlgriep, is ’n subtipe van die Infl uenza A-virus wat voëls besmet, maar ook siekte onder mense kan veroorsaak.

Dit kom in die natuur onder baie voëlbevolkings in Suidoos-Asië voor, maar is besig om wêreldwyd te versprei en het reeds tientalle miljoene voëls afgemaai.

Dit het ook gelei tot die onvermydelike uitdunning van nog honderde miljoene voëls, huis-pluimvee inkluis, om die verspreiding van die virus te stuit.

Tot dusver is dit net mense wat siek voëls hanteer het wat aangesteek is, maar as die virus muteer of ’n samestelling vorm wat maklik van mens tot mens oorgedra kan word, kan ons met ’n wêreldwye noodtoestand te kampe hê.

In 2003 het die wêreldbekende viroloog Robert Webster in ’n verslag geskryf die wêreld staan op die rand van ’n pandemie wat ’n groot deel van die menseras kan uitroei.

Hy het nie geoorreageer nie – daar word geskat dat die uitbreek van die ver - nietigende Spaanse Griep van 1918 en 1919 tussen 25 en 50 miljoen mense doodgemaak het.

En net in November verlede jaar het die dodelikste kiem wat aan die mensdom bekend is, die Ebola-virus, weer vanuit sy onbekende tuiste in die woude van Sentraal-Afrika in Uganda te voorskyn gekom en nege uit elke tien mense wat daardeur besmet is, doodgemaak.

Dis ’n pynlike dood en kom daarop neer dat die virus binne ’n paar dae die interne organe van die liggaam laat oplos en oral bloeding veroorsaak – en daar is geen geneesmiddel nie.

Hoe is dit moontlik dat ons nog so kwesbaar vir aansteeklike siektes is, terwyl daar gesofistikeerde antibiotika beskikbaar is en ’n mens deurentyd van antivirale deurbrake hoor?

Nie te lank gelede nie het dokters gedink hulle het aansteeklike siektes vir altyd hokgeslaan.

Pokke is uitgewis, daar is doeltreff ende inentings teen polio en geelkoors ontwikkel, en met die ontdekking van penisillien en ander antibiotika was daar skielik behandeling vir sulke oeroue siektes soos sifi lis, melaatsheid en selfs die builepes uit Bybelse dae.

Siektes soos witseerkeel, kinkhoes en klem-in-diekaak was skynbaar iets van die verlede.

Wetenskaplikes het geglo dit was net ’n kwessie van tyd voor ons fi naal vry sou wees van die donker tye toe mikroskopiese indringers uit ’n onsigbare wêreld ons bestaan kon bedreig.

Louis Pasteur, een van die vaders van mikrobiologie en uitvinder van die entstof teen ’n ander gevreesde virus, hondsdolheid, het gespog dat elke aansteeklike siekte eendag net so maklik oorwin sal kan word.

Niemand glo dit vandag meer nie. Ten spyte van die arsenaal medisynes waaroor die moderne wetenskap in die oorlog teen dodelike siektes beskik, is dodelike infeksies steeds vir almal oor die wêreld heen ’n bedreiging.

Wetenskaplikes van die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention (CDC) het reeds gewaarsku dat ons ’n tydperk betree het waar die spektrum van aansteeklike siektes besig is om uit te brei – en dat baie aansteeklike siektes wat skynbaar onder beheer was, besig is om toe te neem.

Daar gaan skaars ’n week verby sonder dat ’n verslag in die media of wetenskaplike pers oor die een of ander uitbreking verskyn:

Die pes in Indië, “vleesetende” Streptococcus in Brittanje, weerstandige Staphylococcus in Amerikaanse hospitale of moeilik behandelbare wondbesmettings onder soldate wat terugkeer uit Irak.

Aan die tuisfront hoor ons van diarree-epidemies in Delmas in Mpumalanga, en ’n uitbreking van ’n weerstandige bakteriële infeksie in ’n waakeenheid vir pasgebore babas in KwaZulu-Natal.

Ons het ook ons eie weergawe van Ebola:
’n Virus met die naam Krim Kongo hemoragiese koors, wat deur bosluise oorgedra word, sporadies en onverwags te voorskyn kom en mense, veral plaaswerkers, in plattelandse gebiede doodmaak.

Ons skietgoed raak op Selfs die ou dodelike kieme, dié wat ons gedink het ons verslaan het, het intussen geleer om by ons wondermedisynes aan te pas. Dit behoort eintlik geen verrassing te wees nie – bakterieë is per slot van rekening die suksesvolste organismes op die planeet.

Hulle het oor miljoene jare geleer om by elke moontlike ekologiese variasie aan te pas, van vuurwarm swa welfonteine tot die bodem van die see. Net menslike verwaandheid het ons laat dink ons kan hulle binne vyftig jaar met ons versameling chemiese wapens uitwis.

“Ongelukkig is bakterieë slimmer as mense,” sê die Amerikaner dr. Harold Neu van Columbia-universiteit in die joernaal Science. “Om mee te begin, is ons hopeloos in die min derheid. Selfs in ons eie liggaam is daar tien keer meer bakterieë wat ons vel en spysverteringskanale koloniseer, as selle.”

Die sleutel tot hul vermoë om ’n weerstand teen antibiotika op te bou, is die feit dat hulle kan leer om te muteer of hul genetiese struktuur te verander.

In iemand met ’n aktiewe infeksie kan elke individuele bakterie tot elke twintig minute repliseer. Met elke verdeling ontwikkel daar spontane mutasies in hul DNS. Terwyl die meeste van die blinde herskommelings eienskappe ontwikkel wat óf nutteloos óf verswakkend is, gebeur daar elke dan en wan iets wat ’n spesifi eke bakterie ’n oorlewingsvoordeel gee – soos die vermoë om medisyne uit hul selle uit te pomp of ensieme te vervaardig wat dit vernietig.

Streptococcus pneumoniae, die bakterie wat meestal longontsteking en breinvliesontsteking veroorsaak, is deesdae dikwels penisillien-weerstandig.

En die gevreesde Staphylococcus aureus (MRSA), een van die sogenaamde superhospitaalkieme, is besig om toenemend weerstandig teen behandeling te word.

’n Nog meer onrusbarende feit is dat dié weerstandige bakterieë reeds gesonde mense buite ons hospitaalsale aanval. Die onverskillige, oormatige gebruik van antibiotika en die feit dat oorywerige dokters dit te maklik voorskryf, dra in ’n groot mate die skuld hiervoor.

Volgens ’n studie wat in die Journal of the American Medical Association verskyn het, is bevind dat die helfte van pasiënte met ’n doodgewone verkoue antibiotika gekry het, hoewel dit net doeltreff end is teen bakterieë en ’n verkoue deur ’n virus veroorsaak word.

Menslike gedrag maak dinge net erger. Pasiënte neem dikwels nie gereeld hul antibiotika nie, of hou op om dit te neem wanneer hul simptome verbeter, voor die infeksie heeltemal opgeklaar het.

As daar nie genoeg van ’n spesifi eke medisyne toegedien word nie, is daar vinnig meer van die taaier en sterker bakterieë as van hul tingerige maats, wat die ontwikkeling van weerstandige mutasies aanmoedig.

Stroop ons die arsenaal?

In ’n onlangse deurbraak teen griep het wetenskaplikes die antivirale middels Relenza en Tamifl u geskep – die eerste doeltreff ende behandeling teen die virus. Aangesien dié medisyne ook teen voëlgriep werk, het byvoorbeeld Amerika enorme hoeveelhede hiervan vir ’n moontlike pandemie opgeberg.

Ongelukkig lyk dit nou asof die griepvirusse besig is om ’n weerstand daarteen op te bou. Wanneer ’n ware pandemie toeslaan, sal ons dalk niks meer vuurkrag in ons arsenaal oorhê nie.

Antibiotika word ook deurentyd deur die landbousektor misbruik: Veeboere voeg dit by voer om groei aan te moedig en siektes te voorkom. Weerstandige organismes kan dan vanaf diere of diereprodukte na mense oorgedra word.

Tuberkulose het ook al geleer om die wetenskaplikes te uitoorlê. TB is ’n buitengewoon taai en stadig groeiende kiem en word gewoonlik behandel met ’n kombinasie van vier middels wat saam ses maande lank gebruik word.

Indien pasiënte se behandeling onvoldoende is – óf omdat hulle nie die voorgeskrewe middels korrek neem nie, óf omdat laegehalte-medisyne gebruik word – kan sogenaamde multimiddel-weerstandige TB (MDR-TB) ontstaan.

Hoewel dit nie aansteekliker as normale TB is nie, is dit ’n belangrike gesondheidskwessie aangesien die behandeling langer duur en die medisyne duurder is.

Uitgebreide middelweerstandige TB (XDR-TB), wat ook ’n weerstand teen party van dié duurder middels opgebou het, het onlangs in Suid-Afrika sy verskyning gemaak. Ons behandelingsopsies is besig om op te raak.

In Suid-Afrika het TB natuurlik ’n selfs meer noodlottige krygskameraad: die menslike immuun gebreksvirus (MIV), wat vigs veroorsaak. So het ’n oeroue bakterie en ’n taamlik nuwe virus ’n bose bondgenootskap gevorm.

Byna die helfte van alle pasiënte by wie TB deesdae gediag noseer word, is ook draers van die MI-virus.

Openbare vyand nommer een MIV/vigs is seker die grootste nood toestand van ons geslag wat aansteeklike siektes betref. Dit is in 1981 ontdek en volgens ’n skatting van die Wêreldgesondheidsorganisasie het die MIV-virus reeds meer as 25 miljoen mense doodgemaak, die meeste in Afrika suid van die Sahara.

Dit is een van die mees vernietigende pandemies in die geskiedenis en veral ’n derduiwel omdat sy slagoff ers (anders as in die geval van Ebola, wat mense binne ure kan doodmaak) ’n klompie jare taamlik gesond bly.

Dit beteken daar is oorgenoeg geleentheid dat hulle dit aan ander kan oordra.

Tot dusver was alle pogings om die verspreiding van MIV hok te slaan deur ’n doeltreff ende entstof te ontwikkel onsuksesvol.

Daarvoor is die proteïene wat die virus omring te veranderlik en sy vermoë om te muteer te suksesvol.

MIV fassineer deskundiges op die gebied van aansteeklike siektes veral omdat dit die bastion aanval wat gewoonlik al die mikroskopiese pestilensies terughou:
ons immuunstelsel. MIV besmet en maak die bataljonne gespesialiseerde witbloedselle dood en verswak so besmette pasiënte se immuunstelsel tot hulle vatbaar raak vir elke moontlike aanval.

Die gevolg?

’n Magdom opportunistiese mikrobes wat gewoonlik maklik deur ’n gesonde immuunstelsel weggevee sou word, oorrompel die liggaam se verdedigingstelsel en veroorsaak siektes.

Slaggereed?

Eerder as om die situasie te probeer red, lyk dit asof die farmaseutiese bedryf se idees aan die opraak is. Party van die grootste maatskappye (Bristol-Myers-Squibb, Eli Lilly, Roche en meer onlangs Bayer) het hul navorsing oor nuwe antibiotiese middels ten gunste van meer winsgewende opsies laat vaar. Sedert 2000 het net sewe nuwe antibiotika kliniese toetse geslaag, vergeleke met dertig in die vorige dekade.

Ná die valse bravade van die vorige eeu het ons deesdae nuwe respek vir dié kieme, veral aangesien dit op die oomblik lyk asof hulle besig is om die stryd te wen.

Al die nuus is darem nie net sleg nie. Al is antiretrovirale middels nie geneesmiddels nie, het hulle ’n omwenteling in die behandeling van pasiënte met vigs teweeggebring. Dit stel hulle in staat om hul immuniteit te herwin en feitlik ’n normale lewe te lei.

Die soektog na nuwe vorms van behandeling duur voort, met hulp uit ’n paar onverwagte oorde. In 2006, nadat hulle 250 000 natuurlike ekstrakte ondersoek het, het wetenskaplikes van Merck Pharmaceuticals besonderhede gepubliseer van ’n nuwe antibiotikum wat uit ’n grondmonster in Suid-Afrika verkry is.

Dit word platensimisien genoem en maak baie soorte bakterieë dood, MRSA inkluis. Indien dit kliniese toetse slaag, sal dit slegs die derde splinternuwe klas antibiotika wees wat die afgelope vier dekades ontwikkel is.

En in die woude van Noord-Europa het navorsers ’n klein swart sampioentjie gevind wat die eerste van ’n moontlike nuwe klas antibiotika en antiretrovirale middels kan wees.

Dit word defensiene genoem – ’n soort proteïen wat aktief teen bakterieë en omhulde virusse is. Op sekere gebiede was die moderne wetenskap nog nooit so goed toegerus om die bedreiging van nuwe siektes die hoof te bied nie, met beter laboratoriumtegnieke wat ons in staat stel om siektes veel vroeër op te spoor.

Dr. Joe Jarvis, ’n plaaslike deskundige op die gebied van aansteeklike siektes wat navorsing doen oor ’n soort swam-breinvliesontsteking wat vigspasiënte aantas, sê egter die volgende:

“Om te voorkom dat ons ’n toekoms tegemoetgaan waar kieme weer eens dood en verwoesting saai, sal meer verg as bloot nuwe wondermiddels.”

Antibiotika sal wêreldwyd in gesondheidsorg en die landbou verstandiger gebruik moet word. Natuurlik is beter tegnieke ten opsigte van die ontwikkeling van nuwe medisyne ook ’n vereiste.

Gesondheidsowerhede moet op ’n gereedheidsgrondslag bly om uitbrekings te beheer voor dit in epidemies ontaard.

In ontwikkelende lande waar cholera en disenterie deur oorlog, armoede, oorbevol- king en swak sanitasie veroorsaak word, is die voorsiening van skoon water en toegang tot basiese gesondheidsorg steeds van kardinale belang.

Ons beste verdediging Op persoonlike vlak is daar baie wat ons kan doen om ons te verdedig teen die kieme waarmee ons in aanraking kom.

Die gebruik van kondome en veiliger seksuele gedrag – strategieë wat op die samewerking van individue staatmaak, nie wetenskaplikes of dokters nie – bly ons grootste staatmakers in die stryd teen MIV/vigs.

Eenvoudige maatreëls soos om jou hande te was, wat in die negentiende eeu die eerste keer voorgestel is, is vandag net so belangrik om die verspreiding van besmetting in hospitale te voorkom.

Om seker te maak dat kinders al hul inentings kry, bly een van die beste maniere om hulle teen potensieel dodelike virusse soos masels en polio te beskerm.

Daar is nie noodwendig ’n pil vir elke skeet nie, dus is dit ’n goeie idee om alternatiewe strategieë te ondersoek. As jy ’n verkoue het, kan jy skerp kos eet – brandrissies bevat ’n natuurlike ontstuwingsmiddel.

Eet kool as jy ’n maagseer het – die sap daarvan bevat ’n middel met die naam sulforafaan wat die bakterie Helicobacter pylori, wat 90 persent van alle maagsere veroorsaak, doodmaak. En jy kan sinktablette suig vir ’n seer keel – volgens studies gee sink die liggaam se immuniteit ’n hupstoot.

Jou ma was reg. Baie van die raad wat dokters teen alledaagse huishoudelike kieme gee, is basies gewone, outydse higiëne: Was jou vrugte en groente, skrop jou snyplank nadat jy rou vleis daarop gesny het, en gebruik ’n bleikmiddel – wat ten spyte van al die wonderlike middels op die winkelrakke ’n uitstekende skoonmaakmiddel vir byna alles bly.

Maar kieme is oral om ons. Dit maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons sal nooit heeltemal daarin slaag om siektes te voorkom nie. Ons beste strategie om siekte te bekamp, is om ons immuunstelsel slaggereed te hou.

Stres, sigaretrook, ’n swak dieet en ’n tekort aan slaap verswak die immuunstelsel en maak ons vatbaar vir besmetting, of maak dit vir ons moeiliker om ná ’n siekte te herstel.

Dit is beter om uit die staanspoor ’n paar voorsorgmaatreëls te tref en seker te maak jy is gesond, as om elke keer dokter toe te hardloop. Voorsorg voorkom altyd nasorg!

Hoe ’n griepepidemie die wêreld kan tref

As die H5N1-voëlgriepvirus muteer en maklik van mens tot mens oorgedra word (soos blyk uit gebeure in Indonesië) sodat dit so dodelik raak soos die 1918-griep, kan dit tot die volgende scenario lei:

New Page 1
  DIE 1918-GRIEP VANDAG
Jaar 1918 2008
Wêreldwye bevolking 1,8 biljoen 6,5 biljoen
Hoof-vervoermiddels Troepeskepe, treine Vliegtuie
Tyd wat dit verg vir die virus om alle uithoeke van die planeet te bereik Vier maande Vier dae
Beskermings- en voorkomingsmaatreëls Maskers en antiseptiese middels Griep-inentings
Behandeling Bedrus, aspirien Antivirale middels soos Relenza en Tamiflu
Geraamde sterftes 25 - 50 miljoen 100 miljoen as die nuwe virus taai en die antivirale middels nie so doeltreffend is soos wetenskaplikes hoop nie
Click here for more on germs
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE